AFDELING 6

DIE STAMVADER PETER HENRICH HENNING (a2)

Subafdelings
  1. Kinders van Peter Henrich Henning
  2. Johannes Gerhardus Tak (a2.b1.)
  3. Jacobus Cornelis Tak (a2.b5.)
  4. Willem Frederik Tak (a2.b6.)
  5. Gert Frans Tak (a2.b7.)
  6. Jan Hendrik Tak (a2.b9.)
  7. Daniël Stephanus Tak (a2.b10.)

Geskiedenis van Peter Henrich Henning (a2)

Gedurende die eerste helfte van die Agtiende Eeu, was groot dele van Europa nog in klein soewereine staatjies verdeel. Een so 'n staatjie was die Prinsdom van Lippe, wat slegs 1 225 vk km beslaan het. Lippstadt, die hoofdorp van Lippe, het reeds voor die jaar 1190 bestaan. Hoewel Lippe gedurende die Negentiende Eeu deel van die Duitse Ryk geword het, was dit een van die staatjies wat sy soewereiniteit die langste behou het. Dit was eers op 21 Januarie 1947, onder Britse militêre bewind, dat Lippe by Noord Rhyn-Westphalia ingelyf is en vanaf 1949 deel van die Federale Republiek van Duitsland geword het1.

'n Blik op Lippstadt gedurende die dae toe Peter Henrich Henning en sy ouers daar gewoon het


Grosse Marien Kirche te Lippstadt, Duitsland waar Peter Henrich Henning op 24 Desember 1740 gedoop is


Dievolgende is 'n gewaarmerkte afskrif van uittreksels uit die doop- en huweliksregisters van die Evangeliese Lutherse Kerk, Lippstadt, Duitsland, waar die doop- en eerste huweliksbesonderhede van Peter Henrich Henning aangeteken is 3, 10

Lippstadt is aan die Lipperivier in die Noordelike deel van Wes-Duitsland in Westfalen geleë. Die stad het ongeveer 65 000 inwoners2. Kenmerkend van die stad is dat dit 'n waterryke stad is, wat in die verlede as handelstad floreer het. Die ou stad is deur waterweë omring, naamlik die Lipperivier, 'n kanaal parallel aan die Lippe en 'n kanaal wat om die destydse stadsmuur gebou is. Kenmerkend ook is dat die ou stad pragtig behoue gebly het. Die nuwe het te midde van die oue ontwikkel. Die strate is nou. Alle strate wat vir verkeer oopgestel is, is eenrigtingstrate. Daar is talle voetgangerstrate. Talle huise van honderde jare oud, wat behoue gebly het, het een of ander bewoording met 'n Christelike inslag bokant die voordeur. Die Christelike geloof het vir baie eeue 'n baie groot rol in die lewens van die mense van Lippstadt gespeel. So is daar 'n klipplaat met ingegraveerde bewoording in die voorportaal van die Martin Niemöllerhuis, die argiefbewaarplek van die Evangeliese Kerk. Die klipplaat was bokant 'n deur in Woldemeistraat en is daar verwyder toe die huise gedurende 1976 in Woldemeistraat afgebreek is:

Wer ein und ausgeht durch die Thür

Der soll bedenken für und für

Dass unser Heiland Jesus Christ

Die rechte Thür zum Himmel ist.

Wie in en uitgaan deur die deur

Moet altyd daaraan dink

Dat ons Heiland Jesus Christus

Die regte Deur na die Hemel is

Wat ook opval is die aantal groot kerke wat honderde jare gelede gebou is. Hierdie kerke is almal binne loopafstand vanaf mekaar geleë:

  1. Die Brûderkirche, pragtig geleë aan die Lippe, behoort vandag aan die Evangelische Kirchengemeinde Lippstadt en word verhuur aan die Grieks Ortodokse Kerk. Vanaf 1281 was dit 'n Katolieke klooster. Nadat Monnik D Johannes Westermann in 1520 na Wittenberg gestuur is en hy onder Martin Luther studeer het, het die hervorming vanuit hierdie kerk na die hele Westfalen versprei.
  2. Die Grosse Marienkirche, is in 1222 deur Bernhard II, grondlegger van Lippstadt, ingewy en in 1972 is die restourasie aan die binnekant van die kerk voltooi.
  3. Die Jacobikirche, is in Lange Strasse en is in die verlede vir die vroeë oggenddiens gebruik.
  4. Die Striftsruïne, is sedert 1819 'n ruïne. Dit was oorspronklik die Augustinerinnen-Kloster en het na die hervorming ook Luthers geword. Die parkomgewing van die ruïne is baie rustig en stil. Etlike ou grafstene van vooraanstaandes, waaronder verskeie mense uit dieselfde tydvak as Peter Henrich Henning, is teen die binnemure aangebring.
  5. Die Nicolaikirche, was oorspronklik Katoliek, het Protestants geword, maar is vandag weer Katoliek.

Op 24 Desember 1740, 'n dag voor Kersfees, word 'n babaseuntjie van enkele weke oud, in die Grosse Marienkirche te Lippstadt, gedoop. Verderaan word 'n afdruk van die doopregister gevind. Die naam PETER HENRICH HENNING (uitgespreek Peeter Henrik) word deur die leraar, Dr Dreckmann, in die doopregister aangeteken3. Ongelukkig was dit daardie jare die gebruik om slegs die pa en die peetpa se name in die doopregister te vermeld. Sy pa se naam word aangeteken as Johann Gerdt Henning en sy peetpa Syndicus Clusëner. Peter Henrich se moeder se name kon aanvanklik nie opgespoor word nie, ten spyte van die feit dat alle doop-, huwelik- en sterfteregisters van al die Evangeliese Lutherse gemeentes, wat gedurende daardie jare in die omgewing bestaan het, deurgewerk is. Ons kon uiteindelik Peter Henrich Henning se ma se name in die rekords van die Mormoonse Kerk opspoor. Sy was Anna Maria Kramer. Ongelukkig word geen verdere besonderhede verskaf nie. Die spelling van Peter Henrich se pa se name word ook in verskillende dokumente verskillend aangeteken. Sommige dokumente wat geraadpleeg is, dui sy naam as Johan Gerhard aan, ander Johannes Gerhard en dan natuurlik die spelling soos dit in Peter Henrich se doopregister voorkom - JOHANN GERDT. Dit is natuurlik 'n verkorting van Johannes Gerhard4.

Johannes Gerhard was 'n tabakhandelaar wat op 25 April 1727 'n burger van Lippstadt geword het5. Gedurende daardie dae is daar onderskeid getref tussen 'n “burger” en 'n “inwoner”. 'n Burger het sekere voorregte en pligte gehad, wat 'n inwoner nie gehad het nie. Die inskrywing wat in die doopregister gemaak is dui aan dat Johannes Gerhard eines Burgers Sohn (die seun van 'n burger was, wat aangedui het dat sy vader ook permanent te Lippstadt gewoon het. Indien na die ouderdomme van sy kinders gekyk word, kan die afleiding gemaak word dat hy as jong man toe vir die eerste keer begin werk het.

Sedert Johannes Gerhard Henning 'n burger van Lippstadt geword het, het hy en sy vrou Anna Maria (gebore Kramer) die volgende kinders daar gedoop:6

» PETER JOHANN DIEDERICH, gedoop op 16-3-1730

» JOHANN WILHELM, gedoop op 6-3-1732

» JOHANN STEPHAN, gedoop op 4-6-1734

» FRIEDRICH STEPHAN WILHELM, gedoop op 31-5-1735

» MARIA ELIZABETH, gedoop op 7-3-1737

» ANNA MARGARETHA, gedoop op 25-11-1738

» PETER HENRICH, gedoop op 24-12-1740

» CATHARINA ELIZABETH, gedoop op 17-1-1743

» JOHANN HENRICH EBERHARD, gedoop op 25-4-1746

Die afleiding word gemaak dat Peter Johann Diederich die eerste kind van Johannes Gerhard en Anna Maria Henning was - omdat hy eers drie jaar na sy vader se verkryging van burgerskap gebore is en dit die eerste inskrywing van 'n Henning kind in die doopregisters is, sedert Johannes Gerhard se verkryging van burgerskap. Dit beteken dat hy kort tevore moes getrou het.

