Geskiedenis |
Ouma Pieta (Pieter Hendrik Henning) is op 20 Oktober 1879 in Bethulie gebore,'n maand na die vroeë dood van haar vader, Pieter Hendrik Henning op 24 jarige ouderdom op 22 September 1879. Haar moeder Martha Johanna Magdalena Catharina (Verster) het die dogtertjie na haar oorlede man vernoem.
Martha het 'n tweede keer getrou met Frederik Petrus Albertus van der Walt. Hy was die enigste vader wat Pieta ooit geken het. Afgesien van twee jonger van der Walt stiefbroers en twee stiefsusters uit haar ma se tweede huwelik, het Pieta 'n eie suster, Anna Sophia Henning, gehad wat vier jaar ouer as sy was en 'n broer, Jacobus Cornelis Henning, drie jaar ouer as sy. Die Henning- en van der Walt-kinders het saam grootgeword op die plaas Zwartfontein in Bethulie, waar hulle ouers gewoon het.
Pieta is op 1 Junie 1896, vier maande voor haar sewentiende verjaarsdag, getroud met Johannes Christiaan Pietersen, 'n boer van die plaas Heilfontein naby Bethulie. Hy was nege-en twintig jaar oud. Hulle seun, Christiaan Wilhelmus Pietersen, is op 22 Augustus 1897 gebore. Hulle het moontlik ook 'n dogtertjie gehad (waarskynlik Martha Johanna Magdalena Catharina Pietersen) wat vroeg oorlede is.
Beide Johannes en sy swaer, Christiaan Jacob Johan Olivier (soms aangeteken as Christiaan Johannes Jacobus), wat met Pieta se suster Anna getroud was, is op 30 Julie 1900 in Fouriesburg tydens die Tweede Vryheidsoorlog met die oorgawe van Generaal Prinsloo gevange geneem. Hulle was saam krygsgevangenis in die Diyatalawa-kamp op die destydse Ceylon (nou Sri Lanka).
Ouma Pieta het 'n sterk persoonlikheid gehad. Sy was 'n gedugte vrou wat haarself terdeë kon handhaaf. Die staaljie was vertel dat 'n groep Engelse soldate tydens die Tweede Vryheidsoorlog op die plaas opgedaag het om beslag te kom lê op die perde. Die mans was met die oorlog in die veld en net die vrouens was op die plaas. Daar was glo een perd met 'n skeel oog, waarvoor ouma Pieta 'n besondere deernis gevoel het. Sy het haar voorskoot aan die voorkant saamgevat, dit vol klippe gepak en met haar arm om die perd se nek het sy die Engelse laat verstaan dat as hulle dit sou waag om te probeer om die perd te vat, sy hulle met klippe sal doodgooi. Al die perde is gevat maar die skeel perd is net daar gelos.
Ouma Pieta en verskeie lede van die familie is in die Bethulie Konsentrasiekamp aangehou en baie van hulle het daar gesterf. Haar ouma Cornelia Johanna Henning, haar suster Anna, laasgenoemde se twee kinders, Philippus Arnoldus Olivier en Martha Johanna Magdalena Catharina Olivier sowel as haar stiefsuster Martha Johanna Magdalena Catharina van der Walt en moontlik ook ouma Pieta se eie dogtertjie, in paragraaf 3 hierbo genoem, is in die konsentrasiekamp oorlede.
Ouma Pieta se man, Johannes Christiaan Pietersen, het baie siek vanaf Ceylon teruggekeer en is ook kort daarna, waarskynlik in 1904, oorlede. Ouma Pieta is agtergelaat met haar sewejarige seuntjie, Christiaan Wilhelmus. Soos reeds genoem, het haar swaer Christiaan Jacob Johan Olivier, Anna se man, ook sy vrou en twee kinders aan die dood afgestaan. Dit is dan seker te verstane dat die twee maar op mekaar aangewese was en op 8 Augustus 1904 is Pieta en haar swaer, Christiaan Olivier in Bethulie in die huwelik bevestig. Hulle het toe op die plaas Zwartfontein in Bethulie gewoon.
Afgesien van die seun uit haar eerste huwelik, Christiaan Pietersen, het Pieta en Christiaan Olivier ook nog twee kinders gehad naamlik 'n dogter Martha Johanna Magdalena Catharina Olivier (moeder van die skrywer) en 'n seun, Christiaan Jacob Johan Olivier. Hulle het egter ook 'n dogtertjie, Anna Catharina Magdalena Olivier, aangeneem en as 'n eie kind grootgemaak. Sy was n broerskind van Christiaan, wat op 'n jong ouderdom albei haar ouers verloor het en wees agtergelaat is.
Dit word vertel dat Pieta se tweede man, Christiaan Olivier, 'n goeie, saggeaarde en goedgelowige man was wat maklik by geleenthede deur gewetenlose mense verkul was. Pieta het dan sonder om te skroom die saak in eie hande geneem en vir hom in die bresse gaan tree; sy was 'n vuurvreter met wie rekening gehou moes word en vir g'n duiwel bang nie.
Christiaan en Pieta het in 1908, tydens die geboorte van hulle dogter Martha (noemnaam Johanna) in die Kestel-omgewing gewoon en teen 1918 toe hulle seun Christiaan (noemnaam Jacob) gebore is, op die plaas Waterval in die Bethlehem-distrik. Die grootste deel van hulle lewe het hulle egter gewoon op die plaas Klipfontein, in die omgewing van Ascent in die noordoos Vrystaat.
Pieta se man, Christiaan, het op die ouderdom van 74 jaar tragies verongeluk toe sy perdekar by Ascent-stasie deur die trein raakgery is. Hy is ernstig beseer en is binne ure daarna in die hospitaal op Standerton oorlede. Pieta en haar jongste seun, Jacob, wat toe 25 jaar oud was, het 'n tyd lank op Klipfontein bly woon. Daarna het hulle na die plaas Rondspring in die Babanango-distrik in Natal getrek en later na die plaas Vaalwater in die distrik Hendrina, waar Jacob in 1954 getroud is.
Na Jacob se troue het ouma Pieta na haar dorpshuis op Vrede in die Vrystaat getrek. Haar kleinseun, Charlie Els wat altyd in die skoolkoshuis op Vrede loseer het omrede sy ouers op 'n plaas gewoon het, het by haar gaan woon tot sy matriekjaar in 1960, waarna hy Pretoria toe is. Ouma Pieta het daarna nog vir 'n jaar of twee in haar huis op Vrede bly woon, waarna sy weer by haar seun, Jacob, en sy vrou gaan bly het, wat toe in Pretoria gewoon het.
Ouma Pieta het mooi gesonde lang donker hare gehad wat hulle kleur en tekstuur behou het vir die beste deel van haar lewe. Sy het eers grys begin word in haar heel laaste jare. Die gesonde hare is moontlik bloot 'n gelukkige genetiese eienskap maar dit is interressant om te noem dat sy haar lewe lank haar hare gereeld met niks anders gewas het nie as met 'n klein mespuntjie seepsoda opgelos in warm water. Daarna het sy haar hare afgespoel met water met 'n bietjie vars suurlemoensap daarin.
Hoe dit ookal sy, ouma Pieta was bepaald in alle opsigte 'n mens vanuit besondere genetiese grondstof want so 'n kwaliteit mens kan nooit uit swak gehalte boustene voortspruit nie.
|
|