Nr 70

Mei 2002

Indeks:

Dagsê al julle Haantjies! Vir bykans 18 jaar lank het ons kwartaallikse Nuusbrief onder die formele naam “Henning” verskyn. Dit het tyd geword om die Nuusbrief so 'n bietjie op te helder en ons begin by die naam. Ons weet dat “Johannes, die Oue”(1290) se seun genoem is “die seun van haan”, dus ... wat noem ons 'n jong haan? Ons hoop van harte dat u van ons Nuusbrief se nuwe naam sal hou en dat dit ook in u spreektaal ingang sal vind. Onthou ook!! Ons wil graag weet wanneer daar iets interessant in u huishouding gebeur of wanneer u verneem van enige interessante ding wat met enige ander Henning gebeur. Verstrek asseblief altyd volledige gegewens! Ons Hennings kan trots wees op ons Nuusbrief en u, ons lede, is daarvoor verantwoordelik.

'N SWEEDSE HENNING

Talle mense wat ons webwerf besoek, korrespondeer daarna per e-pos met ons Bondsekretaris. Onlangs het ons die eerste e-pos brief van 'n Henning uit Swede ontvang en ons publiseer graag Joachim Henning se brief:
Dear Olivier,

many thanks for your nice email, it was really nice to hear back from you. I was intrigued by the fact that you said where the name Henning originated from. Stralsund, Germany is not that far from Sweden and I am currently planning a trip there later on this summer.

As far as I have heard the name Henning came to Sweden with the Vallon craftsmen during the 17th century. Maybe you know that Henning is a common first name in Denmark and Norway which makes it possible for someone to actually be called Henning Henning. A quick search in the Swedish phone directory tells me there are about 250 Henning households in Sweden but I don't know any of them except my parents and younger sister. Unfortunately my own family is very small and I don't know of any other living relatives. 

There have been a few famous Hennings in Sweden over the years. Uno Henning was a great actor in the early 1900s at the Royal Dramatic Theatre. Some 50 years later Ms. Eva Henning entered the Swedish screens and participated in several movies. In later years a successful speed-skier named Niklas Henning has contributed with some glory to our name...

As of myself I am born and raised in Stockholm and recently returned after 7 years "on the road", mainly in the United States. I recall that I have seen a Henning village's web site on the Internet, either in Minnesota or Illinois so it seems as we are spread all over the world. 

I am really looking forward to receive those cuff links and also to hear from you again!

Best regards,
Joachim

GELDSAKE

Ons familiebond is reeds amper 18 jaar oud - dit is op 21 Julie 1984 gestig. Vir die eerste sestien jaar was ons inkomste elke jaar meer as ons uitgawes en kon ons oor die jare selfs 'n klein neseiertjie opbou. Hierdie neseiertjie het verskeie kere handig te pas gekom wanneer ons skielik fondse dringend nodig gehad het, byvoorbeeld wanneer van ons masjiene gebreek het, ons nuwe toerusting moes aanskaf of nuwe projekte aangepak het, byvoorbeeld die oprigting van die Henning uitstalling in die Aliwal-Noord Museum.

Die afgelope paar jaar het die gaping tussen ons inkomste en uitgawes al kleiner begin word. Met die afsluiting en oudit van ons boeke vir die kalenderjaar 2001 het dit duidelik geword dat dit die eerste jaar was wat die Familiebond se uitgawes meer as sy inkomste was - 'n hele R7 040.09 meer. Gelukkig is die hoofrede vir hierdie toestand die bedrag wat as waardevermindering op ons toerusting afgeskryf is - R9 948.90. Die bedrag wat egter spandeer is om ons toerusting in stand te hou en op te gradeer, was egter onrusbarend hoog - R3 955.59. 

Toe tref die tweede skok ons!! Al ons spaargeld was belê in twee vaste deposito's van R8 000.00 en R5 601.92 by Saambou Bank. Die eerste belegging het verval gedurende November 2001 en die tweede op 5 Maart 2002. Gedurende November het ons die bank versoek om die eerste belegging op 32 dae kennisgewing te hou totdat die tweede belegging verval. Hierna sou ons beide beleggings (plus rente) opvra, vir moontlike gebruik in 'n nuwe projek. Ons was van plan om 'n nuwe oplaag van die Familiekroniek te laat druk. Elders in die Nuusbrief rapporteer ons oor die moontlike druk van 'n nuwe oplaag van die Familiekroniek.