Volgens dokumente in die Lippstadt stadsargief het Johannes Gerhard Henning en sy gesin in Woldemei-straat, in die omgewing van Auf der Klus/Klusetorstraat gewoon7. Al die huise in hierdie omgewing is gedurende 1976 gesloop omdat dit reeds erg vervalle begin raak het en om vir 'n breë straat en moderne geboue plek te maak. Dit is dus moontlik dat die klipplaat met die Christelike inskripsie wat tans in die voorportaal van die Martin Niemöllerhuis lêecirc;, deel van Johannes Gerhard Henning se huis was. In die Heimatmuseum, Lippstadt is daar 'n kaart van die dorp wat gedurende 1776 geteken is. Op die kaart is die strate sowel as die huise geteken. Mens kan 'n idee vorm van hoe die huise in Woldemeistraat gelyk het. Almal het 'n steil dak met 'n gewel (die tipiese Duitse styl) aan die straatkant gehad. Dit blyk ook of die raamwerk van al die huise van houtbalke (ongeveer 30cm x 30cm) met gepleisterde stene tussenin was.

Johannes Gerhard is gedurende die jare 1743, 1748, 1755 en 1756 (as senior) tot “Baurichter” (stadsraadslid soos ons dit noem) vir die wyk Jacobihoven verkies. Dit was die Suid-Oostelike stadsdeel om die Jacobikirche. Die stad is in vier verdeel en in elke deel is twee Baurichter aangestel. Hulle moes onder andere die burgemeester aanwys en ook in 'n geregtelike hoedanigheid optree om geskille te besleg.

Johannes Gerhard Henning het sy seun Peter Henrich as tabakroller opgelei, dog toe hy op 28 April 1758 te sterwe kom8, moes Peter Henrich as sewentienjarige seun, die besigheid oorneem. Peter Henrich kry aanvanklik vrystelling van belasting totdat hy op 23 Januarie 1760 'n volwaardige burger van Lippstadt geword het9.

Hoewel Peter Henrich in Woldemeistraat gewoon het, was sy tuin nie ver hiervandaan nie - naby die kanaal in die Klussestrasse (by die Klusetor/poort)7. Vandag staan hier 'n groot moderne gebou.

Op 29 April 1760 tree Peter Henrich in die huwelik met ANNA ELIZABETH HELENA PIERS10. Die heer Dreckmann wat hom gedoop het, neem ook die huweliksplegtigheid waar. Op 15 November 1764 word sy eerste kind in dieselfde kerk, deur dieselfde predikant gedoop11. Die naam Friederich word aan hom gegee. Dit blyk dat Peter Henrich op hierdie tydstip 'n vermoënde man was, want hy was lid van die Gilde en die drie peetpa’s wat by die doop teenwoordig was, was almal belangrike persone in die gemeenskap. Hulle was: Vaandrig von Hecker, van die beroemde Regiment von Schenkendorff, Senator Sachtleben en 'n heer Kaufmann Sudendorff.

Gedurende hierdie jare, 1756 tot 1763 woed die sewejarige oorlog in Europa tussen Frankryk, Oostenryk en Rusland aan die een kant en Pruise onder Frederik die Grote, aan die ander kant. Talle mense is as gevolg van die oorlog van een gebied na 'n ander verdryf en het al hulle eiendom verloor. 'n Algemene toestand van armoede het ontwikkel. Verskeie siektes en epidemies het uitgebreek. Dit was onstuimige jare in Europa. Lippe het sy grootboet, Pruise ondersteun. Daar het ook verskeie veldslae nie ver van Lippstadt af plaasgevind nie, byvoorbeeld die slag van Hastenbeck in 1757 en die slag van Minden in 175912. Die oorlog het 'n groot invloed op die lewens van al Lippstadt se inwoners gehad.

Op 14 Julie 1765 tree die 24 jarige Peter Henrich Henning in diens van die Verenigde Oos Indiese Kompanje (VOC) as 'n gewone soldaat en vertrek dieselfe dag met die retoerskip, Jonkvrouwe Kornelia Jacoba na die Kaap van Goeie Hoop. Die skip kom op 22 November 1765 by die Kaap aan. Die Jonkvrouwe Kornelia Jacoba was 'n retoerskip van die Kamer Enkhuizen van die VOC 13.

Verskeie argivale bronne in die Kaapse Argiefbewaarplek, asook sy Vryburgersertifikaat (wat verderaan geraadpleeg kan word) dui foutiewelik aan dat Peter Henrich Henning met die skip "Vrouwe Petronella" na die Kaap gevaar het14. Sy naam kom egter op geeneen van die skeepslyste van al die vaarte van die Vrouwe Petronella voor nie, terwyl sy naam duidelik op die 14 Julie 1765 vaart van die Jonkvrouwe Kornelia Jacoba vermeld word.

In die Lippstadt stadsargief is ook dokumente gevind wat aandui dat die huis wat Peter Henrich Henning in Woldemeistraat bewoon het, gedurende 1765 van eienaar verwissel het15. Talle vrae, wat ons seker nooit verseker sal kan beantwoord nie, ontstaan hieruit: Wat het van sy vrou en babaseuntjie geword? Hoekom het hy, as 'n oënskynlik vermoënde man, as 'n gewone soldaat na 'n vreemde land geëmigreer? Is sy vrou en seuntjie dood tydens een van die epidemies, of het hy hulle net eenvoudig agtergelaat, of het hulle hom verlaat? En die tabakwinkeltjie, hoekom het hy 'n oënskynlik welvarende besigheid net so agtergelaat, of het dit nie meer so goed gegaan nie?

'n Moontlike verklaring vir sy vertrek vind ons in Helmut Klockow se boek “Stadt Lippe - Lippstadt”16. Op 2 Junie 1764 was daar 'n baie groot magasynontploffing in die Suid-Oostelike deel van die stad - die deel waar Peter Henrich Henning gewoon het - tussen die Jacobikirche en die Suidelike poort. Die plofstof was in 'n skuur en twee seuns het daar met vuur gespeel. Hulle het daardeur ook hul eie lewens verloor. Talle huise is in die onmiddelike en verdere omgewing totaal vernietig en baie is erg beskadig. Tot die ruite in die Marienkirche is beskadig. Hierdie gebeurtenis en die gevolge daarvan moes Peter Henrich - en Anna Henning bewustelik meegemaak het. Vyf maande later, een week voor Friederich op 15 November 1764 gedoop is, was daar op 8 November 'n tweede ontploffing in die plofstoftoring by Hasenfang in 'n meer Suid-Westelike deel van die stad.

Gedurende 1764 het die Pruisiese koning ook bevel gegee dat die stadsmure gesloop moes word. Peter Henrich kon dus nie 'n mooi prentjie agtergelaat het nie: gesloopte stadsmure, bouvallige geboue as gevolg van die ontploffings, 'n redelike algemene armoedigheid as gevolg van die oorlog en die gevaar van siektes en epidemies.

'n Verdere moontlike rede kan wees dat dit nie meer te goed met die besigheid gegaan het nie en hy toe besluit het om elders weer op die been te probeer kom, terwyl hy sy vrou en kind agterlaat, miskien met die doel om later weer by hulle aan te sluit. Omstandighede in die vreemde land aan die Suidpunt van Afrika was toe heel anders as wat hy verwag het en dit het sy hele lewe verder aan in 'n rigting gestuur wat hy nie kon voorsien het nie. Die feit dat die Pruisiese koning ook gedurende hierdie tyd rook verbied het (slegs baie arm mense is toegelaat om te rook) het Peter Henrich sekerlik ook beinvloed. As tabakhandelaar het die koning se besluit hom van sy inkomste ontneem. Ons glo dat al hierdie moontlike redes gesamentlik 'n rol in sy besluit om te vertrek gespeel het.

