AFDELING 10: KRYGSGESKIEDENIS VAN DIE HENNING FAMILIES

Subafdeling g: Die Kaputilasie van die Suid-Afrikaanse Regering 1994

Toe Suid-Afrika op 31 Mei 1961 'n republiek geword het, het die regering sy beleid van Afsonderlike Ontwikkeling voortgesit om selfbeskikking en vryheid aan die swart volke van Suid-Afrika te verleen en om tuislande vir die onderskeie swart volke te ontwikkel. Die twee swart politieke partye, die African National Congress (ANC) en die Pan Africanist Congress of Azania (PAC) — met die hulp van die Afrikaner se ou vyand, die liberale blankes (hoofsaaklik anderstaliges), het egter alles in hulle vermoë begin doen om hierdie beleid te dwarsboom en om dit te kelder. Nadat dit duidelik geword het dat hulle nie in hulle pogings slaag nie, is daar met 'n terroristestryd teen die Suid-Afrikaanse owerhede en blanke bevolking van Suid-Afrika begin.

Met verloop van jare het hierdie organisasies, weereens met die hulp van liberale blankes, 'n baie suksesvolle internasionale propagandaveldtog geloods om die Suid-Afrikaanse regering swart te smeer, in diskrediet te bring, en om met blatante leuens die simpatie van bykans die hele wêreld vir hulle saak te wen. Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse regering ook groot oordeelsfoute gemaak, wat hierdie regverdige beleid groot skade aangedoen het. As gevolg van die baie suksesvolle leuenveldtog en die regering se foute het bykans alle lande wêreldwyd hulle rug op die Suid-Afrikaanse owerhede gekeer.

Die Suid-Afrikaanse Gewapende Magte het wel die militêre stryd teen die ANC en PAC maklik gewen, maar die regering het weens die totale aanslag op die ekonomiese-, staatkundige- en sielkundige terrein die aftog begin blaas. Afrikaner Nasionalisme het ook tot so 'n mate gedisintegreer, dat slegs 'n klein groepie Afrikaners nog steeds die ideaal van selfbeskikking nagestreef het. Die meerderheid Afrikaners het hulself met die idee van "een Suid-Afrikaanse Nasie" vereenselwig. Die gewapende stryd is op 27 April 1994 beeindig, toe die regerende Nasionale Party gekaputileer en die land op 'n skinkbord aan die ANC en sy kommunistiese trawante oorhandig het.

As gevolg van die Nasionale Diensplig stelsel wat gedurende hierdie jare van krag was, is byna alle Henning mans jonger as 65 jaar op een of ander wyse by die militêre sy van hierdie oorlog betrek — hetsy as lotelinge, nasionale dienspligtiges, vrywilligers, lede van die Burgermag of die Kommando's en lede van die Staande Mag. Talle het met groot opofferinge hul plig teenoor hulle land gedoen. Ongelukkig is dit nie moontlik om 'n relaas van al hierdie Hennings se betrokkenheid te gee nie.

Beroepsoldate

Verskeie Henning mans en vrouens het in die Staande Mag as beroepsoldate, of in die Suid-Afrikaanse Polisie gedien. Slegs diegene wat die hoogste range in die onderskeie Dienste bereik het, word vermeld:

a2.b1.c3.d7.e9.f2. Pieter Hermanus Steyn Henning *27-6-1907. Hy het die rang van Generaal-majoor in die Suid-Afrikaanse Polisie bereik. Met sy aftrede op 30 Junie 1968 was hy die Kwartiermeester-Generaal van die Suid-Afrikaanse Polisie. 'n Foto van hom verskyn in Deel 6 van hierdie Hoofstuk.

In die Suid-Afrikaanse Weermag het drie Henning mans die rang van Brigadier bereik en 'n positiewe bydrae tot die paraatheid en sukses van die Weermag gelewer.

a2.b5.c1.d3.e1.f7.g1. Jan Andries Henning *1-4-1929. Hy was met sy aftrede gedurende 1984, die Direkteur Logistieke Staf van die Suid-Afrikaanse Leër en as sulks deel van die Generale Staf van die Leër.

a2.b5.c1.d3.e1.f7.g1. Brig Jan Andries Henning SD, SM, MMM

a2.b5.c1.d3.e1.f7.g2. Abraham Johannes Henning *1-5-1930. Hy is die broer van Jan Andries, hierbo. Hy was met sy aftrede gedurende 1990 die bevelvoerder van die Lug Logistieke Kommandement van die Suid-Afrikaanse Lugmag en as sulks een van die mees senior bevelvoerders in die Lugmag.

