AFDELING 10: KRYGSGESKIEDENIS VAN DIE HENNING FAMILIES

Subafdeling a: Die Stryd teen die Boesmans en die Xhosa-oorloë van 1779 - 1879

Die Eerste Henning Soldaat

Die Henning stamvader, Peter Henrich (Pieter Hendrik) Henning (a2), wat gedurende Desember 1740 te Lippstadt in die teenswoordige Duitsland gebore is, het gedurende 1765 as 'n soldaat in diens van die Hollandse Oos Indiese Kompanje na die Kaap van Goeie Hoop gekom. Hy dien minder as drie jaar lank onder bevel van Kaptein Hendrik Storm en Vaandrig Johannes Steen2. Ongelukkig is niks oor sy dienstydperk bekend nie. Op 10 Julie 1768 word hy deur die Kompanje as 'n boerkneg aan Gerd Engelbrecht uitgehuur3. Engelbrecht, wat dieselfde jaar nog sy skoonvader sou word, het in die Drakenstein Wyk van Stellenbosch distrik geboer. Dit is die Paarl van vandag.

'n Paar jaar later vertrek Pieter Hendrik Henning en sy vrou na die Oosgrens van die Kaapkolonie om daar 'n bestaan te probeer maak - min wetende dat dit die kookpot was waar swart stamme, wat besig was om Suidwaarts te emigreer, vir die volgende honderd jaar lank die blanke boere se lewens sou bedreig.

Met Pieter Hendrik Henning se aankoms aan die Oosgrens het die Boesmans (wat saam met die Hottentotte die enigste inwoners voor die blankes aan die Suidpunt van Afrika was) reeds 'n skrikbewind onder die blanke boere gevoer. Veë is wild en wakker gesteel en dikwels is plaashuise afgebrand. Talle boere is finansieel geruineer en moes weer van voor af vir hulle 'n boerdery opbou. Boere moes gewapen en gedurig op hulle hoede wees, wanneer hulle op hul plase rondbeweeg het. Gewoonlik het die owerhede in die grensdistrikte 'n kommando bestaande uit plaaslike burgers op die been gebring om die gesteelde veë te probeer terugkry. In die meeste gevalle was hulle onsuksesvol.

Die Grensoorloë

Tussen die jare 1779 en 1878 het nege sogenaamde Xhosa-oorloë of Grensoorloë op die Oosgrens van die Kaapkolonie tussen die blanke inwoners en die Xhosa inboorlinge plaasgevind. Al hierdie oorloë is begin deurdat die Xhosas die grens oorgesteek, plaasboere, hulle families en werknemers aangeval, hul huise afgebrand en hul veë geroof het. Gewoonlik is strafekspedisies deur burgerkommando's of sogenaamde vredes-ekspedisies daarna deur die Kaapse regering uitgestuur. Die lamsakkige wyse waarop eers die HollandseOos-Indiese Kompanje en later die Britse regering die situasie hanteer het, het tot groot ontnugtering en ongelukkigheid onder die grensboere gelei4.

Gedurende November 1779 breek die eerste Xhosa-oorlog tussen die blanke grensboere van die Kaapkolonie en die Xhosa-inboorlinge uit. Die impi's van Rarabe het die Oosgrens van die Kolonie by Bruintjieshoogte (vandag in die Pearston distrik) oorgesteek en begin om die grensboere se veë te steel, hul huise af te brand en hulle te vermoor.

'n Paar maande voor die oorlog uitgebreek het (op 31 Maart 1779), het Pieter Hendrik Henning (a2) toestemming van die Kaapse Goewerneur gekry om sy veë langs die Voëlrivier, aan die voet van Bruintjieshoogte te laat wei5. Dit is presies in die gebied waar die eerste vyandighede uitgebreek het. Weens die geweld van die Xhosas se aanvalle, moes die meerderheid boere die wyk neem. Ons kan aanvaar dat Pieter Hendrik een van die boere was wat deur die inval van die Xhosas geraak is en dat hy 'n lid van een van die twee kommando's onder bevel van Josua Joubert en Pieter Hendrik Ferreira was, wat hierna teen die Xhosas opgetrek het. Ongelukkig dui die argivale rekords waarin verslag oor hierdie kommando's gedoen word, nie die name van die burgers wat dit vergesel het, aan nie. Slegs die leiers se name word vermeld6.

Teen die einde van 1786, of vroeg in 1787, trek Pieter Hendrik Henning (a2) en sy gesin na die gebied wat as Achter de Sneeuwberg bekend was.7 Hy vestig hom op die wal van die bo-lope van die Visrivier. Op 20 November 1787 word die plaas Elandskraal aan hom toegeken8. Hoewel die Suurveld (die gebied tussen die kus en die lyn gevorm deur die Boesmans - en bolope van die Visrivier) 'n groter teiken vir die Xhosas en die Boesmans was, is Achter Sneeuwberg ook dikwels aangeval4.

Twee jaar later, op 25 September 1789, het Pieter Hendrik Henning ook die plaas Commando Drift, in die gebied wat as die Tarka bekend gestaan het, bekom9 (die omgewing van die teenswoordige Tarkastad). Hierdie plaas was ver buite die grense van die Kolonie en geleë in 'n gebied wat as uiters gevaarlik, weens die Boesmans, beskou is.