Ongelukkig is niks van sy dienstydperk as soldaat in diens van die Hollandse Oos Indiese Kompanjie bekend nie, behalwe dat hy onder bevel van Kaptein Hendrik Storm en Vaandrig Johannes Steen gedien het en soldy ten bedrae van 9 Guldens ontvang het17. Op 25 Mei 1768, dit wil sêecirc; minder as drie jaar na sy aankoms aan die Kaap, verleen die Kompanjie goedkeuring dat hy as 'n boerkneg vir die boer Gerrit (of Gerdt) Engelbrecht mag werk. Gerrit Engelbrecht is een van die stamvaders van die Engelbrecht families in Suid-Afrika en het op hierdie stadium in Stellenboschdistrik, in die wyk Klein Drakenstein gewoon18 op 'n stukkie grond van ongeveer 2 morge met die naam Leliefontein. Dit is naby die hedendaagse Paarl. Gerrit Engelbrecht het hierdie stukkie grond (Leliefontein) op 5-4-1762 bekom om sy ambag as timmerman daar te beoefen.19 In die dienskontrak word daarvoor voorsiening gemaak dat Peter Henrich 'n maandelikse loon van agtien guldens Indiese valuta en een pond tabak sou ontvang, afgesien van gratis verblyf, spys en drank. In hierdie kontrak word sy naam as PETER HENDRIK vermeld hoewel hyself die kontrak as Peter Henrich Henning geteken het20 (die drie bladsye van die kontrak verskyn aan die regterkant van die bladsy). Let veral op hoe hy die verskillende letters maak en vergelyk dit met briewe wat hy baie jare later geskryf het en wat verderaan in die hoofstuk verskyn. Die kontrak is op die volgende datums vir 'n verdere jaar hernu: 25 Mei 1769, 30 Mei 1770 en 10 Junie 1771.

'n Bietjie meer as 'n maand na sy indienstredingdatum, op 10 Julie 1768, tree hy te Drakenstein (Paarl) in die huwelik met ELIZABETH CATHARINA ENGELBRECHT, die dogter van Gerrit Engelbrecht, sy werkgewer21. Uit hierdie huwelik is elf kinders gebore, naamlik:

· a2.b1. JOHANNES GERHARDUS
· a2.b2. ELIZABETH CATHARINA
· a2.b3. PIETER HENDRIK
· a2.b4. ANNA MARIA
· a2.b5. JACOBUS CORNELIS
· a2.b6. WILLEM FREDERIK
· a2.b7. GERT FRANS (gedoop Gerrit Frans)
· a2.b8. CAREL
· a2.b9. JAN HENDRIK
· a2.b10. DANIEL STEPHANUS
· a2.b11. JOHANNA MAGDALENA

Van sy elf kinders, het slegs twee - a2.b3. PIETER HENDRIK en a2.b8. CAREL - nie in die huwelik getree nie. Hulle is skynbaar jonk oorlede, aangesien daar verder geen rekord van hulle, of enige van hulle nasate, opgespoor kon word nie.

'n Afdruk van die sertifikaat ingevolge waarvan Pieter Hendrik Henning op 25 November 1783 'n Vryburger geword het21


Op die volgende drie prente verskyn 'n afdruk van die kontrak van 25 Mei 1768 ingevolge waarvan die soldaat Peter Henrich Henning as boerkneg vir die boer Gerrit Engelbrecht begin werk het18





Goedkeuring word deur die Kaapse Goewerneur aan Pieter Hendrik Henning verleen om die plaas Alleengelaten langs die Voëlrivier, aan die voet van Bruintjieshoogte te beset - 2-12-178426



Goedkeuring word deur die Kaapse Goewerneur aan Pieter Hendrik Henning verleen om die plaas Commando Drift in die Tarka te beset - 25-9-1789



'n Brief gedateer 13 Julie 1789 wat Pieter Hendrik Henning aan “Neef Baarent Burger”, die Veldwachtmeester van die wyk Visrivier geskryf het40



Die bladsy in die Opgaafrol van die wyk Achter de Sneeuwberg, distrik Graaff-Reinet vir die jaar 1798 waarop die besonderhede van Pieter Hendrik Henning voorkom41



'n Bewys gedateer 15 Mei 1807 dat Willem Frederik Henning (a2.b6) die plaas Klipplaat, 'n buurplaas van Elandskraal, aan Jan Hendrik Viljoen verkoop het47



'n Brief wat die 76-jarige Pieter Hendrik Henning op 25 Oktober 1816 aan die landdros van Graaff-Reinet geskryf het, waarin hy toestemming verleen dat sy seun Gert Frans (a2.b7.) hom in 'n hofsaak mag verteenwoordig. Let veral op die ooreenkoms tussen sy handskrif en handtekening in hierdie brief en die brief wat hy 27 jaar vroeër - geskryf het


Kort na sy troue neem Pieter Hendrik Henning Leliefontein oor by sy skoonpa en bedryf sy beroep as skrynwerker hier. Hy verkoop Leliefontein aan Daniël Gerhardus Cilliers en verhuis na die Graaff-Reinet distrik19.

Op 25 November 1783 word hy 'n Vryburger22

Op hierdie sertifikaat word sy naam PIETER HENDRIK geskryf. Die sertifikaat magtig hom om die beroep van skrynwerker enige plek in die Kaap van Goeie Hoop te beoefen. Volgens oorlewering is die skrywer egter baie duidelik onder die indruk gebring dat Pieter Hendrik grofsmid werk gedoen het.

Dit word bevestig deur verskeie stukke gereedskap - 'n aambeeld, blaasbalk en grofsmidhamers - wat aan die stamvader behoort het, asook 'n groot slagyster wat hy skynbaar vervaardig het en wat vandag nog in skrywer se familie se besit is. Beide beroepe kan egter korrek wees, aangesien die skrynwerkers van destyds ook wamakers was. As wamaker moes hy ook met metaal werk, waarvoor hy grofsmid gereedskap nodig gehad het.

Gedurende hierdie dae het dit tradisie by die blanke inwoners van die Kaapkolonie geword dat 'n man vir homself en nie vir 'n “baas” werk nie. Dit was vernederend om vir 'n baas te werk.

Daar was algemeen aanvaar dat slegs slawe, rondloper Hottentotte (Khoi Khoi) en mak Boesmans (San) vir 'n baas gewerk het. Die enigste wyse waarop die meerderheid blankes vir hulself kon werk, was om te boer - veral omdat weinig van hulle enige ambag kon beoefen. Die eenvoudigste en goedkoopste manier van boer, veral in die grensdistrikte van die Kolonie, was veeboerdery. Uitgawes was kleiner as by akkerbou, terwyl die afsetgebied beter en wins hoër was.

Die Kompanjie het burgers aangemoedig om van die leningplaasstelsel gebruik te maak. Daarvolgens kon burgers baie maklik plase in die binneland teen betaling van 'n klein jaarlikse rekognisiegeld (“quitrent”) huur. 'n Boer kon self sy plaas gaan uitkies waar hy wou en nadat hy dit in oorleg met die landdros afgebaken het, kon hy dit bewoon.

Soos die bevolking vermeerder het, het grond binne die grense van die Kolonie al skaarser geword. Die meerderheid nuwe boere het dus nie grond van hul eie gehad nie en moes hulle vee op Staatsgrond of op die plase van grondeienaars laat wei. Pieter Hendrik Henning het aanvanklik in hierdie kategorie geval.

Nieteenstaande Pieter Hendrik Henning se beweerde ambagte het hy hom enkele jare na sy troue aan die oosgrens van die Kolonie gevestig. Vanaf 31 Maart 1779 kry hy toestemming van die Kaapse Goewerneur om sy vee op die plaas Weltevreden langs die Voëlrivier (destyds die Vogelrivier) in die Camdebo, aan die voet van die groot Bruintjieshoogte berge (enkele kilometers noord van die teenswoordige Pearston) te laat wei. Hiervoor moes hy “zestien goue ducaten van Ind. stijle ijder ofte 24 Riksd” rekognisiegeld betaal23.

Gedurende hierdie dae was die Boesmans 'n ernstige bedreiging vir die grensboere van die Kolonie. Hulle het hul in groot getalle in die Bamboesberge en langs die Seekoeirivier skuilgehou en dan klein groepies uitgestuur om vee by die grensboere te steel. Heel troppe vee is dikwels gebuit en plaasopstalle afgebrand. Talle boere is finansieel geruïneer. Selfs die Camdebo was baie onveilig24. Boere moes gedurig op hulle hoede wees en 'n wapen saamdra wanneer hulle op hulle plase rondbeweeg het. Hulle veewagters moes ook bewapen word.

Die owerhede in die grensdistrikte het gewoonlik na herhaalde strooptogte deur Boesmans 'n kommando bestaande uit plaaslike burgers op die been gebring om die Boesmans agterna te sit en te probeer om die gesteelde veë terug te kry. Hierdie kommando’s het egter nie veel steun van die Kaapse owerhede gekry nie en het gewoonlik onverrigtersake teruggekeer.

