AFDELING 10: KRYGSGESKIEDENIS VAN DIE HENNING FAMILIES

Subafdeling f: Die Tweede Wêreldoorlog 1939 — 1945

Sterftes

Tydens die Tweede Wêreldoorlog sneuwel nie een Henning man op die slagveld nie. Vier Henning mans sterf egter weens ongelukke terwyl hulle met operasionele diens besig was. Hulle besonderhede volg hieronder:

a2.b7.c7.d2.e5.f2. Gerhardus Francois Henning *17-7-1925. Hy dien in 31 Eskader van die Suid-Afrikaanse Lugmag. Hy doen vanaf Januarie 1944 diens in die Midde-Ooste en word op 3 Julie 1944 na Italië oorgeplaas. Terwyl hy op amptelike verlof is, verdrink hy in die see in die Baai van Napels op 16 Oktober 194476. Hy was slegs negentien jaar oud.

a2.b1.c3.d12.e2.f4. Alwyn Petrus Henning *3-10-1920. Hy sterf op 19 Maart 1942 as gevolg van beserings wat hy aan sy kop en bene opgedoen het tydens 'n voertuigongeluk wat op 20 Oktober 1941 te Alexandria, Egipte plaasgevind het. Hy was ook slegs negentien jaar oud.77

a2.b1.c8.d20.e2. Gerhardus Johannes Henning *1902. Hy sterf op 24 Desember 1946 in 'n voertuig ongeluk te Potchefstroom, terwyl hy lid van die Tegniese Werkswinkel Potchefstroom was78.

a2.b5.c5.d8.e2.f2. Leonard Johannes Henning *6-1-1906. Hy dien in No 2 Berede Regiment ('n Pantserkar eenheid) en sterf op 28 Julie 1945 te Springs in 'n voertuigongeluk79.

b5.c5.d8.e2.f2.Leonard Johannes Henning *6-1-1906 staan op hierdie foto van hom en sy drie broers derde van links. Teen die einde van hierdie hoofstuk word die ander twee broers wat ook in die weermag gedien het, behandel

Gewondes

a2.b1.c3.d4.e8.f4.g2. Antonie Willem Henning *22-1-1922. Hy dien in No1 Anti-Tenk Regiment van die Artillerie. Op 15 Junie 1942 word hy te Noord-Afrika tydens gevegte in sy regterhand verwond. Hy verloor sy duim80.

a2.b6.c1.d5.e1.f2.g6. George Johannes Henning *5-9-1919. Hy was 'n lid van die Suid-Afrikaanse Polisie Brigade in Noord-Afrika. Hy is in Italië in die been gewond, krygsgevangene geneem en vir twee jaar lank aangehou81.

a2.b7.c13.d1.e1. Johannes Lodewyk Henning *16-1-1905. Tussen 1940 en 1944 doen hy diens in Noord-Afrika, toe hy tydens intense gevegte ernstige bomskok opgedoen het82.

Krygsgevangenes

a2.b1.c6.d8.e1. Gert Frederik Henning *13-5-1919. Hy sluit gedurende die oorlog by die Regiment President Steyn aan. Hy word gedurende November 1941 na No 5 Suid-Afrikaanse Infanterie bataljon oorgeplaas en na Frankryk vir diens gestuur. Op 12 Februarie 1942 word hy deur die Duitse magte te Marseilles, Frankryk krygs­ge­vangene geneem83.

a2.b10.c6.d1.e3. Johannes Jacob Henning *15-12-1907. Hy sluit gedurende 1925 by die Suid-Afrikaanse Berede Skutters aan, dog word nege maande later na die SA Polisie oorgeplaas. Gedurende die oorlog doen hy diens as lid van die Suid-Afrikaanse Polisie Brigade in Noord-Afrika en word by Tobruk krygsgevangene geneem en te Italië en Duitsland gevange gehou84.