a2.b5.c1.d3.e1.f7.g2. Brig Abraham Johannes Henning SM

a2.b7.c8.d8.e3.f4. Olivier Johannes Henning *14-12-1943. Hy was met sy aftrede op 31 Augustus 1993 die Hoof van Mediese Staf Beplanning van die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens en dus verantwoordelik vir die koöouml;rdinering van die magsontwerp - en magsontwikkelingsplanne van die SA Geneeskundige Diens te velde. Hy is die enigste Henning in Suid-Afrika wat die graad B Mil aan die Militêre Akademie (Fakulteit Krygskunde van die Universiteit van Stellenbosch) en sy offisiersopleiding voltooi het

a2.b7.c8.d8.e3.f4. Brig Olivier Johannes Henning SM, MMM

Gedekoreer vir Dapperheid

Gedurende die middel sestiger jare het talle ANC en PAC terroriste Suid-Afrika vanuit sy buurstate probeer infiltreer. Die destydse Rhodesië, wat self in 'n ernstige stryd teen terroriste gewikkel was, was een van die infiltrasieroetes. Gedurende 1967 het die destydse Eerste Minister, B J Vorster (wat self bande met die Henning familie het — verwys na die rekords van a2.b1.c3.d10. en a2.b1.c3.d12. en a2.b7.c2.d18. in die Henning Familiekroniek) besluit om lede van die Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte na Rhodesië te stuur om te help met die bestryding van die terroriste.

Een van hierdie lede was a2.b1.c3.d7.e9.f2.g1. Kaptein Nicolas Johannes Henning *6-7-1935. Hieronder volg 'n relaas van sy betrokkenheid:

a2.b1.c3.d7.e9.f2.g1. Nicolas Johannes Henning *6-7-1935 was 'n lid van die Suid-Afrikaanse Polisie en seun van Generaal-Majoor P H S Henning. Hy is gedurende 1967 as 'n peloton-bevelvoerder na Rhodesië gestuur en het in die Zambesievallei diens gedoen. Op 16 Julie 1968 het die Veiligheidsmagte berig ontvang dat 'n groep van ongeveer 30 terroriste Rhodesië drie dae tevore van oor die Zambesierivier binne gedring het. Kaptein Henning se peloton het die terroriste agtervolg. Teen die middag van die 18e het hulle die vyand opgespoor. Hulle was voorberei in verdediging-stellings in 'n kloof langs die Chimwarivier, waar 'n hoë krans in 'n droë rivierbedding eindig. Dit was baie moeilik om hulle posisies vas te stel — selfs van so naby as 20 meter.

Daar is besluit om die polisiepeloton in drie seksies te verdeel. Die eerste seksie moes die regterflank beveilig, die tweede die linkerflank, terwyl die derde seksie teen die krans moes af beweeg en met die vyand kontak maak. Die taak van die laaste seksie was uiters gevaarlik. Daar was egter geen ander manier om die goed-beskutte vyand voor sonsondergang te elimineer nie.

a2.b1.c3.d7.e9.f2.g1. Kapt Nicolas Johannes Henning SOO

Kaptein Henning en twaalf ander polisiemanne het hierdie derde seksie gevorm. Soos die seksie teen die krans af beweeg het, het hulle onder hewige vuur van die vyand gekom. Na bloedige gevegte waartydens een polisieman gesneuwel en drie gewond is, is die terroristenes uitgewis. Kaptein Henning wat deurgaans die verloop van die geveg evalueer en beplan het, het self beide die vyandelike masjiengeweerneste met napalm granate buite aksie gestel.

Nadat die hele geveg deeglik deur die Suid-Afrikaanse owerhede ontleed is, het die destydse Staatspresident, J.J. (Jim) Fouchéeacute;, die Suid-Afrikaanse Polisiester vir Voortreflike Diens aan Kaptein Henning en postuum aan 'n Konstabel Du Toit toegeken vir 'n daad van besondere dapperheid, buitengewone vernuf, vaardigheid en deursettingsvermoë. Twee lede het die SA Polisiester vir Meriete ontvang en vyf ander lede is in Orders aangeprys vir buitengewone diens86.

Kaptein Henning kon dus voortaan die letters SOO (Stella Officii Optimi) agter sy naam voeg. Die dekorasie, sitaat en toekenningsertifikaat kan in die Henning uitstalling in die Kerkpleinmuseun, Aliwal-Noord besigtig word.

