Geskiedenis |
Pieter is gebore op die geskiedkundige Henning familieplaas, Houtkop, in die Rouxville distrik. Hy slaag matriek gedurende die tyd toe die Tweede Wêreldoorlog aan die gang was. Omdat werk skaars is, sluit hy by die Suid-Afrikaanse Lugmag aan. Met matriek is daar verskeie beroepsrigtings waar die lugmag hom kan oplei. Hy beland by “44 Air School” op Grahamstad, waar hy opleiding kry as navigator (op vliegtuie), “airgunner” of te wel lug-artilleris om kanonne en masjiengewere aan boord vliegtuie te beman en as “bomb aimer” om bomme sekuur op teikens te laat val. Tydens die opleiding word daar van Anson en Oxford ligte bomwerpers gebruik gemaak. Hy voltooi sy opleiding te Grahamstad op 16 Maart 1944 en word verplaas na “61 Air School”, George waar hy verdere opleiding as navigator op Anson vliegtuie kry tot 20 Mei 1944.
Nou begin die groot avontuur! Op 15 Junie 1944 vertrek hy aanboord van ‘n Lonestar vliegtuig na Egipte. Hulle vlieg net in die dag en voltooi die vlug eers drie dae later. Hy word ingedeel by 76 O T U (Operational Training Unit) Palestine, waar hy by een van die bemannings van B24 Liberator bomwerpers ingedeel word. Die nuwe bemannings leer mekaar en hul vliegtuie ken. Die volgende fase van hulle opleiding breek aan toe hulle op 24 September 1944 na die Lugmagbasis Abu Sueir, naby Port Said verplaas word om met die laaste fase van hulle opleiding te begin. Eskaders van die Britse "Royal Air Force" en die "United States Army Air Force" is hier gestasioneer. Hier oefen hulle om met Liberator Bomwerpers uitvlugte, landings, ontduikingsaksies en om bomwerping te doen. Pieter kry ook opleiding as mede vlieënier en doen verskeie solo landings en opstygings. Op 26 Oktober voltooi hy sy opleiding. Nou gaan hy en sy kamerade werklik operasioneel aangewend word onder lewensbedreigende omstandighede!
Hulle vertrek op 26 Oktober 1944 vanaf Kairo, Egipte na Bari, Italië en word ingedeel by 31 Eskader van die Suid-Afrikaanse Lugmag te Celone. Hier dien hy tot 4 April 1945. Gedurende hierdie tyd het hulle verskeie bombarderingoperasies en die neerlating van voorrade gedoen. Pieter se “Logboek” dui aan dat hulle die volgende plekke in Italië gebombardeer het: Verona, Treviso, die dokke by Monfalcone (in die Noord-Oostelike hoek van Italië) en Vicenza. Hulle het ook voorrade in Jugoslavië neergelaat. Pieter was tydens al hierdie operasies die navigator van hulle vliegtuig.
Op 9 Maart 1945 het hulle ‘n noue ontkoming gehad, toe hulle vliegtuig deur ‘n Duitse Junkers JU88 aangeval is. Die bemanningslid van hulle vliegtuig wat die kanon en/of masjiengeweer beman het (Sers O Neill 'n lid van die RAF) het gelukkig die JU88 afgeskiet.
Op 5 April 1945 vertrek Pieter hulle vanaf Florence na Foggia Main aan boord ‘n Mitchell B25 vliegtuig en op 11 April 1945 vertrek hulle per Dakota vanaf Bari, Italië na ZAS Pretoria (die hedendaagse Swartkop Lugmagbasis) waar hulle op 15 April 1945 aankom.
Oor die tydperk 22 Junie 1945 tot 23 Julie 1945 word hulle na “10 WING S.A.A.F.” Pietersburg verplaas, blykbaar op 'n gereedheidsgrondslag, want hulle oefen en vlieg met die nuwe Ventura vliegtuie. Gelukkig breek die einde van die oorlog aan voordat hulle weer ontplooi kon word.
Vier oorlogsmedaljes is aan Pieter toegeken, nl. 1939-45 Ster; Italiëster; Oorlogsmedalje 1939-45 en Afrika Diensmedalje.
Nadat Pieter gedemilitariseer het, begin hy werk by die Departement van Bantoe-Onderwys, waar hy werk tot en met sy aftrede.
Pieter het skynbaar die liefde van sy lewe, die pragtige Marjorie Margaret Hough tydens sy opleiding te Grahamstad of George ontmoet. Sy was ‘n lid van die Women’s Auxiliary Air Force (WAAF) wat ‘n paar jaar vroeër tot stand gekom het in ‘n ondersteuningsrol vir die Lugmag. Al die lede van die WAAF was vrywilligers en hul hooftaak was om bepaalde funksies by manlike soldate oor te neem. Hulle trou op 8 Junie 1944 te Pretoria. ‘n Week na hul troue (op 15 Junie) vertrek Pieter na Egipte. Marjorie was sekerlik baie trots op haar man – sy was immers self ‘n vrywilliger – maar die vrees dat die ergste met hom kon gebeur, moes sekerlik deur haar psige geskok het.
Pieter en Marjorie was slegs sewentien jaar getroud, toe sy op 18 Mei 1961 in die ouderdom van 35-jaar gesterf het. Nege jaar later trou Pieter weer met die weduwee, Isabella Margaret van Eck (gebore Eales)
Vir sy kleinkinders was hy altyd “oupa Pollie” omdat hy ‘n African Grey pappegaai met die naam Pollie gehad het.
|
|