Nr 61

Februarie 2000

Indeks:

CORNELIS BELSAZAR HENNING
b1.c6.d3.e11. Cornelis Belsazar Henning *17-1-1886 en sy vrou Susanna Francina (gebore Fouche). Die foto is gedurende 1924 geneem

Die Aliwal-Noord Museum (waarby die Henning museum ingelyf is) het teen die einde van 1999 'n spesiale uitstalling voorberei ter herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog 1899 - 1902. As die Henning familie se bydrae tot hierdie uitstalling, het Bondsekretaris, Olivier Henning, 'n klein boekie met die titel "So het hulle gedien. Die Henning Familie se bydrae tot die Boerevolk se Tweede Vryheidsoorlog 1899 - 1902" saamgestel. Die inligting vervat in Hoofstuk 14 van die Henning familiekroniek het die basis gevorm vir die boekie, hoewel heelwat nuwe gegewens bygewerk is.

Olivier was gelukkig om vir die eerste keer 'n foto van b1.c6.d3.e11. Cornelis Belsazar Henning, gebore 17-1-1886 te bekom. Cornelis Henning het as 'n veertienjarige seun skrapnelwonde opgedoen tydens die geveg wat op 11 Maart 1900 by die Aliwal-Noord brug plaasgevind het, toe die gevegsmag van Hoofkommandant JH Olivier die wyk moes neem voor die Divisies van Brig. Genl Brabant. 'n Foto van Cornelis Henning en sy vrou verskyn hiernaas.


AFSTERWE VAN HENNINGS

b1.c6.d3.e9.f4.g2. Johannes Stephanus Henning

Ons het onlangs verneem van die afsterwe van b1.c6.d3.e9.f4.g2. Johannes Stephanus Henning *1-5-1945. Johan is op 18 Desember 1999 op Stellenbosch oorlede. Hy was die nasionale verkoop- en bemarkingsbestuurder van Stellenbosch Boerewynmakery (SBW).

Johan Henning (54) van Stellenbosch wat onlangs oorlede is

Johan, wat aan kanker gelei het, was vanaf April 1999 bedlêend. Hy is, soos so baie ander Hennings, in die Suid-Vrystaat gebore. Hy het 'n BA graad in sielkunde en kriminologie verwerf, waarna hy hom in 1971 as personeelbestuurder by SBW in die Oos-Kaap aangesluit het. Hy was van 1974 tot 1987 personeelbestuurder en later bemarkingsbestuurder van SBW Natal in Durban. Daarna was hy die hoofbestuurder vir die Vrystaat en Noord-Kaapland in Bloemfontein voordat hy in 1988 op Stellenbosch tot besturende direkteur van Monis afdeling van SBW bevorder is. Hy is later as die nasionale verkoop- en bemarkingsdirekteur van SBW aangestel.

Johan laat sy vrou, Kathy, en seuns Johan en Carlisle, agter. Ons wil graag namens die familiebond innige simpatie oordra aan Cathy en haar twee seuns.

b9.c1.d2.e9.f3. Johanna Petronella Coetzer (gebore Henning)

b9c1d2e9f4 Dr Japie Henning en sy gade Lydia op haar sewentigste verjaardag - 22 Oktober 1999 b9c1d2e9f3 Johanna Petronella (Hanna) Coetzer (gebore Henning) en haar man Paul, wat presies 'n jaar na mekaar oorlede is

Dr Japie Henning (74) van George het onlangs vir ons laat weet van die afsterwe van sy suster Hanna.

"My suster, b9.c1.d2.e9.f3. Johanna Petronella (Hanna) is voorverlede jaar op 24 Julie 1998 te Klerksdorp oorlede - ongeveer twee weke na haar 80 ste verjaardag. Haar man, Paul Coetzer, het dit baie moeilik verwerk en het heel depressief geraak. Ons het hom egter oorreed om na sy seun Dr Tertius Coetzer in Nieu-Seeland te gaan, net om bietjie weg te kom. Met hierdie besoek het hy egter in Nieu-Seeland 'n koronêre trombose ontwikkel en op 25 Julie 1999 (een jaar en een dag na sy vrou se dood) sterf. Hy het egter vir beide sy dogter, Annette Moolman en seun Tertius laat belowe dat hy langs Hanna begrawe wil word in Klerksdorp. Die graf was vooruit gekoop - so Tertius het die liggaam per vliegtuig laat kom en hy is toe langs Hanna begrawe.

