Geskiedenis |
Jan Andries was 9 jaar oud voordat hy skool toe is, omdat daar nie vir hom plek was op die perdekar wat van die plaas na die dorpskool gery het nie. Na matriek word hy student aan die destydse UKOVS waar hy die HPOD-diploma verwerf. Hy was ’n inwoner van Huis Abraham Fischer. Met deeltydse studie verwerf hy sy B.A.-graad (UNISA) en later sy M.Ed.-graad (UOVS) met ’n verhandeling oor die geskiedenis van die Vrystaatse Onderwysersvereniging (OVSOV). Hy begin sy skoolloopbaan op Rosendal en verskuif later na die Hoërskool Van Kerken, buite Bloemfontein. Na sy huwelik vestig die egpaar hulle op Theunissen, waar hulle altwee onderwys gee en vir 10 jaar lank koshuisouers was van die meisieskoshuis. Hy word bevorder tot Senior Onderwyser in Geskiedenis en later tot Departementshoof. Hy neem ook waar as vise-hoof. Gedurende sy onderwysloopbaan hier was hy onder andere sangonderwyser en bring hy verskeie operette op die planke. Hy was hoof van die ACSV by die skool en speel ’n leidende rol in die gemeenskap. Hy het ’n groot liefde vir musiek gehad en sing tenoor in die kerkkoor, hy dien op die kerkraad, en ook die stadsraad. Later word hy verkies as Burgemeester van Theunissen. Hy dien op die Geloftefeeskomitee, die Kultuurvereniging en die Rapportryers. In April 1976 (op 64-jarige ouderdom) kry hy die aanstelling van Hoofsekretaris van OVSOV (Vrystaatse Onderwysersvereniging) en die egpaar verhuis na Bloemfontein. Hy beklee hierdie pos vir 10 jaar waarna hy finaal aftree. Hy is in 1994, op 82-jarige ouderdom in Bloemfontein oorlede aan kanker.
|
|