Ons sit nou met die volgende gegewe feite:
1. Ons beleggings is nog bevries en daar is geen aanduiding wanneer en of ons enigiets gaan terugkry nie.
2. Verskeie lede wat jaarliks ledegelde bydra, versuim om by te dra. Ons wil nie ledegelde verhoog nie en wil dit steeds aan elke Henning oorlaat om self te besluit wat se bydrae hy of sy kan en wil maak - selfs ons lewenslange lede. Dit is egter duidelik dat R40.00 per huisgesin per jaar, nie voldoende is om al ons uitgawes te dek nie.

Ons is egter vas oortuig dat die Familiebond weer beter dae sal ervaar, want ons Hennings is mos 'n trotse familie wat nie sal toelaat dat hierdie organisasie, wat soveel vir die familie beteken, tot niet gaan nie. Ledewerwing moet dus een van ons hoofdoelwitte bly en u almal speel 'n belangrike rol hierin.

ONS HENNINGS SE SPEELGOED

Hierdie twee interessante foto's van dieselfde bokwaentjie is meer as vyftig jaar na mekaar geneem. Wyle b7.c8.d8.e3. Oom Len Henning het die waentjie gedurende die veertiger jare van die twintigste eeu gemaak. Op die eerste foto, wat ongeveer 1952/53 geneem is, verskyn Bondsekteraris Olivier Henning (9/10 jaar) saam met sy niggie Anthea Harker en sy suster Sylvia. Hy was die eerste eienaar van die bokwa en het vir jare saam met sy broer Fanie daarmee gespeel.

Die waentjie was Olivier se eerste bron van inkomste. As laerskoolkind het hy Saterdae met die waentjie na die Brakpan mark gegaan en talle huisvrouens se groente huistoe karwei, teen betaling van 'n fooitjie - 'n pennie of 'n tiekie, of as die huis baie ver was, 'n sikspens. Hy het ook dikwels self 'n krat piesangs op die mark gekoop en dan met die waentjie van huis tot huis geloop en die piesangs verkwansel.

Op die tweede foto verskyn Olivier se kleinseun Louis Swanepoel (41/2 jaar) saam met sy sussie, Esté. Louis is nou die eienaar van die waentjie. Die waentjie kan nog 'n paar geslagte hou as Louis dit soos sy oupa Olie oppas. As oupagrootjie Len 'n ding gemaak het, is hy goed om talle geslagte lank te hou. Al wat reeds groot verwering toon is die hout wiele, wat eersdaags vervang sal moet word.


DIE INHOEK HENNINGS AS KINDERS

In die vorige Nuusbrief het ons 'n foto geplaas van die vier oorlewende Henning broers wat op die plaas Inhoek, in die Memel distrik gebore is. Ouboet Jan het onlangs vir ons 'n foto gestuur van dieselfde vier broers, toe hulle nog kinders was .

Op die tweede foto verskyn die vier oorlewende Henning broers wat op die plaas Inhoek, in die Memel distrik gebore is: b5.c1.d3.e1.f7.g1. Jan Andries 1-4-1929,  Daniël Joachim Jacobus (g3)*20-5-1931, Abraham Johannes (g2)*1-5-1930 en Hermanus Francois (g4)*30-12-1932. Hul jonger suster, Dina Maria (g5) en broer Jozef Johannes Philippus (g6) is reeds oorlede. Onder verskyn die vier in die volgorde: Herman, Daniël, Abraham en Jan

 

 

 

HENNING INTERNET WEBWERF

Daar word in byna alle Nuusbriewe berig oor die sukses van die Henning webwerf op Internet. Ons lede sal onthou dat ons 'n tyd gelede besluit het om 'n tweede werf tot stand te bring, henning.org.za. Alle gegewens oor ons Suid-Afrikaanse Hennings sal na hierdie werf verskuif word. Slegs inligting wat vir Hennings wêreldwyd van belang is, sal dan op die henning.org werf behou word. Daar sal egter 'n direkte skakeling tussen die twee werwe wees.