Gedurende die sewentiger jare van die agtiende eeu het twee Nguni inboorling groepe, die Gcaleka en Rarabe Xhosa, wat ook veeboere was, stelselmatig suidwaarts langs die ooskus van Afrika af beweeg en die Visrivier bereik. Toe Goewerneur Joachim van Plettenberg laat in 1778 die Suurveld - die gebied wes van die groot Visrivier - besoek, het hy verskeie Xhosakapteins met hulle mense en vee daar tussen die boere aangetref. Om 'n dreigende botsing oor weiveld af te weer, kom Van Plettenberg dus met 'n paar ondergeskikte kapteins ooreen dat hulle oos van die Visrivier (die nuwe grens) sal bly. Die goewerneur maak egter die groot fout om nie sy grensreëlings met Rarabe, die opperhoof van die stam te bespreek nie. Aan die einde van 1779 vind die eerste openlike vyandighede tussen Boer en Xhosa agter Bruintjieshoogte plaas25 - in die omgewing van Pieter Hendrik Henning se plaas, Weltevreden. In die somer van 1779/1780 ruk twee groot Burgerkommando’s onder bevel van Josua Joubert en Pieter Hendrik Ferreira teen die Xhosas op en verdryf hulle oor die Visrivier. Daar kan aanvaar word dat Pieter Hendrik Henning lid van een van hierdie twee kommando’s was. Ongelukkig dui die brondokumente waarin verslag oor hierdie kommando’s gedoen word nie die name van die burgers wat dit vergesel het aan nie. Slegs die leiers se name word genoem26.

Vyf jaar later, op 2 Desember 1784 kry hy toestemming om sy vee op die plaas “Alleengelaten” te laat wei. Hierdie plaas is enkele kilometers vanaf Weltevreden, stroomaf langs die Voëlrivier - suid van die teenswoordige Pearston. Weereens moes hy “zestien goue ducaten van Ind. stijle ijder ofte 24 Riksd” rekognisiegeld betaal. Hierdie vergunning is egter bietjie meer as 'n jaar later op 10 Januarie 1786 teruggetrek. Op 10 Junie 1786 is verdere toestemming egter weer aan hom verleen27.

Ons moet ook onthou dat die boere afhanklik was van natuurlike water, soos riviere en fonteine, vir hulle vee. Daar was nog nie implemente soos windpompe en boorgate nie. Die Kolonie is ook dikwels deur groot swerms sprinkane oorval, wat alle groenigheid voor die voet opgevreet het. Daar was ook nie goed soos insekdoders nie. Sodra die sprinkane verby getrek het, het reuse troppe springbokke (trekbokke in daardie dae genoem) die Kolonie uit die Noorde binnegeval om die laaste grassprietjies op te vreet. As gevolg van hul verterende honger kon niks en niemand hulle keer nie. In daardie dae was die boere magteloos teen die sprinkane en trekbokke.

As gevolg van die sporadiese droogtes, die sprinkane en trekbokke het dit ook nie baie lank geduur voordat daar nie meer weiding en water op 'n bepaalde plaas vir die vee was nie en dan was die boer verplig om dit eenvoudig te laat lêecirc; en na nuwe weivelde te gaan soek. Omdat daar baie min grond binne die Kolonie beskikbaar was, was talle boere verplig om gedurende droogtes buite die grense na weivelde te gaan soek. Sodra dit weer begin reën het, het die meerderheid boere weer na die Kolonie teruggekeer. Met verloop van jare het die tydperk wat sommige boere buite die grense deurgebring het, al langer geword. Sommiges het later permanent buite die grense van die Kolonie gebly. Uit die belastingopgawes (opgaafrolle) wat bestudeer is kon die afleiding gemaak word dat Pieter Hendrik Henning en sy kinders ook in hierdie groep val.

Teen die einde van 1786, of vroeg in 1787 het Pieter Hendrik en sy gesin skynbaar na die wyk “Achter de Sneeuwberg” in die nuutgeproklameerde distrik van Graaff-Reinet getrek, want sy belastingopgaaf is gedurende 1787 in hierdie wyk opgeneem. Sy bates was reeds meer as die gemiddelde vir soortgelyke boere en was die volgende28. 2 x slawe, 2 x perde, 52 x hoenders, 200 x skape, 1 x degen. Op 20 November 1787 word die plaas Elandskraal in die wyk Achter de Sneeuwberg aan hom toegeken29.

Die afgesonderdheid waarin die mense agter die Sneeuberg gelewe het, het met verloop van tyd 'n groot invloed op hul kulturele en Godsdienstige lewe gehad. In meeste huise was daar geen boek, behalwe die Bybel, nie. Talle mense kon dus beswaarlik hulle naam teken. Die leiding van predikant, onderwyser of landdros het ontbreek. Hulle het in 'n kulturele, intellektuele, opvoedkundige en geestelike vakuum voortbestaan. Daar was onvermydelik 'n agteruitgang in die gehalte van hulle taal, Hooghollands. Duitse invloed (Pieter Hendrik Henning was een) en kontak met primitiewe rasse (soos die Hottentotte) bring mee dat hulle taal ingrypend begin verander het - die begin van 'n nuwe Afrikataal, Afrikaans30 - die eerste en enigste Westersgeoriënteerde Afrikataal. Ons kan dus sêecirc; dat Pieter Hendrik Henning en sy gesin deel gehad het aan die vorming van hierdie nuwe taal.

Bykans twee jaar later, op 25 September 1789, het Pieter Hendrik Henning ook die plaas Commando Drift in die wyk Tarka bekom. Hy kon vir een jaar lank met sy veë “te mogen leggen en weijden op de plaats genaamd de Commando Drift gelegen aan de Tarka teen rekognisie van Rds 2431. Hierdie plaas was ver buite die grense van die kolonie en geleë in 'n gebied wat as uiters gevaarlik weens die Boesmans, beskou is. Ook hier is talle boere vanaf hulle plase verdrywe. Baie boere is van al hulle vee gestroop. Hoewel verskeie burgerkommandos van tyd tot tyd op die been gebring is om die Boesmans te beveg, was hulle nie baie suksesvol nie32.

Pieter Hendrik Henning het dus vir 'n tydlank (tussen 1789 en 1796) op beide Elandskraal in die wyk Achter de Sneeuwberg en Commando Drift in die wyk Tarka geboer. Gedurende hierdie jare is hy herhaaldelik op beide plase deur die Boesmans getreiter. Op 9 Januarie 1790 rapporteer die veldwachtmeester vir Achter Sneeuwberg, J D K Hattingh, dat die Boesmans op 12 Oktober 1789 'n geweer by Pieter Hendrik Henning se veewagter gesteel het. Weens die voortdurende strooptogte van die Boesmans moes die boere hulle veewagters bewapen. Op 31 Oktober 1789 was die Boesmans weer tussen Pieter Hendrik se veë, maar hulle kon niks buit nie. Die Boesmans het een Hottentot veewagter gewond, terwyl een Boesman geskiet is33.

Op 31 Januarie 1791 word 210 bokke van Pieter Hendrik Henning op sy plaas Elandskraal gesteel. As gevolg van hierdie diefstal, asook verskeie ander wat in veldwachtmeester Hattingh se wyk gepleeg is, het hy op 23 Januarie 1791 'n kommando, waarvan Pieter Hendrik Henning lid was, opgeroep om die Boesmans te agtervolg. Die kommando kon egter geen veë terugkry nie34.

Intussen is die Henning gesin se lewe in die Tarka ook deur die Boesmans versuur. Op 1 November 1794 verskyn 'n afvaardiging bestaande uit Pieter Hendrik Henning en drie ander boere (Opperman, Brits en Liebenberg) voor landdros Maynier van Graaff-Reinet. Hulle verteenwoordig al die boere in die Tarka en versoek die landdros om 'n kommando op die been te bring om die plunderende Boesmans wat in die Bamboesberge ten noorde van die Tarka, skuil, hok te slaan. Hulle dui aan dat dit vir hulle onmoontlik is om langer in die Tarka te bly, omdat al hulle veë gesteel, hulle huise afgebrand en hulle lewens bedreig word35. Landdros Maynier, wat glad nie na die belange van die boere omgesien het nie, het altyd op een of ander lamsakkige manier probeer om die geskille tussen die boere en die plunderende inboorlinge op te los.

