As 'n jongeling het Pieter Hendrik saam met sy ouers vanaf Burgersdorp getrek en hulle gevestig in die distrik Rouxville. Hy het die plaas Palmietfontein uitgelê en het daar tot sy dood toe gewoon. Hy het deelgeneem aan al die Basoeto-oorloë en was een van die vrywilligers toe Thaba Bosigo bestorm is. Hy was by toe kmdt Louw Wepener gesneuwel het.. Hy was ook teenwoordig toe die Basoeto's finaal aan die einde van die Tweede Basoeto-oorlog by Vechtkop in die distrik Zastron verslaan is. In 1865 het die Basoeto's die woning van sy ouers te Klipkop, Rouxville aangeval. Hoewel die paar mans wat daar was dapper teenstand gebied het, het die Basoeto's nogtans die huis aan die brand gesteek. Tydens die aanval het 'n sekere Botha gesneuwel en het Pieter Hendrik 'n paar assegaaisteke opgedoen. Hy het ook aan die Tweede Vryheidsoorlog 1899 - 1902 deelgeneem, as 'n lid van die Rouxville Kommando. Tydens die geveg by die brug oor die Oranjerivier by Aliwal-Noord op 10 Maart 1900 word sy perd deur 'n kartets in die hoef getref en sy veertienjarige seun, Cornelis Belsazar moes hom red deur hom ook op sy perd te laai. Pieter Hendrik is egter ook krygsgevangene geneem en te St Helena aangehou. Hy was 'n burger wat baie vir sy land en volk opgeoffer het.