Geskiedenis |
Antonie Henning was die oudste van drie kinders van Johannes Jakobus Henning, alombekend as Boet en Maria Magdalena Catharina Henning (gebore Labuschagne), alombekend as ouma Mossie.
Antonie begin sy skoolloopbaan by Laerskool PAM Brink in Springs. Daarna by Dagbreek Junior Hoërskool. Antonie se pa, Johannes Jakobus Henning sterf gedurende April 1943 toe Antonie net 12 jaar oud was. Antonie verlaat skool nadat hy st 8 voltooi het om te gaan werk, sodat hy ‘n ekstra inkomste kon genereer om sy moeder by te staan na sy pa se afsterwe.
Antonie bekwaam homself as haarkapper na 4 jaar as vakleerling en begin sy eie haarkappersalon in Spring en daarna in Geduld-uitbreiding.
Na sy pa se dood, het sy ma weer getrou met ‘n Jan Albert Barnard. Sy ma en stiefpa was vriende met die egpaar Hansie en Lenie Schoeman en hulle het dikwels by mekaar gekuier. Hier ontmoet hy Lenie Schoeman se suster, Nellie Schutte – Pieternella Jacoba Schutte rondom 1949 - 1950. Die liefde blom en dié twee besluit om op 29 Desember 1951 in die huwelik te tree, vanuit die NG kerk Putfontein.
Op 13 Januarie 1953 word hulle eersteling, Johannes Albert Henning, gebore. Net voor hy tien maande oud was sterf hy na ‘n kort siekbed in die hospitaal.
In hierdie tyd gee Antonie en Nellie beide hulle harte vir Die Here en kom kragtig tot bekering. Hulle werk ywerig in Die Here se akker en is aktief betrokke by die NG kerk in Springs. Antonie en Nellie Henning verander kort daarna van kerk en sluit by die Apostoliese Geloofsending (AGS) gemeente in Springs aan.
Hierna volg nog sewe kinders.
In die vroeë 1960’s begin Antonie werk by Union Carraige in Nigel as ‘n passer en draaier en voltooi sy ambag daar.
Antonie begin egter die roeping ervaar om homself in teologie te bekwaam deur deeltyds Teologie deur die Apostoliese Geloof Sending van Suid Afrika te studeer. Hy voltooi sy studies in 1967 en word dienooreenkomstig georden. Vroeg 1967 neem hy egter ‘n haarkappersalon in Voortrekkerweg, Brakpan oor by ‘n vriend terwyl hy wag vir ‘n beroep na ‘n gemeente.
Op 1 Mei 1968 betree Antonie en Nellie Henning hulle eerste gemeente nadat hy ‘n beroep na die AGS Bray gemeente aanvaar. Tot en met sy aftrede het hy die volgende gemeentes bedien: 1. AGS gemeente Bray – Noord Kaap: Mei 1968 tot Junie 1971; 2. AGS gemeente Thabazimbi – Julie 1971 tot April 1973; 3. AGS gemeente Rayton - Mei 1973 tot Mei 1976; 4. AGS gemeente Uvongo – Suidkus: Junie 1976 tot Mei 1981; 5. AGS gemeente Richardsbaai – Noordkus: Junie 1981 tot Desember 1989, waarna hy emiriteer.
Antonie en Nellie Henning verhuis na King Williamstown en gaan woon by hul derde oudste seun, Daniel Petrus Henning om hulle aftrede mee te begin. Na ‘n kort rukkie versoek die kerkraad van die AGS gemeente King Williamstown hom om die leisels oor te neem en hulle te bedien terwyl daar nie ‘n leraar is nie. Hy bedien dus die AGS gemeente King Williamstown – Oos Kaap vanaf September 1990 tot Augustus 1994.
Hierna vertoef hulle nog ‘n paar jaar as afgetredes in King Williamstown en verhuis in November 2000 na ’n familie plaas in die Wolmaranstad omgewing op uitnodiging van die familie wat reeds daar woonagtig was. Die AGS Gemeente van Wolmaranstad het hulle ook genader en versoek om die kwynende gemeente op Wolmaranstad te bedien en weer aan die gang te kry. Hulle dien dus die gemeente Wolmaranstad vanaf 2000 tot in 2004.
In 2004, op ouderdom 75 besluit Antonie en Nellie Henning om finaal die leisels neer te lê en verhuis hulle na Pretoria. Hier woon hulle by André (Andries Gerhardus) en Freda Henning - hul tweede jongste seun.
Antonie en Nellie Henning se lewe getuig van ‘n man en vrou wat onder leiding van ons Hemelse Vader en met die insig, guns, wysheid en genade wat God hulle mee toevertrou het, sterk gestaan het in Sy akker en nie geskroom het om alles vir die werk van Die Here te gee nie.
Met die skryf van hierdie stukkie geskiedenis was Antonie en Nellie Henning sewentig jaar lank getroud. Hulle was, is en sal altyd met liefde onthou word deur almal wie se paaie met hulle gekruis het. Hulle erfenis sal altyd van onskatbare waarde vir almal bly.
|
|