AFDELING 10: KRYGSGESKIEDENIS VAN DIE HENNING FAMILIES

Subafdeling c: Die Eerste Vryheidsoorlog 1880/81

Die Eerste Vryheidsoorlog van 1880/81 tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaalse Republiek) en Groot-Brittanje was sekerlik die hoogtepunt van alle oorloë waarin die ontwakende Afrikanervolk betrokke was. In hierdie oorlog het die Boeremagte die Britsemagte in al die veldslae verpletterend verslaan en Brittanje die grootste loesing en vernedering in sy hele geskiedenis toegedien. Tot vandag toe is hierdie die enigste oorlog waar die Britte die onderspit gedelg het.

Ongelukkig is die Eerste Vryheidsoorlog swak gedokumenteer. Al die argiefversamelings is onvolledig. Skrywer het dus die grootste kenner op die gebied van die Eerste Vryheidsoorlog, Dr Jackie Grobler, dosent aan die Universiteit van Pretoria, geraadpleeg. Hy het die volgende kommentaar gelewer:

"Tydens my navorsing het ek al die argiefversamelings oor die oorlog waarvan ek bewus was en steeds is, deurgewerk. Daar is nêrens 'n vermelding van enige Henning wat aan bedrywighede in verband met die oorlog deelgeneem het wat ek destyds belangrik genoeg geag het om op te teken nie. Daar was destyds geen kommandolyste nie en daar is geen vermelding van 'n Henning onder die burgers wat gewond is of gesneuwel het nie.

Ek kan nie aan enige bron dink wat wel die betrokkenheid van een of meer Henning aan die oorlog aan die lig sal bring nie. Dit beteken nie dat daar waarskynlik geen Henning betrokke was nie. Inteendeel - dit is baie moontlik dat daar wel Hennings betrokke was."

In die lig hiervan het skrywer deur die hele Henning Familiekroniek gewerk ten einde alle Henningmans wat gedurende 1880/81 in die ZAR gewoon het en wat tussen 18 jaar en 65 jaar oud was, te identifiseer. Hulle sal dus die enigste manne wees wat moontlik in een van die gevegsmagte van die Republiek kon gedien het.

Hier volg 'n naamlys van al die Henning mans wat moontlik in die magte van die ZAR tydens die Eerste Vryheidsoorlog kon gedien het 89 :

> a2.b5.c2.d13. Pieter Jacobus Henning *5-8-1852. Hy is gebore op die plaas Bulkop, Potchefstroom en boer later op die plaas Elandskuil, Potchefstroom;

> a2.b6.c4.d1.e5. Willem Hendrik Henning *5-6-1860. Na sy troue in 1877 woon hy en sy gesin op die plaas Waterval in die Koster omgewing van die distrik Rustenburg;

> a2.b6.c4.d3.e5. Pieter Jacob Henning *8-6-1860. Hy is in 1882 te Potchefstroom getroud en ons weet dat hy voor sy troue in die Potchefstroom distrik gewoon het. Ongelukkig is die plaasnaam onbekend;

> a2.b9.c1.d4. Izak Jacobus Henning *21-11-1852. Teen 1880 woon hy en sy gesin op die plaas Leliespan, distrik Lichtenburg;

> a2.b9.c3. Jan Hendrik Henning *8-1-1816. Hy trek teen ongeveer 1842 tot in die Transvaal. Die plase Hennopsrivier aan die Waterberg en Twee Rivieren aan die Selonsrivier is in 1840 aan hom toegeken;

> a2.b9.c3.d3. Hendrik Jacobus Henning *25-4-1843. Hy is in Pretoria getroud. Hy en sy swaer (S J Marais) het twee plase, Hammanskraal en Putfontein besit;

> a2.b9.c3.d7. Jan Hendrik Henning *11-1-1855. Hy is te Putfontein gebore. Daar word afgelei dat sy pa (hier bo) ook die eienaar van hierdie plaas was voordat sy broer die plaas by hul pa oorgeneem het;

> a2.b5.c2. Pieter Hendrik Henning *8-9-1804. Kort na sy tweede huwelik met Aletta Catharina Martha De Bruyn in 1836 trek hy op die spoor van die Groottrekleier, Andries Hendrik Potgieter na Potchefstroom, waar hy op die plaas Matjesspruit boer. Teen 1880 was hy 76-jaar oud en op grond daarvan word aanvaar dat hy reeds te oud was om saam met die republiekeinse magte uit te trek.

