Nr 57

Februarie 1999

Indeks:

HUPSE BONDGENOTE, AL PLA DIE RUMATIEK

Die een is 124 jaar oud, die ander 87 jaar, maar hulle is bondgenote soos min, en al pla die rumatiek soms altwee, is hulle nog hups en lus vir die lewe.

Oom Boet Henning (87) van Zastron en sy vriendjie, Grappie (27)

Die oudste se doofheid kry hulle ook nie onder nie. Gebaretaal word ingespan, en hulle kyk net in mekaar se oë, dan weet die een wat die ander wil sê. Die oudste van die twee is Grappie van Zastron, 'n spitshond, wat die skrywers van die rekordboeke oor hoe oud honde word, op hul neuse laat kyk. Sy 27 jaar en 'n klomp maande op aarde is gelyk aan 'n mens wat 124 jaar oud is. Hy het lankal die maksimum ouderdom van sowat 20 jaar vir klein honde verbygesteek.

Saam-saam gaan Grappie en oom Boet Henning van Zastron deur die lewe. Oom Boet is b1.c3.d10.e9.f2. Christiaan Rudolf Henning * 19-8-1911 in die Henning geslagsregister. Weens hul ouderdom sukkel altwee so 'n bietjie met die lopery. Oom Boet vertel dit is weens sy voetbal knieë en al die systappies op die rugbyveld, want hy het op sy dae vir Zastron en Suid-Oos Vrystaat uitgedraf.

Oom Boet vertel dat Grappie oral saamgaan. Dié twee, altwee gebore en getoë in Zastron, besoek byna nooit die dokter of veearts nie. Grappie se enigste besoek aan die veearts was sowat agt jaar gelede toe hy bosluiskoors gehad het. Sedertdien is hy doof.

Oom Boet wat 27 kleinkinders en 51 agterkleinkinders (en nog vier op pad) het, woon by sy seun en skoondogter, Tinkie en Santa Henning van die plaas Oranjedal buite Zastron. Tinkie is b1.c3.d10.e9.f2.g3. Johannes Hendrik Henning in die Henning geslagsregister.

Grappie kan nog goed sien, maar sukkel bietjie met die etery omdat hy nog net een tand het, maar sy kossies word spesiaal vir hom fyn gesny. Sjokolade is natuurlik Grappie en sy baas se gunsteling.

Oom Boet se vrou, Ninnie, is tien jaar gelede oorlede. Sy het kort voor haar dood vir Grappie gesê om na sy oubaas te kyk, en dit doen hy. Die twee is altyd bymekaar, en oom Boet is nie skaam om oor sy liefde vir Grappie te praat nie.

Hy het selfs vir die predikant gevra of dit sonde is om vir Grappie ook te bid. Hy raak hartseer as hy vertel dat hy reeds gereël het dat as hy voor Grappie doodgaan, sy goeie vriend uitgesit en in 'n kissie op sy voete begrawe moet word.

'n Woordvoerder van 'n veearts in Bloemfontein sê sover bekend is 20 jaar die hoogste ouderdom wat 'n hond bereik. Die maksimum ouderdom vir medium rasse in die hondewêreld is 18, vir groot honde 13, en vir kleiner honde 20. As 'n hond 'n jaar is, is dit gelyk aan 15 jare van die mens, en 'n hond van twee jaar oud is gelyk aan 24 jare van die mens. Hierna word vier jaar bygetel vir elke jaar wat die hond ouer word.

Oom Piet Henning (91)(b1.c3.d7.e9.f2.) van Zastron, wat die beriggie hier bo vir ons gestuur het, het ook vir ons laat weet dat Tinkie Henning prostaatkanker opgedoen het. Na agt operasies, het hy onlangs vir toetse gegaan wat bewys het dat die kanker genees het. Tinkie glo vas dat al die gebede van sy familie en vriende bygedra het tot sy genesing.

Oom Piet het vroeg in Desember 1998 vir Tinkie gaan kuier. Van familiebond kant is ons ook verheug oor hierdie goeie nuus.


