Geskiedenis |
Gert Frans word gedurende April 1785, vermoedelik op die plaas Alleengelaten naby die teenswoordige Pearston, gebore. Met sy doop op 3-12-1786 in die kerk op Tulbach (Land van Waveren), word sy naam Gerrit Frans gespel. By die doop van een van sy kinders, is sy naam aangeteken as Gert Francois, terwyl sy naam aangedui word as Gerhardus Francois op die sterfkennis van sy seun Marthinus Christoffel. Verskillende algemene genealogiese werke gee sy naam aan as Gerrit Francois. Daar bestaan egter onteenseglike bewyse dat hyself en sy ouers te alle tye sy naam as Gert Frans geskryf het.
In die belastingopgawes (Opgaafrolle) van die jare 1802 - 1804 word vir die eerste keer van Gert Frans as 'n belastingpligtige melding gemaak. Hy was toe tussen 17 en 19 jaar oud. Hoewel hy nog ongetroud was en by sy ouers gewoon het, het hy op daardie stadium reeds die volgende besit: een ryperd, 16 aanteelbeeste, 50 skape en 86 bokke. Die opgawe is in die wyk Achter de Rhenosterberg opgeneem, wat daarop dui dat weiding op hulle plase in die Achter de Sneeuwberg wyk skraps was en hulle vir 'n tydlank na 'n ander plek moes uitwyk.
Teen 1809, die jaar toe hy die eerste keer in die huwelik getree het, het sy bates aangegroei tot drie ryperde, vyf aanteelperde, 28 beeste, 650 skape en 130 bokke. Hy en sy jong vroutjie woon by sy ouers op die plaas Elandskraal in die wyk Achter de Sneeuwberg.
Vyf jaar later, gedurende 1814, woon nog net Gert Frans en sy jongste broer, Daniel Stephanus, en hul eggenotes saam met hulle ouers op Elandskraal. Hoewel sy skaapgetalle tot 830 aangegroei het, het sy bok-ke na slegs 38 verminder. Die jare 1813, 1814 en 1815 was geweldige droë jare.
Gedurende 1818 was Gert Frans se pa ongeveer 78 jaar oud en het hy besluit om heeltemal op te hou boer. Hy het die plaas Elandskraal tussen sy seuns Gert Frans en Daniël Stephanus verdeel. Elkeen het dus nou sy eie plaas gehad en het op sy eie geboer. Gert Frans het nou ook gesaaides begin verbou. Gedurende 1819 het hy byvoorbeeld 2 mud tarwe (koring) en 1/2 mud gars gesaai en 41 mud tarwe en 11 mud gars ge-oes. Al sy vee getalle het ook drasties toegeneem — sekerlik toe te skryf aan sy pa se staking van sy boerdery.
1820 was nog 'n beter jaar vir gesaaides, want Gert Frans het in hierdie jaar weer 2 mud tarwe gesaai en bykans 57 mud ge-oes. Die droogte het nou egter begin toeslaan. Die 1821 oes was bykans 'n mislukking. Van die 2 mud tarwe wat gesaai is het hy slegs 7 mud ge-oes.
Die belastingopgawes van 1823, die jaar toe Pieter Hendrik Henning, die stamvader, oorlede is, dui aan dat Gert Frans steeds op Elandskraal boer en die volgende besit:
Hottentot mans bo 16 jaar - 3; Hottentot vroue bo 14 jaar - 3; Hottentot dogters - 1; Ryperde - 3; Aanteelperde - 16; Trekosse - 16; Aanteelbeeste - 42; Skape - 1132; Bokke - 92.
Hy kon die voorafgaande twee jaar niks saai nie.
