Geskiedenis |
Geen sterfkennis kon ten opsigte van Pieter Hendrik of sy eggenote opgespoor word nie. Alle besonderhede oor hom en sy kinders is dus slegs vanaf sy en sy kinders se doopregisters verkry, hoewel ons ook informasie in die belastingopgawes van 1821 tot 1825 opgespoor het. Hiervolgens woon Pieter Hendrik, sy vrou en hul eerste twee dogters in die Brakrivier Veldkornetskap. Gedurende 1825 besit hy die volgende: twee ryperde, agt osse, 62 aanteelbeeste en 1025 skape. Dit blyk of die egpaar hulle kort na hulle troue hier gevestig het. Vandag is dit die distrik van Middelburg KP en gebiede verder Noord. Hulle het, net soos die meerderheid trekboere, met verloop van tyd verder Noord, die binneland ingetrek, op soek na beter weivelde vir hulle vee. Teen ongeveer 1841/42 trek hulle tot in die omgewing van die teenswoordige Burgersdorp of Aliwal-Noord. Hulle jongste kind (d9.) se doopregister dui aan dat hulle met haar geboorte "over de grens" gewoon het. Hoewel die Sterrenbergspruit (vandag Stormbergspruit) gedurende 1843 nog die Noord-Oos grens van die kolonie was, word die afleiding gemaak dat hulle toe reeds ver buite die grense van die Kolonie moes gewoon het - in alle waarskynlikheid diep in die Oranje Vrystaat. Die lang tydsverloop tussen die geboortes van die jonger kinders en die datums wat hulle gedoop is, die woonplekke van hulle kinders en die feit dat geen sterfkennis opgespoor kon word nie, staaf hierdie vermoedens.
|
|