'N KNOFFEL STORIE

b1.c3.d7.e9.f2. Genl-Maj Pieter Hermanus Steyn Henning (of sommer oom Piet, soos ons hom ken) is een van die heel oudste Hennings in Suid-Afrika. Hy word op 27 Junie eerskomende 92 jaar oud. Oom Piet is, ten spyte van sy ouderdom, voorsitter van Tak 22 Noord-Oos Kaap Oranje van die Bond van Oud Polisiebeamptes. Die tak floreer en het op 5 Desember 1998 sy afsluitingsfunksie by die Royal Hotel te Bethulie gehou.

Oom Piet vertel dat hy drie jaar gelede 'n klein hoeveelheid knoffel, wat hy kweek, na die afsluitings funksie geneem het, teen R5.00 per bossie. Een lid het alles gekoop, sonder om die ander 'n kans te gee - daar is R50.00 wins vir die tak gemaak.

Die jaar daarna vat hy dubbel soveel knoffel saam en toe is daar amper 'n bakleiery omdat almal nie gekry het nie — R100.00 vir die tak!

Die afgelope jaar het hy vier keer soveel knoffel saamgeneem en R200.00 vir die tak ingesamel.Die Royal Hotel behoort aan 'n afgetrede SAP Kolonel. Die lede wat die afsluitingsfunksie bywoon, boek by die hotel in die middag voor die aand dinee. Hulle slaap daar en na sjampanje ontbyt groet hulle en gaan huis toe.


HENNING E-POS ADRESSE Jannetta en Roger Lewis van Durham Engeland wat die Henning tuisblad op die Internet finansier en bestuur

Die Henning Tuisblad op die Internet ondergaan tans 'n gedaanteverwisseling. Aangesien Jannetta Lewis van Durham in Engeland, wat die Henning Familiebond se tuisblad op die Internet bestuur na die geboorte van haar dogtertjie in September 1998 nie weer gaan werk het nie, het sy besluit om weer bietjie aandag aan die Henningbladsye te gee. Om en by dieselfde tyd het Piet Henning van Gaborone, Botswana met 'n voorstel vorendag gekom wat Hennings op die Internet sal interesseer. Piet wou weet of hy 'n henning.org epos adres kon kry en of hy 'n adres soos www.piet.henning.org kon kry om te wys na sy huidige persoonlike tuisblad.

Gelukkig was die antwoord op beide vrae positief en tans kan Hennings vir 'n nominale fooi van die dienste gebruik maak. Die kostes sal soos volg wees:

Eposadres: R120,00 per jaar

Web-alias: R 60,00 per jaar

Piet wou ook graag epos adresse reserveer vir sy kinders wat nie die epos adresse tans gebruik nie, maar dit in die toekoms wel sal wil gebruik en dus:

Epos adresreservering: R 12,00 per jaar.

Ongelukkig kan Jannetta tans nie webspasie beskikbaar stel nie, aangesien sy 'n beperking op die hoeveelheid verkeer het wat sy met haar webrekenaar mag genereer. Daar is egter verskeie webvoorsieners wat gratis webspasie beskikbaar stel

Adresreservering beteken dat Jannetta die adres op 'n lys plaas sodat die adres nie aan 'n ander persoon toegeken kan word nie. Die adres word egter nie geaktiveer nie, maar sodra die persoon die adres wil begin gebruik, skuif sy die fooi op na R120,00 per jaar en sy aktiveer die adres.

Indien 'n persoon van so 'n adres gebruik wil maak, kan hy die e-pos van Jannetta se rekenaar in London aflaai of sy kan die e-pos aanstuur aan 'n ander e-posadres ("forwarding" vir dié wat weet wat dit beteken).

Die fondse wat ons uit die dienste genereer sal hopelik 'n gedeelte van die Internetkostes help dek, wat Jannetta tans persoonlik dra.

Indien u meer oor hierdie diens te wete wil kom, doen navraag by Jannetta by die e-pos adres jannetta@henning.org


VERANDERINGE AAN HENNING TUISBLAD OP INTERNET

Afgesien van die diens hierbo, het Jannetta Lewis ook by die Open University in Engeland ingeskryf vir 'n Meestersgraad in Projekbeplanning. As deel van die kursus moet sy 'n projek - werklik of fiktief - registreer. Jannetta het besluit om die Henning Internet tuisblad as haar projek te registreer. Sy beoog dus heelwat veranderinge aan die Henningbladsye, onder andere die volgende:

1. 'n Soekbare databasis van die register.