Hierdie enorme taak sal nog 'n paar maande duur om af te handel.

Ons wil weereens 'n beroep doen op Hennings wat oor e-posfasiliteite beskik om van die Familiebond se verpersoonlikte e-posadresse gebruik te maak. U kan teen betaling van 'n minimale fooi 'n Henning adres bekom. Die fondse wat hieruit verdien word, word gebruik vir die instandhouding van die Henning Webwerf.

CORNELIS BELSAZAR HENNING EN DIE ABO

Toe ons met die navorsing na die geslagsregister en geskiedenis van die Henning families begin het, het nasate van b1.c6.d3.e11. Cornelis Belsazar Henning *17-1-1886 dit onder ons aandag gebring dat hy as 'n veertienjarige seun lid was van die Rouxville Kommando en tydens die geveg by die Aliwal-Noord brug, op 11 Maart 1900 gewond is deur skrapnel van 'n Britse kanonkoeël.

As deel van ons navorsing het ons die kommando-rekords van die Rouxville Kommando in die Staatsargief geraadpleeg, om vas te stel watter Hennings lid was van hierdie kommando. Daar het soveel Hennings gedurende hierdie jare in die Rouxville en Zastron distrikte gewoon dat bykans 'n kwart van die kommando Hennings was. Tot ons teleurstelling moes ons ontdek dat Cornelis Belsazar se naam nie in die kommandolyste verskyn het nie. Sy naam het ook nie verskyn in die lyste van gewondes en gesneuweldes wat van tyd tot tyd in die Staatskoerante van destyds gepubliseer is nie.

Dit was egter 'n feit dat Cornelis wel aan die oorlog moes deelgeneem het en gewond is, want die lidtekens van 'n wond aan sy slaap was tot en met sy dood sigbaar.

Onlangs het b1.c6.d3.e11.f3.g2. Francois de la Rey Henning (Frans) van Fochville vir ons twee baie belangrike dokumente gestuur. Die eerste is 'n beëdigde verklaring van die Adjudant van die Rouxville Kommando, Henning Jeremias Olivier, wat getuig dat Cornelis Belsazar Henning van die plaas Palmietfontein lid was van die Rouxville Kommando. 

Die tweede dokument is 'n brief van P W Vogel, gerig aan Cornelis Belsazar se oudste seun, Pieter Hendrik Henning, waarin hy die insident bevestig waartydens Cornelis gewond is. Vogel dui aan dat hy vir Cornelis op sy eie perd gesit en na die Boerelaer geneem het, waar hy verpleeg is. 

Nou het ons die stawende bewyse van sy betrokkenheid. Op 11 Maart 1900 was Cornelis slegs 14 jaar en twee maande oud. Dit blyk asof die kommando-leiding hom as 'n 14-jarige seun nie as 'n volwaardige lid van die kommando beskou is nie, al het hy as 'n volwaardige lid geveg. Hierdie kosbare bewysstukke sal op rekenaar en in in ons Henning Argief bewaar word.

Alle Hennings kan trots wees op so 'n naamgenoot. Dit is 'n illustrasie van durf, waagmoed, toewyding en vaderlandsliefde, wat ons, die nageslag so nodig het om as Afrikaners in hierdie land te oorleef. As ons vandag maar net so 'n paar manne van die kaliber van Cornelis Belsazar gehad het, sou die Afrikanervolk nie boedel oorgegee het, soos wat die afgelope paar jaar gebeur het nie.

Frans Henning het ook vir ons 'n foto gestuur van vier geslagte van Cornelis Belsazar se nasate:

b1.c6.d3.e11.f3. Francois de la Rey Henning *8-12-1914 (regs) seun van Cornelis Belsazar; Francois de la Rey Henning (g2)*25-4-1947, kleinseun (links); Francois Henning (h1)*10-11-1976 (middel) agterkleinseun en Daniélle (i1)*18-11-1999, Agter-agter kleindogter

 

DIE HENNING FAMILIEKRONIEK

Van tyd tot tyd doen mense navraag of eksemplare van die Henning Familiekroniek nog beskikbaar is. Ongelukkig moet ons dan negatief antwoord. Ons het egter deurentyd die Kroniek op datum gehou, want dit is tog een van die belangrikste doelstellings van die familiebond. As ons nie van tyd tot tyd die nuutste gegewens aan ons lede deurgee nie, verydel ons werklik die doel om die register by te hou.