a2.b10.c6.d1.e3. Johannes Jacob Henning *15-12-1907

a2.b1.c3.d7.e9.f2. Pieter Hermanus Steyn Henning *27-6-1907. Hy was 'n offisier in B-Kompanie van No1 SAP Bataljon van die Sesde SA Polisie Brigade. Hy doen diens in Noord-Afrika en word by Tobruk krygsgevangene geneem en vir drie jaar lank te Italië en Duitsland gevange gehou. Hy was die enigste Henning wat die rang van Generaal-Majoor in een van die gewapende magte van Suid-Afrika bereik het85.

a2.b1.c3.d7.e9.f2. Genl-Maj Pieter Hermanus Steyn Henning *27-6-1907

a2.b6.c1.d5.e1.f2.g6. George Johannes Henning *5-9-1919. George Johannes wat hierbo onder gewondes vermeld word, is ook te Italië krygsgevangene geneem en vir twee jaar lank aangehou80.

Toekennings vir Buitengewone Diens

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog volg Suid-Afrika nog die Britse stelsel vir die toekenning van Ordes, Dekorasies en Medaljes aan soldate. Slegs offisiere is gedekoreer vir buitengewone voortreflike diens. As Onder-offisiere en manskappe diens van hoë gehalte gelewer het, is hulle name slegs eervol vermeld in verslae aan die hoofkwartier ("mentioned in despatches"). Dit het so 'n persoon geregtig gemaak om 'n klein brons eikeblaar embleem as deel van sy medaljelinte op sy linkerbors te dra.

Twee Henning mans, wat onder-offisiere in die Unie Verdedigingsmag gedurende die Tweede Wêreldoorlog was, se name is eervol vermeld in verslae aan die hoofkwartier en het hulle dus geregtig gemaak om hierdie eikeblaar embleem te dra. Hulle was:

a2.b1.c6.d6.e4.f1. Sersant Jan Hendrik Rudolf Henning *14-5-1903. Hy dien in die Provooskompanie (militêre polisie) en later in die Betaalkorps.

a4.b10.c2.d1.e3. Korporaal Johannes Jacobus Henning *13-12-1918. Hy dien in die Seinkorps van die Unie Verdedigingsmag. Let daarop dat hy 'n lid van die vierde Henningstam is — dus 'n nasaat van Johan Wilhelm Henning, wie se geslagsregister in Afdeling 8 behandel word.

Dienende Hennings waarvan ons bewus is

Ons vermeld slegs besonderhede van Hennings wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog 1939 -1945 in die gewapende magte van Suid-Afrika gedien het en van wie ons gegewens het.

a2.b1.c6.d6.e8.f3. Pieter Hendrik Henning *25-11-1920 en sy vrou Marjorie Margaret (gebore Hough) *4-6-1925. Pieter slaag matriek gedurende die tyd toe die Tweede Wêreldoorlog aan die gang was. Hy sluit by die Suid-Afrikaanse Lugmag aan. Met matriek is daar verskeie beroepsrigtings waar die lugmag hom kan oplei. Hy beland by “44 Air School” op Grahamstad, waar hy opleiding kry as navigator (op vliegtuie), “airgunner” of te wel lug-artilleris om kanonne en masjiengewere aan boord vliegtuie te beman en as “bomb aimer” om bomme sekuur op teikens te laat val. Tydens die opleiding word daar van Anson en Oxford ligte bomwerpers gebruik gemaak. Hy voltooi sy opleiding te Grahamstad op 16 Maart 1944 en word verplaas na “61 Air School”, George waar hy verdere opleiding as navigator op Anson vliegtuie kry tot 20 Mei 1944.

Nou begin die groot avontuur! Op 15 Junie 1944 vertrek hy aanboord van 'n Lonestar vliegtuig na Egipte. Hulle vlieg net in die dag en voltooi die vlug eers drie dae later. Hy word ingedeel by 76 O T U (Operational Training Unit) Palestine, waar hy by een van die bemannings van B24 Liberator bomwerpers ingedeel word. Die nuwe bemannings leer mekaar en hul vliegtuie ken. Die volgende fase van hulle opleiding breek aan toe hulle op 24 September 1944 na die Lugmagbasis Abu Sueir, naby Port Said verplaas word om met die laaste fase van hulle opleiding te begin. Eskaders van die Britse "Royal Air Force" en die "United States Army Air Force" is hier gestasioneer. Hier oefen hulle om met Liberator Bomwerpers uitvlugte, landings, ontduikingsaksies en om bomwerping te doen. Pieter kry ook opleiding as medevlieënier en doen verskeie solo landings en opstygings. Op 26 Oktober voltooi hy sy opleiding.

