Geskiedenis |
Pieter het op Elandskraal, die plaas in die gebied agter Sneeuberg, wat deur die Henning stamvader, Peter Henrich Henning, aan die einde van 1786 tot stand gebring is, grootgeword. Pieter se vader, Daniel Stephanus Henning, was die vierde en laaste geslag nasaat van die stamvader wat op Elandskraal geboer het. Daniel Stephanus het in 1920 die tweede opstal op die plaas vir sy jong bruid, Hester Maria van Heerden, opgerig en die bekende drie palmbome daarvoor geplant. Nadat hy gematrikuleer het, het Pieter in Cradock by die Landbank as klerk begin werk. Tydens sy loopbaan by die bank is hy, soos die gebruik by banke was, verskeie kere na verskillende takke van die bank verplaas. Hy was dus oor baie jare op verskillende dorpe in die land woonagtig. Hy is eers na Port Elizabeth verplaas waar hy in 1956 in die huwelik tree met Sarah Louisa Ferreira. Hierna is hy terugverplaas na Cradock. In 1966 is hy verplaas na Nylstroom, daarna in 1968 na Cradock, in 1972 na Kroonstad, in 1974 na Rustenburg en in 1975 na Bloemfontein. In 1977 word hy as bestuurder na Kroonstad verplaas, daarna in 1979 na Pretoria, in 1982 na Vryburg waar hy op 60 jarige ouderdom aftree en na Pretoria verhuis. In Pretoria is sy wederhelf op 2 September 1993 oorlede. Na sy vrou se dood, het hy weer in die huwelik getree en wel met Johanna Maria Botes. Hulle het vir etlike jare tot sy dood in Sinoville gebly.
|
|