2. 'n "Mailing List" waarop belangstellendes kan inskryf om Henningnuus te ontvang.

3. 'n Bladsy met skakels na ander genealogiese bladsye op die Internet.

4. 'n Gasteboek wat deur besoekers geteken kan word.

5. Vertaling van die tuisblad in Engels.

6. Publisering van die Nuusbriewe op die tuisblad

Heelwaarskynlik sal meeste van die funksies wat hier genoem word reeds beskikbaar wees teen die tyd wat hierdie Nuusbrief gepubliseer word. Kom besoek ons dus gerus op http://www.henning.org.

Indien u gereeld boodskappe van Jannetta af wil ontvang omtrent opdaterings wat aangebring word op die bladsye, stuur 'n e-pos boodskap aan haar by updates@henning.org.

Indien u, die leser, enige voorstelle het om ons bladsye selfs meer interessant te maak, skryf dan asseblief aan Jannetta by die e-pos adres jannetta@henning.org.


PIET HENNING SE GRATIS INLIGTING OP INTERNET

Piet Henning van Gaborone, Botswana, gee 'n paar gratis goed weg op sy webblad http://piet.webjump.com. Daar is onder andere 'n resep van die Salmoira sous wat sy voorouers uit Argentinië saamgebring het, sowel as 'n paar Afrikaanse programme wat julle kan aflaai. As jy Internet het, maak 'n draai daar. Sy e-pos adres is piet@henning.org.


KEN ONS LEDE

In hierdie Nuusbrief stel ons graag vir b1.c3.d10.e10.f2.g1. Jacobus Wessel Henning * 1-3-1932 en sy gesin van Okahandja, in Namibië bekend. Hy staan oral bekend as Kosie Henning. Hier is sy verhaal:

'n Groot deel van my kinderjare het ek op Omaruru deurgebring. Op Omaruru het ek vir die eerste keer skooltoe gegaan. Daarna is ek Windhoek toe vir my hoërskool jare. Ek het aan die einde van 1950 matriek geslaag. Alles was gereël vir verdere studie aan die Universiteit van Stellenbosch, maar as gevolg van my moeder se afsterwe het ek besluit om te gaan werk.

Op die 1 ste Maart 1951 het ek by Standard Bank begin werk teen R30 (destyds 15 Pond). Dit was op Omaruru waar ek my vrou, Vienie, ontmoet het. Sy het in Keetmanshoop omgewing grootgeword. Haar oorlede vader het vanweë voortdurende droogtes sy plaas verkoop en besluit om by Omaruru 'n plaas aan te skaf. Na skool op Keetmanshoop het sy haar moeder op die plaas gehelp met die huishouding. Hulle was sewe kinders. Sy het later op Omaruru begin werk en dit was toe dat ons mekaar beter leer ken het.

Ons is in 1953 getroud - maar ek moes eers by die bank se hoofkantoor toestemming vra. Omdat ons nog relatief jonk was, het hulle toestemming gegee, maar gewaarsku dat sou ons in die skuld beland, hulle my sal versoek om hulle diens te verlaat.

Kosie en Vienie Henning van Okahandja, Mamibië

Daarna is ons na verskeie plekke in Namibië verplaas - van die Noorde, na die Suide, na die Ooste, na die Weste. Ons oudste spruit was in sewe verskillende skole tot matriek.

Op 5 September 1998 was ons 45 jaar lank getroud. Ons is natuurlik 'n tennisfamilie - op 'n keer toe ons op Grootfontein 'n tenniswedstryd gespeel het, was vyf van die sewe spelers Hennings. Vandag is ons groot stokperdjie om tuin te maak. Ons het in hierdie verband twee pryse ontvang op verskillende dorpe.

Ons het vier kinders. Andrie, die oudste, is tans die bestuurder van Kanaal 7 Radio, 'n privaat radio van Media vir Christus en is getroud met Rhona, wat ook 'n omroepster is. Hulle woon in Windhoek en het twee dogters op skool. Elna is getroud met Willie Nel, en is ook in Windhoek. Sy werk by Standard Bank en Willie is in die boubedryf.