Skynbaar moes Pieter Hendrik Henning gedurende September 1794 sy plaas ontruim omdat al sy veë gesteel is - hy is finansieel totaal geruineer. Dit word so aangedui in die verslag wat gedurende Mei 1795 voor kommissaris O G De Wet gedien het. Hy moes beslis oor agterstallige huurgeld op leningplase in die Graaff-Reinet distrik. Pieter Hendrik se agterstallige huurgeld vir een jaar is kwytgeskeld asook vir die volgende jaar36. Hierdie verslag wat voor kommissaris De Wet gedien het, word gestaaf deur die opgaafrolle van die jare 1792 en 1796 wat bestudeer is. Gedurende 1792 het Pieter Hendrik twee ryperde, 120 hoenders en 600 skape besit37. Met die opname wat gedurende 1796 gemaak is het hy slegs 18 hoenders en 200 skape besit38.

Op 3 Januarie 1796 rapporteer R J Brits, die Veldwachtmeester vir die Tarka dat Pieter Hendrik Henning se huis weer deur die Boesmans afgebrand is en dat daar by talle ander boere gesteel is39. Skynbaar het Pieter Hendrik Henning hierna sy plaas in die Tarka laat lêecirc; en permanent na Achter Sneeuwberg teruggetrek. Commandodrift het mettertyd een van die beste vee- en saaiplase in die Tarka geword. Dit het 'n paar keer van eienaar verwissel voordat dit in 1812 die eiendom van Hermanus Potgieter en vanaf 1817 die eiendom van Hermanus Potgieter se seun Andries Hendrik Potgieter, die latere Voortrekkerleier geword het40.

Die Potgieter geselskap het gedurende November 1835 met die Groot Trek vanaf hierdie plaas vertrek..

Gedurende 1789 het Pieter Hendrik Henning ook probeer om 'n plaas genaamd De Deippeners of Erasmus (vandag Erasmuskloof), 13 - 14 kilometer Oos van Graaff-Reinet te bekom. In 'n brief gedateer 13 Julie 1789 aan “Neef Baarent Burger” die Veldwachtmeester van die wyk Visrivier in die Graaff-Reinet distrik41, wat verderaan in Afrikaans herhaal word, word hierdie versoek gerig. Kyk volgende paragraaf vir 'n kopie van die afdruk. Uit hierdie brief blyk dit duidelik dat Pieter Hendrik Henning nie heeltemal ongeskoold soos die meeste ander boere agter die Sneeuberg (soos dit in die bron vermeld by voetnoot 28 gestel word), was nie, want sy taalgebruik, handskrif en handtekening getuig van goeie opvoeding. Ons moet onthou dat dit gedurende die vormingsjare van die nuwe taal, Afrikaans, was. Gelees in hierdie konteks, was dit 'n baie goeie brief. Die inhoud is beleefd, dog streng en beslis. Vergelyk ook sy handskrif en handtekening op die volgende dokumente: Die kontrak gedateer 25 Mei 1768, ingevolge waarvan hy vir Gerrit Engelbrecht begin werk het, die brief aan neef Barent Burger, gedateer 13 Julie 1789 en die brief wat hy op 25 Oktober 1816 aan die magistraat van Graaff-Reinet geskryf het. Oor 'n tydperk van agt-en-veertig jaar het sy handskrif nie baie verander nie. Sy handskrif en handtekening getuig ook van 'n sterk, selfversekerde, geskoolde en bekwame persoon. Uit hierdie brief kon ons heelwat van die mens Pieter Hendrik Henning leer ken.

Dit blyk egter of Pieter Hendrik toe nie hierdie plaas gekry het nie, want daar word nêecirc;rens weer na hierdie plaas verwys nie. Die brief aan “Neef Baarent Burger” lui egter as volg:

Geagte Neef Baarent Burger

Na my hartlike toewensing van goeie gesondheid, wens ek u die volgende versoek te rig: Dat u aan die menere Droest 'n skrywe rig waarin u my situasie en aanspraak verduidelik met betrekking tot die gedeelte van die plaas aan die Grootvisrivier bekend as De deippeners of Erasmus, bokant Blaauwkrans geleë.

U is ten volle bewus van ons destydse onderhandeling en ooreenkoms en die feit dat ek eerste aanspraak op diè plaas het, maar dit het nou aan my bekend geword dat ene mnr Jacob van Straten met die huidige veldwagmeester onderhandel oor dieselfde stuk grond. Hulle het intussen al die grond gaan besigtig. Ek sal dit waardeer as u hierdie saak sonder versuim in die reine stel.

U word in goeie vriendskap en met die beste wense gegroet.

U dienswillige Neef

P H Henning

Grootvisrivier

Dese 13 Julie 1789

Gedurende 1798 is Pieter Hendrik Henning en sy gesin se belastingopgaaf op die plaas van Jacob Pretorius in die gebied Achter Sneeuwberg opgeneem. Hy besit die volgende: 5 x Hottentotmans, 5 x Hottentotvroue, 4 x perde, 246 x hoenders, 1614 x skape42.

Alle kinders ouer as 16 jaar se bates is apart van hulle ouers opgeneem, ten spyte van die feit dat hulle nog by hulle ouers ingewoon het. So het a2.b1. Johannes Gerhardus (nog ongetroud) agt perde, nege-en-dertig hoenders en 286 skape gehad. Die sestienjarige Jacobus Cornelis (a2.b5) het vyftien hoenders en nege-en-vyftig skape besit.

Teen hierdie tyd was die Sneeuberge die enigste streek op die noordgrens van Graaff-Reinet waar die Boesmans nie die oorhand oor die boere kon kry nie. Hoewel hier wel van tyd tot tyd strooptogte plaasgevind het, was dit die moeite werd om vir hierdie streek te veg. Die Sneeuberge lêecirc; hoër as die omringende land en vang gevolglik meer reën. Die weiveld is uitstekend vir skape. Die land is bergagtig, maar tussen die berge en rante lêecirc; daar vrugbare grond, wat vir akkerbou geskik is. Verder was die gebied waterryk43.

Die opgaafrolle van 180044 dui aan dat Pieter Hendrik Henning drie leningplase in die wyk Achter Sneeuwberg besit - Elandskraal (20 uur se ry te perd vanaf die drosdy in Graaff-Reinet), Roode Taaibosch (22 uur se ry te perd vanaf die drosdy in Graaff-Reinet) en Klipplaat. Al drie plase lêecirc; langs die bo-lope van die Visrivier. Hy besit die volgende: 5 x Hottentotmans, 6 x Hottentotvroue, 8 x aanteelperde, 244 beeste, 1810 skape.

Johannes Gerhardus(a2.b1) was reeds getroud en het die volgende bates gehad: elf perde, nege-en-veertig beeste en 349 skape. Jacobus Cornelis (a2.b5), nog ongetroud, het twee perde, 25 beeste en 98 skape besit. Willem Frederik (a2.b6) het twee perde, 14 beeste en 86 skape gehad. Al drie seuns het egter nog by hulle ouers gewoon.

Daar is skynbaar net een belastingopgaaf gedurende die jare 1802 - 1804 opgeneem. In hierdie opgawe word aangedui dat die gesinne en bates van Pieter Hendrik en sy seuns Johannes Gerhardus en Gert Frans in die wyk “Achter de Rhenosterberg” opgeneem is. Rhenosterberg lêecirc; reg Noord van die gebied Achter Sneeuwberg en val vandag in die distrik Middelburg. Gedurende hierdie dae het die wyk “Rhenosterberg” slegs 'n vlottende bevolking van trekboere gedra, wat dikwels deur die Boesmans teruggedrywe is45. Pieter Hendrik se bates het gedurende hierdie jare tot die volgende aangegroei46: Hottentotmans bo 16 jaar-4, Hottentotseuns-2, Hottentotvroue bo 14 jaar-4, Hottentotdogters-3, Slawe ouer as 16 jaar-1, Ryperde-3, Aanteelperde-5, Trekosse-10, Aanteelbeeste-170, Hamels-194, Aanteelskape-1716, Bokke-93, Varke-4, Waens-2, Heelwat gesaaides.

Johannes Gerhardus (a2.b1) en sy vrou het ook teen 1802-1804 reeds 'n mooi boerdery aan die gang gehad. Sy bates was die volgende: Een Hottentot man, een Hottentot seun, twee ryperde, agt aanteelperde, twaalf trekosse, 24 aanteelbeeste, 30 hamels, 420 skape, 116 bokke, heelwat gesaaides en een wa. Hulle het egter nog by hul ouers gewoon.

Jacobus Cornelis (a2.b5) het teen 1802-1804 reeds vanaf Achter Sneeuwberg weggetrek. Willem Frederik (a2.b6) het op hierdie tydstip in die wyk “Op de Sneeuwberg” gewoon. Hy was ook reeds getroud en het die volgende besittings gehad: Een ryperd, agt trekosse, 26 aanteelbeeste, 130 aanteelskape, 83 bokke en een wa.