Ons het ondersoek ingestel na die moontlikheid om weer 'n oplaag van die nuwe opgedateerde Familiekroniek te laat druk. In 'n afsonderlike blaadjie, wat by hierdie Nuusbrief ingevoeg is, bespreek ons die moontlikhede en versoek u vriendelik om die vormpie in te vul en aan ons terug te stuur. Dit sal vir ons 'n aanduiding gee of ons moet voortgaan met die projek of nie.

'N ABO HENNING DAGBOEK

b1.c6.d14.e4.f1. Christiaan Rudolph Jacobus (Chris) Henning en sy vrou Winnie van die Aliquando Aftree-oord in Bloemfontein het vir ons die dagboek gestuur wat Chris se oupa b1.c6.d14. Christiaan Rudolf Jacobus Henning *12-4-1859 van die plaas Denemarken in die Rouxville distrik gedurende die Tweede Vryheidsoorlog 1899 - 1902 bygehou het. Die dagboek begin op 1 November 1901, toe hy deur die Britse magte gevange geneem is. Dit is in Kaaps-Hollands, in potlood geskryf, wat plek-plek onleesbaar begin word. 

Volgens die dagboek is hy op 1 November 1901 eers na die Konsentrasiekamp te Aliwal-Noord geneem, waar sy vrou en kinders aangehou is. Van daar af is hy met groot ontberinge weggevoer na die krygsgevangenekamp in Indië.

Hierdie dagboek sal binnekort in die Henning-uitstalling in die Aliwal-Noord Museum uitgestal word. 

HENNING BABAS

b7.c8.d8.e3.f5.g1.Stephanus Rudolf Henning, sy vrou Heleen 
en hul eersteling, Runé *29-3-2002

Op 29 Maart 2002 het b7.c8.d8.e3.f5.g1. Stephanus Rudolf Henning (noemnaam Rudolf) en sy vroutjie Heleen (gebore Slabbert) vir die eerste keer die voorreg gesmaak om pa en ma te word. Op hierdie dag is klein Runé in die Durbanvillekliniek gebore.

Van die kant van die Familiebond wil ons graag vir Rudolf, Heleen, beide oupas en oumas (maar veral oupa Fanie en ouma Hettie Henning van Kuilsrivier) van harte gelukwens met hierdie aanwins.

Ons het ook verneem dat b1.c6.d3.e7.f8.g5. Pierre Stephanus Henning en sy vroutjie Elsdon (gebore Meiring) op 2 April 2002 vir die eerste keer ouers geword het. Op hierdie dag is 'n babadogtertjie (naam nog onbekend) in die Stellenbosch Medikliniek gebore. 

Ook hier, gelukwense aan ouma Ann Henning asook aan die Meiring grootouers Willem en Florence.

AFSTERWE VAN HENNINGS

b1.c3.d10.e8.f1.g1. 
Johannes Gerhardus (Hansie) Henning *30-9-1928 wat onlangs oorlede is,  saam met sy ma, Johanna Christina 
Barendina (gebore Vorster)* 6-5-1906. 
Sy is gedurende 1999 in die ouderdom van 93 oorlede

b1.c6.d14.e4.f1. Christiaan Rudolph Jacobus (Chris) Henning *19-12-1924 van die Aliquando Aftree-oord in Bloemfontein het vir ons laat weet dat Chris se suster Hermina Alowina (b1.c6.d14.e4.f3)*11-8-1938, getroud Boshoff op 22 Januarie 2001 skielik oorlede is.

'n Maand daarna is Chris se skoonsuster, Catharina Jacoba (gebore Myburgh)*7-1-1930, die vrou van b1.c6.d14.e4.f2. Johan Izak Jacobus Henning ook skielik oorlede.

Dan het ons verneem van die afsterwe van b1.c3.d10.e8.f1.g1. Johannes Gerhardus (Hansie) Henning *30-9-1928 van die plaas Glenwater, in die Zastron distrik op 4 Maart 2002. Hansie laat sy eggenote, Hester, drie kinders met eggenotes, elf kleinkinders en twee agterkleinkinders na.