Geskiedenis |
Pieter Hendrik en sy eerste vrou, Elizabeth Catharina (noemnaam Elsa) Booysen het op die plaas De Put in die wyk Brakrivier, distrik Somerset geboer. Hierdie plaas lê in lyn tussen Middelburg, Kaap en Hofmeyr. Verskeie van die buurplase in die omgewing het ook aan Henning familielede behoort, byvoorbeeld De Keur, die plaas van sy oom Gert Frans (b7), Juriesbaken, die plaas van sy ander oom, Willem Frederik (b6), Vreesfontein, die plaas waar sy oom Gert Frans se tweede vrou groot geword het.
Elsa Booysen was sy niggie - sy pa en haar ma was broer en suster. Sy word teen die einde van 1835, kort na die geboorte van hulle vyfde kind, deur die Xhosas tydens die verwoestende Sesde Xhosa-oorlog vermoor. Met haar dood het Pieter Hendrik die volgende besit: Die plaas De Put in die wyk Brakrivier, agt osse, 31 aanteelbeeste, drie ryperde, een merrie perd met 'n vul, 84 bokke, 654 skape en een ossewa.
Griewe onder die Grensboere het op hierdie tydstip hoogty gevier en dit was dan ook die begin van die Groot Trek. Andries Hendrik Potgieter en sy geselskap het teen die einde van 1835 vanaf die plaas Commando Drift in die Tarka vertrek. Die eerste eienaar van Commando Drift was Pieter Hendrik se oupa, Pieter Hendrik Henning, die stamvader.
Dit blyk of Pieter Hendrik Henning na sy huwelik met Aletta De Bruyn gedurende 1836 die Andries Hendrik Potgieter geselskap gevolg het, want sy spoor kan deur die Vrystaat, tot by Potchefstroom, op die Potgieter geselskap se spoor gevolg word. Hy sterf in die ouderdom van 91 jaar en elf maande op sy plaas Matjesspruit in die distrik van Potchefstroom.
Aletta De Bruyn se pa, Pieter Frederik De Bruyn, het aan die slag van Bloedrivier gedurende 1838 deelgeneem. Hy en sy eggenote was ook stigterslede van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op 10 Februarie 1859 te Rustenburg.
|
|