Gert Frans (a2.b7) was ook reeds oud genoeg om op sy eie belas te word, hoewel hy nog by sy ouers inwoon. Sy bates was die volgende: een ryperd, sestien aanteelbeeste, 50 skape en 86 bokke.

In die Opgaafrolle van 180947 word aangedui dat Pieter Hendrik Henning die eienaar van die plase Elandskraal en Roode Taaibosch, in die wyk Achter Sneeuwberg was. Dit is bekend dat Pieter Hendrik se derde seun, Willem Frederik (a2.b6), op 15 Mei 1807 die plaas Klipplaat aan Jan Hendrik Viljoen verkoop het48.

Die 1809 Opgaafrolle dui aan dat Pieter Hendrik onder andere 3000 skape besit het. Dit was ook 'n goeie jaar vir gesaaides. Hy het twee mud koring (tarwe in daardie dae genoem) en twee mud gars gesaai en 73 mud koring en 22 mud gars ge-oes. Pieter Hendrik se bates het in hierdie jaar 'n hoogtepunt bereik. Wat baie interessant in hierdie opgawe is, is dat hy ook 1800 wynstokke gehad het. Dit is duidelik dat die Hennings alle boerderyvertakkinge beproef het: beeste, perde, skape, bokke, varke, hoenders, gesaaides en selfs wynbou. Die stook van brandewyn het vroeg gedurende die negentiende eeu 'n baie gewilde praktyk in Graaff-Reinet geword en dit blyk dat Pieter Hendrik Henning hieraan meegedoen het49. Hy het ook drie slawe mans, vier slawe seuns en twee slavinne besit.

Teen 1814 woon slegs Gert Frans (a2.b7) met sy eerste vrou en Daniël Stephanus (a2.b10) nog by hul ouers op Elandskraal50, terwyl Johannes Gerhardus (a2.b1) in die omgewing woon - vermoedelik op die aangrensende plaas Zoetfontein. Die doopregister van een van Johannes Gerhardus se kinders wat gedurende hierdie tyd gebore is, dui aan dat hulle te Zoetfontein gewoon het. Die jare 1813, 1814 en 1815 was geweldige droë jare51 en dit blyk dat die ander seuns as gevolg hiervan weggetrek het. Dit word ook weerspieël in die opgaafrolle van 181452. Die getalle van sy veë het aansienlik verminder en hy het gedurende hierdie jaar niks geplant nie.

Pieter Hendrik het gedurende 1819, toe hy 79 jaar oud was, opgehou boer. Gedurende hierdie jaar het hy sy plaas Elandskraal in twee verdeel en aan sy twee seuns Gert Frans (a2.b7) en Daniël Stephanus (a2.b10) oorgedra. Die plaas Roode Taaibosch is na Jan Hendrik (a2.b9) oorgedra53.

As gevolg van die groot droogte wat tussen die jare 1820 en 1823 geheers het51, het Jan Hendrik (b9) gedurende 1821 Roode Taaibosch laat lêecirc; en permanent die binneland in getrek. Gedurende 1824, nadat Pieter Hendrik oorlede is, het Gert Frans (a2.b7) ook sy wa gepak en permanent die binneland ingetrek. Slegs Daniël Stephanus (a2.b10) het hierna op sy helfte van Elandskraal agtergebly. Vandag na bykans 200 jaar, woon 'n nasaat van Daniël Stephanus Henning (a2.b10), nog op hierdie deel van Elandskraal. Dit is Johannes Jacobus Coetzee, die seun van b10.c6.d3.e1. Lucya Aletta Henning (getroud Coetzee).

Ten einde 'n duideliker beeld van die toestande waaronder Pieter Hendrik Henning en sy gesin gelewe het te vorm, word 'n kort relaas van gebeure aan die oosgrens vanaf die eerste grensoorlog gedurende 1779 gegee: Nadat die twee Burgerkommando’s (waarvan Pieter Hendrik Henning waarskynlik lid was) die Xhosas oor die Visrivier teruggedryf het, was die orde geensins finaal herstel nie. Kort na hierdie eerste “oorlog”, was die Xhosas al weer met hulle vee aan die westekant van die Visrivier. Landdros Woeke van Graaff-Reinet moes op 'n stadium gedurende 1789 die burgeroffisiere versoek om die Xhosas weer oor die grens terug te dryf (tweede Xhosa oorlog), omdat die Kompanjiesregering - behep met besuiniging - hom nie genoeg manskappe wou gee om Van Plettenberg se skeidingsbeleid deur te voer nie. Vir die oosgrensboere was die toestand weldra heeltemal ondraaglik. Hulle was ontnugter en teleurgestel deur die regering van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie. Hulle het onder andere die volgende van die regering gedink: Dat hy korrup was; dat hy onbevoegde amptenare gehad het wat onsimpatiek teenoor die gewone burgers in die grensdistrikte was; dat die regering hulle nie wou toelaat om hulself, hul families en hul besittings teen plunderende barbare te verdedig nie; hulle nie wou toelaat om hul gesteelde veë te gaan terughaal nie; hulle nie wou toelaat om met die swartes handel te dryf nie; nie in staat was om hulle te verdedig nie; onbevoeg was om die kolonie se grense te verdedig; belastings gehef het waarvoor die gewone burgers geen voordeel ontvang het nie; vriendskapsverdrae met die vyand gesluit het; niks gedoen het om hul opvoedkundige en geestelike welvaart te verbeter nie. Die inwoners van Swellendam en Graaff-Reinet het openlik teen die Kompanjie in opstand gekom. Op Graaff-Reinet het 'n groep gewapende boere op 6 Februarie 1795 landdros Maynier - wat baie ongewild was - gelas om die drosdy te verlaat. Voorts het hulle geweier om die Kompanjie se wette te erken of sy belastings te betaal. Gedurende April 1795 het 267 burgers van Graaff-Reinet 'n brief aan Goewerneur AJ Sluysken gerig waarin hulle landdros Maynier verkla dat hy nie sy plig doen nie - onder andere dat hy nie vir hulle beveiliging sorg nie. Pieter Hendrik Henning was een van die ondertekenaars van hierdie brief aan die laaste Hollandse goewerneur aan die Kaap54.

Op 4 Augustus 1795 het Pieter Hendrik Henning weer saam met vyftien ander burgers 'n sterk bewoorde brief aan die nuwe waarnemende landdros van Graaff-Reinet gerig waarin hulle hom versoek om streng teen 'n groep Hottentotte op te tree wat besig was om andere tot 'n opstand/oproer op te stook55.

Intussen was die Kompanjiesbewind se dae aan die Kaap getel, want in September 1795 het Brittanje beheer oor die Kaap aanvaar56. Teen 1797 was die toekomstige twispunte wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis vir die volgende 200 jaar sou kenmerk, reeds in Graaff-Reinetdistrik aanwesig, naamlik die botsing tussen Boer, Swartman en Brit. Hierdie hoofstuk dien as bewys dat Pieter Hendrik Henning, wat hom te midde van hierdie woelinge bevind het, deel daaraan gehad het.

Daar is 'n teorie dat nie alle Graaff-Reinetters in opstand teen die owerhede was nie. Die teorie wil dit hêecirc; dat die suiderlinge (Graaff-Reinetters) onder liberale invloed deelgeneem het aan die politieke oproer en geweier het om die eed van trou jeens Brittanje af te lêecirc;. Aan die ander kant het die noorderlinge (diegene wat anderkant die Sneeuberg gewoon het en waarvan Pieter Hendrik Henning en sy gesin deel was) nie aan die suidelike “rebellies” deelgeneem nie en het trou aan die nuwe regering gesweer. Hulle was die isolasioniste, baie wetsgehoorsaam, ongeletterd en uiters konserwatief. Hulle was die egte Trekboere. In teenstelling met die algemene mening, was hulle nie so danig anti-Brits nie, maar wel anti-modern. Hulle baseer hulle lewenswyse op die Bybel en weier om enigiets wat nuwerwets is, te aanvaar57. Toe die kommandodiens tydens die Graaff-Reinet opstand in ander distrikte begin verslap het, het die Sneeubergers, wat minder in politiek belanggestel het, vasberade die stryd teen die Boesmans en Xhosas voortgesit58. Op die Oosgrens het die gespanne verhouding tussen die blankes en die Xhosas onder die nuwe bewind voortgeduur. Die hoofbron van moeilikhede was die stamme wat deur die opperhoof Gaika oor die Visrivier gedryf is en wat hulle in die Suurveld gevestig het. Hulle vrees vir Gaika se wraak was so sterk, dat niks behalwe geweld hulle sou dwing om na hulle kant van die grens terug te keer nie, en dit wou die Britse bewindhebbers nie gebruik nie. Teen 1802 het die Boere besef dat slegs ferme gewapende optrede die posisie aan die grens kon red.