a2.b6.c4.d1.e5. Willem Hendrik Henning *5-6-1860 van die plaas Waterval in die Koster omgewing van die distrik Rustenburg wat moontlik in een van die gevegsmagte van die ZAR tydens die Eerste Vryheidsoorlog gedien het
a2.b9.c1.d4. Izak Jacobus Henning *21-11-1852 van die plaas Leliespan, distr Lichtenburg wat moontlik in een van die gevegsmagte van die ZAR tydens die Eerste Vryheidsoorlog gedien het
a2.b9.c3.d3. Hendrik Jacobus Henning *25-4-1843 wat die plase Hammanskraal en Putfontein in die distrik Pretoria besit het. Hy kon moontlik ook tydens die Eerste Vryheidsoorlog op kommando gegaan het. Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog (ook bekend as die Anglo Boere-oorlog) is hy twee keer verwond

Volledigheidshalwe word 'n kort relaas van die oorlog verstrek 90.

Gedurende Februarie 1877 verbreek die Britse regering die Sandrivier-Konvensie van 1852 waarin Brittanje die onafhanklikheid van die Boere-republieke gewaarborg het en annekseer die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR).

Aanvanklik aanvaar meeste burgers die anneksasie gelate, maar stadigaan begin meer en meer protesteer. Veral die Potchefstroomers kom in opstand. Op 10 Desember 1880 vergader ongeveer 10 000 burgers by Paardekraal (vandag Krugersdorp) en besluit om weer die onafhanklikheid van die Boererepubliek te herstel.

Op 15 Desember 1880 ry 'n Boeremag Potchefstroom binne en laat druk die Eerste Proklamasie by die plaaslike drukker. Boer en Brit het in 'n skermutseling betrokke geraak en daarmee het die Eerste Vryheidsoorlog begin.

Britse magte onder bevel van Kolonel Anstruther begin op 20 Desember 1880 met 'n opmars vanaf Lydenburg na Pretoria om Britse gesag weer af te dwing, maar word by Bronkhorstspruit voorgekeer. In 'n kort bloedige geveg het Genl Frans Joubert en 150 man die Britte binne 10 minute vernietigend verslaan. Dit het in die geskiedenis bekend geword as die Slag van Bronkhorstspruit.

Agt dae later word 'n Boeremag onder bevel van Genl Piet Joubert wat by Laingsnek, Oos van die berg Majuba ingegrawe was, deur 'n Britse mag onder aanvoering van Genl Colley aangeval. Weereens word die Britte vernietigend verslaan - die Slag van Laingsnek.

Op 8 Februarie 1881 trek 'n vertoonmag onder aanvoering van Genl Colley uit sy kamp by Mount Prospect op die pad na Newcastle. Hy wil die Boere wat sy konvooie op die pad aanval, 'n les leer. By Skuinshoogte, naby Ngogo verslaan Genl Nicolaas Smit en sy burgers die Britte na intensiewe gevegte. Hierdie slag kry die naam, Die Slag van Ingogo of Die Slag van Skuinshoogte.

'n Skildery van die slag van Majuba deur die skilder, Richard Caton Woodville

Die laaste en mees verwoestende geveg tussen die Britse- en Boeremagte vind plaas op 27 Februarie 1881 by die berg Majuba. Genl Colley en sy mag het die kruin van berg Majuba beset, om van daar af te kyk op die Boerestellings by Laingsnek. Met superieure krygsvernuf het Genl Nicolaas Smit en sy mag die Britte uitoorlê en hulle 'n vernietigende nederlaag toegedien.

Die veldslag het daartoe gelei dat die Britse bevelvoerders op 21 Maart 1881 'n vredesooreenkoms geteken het. Hierdie was die enigste oorlog in die geskiedenis van Brittanje wat hierdie supermoontheid verloor het en was sekerlik die grootste vernedering in daardie land se geskiedenis, wat hulle later sou wou wreek.

Alhoewel daar nie baie soldate by die slag van Majuba betrokke was nie, was die veldslag belangrik, om die volgende redes:

Voldende subafdeling: Die Anglo-Boere-oorlog 1899 - 1902