Geskiedenis |
Pieter het die plaasskool Brakpan in die Dordrecht distrik bygewoon. Agt van die twaalf kinders in hierdie skooltjie was kleinkinders van Pieter se oupa — ook Pieter Hendrik Adriaan Henning *7-10-1859. Hierdie skool was nie ver van sy ouers se plaas, La France geleë nie, daar sy neefs en niggies Botha en Boucher, asook sy suster Marie Henning hierdie skool bygewoon het.
In 1936 gaan hy na die Dordrechtse Hoërskool. Hy matrikuleer in 1940 en begin sy opleiding in die destydse Suid Afrikaanse Polisie Kollege te Pretoria-Wes in 1941.
Na basiese opleiding word hy by die Berede Afdeling van die SAP ingedeel. Die Berede Afdeling het tydens Staatsparades, soos die Parlementsopening, saam met Weermag komponente opgetree.
Ons tel sy spoor weer in 1946 op , toe hy na Port Noloth verplaas is. Hier ry hy kamele op patrollies in die diamant Spergebied. Hy ontmoet sy toekomstige vrou, Elizabeth (Bets) Brooks, hier in Port Noloth. Sy was ‘n onderwyseres. Hulle trou egter gedurende 1948 te Dordrecht.
Pieter en Bets vestig hulle te Sunnyside, Pretoria toe hy oorgeplaas word na die Suid Afrikaanse Kriminele Buro, Pretoria waar hy opgelei is as vuurwapendeskundige. Daardie jare was daar net twee van hulle wat die ballistiese eenheid beman het. Hy en ene Cromhout.
Pieter het hom onderskei as 'n uiters bekwame wetenskaplike. Die twee van hulle het destyds die hele Unie van Suid-Afrika, Suidwes Afrika en die Britse Protektorate bedien. Vanweë die sensitiwiteit van die sake en sy beroepsetiek is die detail van hierdie sake nooit aan huis bespreek nie.
‘n Saak in die Hooggeregshof Bloemfontein dien as voorbeeld. Die advokaat vir die verdediging het Pieter vir ongeveer twee ure onder kruisverhoor geneem. Pieter het uit verskillende gesaghebbende boeke aangehaal, met spesifieke verwysing na naam, outeur, bladsy, paragraaf, ens en dan die hele toepaslike gedeelte verbatum weergee. Dit het die Regter so beindruk dat hy spesiale erkennig aan Pieter gegee het. Selfs die FBI het hom op ‘n keer skriftelik bedank vir sy insette in ‘n saak wat hulle hanteer het.
Drie prominente sake waarin hy betrokke was, is: 1. Duncan Donald Moodie: Het sy vrou gedurende 1961 geskiet. Hy is skynbaar die enigste Suid-Afrikaner wat twee keer vir dieselfde misdaad verhoor is. 2. Marthinus Rossouw. Hy vermoor Baron Dieter Von Schauroth, Maart 1961. 3. David Pratt. Aanslag op Dr Verwoerd se lewe. Hy het nooit in die hof verskyn vir hierdie aanslag op Dr Verwoerd se lewe nie omdat hy in 'n psigiatriese hospitaal opgeneem is. Pieter het al die forensiese balistiese toetse gedoen ter voorbereiding van die Staat se saak.
Kollegas van Pieter het hom onthou vir sy uitstekende geheue vir detail, sy besondere netjiese handskrif en nougesetheid in die uitvoering van sy werk. Hy was ook pynlik netjies. Pieter het ook ander mooi eienskappe gehad: Hy het baie mooi en kunstig geskilder en gehou van klassieke musiek. Hy was 'n kranige tennisspeler.
Hy was maar net nege-en dertig jaar oud toe hy gesterf het en is met volle militêre eerbewys begrawe.
|
|