Ons dogter Elizabeth (Elbie) woon in Outjo waar haar man, Andre Nel, 'n groot vervoer firma het. Hulle het twee seuns wat nog op skool is.

Karin, ons jongste dogter, woon op Aranos en is getroud met Jaco White, wat bestuurder is van Standard Bank op Aranos.

In 1992, na 41 jaar bankdiens, het ek afgetree. Ons woon tans op Okahandja en geniet die aftreejare, omdat dit nie nodig is om die horlosie dop te hou nie. Ongelukkig begin die rugbybeserings my nou pla. Ek en Vienie se grootste uitdaging was om aan te pas by die verskillende gemeenskappe omdat ek op tien verskillende takke diens gedoen het en prys die Here vir sy seën en genade.


'N NUWE ERELID Tannie Sus van der Merwe

Tannie Sus van der Merwe van Potchefstroom is baie jare reeds 'n getroue lid van die Henning familiebond, ten spyte van die feit dat sy nie as 'n Henning nie, maar as 'n Van der Walt gebore is. Sy was die dogter van b6.c1.d3.e4.f5. Maria Magdalena Henning en haar man Ds Johannes Petrus van der Walt. Sy is egter baie trots op haar Henning voorsate. Ons het tannie Sus en haar familie in Nuusbrief no 31 van Augustus 1992 bekendgestel. Die geskiedenis van haar voorsate is redelik volledig in die Henning Familiekroniek vervat.

Tannie Sus het reeds op 18 Januarie 1996, toe sy 80 jaar oud geword het, as erelid van die Familiebond gekwalifiseer. Weens 'n oorsig het dit ongelukkig by ons verbygegaan. Dit het egter onlangs onder ons aandag gekom en ons het onmiddelik die fout reggestel deur erelidmaatskap van die familiebond aan haar toe te ken.

Baie geluk Tannie Sus, ons is trots daarop om lede soos u te hê.


'N HENNING GOUE BRUILOF b6.c4.d1.e5.f4.g6. Jan Sarel Marthinus Henning en sy vrou Drina met hul kinders en kleinkinders op hul 50ste troudag herdenking

Ons het die volgende brief van Dr Koos Henning van Meyerspark, Pretoria ontvang. Dit verskaf ons baie vreugde om so 'n brief te publiseer:

Ons ouers, Jan (b6.c4.d1.e5.f2.g6.) en Drina Henning, het op 21 November 1998 hul 50 ste bruilofherdending gevier. Ons as kinders en kleinkinders, asook 'n groot aantal familielede en vriende (waaronder die strooimeisies van die troue en ons Ma se drie universiteitskamermaats met hul mans) het die dag gesellig saam met hulle in Potcefstroom deurgebring.

Ons ouers is die hoeksteen van ons familie en ons dink in hierdie tyd met dankbaarheid terug aan baie jare waartydens hulle onselfsugtig hulle lewe in diepe geloof in God aan hul medemens gewy het.

Die foto hierby is van ons ouers met hulle kinders en kleinkinders.


STELLA HENNING

In die vorige Nuusbrief het ons berig oor die dood van Stella Henning van Barkley-Oos. Ons het onlangs die volgende brief van haar seun, Gerrit, ontvang:

