Geskiedenis |
Olivier Henning word gebore op die dag wat die slawe aan die Kaap vrygestel is. Hy aanskou die eerste lewenslig op die plaas De Keur in die Brakrivier Wyk van die Cradock distrik (tans Middelburg, KP). De Keur lê ongeveer 43 km Oos-Suid-Oos van Middelburg. Hy was dus slegs ses jaar oud toe sy ouers hulle intrek neem op die plaas Damfontein in die Barnardspruit Wyk, 33 km Suid van die teenswoordige Aliwal-Noord. Hy word groot op die plaas Damfontein en neem die boerdery mettertyd by sy vader oor. Hy bou die plaas op tot een van die spogplase van die Noord-Oos-Kaap.
Olivier Henning was gedurende die sestiger jare van die negentiende eeu voorsinger in die gemeente van die Kaapse Kerk te Aliwal-Noord. Hans Sauer skryf in sy outobiografie "Ex Africa" onder andere as volg oor hom:
"An uncle of mine, Olivier Henning, held the post of voor-singer at Aliwal. He had an enormous voice and easily obliterated any rivals who attempted to out-sing him. Every now and then, however, he was extended to the full by a Free State Boer named Rabbi (Rabie?) who occasionally attended our church. When the word went round that Rabbi was present, a pleasurable excitement pervaded the congregation and everybody was on the look-out. It was my uncle's right to lead off, which he did in a moderate voice, gradually raising it to a thunderous roar. Presently to the listener the sound of another voice intruded itself, more and more loudly as the singing proceeded, and long before the psalm ended it was evident to all that the two men were trying to sing each other down. The volume of sound was enormous, and the marval was that their voices did not crack under the strain."
Met die bou van 'n nuwe kerkgebou tussen die jare 1857 tot 1864 het Olivier die boumateriaal met sy wa vanaf Wepener aangery. Hierdie kerkgebou huisves vandag die Aliwal-Noord museum, waarin onder andere 'n uitstalling van die Henning familie opgeneem is.
As gevolg van 'n insident gedurende 1883 toe hy weens valse getuienis in die hof aangekla is dat hy sy vrou mishandel het en selfs die predikant teen hom getuig het, het hy vir 'n paar jaar lank nie weer kerk toe gegaan nie. Nadat die nuwe predikant hom oortuig het dat hy moet vergewe en vergeet, het hy besluit om weer kerk toe te gaan. Hy het egter sy eie stoel saamgeneem kerk toe om op te sit omdat hy "nie weer in 'n kerkbank sou sit nie". Bewaar enigiemand anders se siel as diè dit sou waag om op sy stoel te gaan sit.
Olivier het groot vrugteboorde en groentelande op Damfontein gehad. Hy het dikwels wavragte groente en vrugte dorp toe geneem om te verkoop. Onderweg het hy van die groente en vrugte aan mense wat hy teegekom het uitgedeel. Dit het soms gebeur dat teen die tyd wat hy op die dorp aankom, daar nie meer groente oor was om te verkoop nie - hy het alles gratis uitgedeel. Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog 1899 - 1902 het hy wavragte groente en vrugte vir die Boere vrouens en kinders wat deur die Britse magte in die Kraairivier Konsentrasiekamp aangehou is geneem.
Cornelia Susanna Kotze se voorsate was die volgende: Haar ouers was Jan Kotze * 22-8-1790 en sy vrou Martha Johanna Elizabeth Riekert * 1804. Haar grootouers was Gerhardus Dirk Kotze * 1761 en sy vrou Emmarentia Frederika Potgieter * 1769 en Philip Daniël Ricker * 1782 en sy vrou Susanna Magdalena Jacobs * 1787
Na 56 jaar en twee maande se getroude lewe, sterf sy eggenote Cornelia Susanna op 3 Maart 1912 as gevolg van kanker van die baarmoeder. Hyself is op 16 November 1919 in die ouderdom van amper 86 jaar oorlede. Ten tye van sy dood was hy by hulle dorpshuis te Smithstraat, Aliwal-Noord. In sy tagtiger jare is hy deur 'n motorkar - een van die min wat daar was - raakgery. Hy het nooit werklik van hierdie beserings herstel nie. Hy volg dus sy vader en grootvader se voorbeeld deur ouer as 80 jaar oud te word en sy grootvader se voorbeeld deur langer as 55 jaar met een eggenote getroud te wees. Hy, sowel as sy eggenote, lê begrawe op die plaas Damfontein.
|
|