Ek is nou die enigste Henning in ons familie, behalwe ons kinders wat oor is - tans 74, maar ek byt nog vas. Ek help nog so af en toe uit by 'n munisipale kliniek hier op George - veral nou wanneer almal vir 'n paar dae wil wegkom. Dit help nogal om die roes afgeskraap te kry."


HENNING TEELEPELS

Ons het weer 'n bestelling vir goudgeplatteerde teelepels, suikerlepels en koekvurkies met die Henning wapen by ons verskaffer geplaas. Pryse het ongelukkig geweldig gestyg. Die prys per teelepel/suikerlepel/koekvurkie is R20,00 elk (BTW, posgeld en verpakking ingesluit). Indien ses of meer items bestel word, is die prys R18,00 elk.

Ons het ook nog 'n aantal silwer geplatteerde koekvurkies teen R15,00 elk en mansjetknope teen R35,00 per stel beskikbaar, asook heelwat skryfblokke (50 bladsye) teen R24,00 elk.


ALGEMENE JAARVERGADERING

Die volgende Algemene Jaarvergadering van die Familiebond sal op 11 Maart 2000 aan huis van Gideon Henning, Voorsitter van die Familiebond, plaasvind. Sy adres is: Kaldenstr 12, Strand.

Die vergadering sal om 14:30 (half drie n.m.) begin en sal soos in die verlede so kort as moontlik gehou word, waarna ons gesellig saam sal verkeer rondom 'n braaivleisvuurtjie.

Weens die klein getal Hennings wat in die Wes-Kaap woon, asook die feit dat ons lede traag is om Jaarvergaderings by te woon, het ons hierdie jaar nie 'n saal gehuur nie, maar hou die vergadering by een van die bestuurslede se huise. Ons lede moet egter nie dink dat dit nou nie nodig sal wees om by te woon nie - almal se teenwoordigheid is belangrik! Gideon het meer as genoeg plek om 'n groot groep te hanteer.

Die kennisgewing en agenda vir die vergadering sal binnekort gepos word. Om kostes te besnoei het die bestuur besluit om die kennisgewing en agenda net aan lede wat binne 400 kilometer van die Strand woon te stuur. Indien enige lid wat nie 'n kennisgewing ontvang nie, die vergadering wil bywoon, sal dit waardeer word as u een van die volgende bestuurslede skakel: Gideon Henning, Voorsitter– (021) 853 3378; Olivier Henning, Bondsekretaris – (028) 840 0113; Wiena Wilkinson, Bestuursekretaris – (021) 872 4509


MATRIEKS 1999

Aan die einde van 1999 het die volgende Henning jongmense die matriekeksamen suksesvol afgelê. Ongelukkig verstrek die Onderwys Owerhede nie voldoende gegewens sodat ons al die kandidate positief kon identifiseer nie. Kandidate wat positief geidentifiseer kon word, se genealogiese nommer word verstrek. Indien u enige van die kandidate wat ons nie kon identifiseer nie, herken, sal dit baie waardeer word as u  vir Bondsekretaris, Olivier Henning sal verwittig. Die kandidate word ook per provinsie aangedui:

Oos-Kaap

  • Frans Johan Henning * 28-6-1981 b7.c2.d4.e10.f4.g1.h1. S/v Gert Frans Johannes Henning en sy vrou Louise Hermine
  • Gideon Theo Henning * 6-6-1981 b1.c6.d3.e11.f1.g3.h2. S/v Willem Petrus Henning en sy vrou Johanna Jacoba
  • Charmaine Henning