Twee jaar later, in 1825, vind ons dat Gert Frans en sy gesin ook uit Achter Sneeuwberg weggetrek het. Die dood van sy pa gedurende 1823, die groot droogte van 1820 tot 1823 en die trekbokke wat gedurende 1822 en 1823 deur die wyke aan die Noord-Oosgrens getrek het, moes hom skynbaar daartoe beweeg het. In 1825 het dit egter goed gereën. Die veld was pragtig en water volop. Ons vind dat Gert Frans, sy vrou Maria Dorothea Vorster en hul twee seuns en twee dogters op die plaas De Keur in die Brakrivier Veldkornetskap woon. De Keur lê ongeveer 43 kilometers Oos-Suid-Oos van Middelburg. Op die pad tussen Middelburg en Steynsburg draai mens regs by die Schoombee treinhalte. Brakrivier was gedurende daardie jare nog buite die Koloniale grense.
Gert Frans het op daardie stadium die volgende besit: Twee Hottentot mans, twee Hottentot vroue, een slavin, drie ryperde, 14 aanteel perde, 16 osse, 32 aanteel beeste, 1025 skape, 100 bokke en heelwat gesaaides.
Sy eggenote ontval hom teen die einde van 1827 of vroeg in 1828, skynbaar met of kort na die geboorte van hulle vyfde kind, Gert Frans. Daar word vermoed dat Gert Frans meer as vyf kinders by Maria Dorothea Vorster gehad het, omdat die ouderdomsverskil van nege jaar tussen hulle eerste en tweede kinders uitsonderlik groot vir daardie dae was. Vermoedelik is daar babas in hierdie tyd gebore wat baie vroeg oorlede is. Dorothea Maria Vorster se voorsate kan in die databasis vanaf haar rekord gevolg word.
Op 21-9-1828 tree hy op 43-jarige ouderdom weer in die huwelik met die jong sestienjarige nooientjie, Gerbreg Leviena Olivier. Sy was jonger as sy oudste seun, Pieter Hendrik. Pieter Hendrik, wat self kort tevore getrou het, het dus kinders gehad wat ouer as sy eie half broers en susters was.
Gerbreg Leviena Olivier is op Vreesfontein, 'n buurplaas van De Keur, gebore en het daar groot geword. Die Schoombee treinhalte, waarna hierbo verwys word, lê op die plaas Vreesfontein. Haar voorsate was die volgende: Haar ouers was Philippus Arnoldus Olivier * 1764 en Hester Venter * 1782; haar grootouers was Philip Arnold Olivier * 1731 en sy vrou Anna Catharina Putter * 1728 en Jan Venter * 1744 en sy vrou Johanna Catharina van der Walt * 1754
Gert Frans en sy huisgesin woon tot ongeveer 1837 op De Keur, toe hy, soos die trekboere van sy tyd, sy wa pak en in 'n Noord-Oostelike rigting dieper die binneland intrek. Dit was sekerlik weer toe te skryf aan die droogte wat tussen die jare 1834 tot 1838 geheers en die sprinkaantroppe wat by vier geleenthede gedurende hierdie jare deur hierdie gebied getrek het. Op die titelakte van hierdie plaas (in besit van Fred - en Rosemarie Jordaan, in 2014 die eienaar van De Keur) word aangedui dat hy die plaas nie verkoop het nie, maar een of ander tyd gedurende 1837/38 sommer net laat lê het..
Hy trek in 'n Noord-Oostelike rigting tot in die gebied Oos van die Sterrenbergspruit (vandag Stormberspruit), wat in daardie dae "niemandsland" en buite die grense van die Kolonie was. Hierdie is een van die mees onherbergsame dele van Suid-Afrika. Dit is bitterlik koud gedurende die winter. Die vyf heel laagste temperature wat ooit in Suid-Afrika gemeet is, is in hierdie geweste gemeet. Hier is geen oppervlakwater of brandhout nie en die gebied word gereeld deur uitmergelende droogtes geteister. Tot op daardie stadium kon slegs Boesmans hier in die Stormberge en Kramberge in grotte oorleef . Toe die Kaapse Goewerneur dit vir Mapassa (die groot moeilikheidmaker onder die swart stamme) aangebied het, wou nie eens hy dié gebied gehad het nie.
