Geskiedenis |
Daniël Stephanus word groot op sy ouers se plaas, Elandskraal, in die wyk Achter de Sneeuwberg in die Graaff-Reinet (latere Cradock) distrik. Op sestienjarige ouderdom (dit wil sê gedurende 1809) is hy al deur die owerhede as 'n onafhanklike boer beskou, hoewel hy nog by sy ouers gewoon het. Die opgaafrolle (belastingopgawes) van 1809 dui aan dat hy toe reeds die volgende besit het: vier aanteelperde, agt aanteelbeeste, 109 aanteelskape en 30 aanteelbokke. Die opgaafrolle van 1814 dui aan dat slegs Daniël Stephanus en sy broer Gert Frans en hul eggenotes op daardie tydstip nog by hul ouers op Elandskraal gewoon het. Hy het toe darem al 605 skape besit.
Gedurende 1819 toe die stamvader Pieter Hendrik Henning reeds 79 jaar oud was, het hy opgehou boer en onder andere sy plaas Elandskraal tussen sy twee seuns Gert Frans (b7) en Daniël Staphanus (b10) verdeel. Daniël Stephanus het kort hierna die plaas Paardekraal bekom. Gedurende 1823, die jaar toe sy vader oorlede is, het Daniël Stephanus die volgende besit: 2 x Hottentot mans bo 16 jaar, 4 x Hottentot seuns, 2 x Hottentot vroue bo 14 jaar, 1 x Hottentot dogter, 4 x ryperde, 6 x aanteelperde, 20 x trekosse, 45 x aanteelbeeste, 1464 x skape, 41 x bokke.
Dit is dus duidelik dat Daniël Stephanus sedert 1814 sterk vooruit geboer het. Gedurende 1825 het hy ongeveer dieselfde bates as in 1823 besit. Die opgaafrolle dui die volgende aan: 2 x Hottentot mans bo 16 jaar , 3 x Hottentot seuns, 2 x Hottentot vroue bo 14 jaar, 4 x saalperde, 5 x aanteelperde, 16 x osse, 42 x aanteel beeste, 1500 x skape, die plase Elandskraal en Paardekraal
Anders as al sy broers en susters het Daniël Stephanus nie ook die treklus gekry en vanaf Achter Sneeuwberg weggetrek nie. Hy en sy eggenote woon hul hele lewens hier en sterf ook hier.
Daar kan aanvaar word dat hy aan al die Xhosa-oorloë moes deelgeneem het, want sy plaas het in die gebied gelê waar al hierdie oorloë gewoed het.
|
|