Die Kaapse regering wou dit nie doen nie, dus moes die grensboere self die wapen opneem en is 'n kommando onder bevel van Tjaart van der Walt (Tjaart van der Walt is 'n agter-agter grootoupa aan moederskant van die outeur) op die been gebring - die derde Xhosa-oorlog. Gedurende die tydperk 1806 tot 1834 - d.w.s. tot net voor die begin van die Groot Trek - was die Kaap as kroonkolonie volkome aan die Britse regering ondergeskik. Die owerhede was onsimpatiek teenoor die gewone volk. Die Britse regering het wel die strategiese waarde van die Kaapse hawens besef, dog het die binneland as nutteloos beskou. Die regering was dus onwillig om geld vir die beskerming van die binneland uit te gee. Hoewel goewerneurs soos John Cradock en lord Charles Somerset pogings aangewend het om die Xhosas op hulle plek te hou, het die Britse Regering telkens 'n stokkie voor hulle pogings gesteek. Na die vyfde Xhosa-oorlog gedurende 1819, het Somerset, om die vrede te bewaar, die gebied tussen die Vis- en die Keiskamma riviere tot neutrale gebied, wat deur niemand bewoon mag word nie, verklaar. Dit het egter so 'n heftige reaksie in filantropiese kringe in Brittanje uitgelok dat dit ongedaan gemaak moes word. In 1833 is die kommandostelsel aan die grens afgeskaf, want volgens die filantrope is dit slegs deur die grensboere gebruik om beeste van die Xhosas te roof. Vir die reeds weerlose boere was dit 'n bittere slag, want nou was hulle glad nie meer in staat om hulself en hul eiendom te verdedig nie. Teen Desember 1834 was die sesde Xhosa-oorlog in volle swang. Duisende krygers in kleiner eenhede het wyd en syd dood en verwoesting onder die grensbewoners gesaai. Een van Pieter Hendrik Henning se kleindogters, Elizabeth Catharina Booysen (die dogter van a2.b4. Anna Maria Henning en Zacharias Booysen) wat met haar neef b5.c2. Pieter Hendrik Henning getroud was, is onder andere op hulle plaas De Put, in die Brakrivier veldkornetskap deur die Xhosa-krygers vermoor59.

Onder leiding van goewerneur D’Urban en Lt-Kol Harry Smith het die troepe, weereens bygestaan deur die burgerkommando’s, 'n teenaanval geloods en die oorlog beëindig.

Teen hierdie agtergrond van voortdurende gevaar, ongunstige natuurelemente, onherbergsaamheid, onsimpatieke houding van die regering, het Pieter Hendrik Henning en sy vrou hulle kinders grootgemaak. Al hulle kinders, behalwe Daniël Stephanus, die jongste seun, het sodra hulle oud genoeg was om die ouerhuis te verlaat en te trou, hulle waens gepak en dieper die binneland ingetrek. Hulle was dus tipiese trekboere van daardie tyd. Daniël Stephanus het egter op sy ouers se plaas agtergebly.

Die ligging van die plase en gebiede waar Pieter Hendrik Henning en sy gesin tussen die jare 1779 en 1823 gewoon het

Elizabeth Catharina Engelbrecht, die eggenote van Pieter Hendrik Henning, het sekerlik net so 'n belangrike bydrae gelewer tot al die duisende HENNING nasate wat vandag in Suid-Afrika rondloop. Sy is inderwaarheid die stammoeder van al die persone vermeld in hierdie boekie. Elizabeth Catharina is op 17 Januarie 1753 in die distrik van Stellenbosch, wyk Drakenstein (Paarl) gebore18. Haar vader was GERRIT (of Gerdt) ENGELBRECHT en haar moeder CATHARINA ELIZABETH DE JONG. Gerrit Engelbrecht het in 1733 uit Norden, Oos-Friesland in Suid-Afrika aangekom. Hy het in 1756 'n Vryburger geword. Met sy verkryging van burgerskap was hy 'n timmerman te Drakenstein, maar het later begin boer60, 18. Dit is hoe Pieter Hendrik Henning in 1768 by hom uitgekom het.

Catharina Elizabeth De Jong was weer die dogter van Kreliz Cornelisz De Jong wat vanaf Amsterdam gekom het en Elizabeth Kops of Kobbesz - sy was die dogter van 'n slavin61. Hulle het te Drakenstein gewoon.

Pieter Hendrik Henning sterf op 4 Julie 1823 in die rype ouderdom van 82 jaar en ses maande en sy eggenote Elizabeth Catharina op 11 Februarie 1845 in die ouderdom van 92 jaar en een maand62. Hulle het dus 'n vrugbare huwelik van 55 jaar gehad, wat baie min van hulle nasate tot vandag toe, hulle kon nadoen en wat selfs in die huidige tydvak 'n uitsonderlike prestasie is - hoeveel te meer in daardie dae, toe daar baie min, indien enige, mediese fasiliteite beskikbaar was. Elizabeth Catharina het ten tye van haar dood te Cradock gewoon. Sy is egter nie in die dorpsbegraafplaas begrawe nie. Daar word vermoed dat sy op een van die Henningplase in die distrik begrawe is. Die Henninggesin was, soos die meerderheid Oos-grens Boere, stil, nederige, Godsdienstige, maar tog geharde mense - 'n tipiese voorbeeld van die boustene waarop die Afrikanervolk gebou sou word.

Ten slotte wil die outeur graag 'n fout in bykans alle algemene genealogiese - en biografiese werke wat in Suid-Afrika beskikbaar is, waarin ons ou stamvader behandel word, uitwys. Die heel eerste algemene genealogiese werk waarin die stamvaders van die oudste Suid-Afrikaanse families uiteengesit word is C.C. de Villiers se Geslagt-register der oude Kaapsche familiën, wat in 1893 verskyn het. Op bladsy 320 word Pieter Hendrik Henning en sy kinders behandel. De Villiers dui slegs die naam PIETER HENDRIK aan, soos dit in Suid-Afrika verander het (hiermee word geen fout gevind nie). Gedurende 1946 het J. Hoge egter 'n werk met die titel Personalia of the Germans at the Cape, 1652 - 1806 in die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis, 1946 gepubliseer. Hy dui op bladsy 150 foutiewelik aan dat ons ou stamvader se name oorspronklik PETER HEINRICH HENNING en nie PETER HENRICH HENNING was. Daar is 'n duidelike verskil tussen die name Hendrik en Heinrich. Alle algemene genealogiese- en biografiese werke wat hierna in Suid-Afrika gepubliseer is, het skynbaar Hoge as bron gebruik en voortgegaan om die foutiewe naam aan te gee. Hier word onder andere na die volgende werke verwys: Hoge J.: Bydraes tot die genealogie van ou Afrikaanse families (Verbeterings en aanvullings op die Geslacht-register der oude Kaapsche familiën van C.C. De Villiers, Amsterdam, 1958; Redelinghuys J.H.:Die Afrikaner-familienaamboek, Kaapstad, 1954, p.112; Pama C.: Die Groot Afrikaanse familienaamboek, Kaapstad, 1983, p.156; Malherbe D.F. du T.:Stamregister van die Afrikaanse volk, Stellenbosch, 1966, p.426; De Villiers C.C. en C. Pama: Geslagsregister van die ou Kaapse families, Vol I, Kaapstad, 1981, p.304; Heese J.A. en R.T.J. Lombard: Suid-Afrikaanse Geslagsregisters, Vol 3, 1992, p.314.