Ons tel Gert Frans en sy gesin se spoor op in 'n holkrans op die plaas Kraaifontein, in die distrik Burgersdorp (naby Witkop) waar onleesbare voorletters en die van "Henning", asook die datum 27 Julie 1837 uitgekrap is. Daar is ook rye strepies in groepies bymekaar om tydsverloop aan te dui. Die strepies dui op ongeveer drie jaar. Hierdie Henning gesin oorleef vir drie jaar in die mees onherbergsame deel van Suider-Afrika, onder 'n holkrans. Mens kan aanvaar dat hulle waens sekerlik so naby as moontlik aan die holkrans getrek is om ook as huisvesting gebruik te word.
Dit blyk of hierdie staanplek met sorg uitgekies is, want vanaf die holkrans het mens in alle rigtings bykans 'n onbeperkte uitsig vir baie kilometers, maar die staanplek kan nie gesien word voordat mens amper op dit is nie. Mens kan dus nie maklik onverhoeds deur enige aanvaller betrap word nie.
Gedurende hierdie drie jaar het Gert Frans sekerlik besef dat dit nie die plek vir hom en sy gesin was nie en het hy na 'n geskikte plek gesoek waar hy 'n plaas sou kon uitlê. So het hy teen 1841 ongeveer 20 -25 kilometers verder, Oos van die Sterrenberspruit 'n plaas begin uitlê, wat hy die naam Damfontein gegee het. Hier skrop hy 'n dam (wat sy plaas se naam sou dra) wat sou verseker dat hy nie weer deur droogtes verdryf sou word nie. Hierdie plaasdam funksioneer na meer as 170 jaar nog net so goed as toe dit gebou is. Gert Frans en sy nasate woon vir meer as 100 jaar op hierdie plaas, totdat dit in 1950 verkoop is. Hy en sy eggenote woon die res van hulle lewens op Damfontein, hoewel hy teen die einde van sy lewe, toe hy begin blind word het, tussen Damfontein, waar sy seun Olivier Johannes Gerhardus Cornelis (b7.c8.) intussen die boerdery by hom oorgeneem het en die plaas Waterval (tussen Aliwal-Noord en Lady Grey) waar sy seun Philippus Arnoldus geboer het, beweeg het.
Hierdie bewegings tussen Damfontein en Waterval was heel komies. Volgens oorlewering het Gert Frans en sy eggenote wel by hulle seun Olivier gewoon, dog wanneer laasgenoemde dorp toe- of vir lang rukke weggegaan het , het Philippus Arnoldus sy vader kom "steel". Met Olivier se terugkeer, het hy dan weer sy vader op Waterval gaan "steel". Hierdie oor en weer "stelery" het op 'n dag in 1868 ontwikkel in 'n oor en weer skietery tussen die twee broers. 'n Brief wat Gert Frans se eggenote, Gerbreg Leviena, op 9 November 1868 in hierdie verband aan haar seun Olivier geskryf het, is vandag nog in besit van die skrywer - 'n agterkleinseun van gemelde Olivier.
Volgens oorlewering was Gert Frans se plaas, Damfontein, aanvanklik ongeveer 10 000 morge groot. Gedurende 1850 is groot dele van die plaas egter afgesny, om die plase Driefontein, Magdalena, Venus, Tierhoek te vorm. Damfontein was hierna slegs 3 800 morge groot. Die oorspronklike transportakte van die plaas, soos wat die grense gedurende 1850 getrek is, en wat op 20 Junie 1850 deur die Kaapse Goewerneur, Sir Henry George Wakelynn Smith uitgereik is, is tot vandag toe in besit van die skrywer.
Gert Frans was geseën met vyftien kinders - vyf by sy eerste vrou en tien by sy tweede vrou. Hy en sy tweede eggenote, Gerbreg Leviena, lê begrawe op die plaas Waterval. Ongelukkig is daar nie grafstene op die grafte nie, gevolglik kan dit nie meer opgespoor word nie.
|
|