Johannes Stephanus woon aanvanklik saam met sy ouers op die plaas Zoetfontein, tussen Graaff-Reinet en Cradock, in die wyk "Achter de Sneeuwberg". Teen ongeveer 1820, toe hy ses jaar oud was, trek sy ouers na die Brakrivierwyk (in lyn tussen die teenswoordige Middelburg en Hofmeyr) waar hulle tot ongeveer 1825 woon. Hierna trek hulle verder Noord en vestig hulle in die omgewing van Burgersdorp. Gedurende hierdie tyd trou hy. Sy eerste vrou sterf hier en word hier begrawe. Later trek hy weer en vestig hom op die plaas Klipkop in die Rouxville distrik. Gedurende 1865 val die Basoeto-impi's van Mosjesh sy woning aan. Hoewel die paar mans wat daar op die plaas was dapper teenstand gebied het, slaag die Basoeto's nogtans daarin om die plaashuis af te brand.Let veral op die ooreenkoms tussen die name van sy twee eggenotes.