  • Yolande Henning
  • Vrystaat

  • Engela Elsa Henning *28-4-1980 b1.c3.d5.e9.f1.g5. D/v Jacobus Stephanus Henning en sy vrou Engela Susara
  • Willem Christiaan Henning *26-9-1981 b5.c1.d5.e6.f3.g2.h2.i4. S/v Willem Johannes Jacobus Henning en sy vrou Sanette
  • Elzanri Henning
  • Frederick Gerhardus Henning
  • Gert Robert Andries Henning
  • Isolde Henning
  • Ronel Henning
  • Gauteng

  • Abraham Lodewikus Henning *25-1-1981 b1.c3.d4.e8.f3.g4.h1.i2. S/v Daniël Wilhelm Henning en sy vrou Heather     Carol-Ann
  • Andries Jacobus Henning *1-4-1981 b1.c3.d10.e10.f2.g3. h3. S/v Petrus Cornelius Frederik Henning en sy vrou Elizabeth     Johanna Aletta
  • Josef Jooste Henning *19-6-1981 S/v Andries Gerhardus Henning en sy vrou Marita
  • Liesel Henning *29-12-1982 b5.c4.d4.e5.f2.g1.h3.i1. D/v Gerhardus Johannes Henning en sy vrou Isabella Johanna Aletta
  • Maria Dorothea Henning *10-12-1981 b1.c6.d3.e13. f5.g1.h2. D/v Theunis Philippus Henning en sy vrou Frederika     Dorothea
  • Marius Henning b9.c2.d1.e2.f4.g5.h2. S/v David Johannes Henning

  • Michelle Yvette Henning * 29-1-1982 b6.c4.d3.e1.f8.g1.h3.i3. D/v Willem Frederik Henning en sy vrou Marie Denise

  • Sandra Henning * 17-7-1981 b6.c4.d2.e5.f6.g3.h1. D/v Chrisjan Frederick Johannes Henning en sy vrou Wendy

  • Zeldine Henning *23-4-1982 b6.c1.d1.e15.f3.g4.h3. D/v Theodorus Ernst Henning en sy vrou Gertruida Wilhelmina

  • Zelna Henning * 24-2-1981 b1.c3.d10.e10.f4.g2.h2. D/v Pieter en Ansie Henning

  • Andre Henning

  • Anushka Henning

  • Edwina Vichi Henning

  • Jan Melchior Henning

  • Natacha Henning

  • Natashia Evol Henning

  • Sean Henning

  • Zelda Henning

  • Kwa Zulu Natal

  • Clayton Henning b1.c3.d8.e7.f4.g1.h2. S/v Pieter Charles Henning en sy vrou Denise Jane

  • Bianca Myrette Henning

  • Mpumalanga

  • Ivica Henning

  • Noord-Wes Provinsie

  • Christel Henning * 20-1-1981 b1.c3.d12.e1.f1.g6.h3. D/v Jan Daniël Henning en sy vrou Hester Catharina

  • Elmar Francois Henning * 4-8-1981 b9.c1.d4.e5.f3.g1.h4. S/v Izak Jacobus Henning en sy vrou Magdalena Susanna

  • Margery Aesja Henning * 12-12-1980 b1.c6.d3.e11.f3.g2.h2. D/v Francois Delarey (Frans) Henning en sy vrou Maria     Christina

  • Gerbrecht Susanna Henning

  • Lorinda Henning

  • Madeleine Lizelle Henning

  • Noord-Kaap

  • Gerhard Thomas Henning

  • Jeanny Juanita Henning

  • Noordelike Provinsie

  • Madeleine Henning

  • Magdalena Gertruida Henning

  • Nadine Henning

  • Wes-Kaap

  • Annelize Henning * 28-9-1981 b5.c4.d4.e1.f1.g3.h4.i2. D/v Petrus Louis Henning en sy vrou Maria Magdalena

  • Cerika Henning * 1-7-1981 b6.c1.d3.e5.f3.g7.h2.i3. D/v Cecil en Helena Henning

  • Ta-Mari Henning * 31-3-1981 b1.c6.d3.e9.f7.g1.h4. D/v Johannes Stephanus Henning en sy vrou Caville

  • Adele Henning

  • Arno Henning

  • Linka Henning


  • LEDEGELDE 2000

    Daar is nog 64 gesinne wat geen bydrae vir die jaar 2000 gemaak het nie. 'n Vriendelike beroep word op al hierdie lede gedoen om so spoedig moontlik 'n bydrae aan die familiebond te maak - indien moontlik, voor die einde van Maart.

