Geskiedenis |
Daar kan aanvaar word dan Gert Frans as 'n jong seun saam met sy ouers vanaf Cradock, dieper die binneland ingetrek het, en hulle bo in die Kramberge (vandag Aliwal-Noord distrik) gevestig het. Na sy troue het hy egter weer Suidwaarts getrek na die gebied agter die Sneeuberg, tussen Cradock en Graaff-Reinet, waar hy en sy eggenote hulle op die plaas Klipplaat gevestig het. Al hulle kinders word hier gebore. Kort na die geboorte van hulle sesde kind, Pieter Barend, tree komplikasies in en beide moeder en baba sterf. Gert Frans tree hierna met die weduwee Grobbelaar (ook 'n gebore Grobbelaar) in die huwelik, en hierdie egpaar woon tot die tweede helfte van 1867 op Klipplaat. 'n Brief gedateer 15 April 1867, wat Gert Frans vanaf Klipplaat aan sy half broer Olivier geskryf het, wat tot vandag toe in besit van die skrywer is, bevestig dit. Gert Frans en sy gesin verhuis gedurende Junie 1868 na 'n plaas met die naam Kleinkloof (in 'n brief gebruik hy die spelling Klynkloof). Hulle woon egter nie lank hier nie, want teen Mei 1870 het hulle reeds hulle intrek op die plaas Ezelshoek, in die distrik Middelburg, geneem. Hy en sy tweede eggenote woon die res van hulle lewens op Ezelshoek.
|
|