Geskiedenis |
Frederik Jacobus het by Kliprivier, naby Meyerton grootgeword. Hy het weinig skoolopvoeding gehad, dog kon goed lees, skryf en "somme maak". Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902 het hy as 12 jarige seun vir ’n rukkie op kommando gegaan, waar hy perde opgepas het. Hy was ook ’n kort rukkie saam met sy moeder in die konsentrasiekamp te Heidelberg. Gedurende die rebellie van 1914 was hy opgekommandeer om saam met die regeringstroepe na Wes-Transvaal en Suid-Wes-Afrika te gaan. Hy was egter nooit in enige gevegte betrokke nie. Gedurende 1909 tree hy in die huwelik met Anna Magdalena van der Westhuizen. Sy was ook gedurende die Tweede Vryheidsoorlog ’n ruk lank saam met haar moeder in die Heidelberg Konsentrasiekamp, van waar af hulle na die Merebank konsentrasiekamp by Jacobs, Natal oorgeplaas is. Sy self was ook nie baie lank op skool nie (slegs st 4) voordat sy vir haar jonger susters moes begin huis hou. Frederik en sy eggenote gaan boer kort na hulle huwelik op Modderbult, naby Balfour Tvl. Hulle woon tot 1958 hier, toe hulle die plaas verkoop en gaan woon het by hulle seun Jacob te Thaba Nchu en later Bloemfontein, waar albei oorlede is. Met Frederik se dood, was hy en eggenote amper 69 jaar getroud.
|
|