VOETNOTE

  1. Encyclopaedia Britannica, 200 th Anniversary Edition, 1969, Vol 14, p.88

  2. Lippstadt publisiteitsbrosjure: Erobern Sie Lippstadt

  3. Doopregister Evangelish Kirchengemeinde, Brûderstr 13, 4780 Lippstadt, Buch 1 S. 343

  4. Gedurende 1984 was Dr Walberg die hoofargivaris van die Lippstadt stadsargief en Herr Becker, die kurator van die Heimatmuseum, Lippstadt. Beide hierdie persone, sowel as verskillende briewe wat die skrywer vanaf die argief van die Evangeliese Kerk, Lippstadt ontvang het, bevestig dat die verskillende spellings een en dieselfde persoon is

  5. Thurmann E: Burgerbuch der Stadt Lippe/Lippstadt 1576 - 1810. Lippstadt 1983. p.77

  6. Doopregisters Evangelish Kirchengemeinde, Brûderstr 13, 4780 Lippstadt, Buch 1/315, 1/323, 1/330, 1/332, 1/336, 1/340, 1/343, 1/346, 2/8, en 2/15

  7. Thurmann E: Burgerbuch der Stadt Lippe/Lippstadt 1576 - 1810. Lippstadt 1983

  8. Begrafnisinskrywing, Evangelish Kirchengemeinde Lippstadt, Buch 2S.134

  9. Thumann E: Op. cit. p.118

  10. Huweliksinskrywing, Evangelish Kirchengemeinde Lippstadt, Buch 2S.100

  11. Doopinskrywing, Evangelish Kirchengemeinde Lippstadt, Buch 2, Seite 72

  12. Encyclopaedia Britannica, 200 th Anniversary Edition, 1969, Vol. 20, pp. 273 - 278

  13. http://vocopvarenden.nationaalarchief.nl , Uitgebreid zoeken Peter Hendrik Henning

  14. Hoge J.: Personalia of the Germans at the Cape, 1652 - 1806 (Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis, negende jaargang) p.150 en Leibbrandt H.C.V.: Precis of the Archives of the Cape of Good Hope Requesten (Memorials) 1715 - 1806, Vol II, p.569. Leibbrandt dui foutiewelik aan dat Peter Henrich gedurende 1768 by die Kaap aangekom het

  15. Hesselbarth, “Uber Lippstädter Häuserbesitz”, 1903, S.24, Nr 462 und S.26 Nr 531

  16. Klockow H: Stadt Lippe - Lippstadt. p.196

  17. VC 45, Generale Monsterrolle. Jaarlikse lys van offisiere, soldate en matrose aan die Kaap, 1760, 1763 - 1771, Lys vir 1766 p.38; Lys vir 1767 p.7. Kaapse Argiefbewaarplek (KAB)

  18. Nederduits Hervormde Kerk Argief, Jacob Maréstr, Pretoria: P1 Vol 1/1/1

  19. Le Roux J.G. en W.G. le Roux: Ons Drakensteinse Erfgrond. Boekie no 9 — Klein Drakenstein. p 34

  20. CJ 1153:76. Kaapse Argiefbewaarplek

  21. Huweliksregister Paarl 1768

  22. 1/STB 15/1 vol 369. Kaapse Argiefbewaarplek

  23. RLR 26, folio 69, Wildschutteboek, Kaapse Argiefbewaarplek

  24. Van der Merwe P.J.: Die Noordwaartse beweging van die Boere voor die Groot Trek (1770-1842), Den Haag, 1937, p. 10-11

  25. Henning C.G.: A Cultural History of Graaff Reinet (1786 - 1886). Verhandeling ter vervulling van die graad D Phil aan die Universiteit van Pretoria, 1971, p.3; Wagenaar E.J.C.: A Forgotten Frontier Zone - Settlement and reactions in the Stormberg Area between 1820 - 60. (Argiefjaarboek 1982, Deel II, Pretoria, 1984) p. 117.; Smithers A.J.: The Kaffir Wars 1779 - 1877, London, 1973, pp.38 - 39; Standard Encyclopaedia of Southern Africa 1972, Vol 5, pp.55 - 57

  26. VC 163, Verslae oor die onrus aan die Kaap 1778 - 1780, Kaapse Argiefbewaarplek

  27. RLR 33, folio 32, Wildschutteboek, Kaapse Argiefbewaarplek

  28. J 107 Opgaafrol Graaff-Reinet 1787, Kaapse Argiefbewaarplek.

  29. 1 GR 14/113 Lys van inwoners Graaff-Reinet 1787, Kaapse Argiefbewaaplek

  30. Henning C.G.: Op. cit. p.37 en Henning C.G.: Die Kultuurontwikkeling van Graaff-Reinet, 1786 - 1986, Lantern, Julie 1986, Jaargang 35, nr 2, p.36

  31. RLR 42, folio 91, Wildschutteboek, Kaapse Argiefbewaarplek

  32. Van der Merwe P.J.: Op. cit. pp. 15 - 19

  33. VC 882. Verslae deur Veldwachtmeesters, Graaff-Reinet 1786 - 1795, p.110., Kaapse Argiefbewaarplek.

  34. VC 882. Op. cit. p.157. Kaapse Argiefbewaarplek

  35. VC 884. Briewe van Veldwachtmeesters en andere aan die landdros te Graaff-Reinet en Swellendam, Kaapse Argiefbewaarplek.

  36. VC 871. Briewe, opgawes van huurgeld verskuldig op leningplase in Graaff-Reinet; Rekords van die militêecirc;re hof, Graaff-Reinet, geval 225R., Kaapse Argiefbewaarplek

  37. J 110 Opgaafrol Graaff-Reinet 1792, p.23., Kaapse Argiefbewaarplek

  38. J 113 Opgaafrol Graaff-Reinet 1796, Kaapse Argiefbewaarplek.

  39. VC 884. Op. cit., los dokument voor in bundel genommer bl.800, Kaapse Argiefbewaarplek

  40. Duvenhage G.D.J: Van die Tarka na die Transgariep, 1981. p.142

  41. 1/G.R 13/2 Landdros Argief Graaff-Reinet 1781 - 1800, Kaapse Argiefbewaarplek

  42. J 115, Folio 20, Opgaafrol Graaff-Reinet 1798, Kaapse Argiefbewaarplek

  43. Van der Merwe P.J.: Op. cit. p.21

  44. J 118, folios 2,3 en 11 Opgaafrol Graaff-Reinet 1800, Kaapse Argiefbewaarplek

  45. Van der Merwe P.J.: Op. cit. p.23

  46. J 122, folios 5 en 14, Opgaafrol Graaff-Reinet 1802 - 1804, Kaapse Argiefbewaarplek.

  47. J 131, inskrywing 376 tot 381, Opgaafrol Graaff-Reinet 1809, Kaapse Argiefbewaarplek

  48. 1/G.R 13/3 Landdros Argief Graaff-Reinet 1801 - 1819, Kaapse Argiefbewaarplek

  49. Henning C.G.: Op. cit. p.62

  50. J 73 Opgaafrol Cradock 1814, Kaapse Argiefbewaarplek

  51. Van der Merwe PJ: Op. cit. p.204

  52. J 73 Opgaafrol Cradock 1814, Kaapse Argiefbewaarplek

  53. J 83 Opgaafrol Cradock 1819, Achter Sneuwberg, inskr. 182, Kaapse Argiefbewaarplek

  54. VC 883. Landdros & Heemrade, militêecirc;r, Graaff-Reinet 1786 - 1836, p.34., Kaapse Argiefbewaarplek.

  55. VC884. Op. cit, inskr 407, Kaapse Argiefbewaarplek.

  56. Henning C.G.: A Cultural History of Graaff Reinet (1786 - 1886) p. 25 - 30; Wagenaar E.J.C.: Op. cit. p.124.; Stead J.L.: The Development and Failure of the Eastern Cape Separatist Movement (Argiefjaarboek 1982, Deel II, Pretoria, 1984) pp.1 - 2

  57. Henning C.G.: A Cultural History Op.cit. p. 34 en Henning C.G., Kultuurontwikkeling Op. cit. p.38.

  58. Van der Merwe P.J.: Op. cit. p.22

  59. Sterfregister 1373/35.6, Kaapse Argiefbewaarplek

  60. De Villiers C.C. en C. Pama: Geslagsregister van die Ou Kaapse Families. 1981. Deel 1. p.198

  61. De Villiers C.C. en C. Pama: Op. cit. p.364. en Heese J.A. en R.T.J. Lombard: Suid-Afrikaanse geslagsregisters, Vol 4, Pretoria 1992, p.106.; Heese H.F.: Groep sonder Grense (die rol en status van die gemengde bevolking aan die Kaap, 1652 - 1795). Bellville, 1984, p.47

  62. Sterfkennis 1720/45 in Kaapse Argiefbewaarplek