    Ons versoek dat 'n bydrae van minstens R35.00 per huisgesin gemaak word. Hoewel 'n bedrag van R35.00 per gesin nie voldoende is om al ons uitgawes te dek nie, het ons dit so min gemaak om dit vir alle Hennings moontlik te maak om lid van die familiebond te word. Oor die algemeen maak lede wat dit kan bekostig vir ons bydraes wat wissel tussen R50.00 en R100.00.

    Oom Len Henning (91) met 'n paar van die tafeltjies en skinkborede wat hy die afgelope paar weke gemaak het. Deesdae kos hulle net 'n glimlag

    Ons doen ook 'n beroep op lede wat lewenslank aangesluit het, om van tyd tot tyd addisionele bydraes te maak. Sonder addisionele donasies sal die familiebond baie moeilik kop bo water hou.

    In hierdie verband verwys ons graag na twee van ons oudste erelede, naamlik b1.c3.d7.e9.f2. Genl.Maj (oom Piet) Henning (92) van Zastron en b7.c8.d8.e3. oom Len Henning (91) van Brakpan. Oom Piet het vir ons 'n donasie van R200.00 gestuur terwyl oom Len onlangs weer vir ons 'n donasie van R250.00 aangestuur het.  Afgesien van verskeie vorige donasies sedert die stigting van die familiebond, het oom Len ook teen die middel van verlede jaar vir ons 'n donasie van R500.00 gestuur.

    Oom Len het tot onlangs nog voltyds met sy houtwerk geldjies verdien. Hy maak skinkborde, koffietafels en ander klein meubelstukke. Die donasies wat hy aan die familiebond maak, knyp hy af van dit wat hy met sy werkery verdien.

    Sedert die einde van 1999 werk oom Len net 'n paar ure per dag - sy bene kan nie meer die ure se staan hanteer nie en rus hy nou vir langer tydperke. Die prys wat hy deesdae vra vir die items wat hy maak, het ook 'n bietjie duurder geword - al wat hy nou vra vir 'n skinkbord, koffietafel of kassie is "'n glimlag". Oom Len sê dat dit meer as genoeg kompensasie is om 'n vriendelike gesig te sien wanneer hy 'n item aan iemand "verkoop".


    KEN ONS LEDE

    In hierdie Nuusbrief stel ons graag b7.c2.d3.e4.f3.g2. Marthinus Christoffel Henning, gebore 15 November 1963 en sy gesin bekend. Tot verlede jaar het ons slegs genealogiese informasie tot en met Marthinus se oupa gehad - dit is waar die spoor na twintig jaar se navorsing doodgeloop het. Gelukkig het Marthinus op die Henning Webwerf op Internet ingeskakel en daarna vir ons al die ontbrekende informasie oor sy oupa se nasate verstrek. In die vorige Nuusbrief het ons al hierdie gegewens verstrek, asook 'n paar foto's van sy voorsate gepubliseer. Marthinus en sy gesin het ook by die familiebond aangesluit.

    Hier is Marthinus se verhaal:

    Ek is basies die laat lammetjie in ons familie. My vader is getroud toe hy 48 was en my moeder 36. Ek is gebore toe my vader 52 was en my moeder 40. Ek is die "enigste" kind van Gert Frans Johannes Henning (b7.c2.d3.e4.f3.) en Hester Margaretha (gebore Le Clus).