Hulle vertrek op 26 Oktober 1944 vanaf Kairo, Egipte na Bari, Italië en word ingedeel by 31 Eskader van die Suid-Afrikaanse Lugmag te Celone. Hier dien hy tot 4 April 1945. Gedurende hierdie tyd het hulle verskeie bombarderingoperasies en die neerlating van voorrade gedoen. Pieter se “Logboek” dui aan dat hulle die volgende plekke in Italië gebombardeer het: Verona, Treviso, die dokke by Monfalcone (in die Noord-Oostelike hoek van Italië) en Vicenza. Hulle het ook voorrade in Jugoslavië neergelaat. Pieter was tydens al hierdie operasies die navigator van hulle vliegtuig.

Op 9 Maart 1945 het hulle 'n noue ontkoming gehad, toe hulle vliegtuig deur 'n Duitse Junkers JU88 aangeval is. Die bemanningslid van hulle vliegtuig wat die masjiengeweer beman het (Sers O Neill, lid van die RAF) het gelukkig die JU88 afgeskiet.

Op 5 April 1945 vertrek Pieter hulle vanaf Florence na Foggia Main aan boord 'n Mitchell B25 vliegtuig en op 11 April 1945 vertrek hulle per Dakota vanaf Bari, Italië na ZAS Pretoria (die hedendaagse Swartkop Lugmagbasis) waar hulle op 15 April 1945 aankom.

Oor die tydperk 22 Junie 1945 tot 23 Julie 1945 word hulle na “10 WING S.A.A.F.” Pietersburg verplaas, blykbaar op 'n gereedheidsgrondslag, want hulle oefen en vlieg met die nuwe Ventura vliegtuie. Gelukkig breek die einde van die oorlog aan voordat hulle weer ontplooi kon word.

Vier oorlogsmedaljes is aan Pieter toegeken, nl. die 1939-45 Ster; Italiëster; Oorlogsmedalje 1939-45 en Afrika Diensmedalje.

Pieter het skynbaar sy vrou, Marjorie Margaret Hough tydens sy opleiding te Grahamstad of George ontmoet. Sy was 'n lid van die Women’s Auxiliary Air Force (WAAF) wat 'n paar jaar vroeër tot stand gekom het in 'n ondersteuningsrol vir die Lugmag. Al die lede van die WAAF was vrywilligers en hul hooftaak was om bepaalde funksies by manlike soldate oor te neem. Hulle trou op 8 Junie 1944 te Pretoria. 'n Week na hul troue (op 15 Junie) vertrek Pieter na Egipte.

a2.b1.c6.d6.e8.f3. Pieter Hendrik Henning *25-11-1920 navigator in 31 Eskader van die SA Lugmag en sy vrou Majorie Margaret (gebore Hough) *4-6-1925 wat 'n lid van die Women's Auxiliary Air Force (WAAF's) was. 'n Week na hulle troue vertrek hy na die operasionele gebied om as navigator op B24 Liberator Bomwerpers aangewend te word

Die bemanning van die B24 Liberator XI bomwerper nr R-EV-958. Agter: a2.b1.c6.d6.e8.f3. Lt Pieter Hendrik Henning, SALM, navigator; Sers Todd, RAF, Vlug Off G Crossman, RAF; Kapt T J Lesar, SALM, Vlieënier en Vliegtuig bevelvoerder; Lt R Searle, SALM, mede-vlieënier. Voor: AO Pepper, RAF; Sers O'Neill, RAF; Sers May, RAF.

