Geskiedenis |
Na voltooiing van haar skoolopleiding te Zastron begin Martjé op 5 Januarie 1943 werk as klerk by die SAVD in Johannesburg. Sy beland in dieselfde kantoor as Hendrik Burger en daar het die romanse begin. Hulle is op 8 April 1944 getroud. Hendrik Burger is op die plaas Spioenkop, in die Vredenburg distrik gebore, waar sy pa geboer het. Dit is dieselfde plaas waar die Saldanha ertshawe ontwikkel het. Hy het op Vredenburg skoolgegaan en het daarna begin werk by die SAVD se kantore in Johannesbrug. Uit die aard van Hendrik se werk het hulle deur die jare baie verhuis. Beide hulle seuns is in die Transvaal gebore, maar gedurende 1955 word hulle verplaas na Uitenhage, waar hulle 15 gelukkige jare woon en waar die seuns matrikuleer. Einde 1969 word hulle verplaas na Port Elizabeth en 1974 na Kaapstad. Hier tree Hendrik af teen die einde van 1977. Na hulle aftrede gaan woon hulle op Vredenburg, Hendrik se geboortedorp. Behalwe vir drie jaar, wat Martjé na hulle troue gewerk het, was sy 'n huisvrou, met 'n voorliefde vir kunsnaaldwerk, decoupage, weef en laslapwerk. Sy en Hendrik is baie betrokke by hulle kerk. Hul oudste seun Barend (genoem Bokkie) was 'n lektor (MSc Fisiologie) aan die Universiteit van Stellenbosch en terselfdertyd 'n vyfde jaar mediese student toe hy in September 1974 verdrink het by Kaap Hangklip. Hy het 'n heldedood gesterf, want hy het in diepsee sy eie reddingsbaadjie uitgetrek en vir 'n vriend, wat nie so 'n goeie swemmer was nie, gegee om aan te trek. Bokkie het hierdie vriend die hele tyd in die onstuimige see moed ingepraat en begelei strand toe. Die vriend het die strand veilig bereik, maar Bokkie is nooit gevind nie. Hul omgeslane boot het 'n paar dae later op Sandbaai uitgespoel.
|
|