Gesneuweldes

20 Mei 1983 was 'n gewone werksdag vir miljoene Suid-Afrikaners. Om 16:30 uur die middag ontplof 'n kragtige motorbom wat deur ANC terroriste (lede van Umkhonto we Sizwe) gestel is in Kerkstraat, Pretoria, tussen die Poyntonsgebou en die Nedbank-gebou, wat beide militêre hoofkwartiere was. Die bom saai dood en verwoesting onder onskuldige mense (militêr en burgelikes) wat op daardie tydstip besig was om huiswaarts te keer na 'n dag se werk. 19 mense word gedood en 217 beseer.

Die motorbom met 40 kg plofstof is gestel om 16:30 uur op 'n Vrydag af te gaan. Die teiken was die Hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Lugmag. Die hanteerders van die bom, Freddie Shangwe en Ezekial Maseko sterf ook in die ontploffing, omdat dit 10 minute te vroeg afgegaan het. Minstens 20 ambulanse is ingespan om die dooies en beseerdes weg te neem.

a2.b9.c1.d2.e3.f5.g1. Izak Jacobus Henning *1-8-1931 was een van die soldate wat in hierdie bomontploffing sterf. Hy was 'n kommandant in die Suid-Afrikaanse Lugmag en het by die Lugmag Hoofkwartier gewerk87.

a2.b9.c1.d2.e3.f5.g1. Kmdt Izak Jacobus Henning *1-8-1931 wat in die Kerkstraat bomontploffing gesterf het. Op hierdie foto sit hy in die stuurkajuit van 'n Hercules C130 vragvliegtuig van die SA Lugmag, waarvan hy die vlieënier was

a2.b10.c3.d1.e1.f1.g1.h3.i2. Pieter Hendrik Barend Henning *19-4-1971

a2.b10.c3.d1.e1.f1.g1.h3.i2. Pieter Hendrik Barend Henning *19-4-1971 sterf op 15 Junie 1993 nadat hy deur APLA- terroriste (die gewapende vleuel van die Pan Africanist Congress) vermoor is88. Ten tyde van sy dood was hy 'n sersant in die Suid-Afrikaanse Polisie. Weens die feit dat APLA talle boere op hulle plase aangeval en vermoor het, het die Suid-Afrikaanse Polisie polisiemanne op plase geplaas om die boere te beskerm. Pieter Hendrik Barend was een van die polisiemanne wat so diens gedoen het. Hy is in 'n piesangplantasie op die plaas Vaspan, in die distrik Hazyview, deur terroriste in 'n lokval gelei en vermoor. Hy was 22 jaar oud ten tye van sy dood.

a2.b6.c1.d3.e5.f2.g4.h3. Konstabel Josef Jooste Henning *9-10-1942 As 'n lid van die SA Polisie was hy en drie kollegas op patrollie in die Caprivistrook in Namibië. Hulle voertuig trap 'n landmyn af en Josef en konstabels W P Dobbin, sterf in die ontploffing. Die ander twee kom met hulle lewens daarvan af.

a2.b6.c1.d3.e5.f2.g4.h3. Konstabel Josef Jooste Henning *9-10-1942

Ander Sterftes aan Diens

a2.b1.c6.d12.e3.f2. Lourens Adriaan Francois Henning. Hy was 'n Kommandant in die SA Lugmag en 'n vlieënier. As deel van die Republiek van Suid-Afrika se tienjarige feesvieringe, wat op 31 Mei 1971 in Kaapstad gehou sou word, sou 'n eskader van drie Hawker Siddeley 125 (Mercurius) vliegtuie van die SA Lugmag, aan 'n verbyvlug deelneem. Kmdt Lourens Henning was die bevelvoerder van die eskader en vlieënier van een van die vliegtuie. Op 26 Mei 1971 het die eskader aan 'n oefening vir die verbyvlug deelgeneem. 'n Ongeluk het gebeur en al drie vliegtuie het in Tafelberg vasgevlieg. Al elf bemanningslede van die drie vliegtuie het op slag gesterf. Lourens Henning en sewe van die ander bemanningslede is hierna in die helde-akker van die Voortrekkerhoogte begraafplaas begrawe.

a2.b1.c6.d12.e3.f2. Kmdt Lourens Adriaan Francois Henning *17-8-1930

Voldende subafdeling: Voetnote