Geskiedenis |
Op Dinsdag 24 September 1918, onder die sterrebeeld Libra (weegskaal) word daar 'n tweeling op die plaas Houtkop, distrik Rouxville gebore. Die eersgeborene word na oupa Jan Hendrik Roedolf Henning vernoem, met noemnaam Hennie, terwyl die tweede na oupa Jan Christiaan Weitsz vernoem word, met noemnaam Jan. Daar word spesifiek na die weegskaal verwys, want uit die aard van sy werk by die Departement van Handel en Nywerheid as yker was hy gedurende sy hele loopbaan van meer as 50 jaar betrokke by weeginstrumente. Sy tweelingbroer Jan, het weer sy hele loopbaan vir Departement Justisie gewerk. Hierdie departement het 'n weegskaal op hul kenteken. Meeste gedeeltes van die land het nog gebuk gegaan onder die nagevolge van die vernietigende droogte van 1933 en werk was baie skaars, toe Hennie en Jan matriek geskryf het. In die Staatsdiens is hierdie werklose matrikulante se name op 'n waglys geplaas totdat daar 'n geskikte vakature ontstaan het. Hennie kry 'n tydelike werk by die munisipaliteit van Rouxville. Gedurende Junie 1937 kry sy broer Jan 'n pos by die Departement van Justisie, te Nquto, Zoeloeland terwyl Hennie gedurende Augustus 1937 'n aanstelling as yker in die Departement van Handel en Nywerheid in Pretoria ontvang. Hy werk vir langer as 50 jaar vir die departement en was diep betrokke by die implementering van die desimale geldstelsel en die metrieke stelsel in Suid-Afrika. Gedurende 1958 word hy bevorder tot 'n pos in die Johannesburg Streekkantoor en 'n jaar later na die Afdelingshoofkantoor te Pretoria. Op 1 Julie 1961 word hy die streekhoof in Port Elizabeth, waar hy op 31 Maart 1980 met die rang Assistant Direkteur met pensioen uit diens tree. Hy word egter onmiddelik in 'n tydelike hoedanigheid heraangestel as Handelsmetroloog.
|
|