Foto van 'n B24 Liberator bomwerper. a2.b1.c6.d6.e8.f3. Lt. Pieter Hendrik Henning was navigator van Liberator nr R-EV-958

Medaljes wat aan a2.b1.c6.d6.e8.f3. Lt Pieter Hendrik Henning toegeken is: 1939-45 Ster; Italiëster; Oorlogsmedalje 1939-45 en Afrika Diensmedalje

a2.b6.c4.d3.e7.f6. Johannes Mertin Abraham Henning *2-6-1908 dien gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Geniekorps van die Suid-Afrikaanse Leër. As 'n lid van nr 1 Suid-Afrikaanse Infanterie Divisie doen hy diens in Egipte en neem deel aan die tweede groot veldslag naby die spoorweghalte El Alamein wat van 23 Oktober 1942 tot 11 November 1942 geduur het, wat die oorlog in Noord Afrika in die guns van die Geallieerde magte geswaai het. Nr 1 SA Divisie het deel gevorm van die Britse 8ste Leër wat opgestel was teenoor die Duits-Italiaanse magte van Veldmaarskalk Erwin Rommel. Die Duits-Italiaanse magte was verskans agter 'n byna ondeurdringbare anti-tenk mynveld. Die Geniekorps was verantwoordelik om 'n bres deur hierdie mynveld te slaan, sodat tenks en ander oorlogstuig daardeur kon beweeg. Dit was van die mees gevaarlike en stresvolle werk denkbaar.

Medaljes wat aan a2.b6.c4.d3.e7.f6. Johannes Mertin Abraham Henning *2-6-1908 toegeken is v.l.n.r: 1939 - 45 Ster; Afrika Ster; 1939 - 45 Oorlogsmedalje; Britse Verdedigingsmedalje en Afrika Diensmedalje

a2.b6.c4.d3.e7.f9. Pieter Jacob Henning *13-3-1914 jonger broer van Johannes Mertin Abraham Henning, hierbo, dien ook in die Geniekorps van die Suid-Afrikaanse Leër en doen gedurende die Tweede Wêreldoorlog diens in Egipte en Abesinië (Ethiopië). Sy vrou, Annie (gebore Van Huysteen) saam met hom op hierdie foto

a2.b9.c1d2.e1.f6. Pieter David Hendrik Stephanus Henning *1-1-1906 dien gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Tuiswag, terwyl sy eerste eggenote, Martha Louisa (gebore Laubscher) *1911 (foto hieronder) in 'n bomfabriek werk

Martha Louisa Henning (gebore Laubscher) *11-6-1911 eerste eggenote van a2.b9.c1.d2.e1.f6. Pieter David Hendrik Stephanus Henning *1-1-1906

a2.b9.c3.d3.e2.f4.g3. Petrus Johannes Henning *25-8-1924 doen diens in Noord-Afrika en Italië gedurende die Tweede Wêreldoorlog

Drie van hierdie vier broers dien gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Unie Verdedigingsmag. a2.b5.c5.d8.e2.f6. Abraham Johannes Henning *13-1-1921 is 'n lid van die Tegniese Dienskorps; Gert Frans *3-11-1916 (f5) is 'n vlieënier in die Lugmag; Leonard Johannes *6-1-1906 (f2) dien in die Pantserkorps in 'n Pantserkarregiment. Hy sterf in 'n voertuigongeluk. Hul oudste broer, Gabriël Jan Andries Henning *12-9-1904 was die enigste broer wat nie in die Weermag gedien het nie.

a2.b5.c4.d4.e7.f1. Marthinus Jacobus Henning *29-12-1903 en sy twee kinders, Maria Magdalena en Marthinus Jacobus. Hy was te Potchefstroom gestasioneer

a2.b6.c3.d9.e4.f1. Johannes Christiaan (Jack) Henning *Feb 1894, sy vrou Sarah Louise (gebore George) en hul enigste seun, Johannes Christiaan Henning *8-8-1922 wat ook gedurende WOII gedien het

Voldende subafdeling: Die Kaputilasie van die Suid-Afrikaanse Regering 1994