![]() |
a2.b1.c6.d3. Pieter Hendrik Henning *30-7-1840. Hy was aan die sy van Louw Wepener met sy beroemde heldedaad tydens die Tweede Basoeto-oorlog en is self tydens hierdie oorlog verwond |
Die Republiek van die Oranje-Vrystaat het in 1854 tot stand gekom. Verskeie Henning gesinne - hoofsaaklik nasate van Johannes Gerhardus Henning (a2.b1.) en Jacobus Cornelis Henning (a2.b5.) - het toe reeds in die gebied gewoon. Verskeie pogings is van die begin af deur die regering van die nuwe Republiek aangewend om die Basoeto's onder leiding van Mosjesj (die Lesotho van vandag) te oorreed om die grens tussen hul onderskeie state te eerbiedig. Ten spyte van beloftes deur Mosjesj het die diefstal van veë, die afbrand van plaashuise en die moord op blankes voortgeduur.
In 1858 het die toestand sodanig versleg dat President Boshoff verplig was om oorlog teen Mosjesj te verklaar. 'n Kommando bestaande uit gewone burgers, onder bevel van Generaal Fick ruk op na Thaba Bosigo, die bergvesting van Mosjesj. Op 3 April 1858 sneuwel a2.b5.c4.d2. JOHANNES AALWYN HENNING (*1-12-1837) in die aanval op Thaba Bosigo21. Die Vrystaatse kommando kon nie die Basoeto's uit hulle bergvesting verdryf nie en die hele operasie was inderwaarheid 'n mislukking.
Johannes Aalwyn was slegs twintig jaar oud toe hy gesneuwel het. Hy was egter reeds getroud en het twee dogtertjies gehad.
![]() |
'Ou Betjie Vrijstaat' is die naam van hierdie ou kanon wat vir baie jare voor die hofgebou te Smithfield in die Vrystaat gestaan het. Die kanon is gedurende die eerste Basoeto-oorlog gebruik. Die drie burgers wat daarby staan is v.l.n.r JPW van Eeden (oom Japie) *25-8-1833, MG Adendorf (oom Gielie) *20-3-1834 en a2.b5.c5.d4. Gert Frans Henning (oom Gert) *25-8-1842. Oom Japie en oom Gielie het aan die Eerste Basoeto-oorlog deelgeneem en oom Gert het aan die Tweede Basoeto-oorlog en die Tweede Vryheidsoorlog deelgeneem |
Tydens die Tweede Basoeto-Oorlog van 1865 ruk twee Vrystaatse kommando's op teen Thaba Bosigo - Generaal Fick se kommando uit die Noorde en Kommandant Louw Wepener se kommando uit die Suide22 - Rouxville /Zastron se rigting (Henning wêreld). Tydens die baie beroemde helde-daad van Louw Wepener, met die bestorming van Thaba Bosigo was a2.b1.c6.d3. PIETER HENDRIK HENNING (*30-7-1840) aan sy sy. Later gedurende dieselfde oorlog het dieselfde Pieter Hendrik Henning verskeie assegaaisteke opgedoen toe die Basoeto's sy ouers se huis op die plaas Klipkop, in die Rouxville distrik aangeval het. Hy het aan al drie Basoeto-oorloë deelgeneem.
Die geveg waarin die Basoeto's finaal tydens die Tweede Basoeto-oorlog verslaan is, het plaasgevind op 'n koppie in die omgewing van die teenswoordige Zastron. a2.b1.c3.d7, DANIËL STEPHANUS ALBERTUS HENNING (*20-7-1838) het 'n klompie jare vroeër sy plaas aan die voet van hierdie koppie uitgelê.Voor die slag het die Boerelaer op sy plaas bymekaargekom. As gevolg hiervan het Daniël Stephanus Albertus se plaas die naam Het Kamp gekry en is die koppie Vechtkop genoem.
Volgens oorlewering het a2.b1.c3.d2. JOHANNES GERHARDUS HENNING (*29-3-1829) wat in die Rouxville distrik, op die plaas Kruitfontein gewoon het, ook tydens een van die drie Basoeto-oorloë 'n assegaaiwond opgedoen. Ongelukkig is meer volledige besonderhede van die insident nie bekend nie. Daar bestaan ook nie enige amptelike verwysing na die insident nie.
Voldende subafdeling: Die Eerste Vryheidsoorlog 1880/81