Geskiedenis |
Hy was as Hennie bekend en was slegs 17- en sy vrou Sannie slegs 16-jaar oud toe hulle in die huwelik getree het. Hy was kort maar stewig gebou, terwyl sy ’n klein, fyn vroutjie was, hoewel sy uit ’n familie van lang mense stam. Tydens hulle huwelik het hulle op die plaas Waterval, Pk Vlakfontein in die Koster omgewing gewoon. Hulle het altesaam 14 kinders gehad. Slegs 8 het egter groot geword. Die ander is almal as babas of klein oorlede. Drie van die kinders wat klein oorlede is, is gedurende die Anglo-Boere-oorlog 1899 -1902 in die Krugersdorp en Merebank konsentrasiekampe oorlede31.
Gedurende die oorlog het Hennie en hulle oudste seun, Willem Frederik, wat slegs 14 jaar oud was op kommando gegaan. Hulle dien in die Rustenburg Kommando onder Vdkt Eloff. Hulle tweede seun Jan Sarel Marthinus, wat slegs 12 jaar oud was, moes by die huis bly om sy ma en die kleiner kinders op te pas. Nadat die Britse magte met hulle verskroeide aarde beleid begin het, waarvolgens al die plaashuise en landerye van Boere afgebrand en hulle vee gekonfiskeer of doodgemaak is, is Willem se plaas ook tot op die grond afgebrand en alles vernietig. Sannie en haar kinders is hierna op ’n onmenslike wyse en met groot ontberinge eers na die Krugersdorp Konsentrasiekamp, en later na die Merebank Konsentrasiekamp naby Durban weggevoer. Toe Britse soldate op die plaas aankom om hulle na die konsentrasiekamp te Krugersdorp weg te neem, kruip Jan (12) in ’n sloot weg en sluit hom later by sy pa en broer op kommando aan. Die drie het tot aan die einde van die oorlog saam geveg.
Na die oorlog het hulle verhuis na ’n plaas in die wyk Zwartruggens, tussen Rustenburg en Groot Marico. Vanaf ongeveer 1929 het hulle by hul oudste dogter, Sannie en haar man Hans van der Linde op Mamagalieskraal, Brits gaan woon. Later het hulle in ’n huisie wat hulle jongste seun, Koos, op sy plot te Geluk, ’n nedersetting naby Brits, vir hulle gebou het, gaan woon. Hulle woon tot hulle dood toe hier. Sy geboorte- en doopgegewens is in die Transgariep doopregister gekry
|
|