Op 9 Januarie 1790 rapporteer die veldwagmeester vir Achter Sneeuwberg, J D K Hattingh, dat die Boesmans op 12 Oktober 1789 'n geweer by Pieter Hendrik Henning se veewagter gesteel het. Weens die voortdurende strooptogte van die Boesmans moes die boere hul veewagters bewapen. Op 31 Oktober 1789 was die Boesmans weer tussen Pieter Hendrik se veë, maar hulle kon niks buit nie. Die Boesmans het een van die Hottentot veewagters gewond, terwyl die veewagters een Boesman geskiet het10.

Op 13 Januarie 1791 word 210 bokke van Pieter Hendrik Henning op sy plaas Elandskraal in die Graaff-Reinet distrik gesteel. As gevolg van hierdie diefstal, asook verskeie ander wat in veldwagmeester Hattingh se wyk gepleeg is, het hy op 23 Januarie 1791 'n kommando, waarvan Pieter Hendrik Henning lid was, opgeroep om die Boesmans te agtervolg. Die kommando kon egter geen veë terugkry nie11.

Intussen is die Henning gesin se lewe in die Tarka ook deur die Boesmans versuur. Op 1 November 1794 verskyn 'n afvaardiging bestaande uit Pieter Hendrik Henning en drie ander boere (Opperman, Brits en Liebenberg) voor Landdros Maynier van Graaff-Reinet. Hulle verteenwoordig al die boere in die Tarka en versoek die Landdros om 'n kommando op die been te bring om die plunderende Boesmans, wat in die Bamboesberge ten noorde van die Tarka skuil, hok te slaan. Hulle dui aan dat dit vir hulle onmoontlik is om langer in die Tarka te bly, omdat al hulle veë gesteel, hulle huise afgebrand en hul lewens bedreig word12. Landdros Maynier, wat glad nie na die belange van die boere omgesien het nie, het altyd op een of ander lamsakkige manier probeer om die geskille tussen die boere en die plunderende inboorlinge op te los.

Skynbaar moes Pieter Hendrik Henning gedurende September 1794 sy plaas ontruim, omdat al sy veë gesteel is - hy is finansieel totaal geruineer. Dit word so aangedui in die verslag wat gedurende Mei 1795 voor kommissaris O G De Wet gedien het. Hy moes beslis oor agterstallige huurgeld op leningplase in die Graaff-Reinet distrik. Pieter Hendrik Henning se agterstallige huurgeld vir een jaar is kwytgeskeld, asook vir die volgende jaar13.

Die Eerste Volkstaat

Opstandige burgers van Graaff-Reinet dwing Landdros Maynier om afstand te doen van sy amp. Die haglike toestande aan die Oosgrens het tot openlike rebellie in Graaff-Reinet en Swellendam gelei

Teen 1795 het die toestand op die Oosgrens so ondraaglik geword dat die burgers alle vertroue in die regering begin verloor het. Hulle was ontnugter en teleurgestel deur die regering van die Hollandse Oos-Indiese Kompanje. Hulle het onder andere die volgende van die regering gedink: Dat hy korrup was; dat hy onbevoegde amptenare gehad het wat onsimpatiek teenoor die gewone burgers in die grensdistrikte was; dat die regering hulle nie wou toelaat om hulself, hul families en hul besittings teen plunderende barbare te verdedig nie; hulle nie wou toelaat om hul gesteelde veë te gaan terughaal nie; hulle nie wou toelaat om met die swartes handel te dryf nie; nie in staat was om hulle te verdedig nie; onbevoeg was om die kolonie se grense te verdedig; belastings gehef het waarvoor die gewone burgers geen voordeel ontvang het nie; vriendskapsverdrae met die vyand gesluit het; niks gedoen het om hul opvoedkundige en geestelike welvaart te verbeter nie.

Die inwoners van Swellendam en Graaff-Reinet het openlik teen die Kompanje in opstand gekom. Op Graaff-Reinet het 'n groep gewapende boere op 6 Februarie 1795 landdros Maynier - wat baie ongewild was - uit die drosdy verdryf. Voorts het hulle geweier om die Kompanje se wette te erken of sy belastings te betaal. Gedurende April 1795 het 267 burgers van Graaff-Reinet 'n brief aan Goewerneur A J Sluysken gerig waarin hulle landdros Maynier verkla dat hy nie sy plig doen nie. Pieter Hendrik Henning was een van die ondertekenaars van hierdie brief aan die laaste Hollandse Goewerneur aan die Kaap14.

Mens kan verstaan waarom Pieter Hendrik Henning een van die burgers was wat van Landdros Maynier ontslae wou raak en 'n onafhanklike republiek uitgeroep het. Al sy en sy medeburgers se aksies was slegs op vrede en goeie buurmanskap gerig. As gevolg van die lamsakkige houding van die regering was hulle verplig om in opstand te kom.

