Johannes Christiaan en sy broer Willem Frederik trou met twee Venter susters. Hy was ’n trekboer wat na sy troue met Anna Maria Venter stelselmatig dieper die binneland ingetrek het. Hy bevind hom na sy troue in die Colesberg distrik. Sy eggenote sterf met die geboorte van hulle seun Johannes Christiaan (d8) en die baba enkele maande later. In ’n brief gedateer 18 Desember 1856 aan "Den Distrik Raaden te Burgersdorp" vertel hy dat hy die plaas Karelkroon (op die pad tussen Burgersdorp en Hofmeyr/Steynsburg/ Molteno) in die jaar 1832 van ’n weduwee Pretorius gekoop het. Die eerste trekboere het gedurende die agtien twintigs hulle intrek in die gebied wat later die distrik Albert (Burgersdorp) sou word, ingeneem. Johannes Christiaan was dus een van die heel eerste trekboere wat hom permanent hier gevestig het. Wat merkwaardig is, is dat sy nasate vyf geslagte na hom vandag nog op buurplase van Karelkroon, op die plase Leeufontein en Addon, boer. Teen die einde van sy lewe het hy en sy vierde eggenote hulle op die naburige dorp Steynsburg gevestig, waar albei oorlede is.