Geskiedenis |
Dr Jannetta Steyn, dogter van Leonetta (Leonie) Steyn (gebore Henning) (a2.b7.c8.d8.e3.f1) is al baie jare die eienaar en bestuurder van die Henning webwerf op Internet. Sy het haar oom, Bondsekretaris, Olivier Henning ook bygestaan met die ontwerp van die Henning webwerf en familiemuseum op Internet wat by die Henning webwerf – www.henning.org – besigtig kan word. Hoewel Jannetta ‘n nooi Steyn is, is sy baie meer betrokke by haar ma se familie en het reeds werk van onskatbare waarde vir die Henning Familiebond gedoen, byvoorbeeld, sy het op haar eie koste die Henning webwerf op internet totstand gebring. Olivier Henning het net die inhoud wat alles op die webwerf moet verskyn verskaf en sy het die uiteensetting en programmering gedoen. Jannetta is ‘n Navorsing-sagteware-ingenieur by die Departement van Rekenaarwetenskap by die Universiteit van Newcastle in Engeland. Sy is gedurende 2022 vereer as ‘n genoot van die Instituut vir Sagteware Onderhoud (Software Sustainability Institute [SSI]) in Engeland. Dit is ‘n baie gesogde toekenning wat slegs aan ‘n klein groepie uitverkore rekenaarwetenskaplikes toegeken word. Jannetta het vir baie jare as 'n Sagteware-ingenieur in industrie gewerk en toe besluit om terug universiteit toe te gaan om 'n PhD in Neuro-informatika te doen. Na sy haar PhD-graad verwerf het, het sy vir 2 jaar as 'n Bio-informatikus gewerk en toe vir 2 jaar as 'n Nadoktorale Navorser (of genoot). Nadat die Universiteit van Newcastle ‘n Navorsingsagteware-ingenieurseenheid gestig het, was Jannetta in die eerste linie om aansoek te doen vir 'n pos. Dus, sedert April 2019 werk sy as 'n Navorsingsagteware-ingenieur. As gevolg van die uitstaande werk wat sy verrig het, is sy in 2022 vereer deur as ‘n Genoot van die Instituut vir Sagteware Onderhoud (Software Sustainability Institute [SSI]) aangewys te word.
|
|