Geskiedenis |
Pierre het sy militêre diensplig voltooi by die Lugmag-gimnasium en na sy basiese opleiding het hulle hom geplaas by die Waterkloof lugmagbasis, waar hy gewerk het op die instandhouding van kommunikasie toerusting van die Buccaneer bomwerpers.
Na sy diensplig het hy by Tukkies ‘n BSc (Boubestuur) graad behaal, maar hy het gou agtergekom dat die dag tot dag pligte van ‘n boubestuurder nie by sy temperament pas nie. Hy het toe verder geleer en ‘n BSc graad in bourekenkunde (Quantity Surveying) behaal. Hy was meer gelukkig in daardie rol.
In 1978 het hy en sy broer Neels in vennootskap gegaan om klein meganiese onderdele vir Krygkor te maak. Krygkor het op daardie stadium sowat 30 000 R4 aanvalsgewere per jaar vir die weermag geproduseer, hoofsaaklik weens die grensoorlog op die Noordgrens van Namibië. Hulle was heel trots dat hulle ‘n bydrae kon lewer om die kommunistiese wolf van SA se deur weg te hou. Items wat hulle in massa geproduseer het, het ingesluit die R4 se korrel en blitsbreker. Hulle het ook komponente vir ‘n paar ander wapens, soos die Bren masjiengeweer gemaak. Dit was ‘n klein besigheid en hulle kon net kleiner outomatiese draaibanke en een klein freesmasjien bekostig.
Hulle het daaraan gedink om onderdele vir artilleriewapens te vervaardig, maar kon nooit so ver kom nie. Met die resessie van 1982 het die bestellings van Krygkor heeltemal opgedroog en moes hulle die besigheid sluit. Neels het toe vir Grinel (Transmitton) gaan werk en Pierre en familie het Durban toe getrek, waar hy werk gekry het as bourekenaar en sy vrou Andreé (wat ‘n meestersgraad in Wiskunde het) het werk gekry as Wiskunde lektor by ‘n plaaslike universiteit.
Tydens hulle verblyf in Natal, het hy ‘n belangstelling ontwikkel in kayakke. Hy was deeltyds betrokke by ‘n klein firma wat die bote gebou het. Hy het self een of twee uit hout gebou wat pragtig was om te aanskou.
Hulle het daar gewoon tot en met hulle aftrede in 2015, toe hulle Pringle Baai toe getrek het.
Pierre was ‘n kleurryke karakter en bobaas-storieverteller, maar hy het ook ‘n ernstige en verantwoordelike kant gehad. Hy was byvoorbeeld baie bekommerd en krities oor wat op politieke gebied in Suid-Afrika aan die gebeur was.
Hy het ‘n besondere liefde vir Afrikaanse musiek gehad en was goed bevriend met verskeie bekende kunstenaars, onder andere Anton Goosen en Lucas Maree.
‘n Paar jaar gelede het Pierre kanker in sy regtervoet gekry, en hulle moes die voet afsit. Hy het toe ‘n prostetiese voet gekry waarmee hy maar baie gesukkel het. Pierre het ook probleme met aarverkalking (atherosclerosis) gehad. So drie/vier jaar voor sy dood het hy drie hartomleidings gekry, wat blykbaar net twee jaar gehou het. So, Pierre moes later stents in sy hart kry, maar dit was nie genoeg nie, want hy moes gereeld medisyne vir angina gebruik. Die uiteinde vir Pierre was die hartaanval waaraan hy oorlede is.
|
|