    Marthinus Christoffel Henning en sy eggenote, Henesia Erika (gebore Kleynhans) met Esmari (16 maande) en Anina (5 jaar) b7.c2.d3.e4.f3.g2

    Ek het 'n sussie gehad wat so plus minus 2½ jaar ouer as ek was, maar sy is kort na geboorte oorlede. Ek is op 15 November 1963 in Bloemfontein gebore en was woonagtig op die plaas Winterhoek in die Petrusburg distrik. Gedurende 1970 to 1974 was ek in Laerkool AJC Jooste te Petrusburg - Sub A to St. 3. Na my vader oorlede is, het ek en my moeder in 1974 na Zastron, waar sy oorspronklik vandaan kom, verhuis. Daar was ek van St.3 tot matriek op skool. Ek matrikuleer dan ook in 1981 te Hoërskool Zastron. Die skool se leuse was Facta non Verba, of te wel "Nie woorde nie, maar dade", of soos ons sommer altyd gespot het - "Hou jou bek en werk". Iets waaraan ek vandag steeds glo.  As elke persoon ophou om te kla en op die negatiewe rondom hom te konsentreer en liewer op die positiewe te fokus en sy kant te bring, glo ek sal die ou wêreld sommer 'n baie beter plek wees.

    Na matriek wou ek verder gaan studeer, maar ek het gevoel ek wou eers iets anders doen voordat ek universiteit toe gaan. Gelukkig was diensplig daar en hoef ek nie te gewonder het wat om te doen nie. Gedurende 1982 en 1983 doen ek my diensplig te 1SAI Tempe, Bloemfontein. Daarna te Infanterieskool Oudtshoorn waar ek die mortier peloton bevelvoerderskursus doen en weer terug keer na 1 SAI in Bloemfontein. Daarna is ek na 3 SAI te Potchefstroom en doen die laaste 4 maande diens by Noordwes Kommandement waar ek betrokke was by burgermag en kommando opleiding.

    Gert Frans Johannes Henning en sy eggenote Hester Margaretha (gebore Le Clus) b7.c2.d3.e4.f3

    Vanaf 1984 tot 1987 staan ek bekend onder die spesie "student" op die kampus van die Universiteit van die Oranje Vrystaat - dus 'n Kovsie.  Gedurende 1985 ontmoet ek dan ook my vrou - Henesia Erika Kleynhans waarmee ek op 9 Desember 1989 te Ventersburg getroud is. Sy het die graad B.Soc.Sc behaal en is tans 'n aptekersassistente. Sy is op 23 Augustus 1965 in Kroonstad gebore en matrikuleer in 1983 te Hoërskool Ventersburg. Sy is die dogter van Ernst Lodewyk Johannes (Ernst) en Francina Magdalena (Ina) Kleynhans destyds van Ventersburg en tans woonagtig te Senekal.

    In 1988 behaal ek die graad B.Com en my H.O.D. Ek begin dan ook gedurende 1988 as lektor by die Tegniese Kollege Welkom. In 1993 behaal ek die graad B.Ed, weereens aan die UOVS. (Hier moet ek dankie sê aan 'n dosent wat 'n van-genoot is en 'n baie aangename persoonlikheid het en wat 'n mens altyd positief gemotiveer het - prof. OA Henning. Was dit nie vir sy insette nie, het ek seker nou nog Wysgerige Pedagogiek probeer deurkom).

    Janet Elizabeth Wright (gebore Henning) (b7.c2.d3.e4.f2), (gebore 21-05-1909) dogter van Marthinus Christoffel Henning (b7.c2.d3.e4)

    Vandag is ek nog steeds 'n Goudvelder en verbonde aan die Welkom Kollege vir Beroepsonderwys waar ek 'n senior lektor in Rekenaarpraktyk is. Ek is woonagtig in Riebeeckstad sowat 5 km van Welkom af.

    Ons het 2 dogterjies/terroriste wat ons soms tot raserny kan dryf, maar wat ons vir geen geld onder die son sal verruil nie. Anina, wat vernoem is na haar ouma Francina, is op 22 Oktober 1993 gebore en Esmari wat vernoem is na haar ouma Hester Margaretha, is op 1 Junie 1998 gebore. Beide is in Welkom gebore.

    As stokperdjies versamel ek patrone, munte en seëls. Ek herlaai ook my eie ammunisie en skiet graag as ek die geleentheid en tyd kry. Verder lees ek ook graag en doen graag houtwerk.