Op 4 Augustus 1795 het Pieter Hendrik Henning weer saam met vyftien ander burgers 'n sterk bewoorde brief aan die nuwe waarnemende Landdros van Graaff-Reinet gerig waarin hulle hom versoek om streng teen 'n groep Hottentotte op te tree wat besig was om andere tot 'n opstand/oproer op te stook15.

Op 3 Januarie 1796 rapporteer R J Brits, die Veldwagmeester vir die Tarka dat Pieter Hendrik Henning se huis weer deur die Boesmans afgebrand is en dat daar by talle ander boere gesteel is16. Skynbaar het Pieter Hendrik Henning sy plaas in die Tarka laat lê en permanent na Agter Sneeuberg teruggetrek.

Interessantheidshalwe kan gemeld word dat die plaas Commando Drift in die Tarka enkele jare later in die hande van Hermanus Potgieter gekom het. Hermanus se seun, Andries Hendrik Potgieter, die baie bekende Voortrekkerleier, het mettertyd die plaas by sy vader oorgeneem. Sy geselskap het gedurende November 1835 met die Groot Trek vanaf hierdie plaas vertrek17.

Die Eerste Geweldadige Sterfgeval

Xhosa veediewe en brandstigters oorval die plaas van 'n grensboer
a2.b6.c4.d7. Frederik Henning*17-7-1855 van die plaas Grootvlei, Burgersdorp wat vermoedelik 'n lid van die Albert Burghers regiment was en aan wie die South African War Medal 1877/79 toegeken is South African War Medal 1877/79 wat ook aan vyf Hennings toegeken is. Ons het 'n sterk vermoede wie een van hierdie burgers was, maar het nie genoegsame bewyse om die ander vier te identifiseer nie

Die eerste Henning wat weens politieke geweld tussen die inboorlinge en die Grensboere gesterf het, was 'n vrou, naamlik ELIZABETH CATHARINA HENNING (gebore Booysen), *Oktober 1801, kleindogter van die stamvader Pieter Hendrik Henning (a2) en die eerste eggenote van a2.b5.c2. Pieter Hendrik Henning. Sy is op 13 November 1835 deur die Xhosas gedurende die vernietigende sesde Xhosa-oorlog vermoor18. Ongelukkig word slegs beperkte besonderhede van die insident waartydens sy gesterf het, in haar sterfregister verstrek. Daar kan egter afgelei word dat sy tydens 'n aanval wat die Xhosas op hulle plaas, De Put in die Brakrivier wyk uitgevoer het, vermoor is. Die plaas De Put lê presies in lyn tussen die teenswoordige Middelburg en Hoffmeyr.

Hierdie oorlog en die Britse regering aan die Kaap se onvermoë om die grensboere te beskerm, was een van die vernaamste redes vir die Groot Trek na die binneland wat hierna sou volg.

Elizabeth Catharina Booysen (of Elsa soos sy genoem is) was nie net met 'n Henning getroud nie - haar ma was ook 'n nooi Henning, die suster van haar man se pa. Sy en haar eggenote was dus neef en niggie. Sy was vyf-en-dertig jaar oud en die jongste van haar vyf kinders was slegs een maand oud toe sy gesterf het. Haar eggenote is tien maande na haar dood weer getroud en het onmiddelik na sy troue sy wa gepak en die Andries Hendrik Potgieter geselskap op hulle tog na Potchefstroom gevolg19.

Bewyse is ook gevind dat Hennings in van die latere oorloë teen die Xhosas betrokke was. Brittanje het na die negende Xhosa-oorlog van 1877-78-79 'n medalje, die South African War Medal 1877/8/9 aan alle persone wat aan hierdie oorlog deelgeneem het, toegeken. Die medalje is onder andere aan die volgende Hennings toegeken: manskap F Henning van die Albert Burghers; kavalleris A Henning van die Transvaal Rangers, ook genoem Ferreira's Horse; kavalleris A Henning van Somerset East Volunteer Contingent; Manskap J Henning van die Frontier Mounted Riflemen en manskap C Henning van Cape Mounted Riflemen20. Ongelukkig word slegs een voorletter van elke persoon verstrek. Ten spyte van intensiewe navorsing, selfs in die Public Record Office, Kew, Richmond, Engeland, waar die oorspronklike rekords van hierdie oorlog en die toegekende medaljes bewaar word, kon meer volledige besonderhede van hierdie persone nie opgespoor word nie. Dit is dus nie moontlik om hulle positief te identifiseer nie.

Ons het 'n sterk vermoede dat die F Henning van die Albert Burghers in alle waarskynlikheid a2.b6.c4.d7. Frederik Henning, gebore 17-7-1855 moet wees. Hy is die enigste Henning man met voorletter F en regte ouderdom wat gedurende hierdie tyd in die distrik Albert, op die plaas Grootvlei gewoon het. Ongelukkig is daar geen bewyse wat ons vermoedens staaf nie. Hierdie Frederik Henning het gedurende die Anglo-Boere-Oorlog as 'n Kaapse Rebel by die Colesberg Kommando aangesluit en is later as 'n geïnterneerde in Portugal aangehou.

Voldende subafdeling: Die Basoeto-Oorloë van 1858 - 1868