Stella Henning *4-2-1933 van Barkley-Oos

Oom Boet Henning van Aliwal-Noord het my versoek om inligting aangaande my ma aan jou te stuur. Sy is gebore op 4 Februarie 1933 te Rouxville. Sy was die kleindogter van b7.c5.d7. Pieter Barend Henning. Haar moeder, Florence Murial Beatrice (e3) was getroud met Jan Herselman. My moeder het op die plaas Sunnydale, in die Rouxville distrik groot geword en sy het te Rouxville skoolgegaan. Sy is in Mei 1953 getroud met b7.c8.d5.e2.f1. Gert Frans Henning, die kleinseun van b7.c8.d5. Gert Frans Henning van die plaas Mertoun, in die omgewing van Rhodes. Uit die huwelik is drie seuns gebore: Hendrik Johan (g1), Johan Hendrik (g2) en ek, Gerrit Francois (g3). My oudste broer, Hendrik (g1) is woonagtig in Kakamas en werk by Waterwese. Hy is getroud met Rita Geldenhuys en daar is slegs een seun, Frans. My tweede broer, Johan (g2) is in Welkom en het 'n vervoerbesigheid. Uit sy eerste huwelik met Marie Cronje is gebore Francois en Maricia. Uit sy tweede huwelik met Lissie Barnard is gebore Stella Desire. Ek is getroud met Mariaan Roodt. Ons het twee dogters, Ananda en Bianca. Hulle is nou die vyfde geslag op die plaas Mertoun, waarop ons baie trots is. Ons voorouers was voorwaar vasbyters en ons hoop dat dit wat hulle vir ons nagelaat het, ook tot voordeel van ons nageslag sal strek.

Sedert my ma getrou het, moes sy en my pa ook maar hulle weg oopveg op die plaas Mertoun in die Suidelike Drakensberge, ongeveer 10 km van die Lesotho grens. Die harde koue winters met swaar sneeu, veldbrande, veediefstal en 'n swak infrastruktuur het hulle ook maar soos ons voorouers gebrei om geharde en gesoute landbouers te word. Die laaste 10 jaar van my oorlede vader se lewe, het hy baie met sy gesondheid gesukkel en het sy baie van die boerdery self moes behartig. Met haar deursettingsvermoë het sy vele jong boere op hulle neuse laat kyk en kon daarin slaag om voort te gaan totdat my broer Hendrik teruggekom het plaas toe.

In 1987 is my vader oorlede en het ek op die plaas Mertoun kom boer. My ma het na Barkley-Oos verhuis. Sy het 'n aktiewe lewe op die dorp gehad en was baie betrokke by aktiwiteite van haar ouderdomsgroep. Kenmerkend van haar huis en tuin was die pynlike netheid. Sy het ook op haar oudag begin skilder en houtsneewerk leer doen.

Op Donderdagnag 2 Oktober 1998 word sy ook die slagoffer van nog 'n sinnelose moord in hierdie wettelose, onordelike samelewing van die nuwe Suid-Afrika. Die booswig is volgens inligting een van die gevangenes wat Mandela onlangs laat vrylaat het. Hy het die gastekamer se venster uitgeslaan en volgens die nadoodse ondersoek is bevind dat sy bloeding op die brein gehad het en van haar nekbeentjies was gebreek. Hulle skryf haar dood toe aan versmoring. Haar lyk het hulle die volgende oggend in haar slaapkamer aangetref nadat sy nie die geklop van die huisbediende beantwoord het nie.

'n Dertigjarige swart man is die volgende dag in hegtenis geneem. Hy het erken dat dit hy was.

Die mooi herrinneringe van 'n vrou met deursettingsvermoë en opgeruimdheid sonder grense, sal ons bybly die res van ons lewe. Ons salueer Stella Henning.


NOG 'N HENNING SLAGOFFER VAN MISDAAD

Tannie Ellie Jordaan (b6.c4.d1.e5.f9.g1. in die Henning geslagsregister) van Greyville in Natal het vir ons 'n koerantuitknipsel uit die Daily News van 4 November 1998 gestuur. Ons kon die persoon na wie in die berig verwys word, as Elizabeth Katrina Henning (gebore Helberg)* 20-3-1935, die eggenote van b1.c3.d5.e4.f1.g2. Leonardus Hendrik Henning identifiseer.

A 63-year-old Umgeni Park, Durban, woman is recovering from a harrowing ordeal after three armed men broke into her home this week, ransacked it and threatened to rape and kill her.

Elizabeth Henning was watching television at about 10.30 am when the men, armed with handguns, knocked on her back door and demanded that she open it.

She said they pointed their guns at her through the window and she tried to run to the phone to call for help.

"They broke down the door and forced their way in. Even if I had got to the phone they would have shot me through the window."

Mrs Henning said the men led her through the house demanding guns and money.

"They tied up my hands and feet and covered my eyes with a shirt. They fastened a tie around my throat. I told them I could not breathe but they said I had to stay alive because they were going to rape me and kill me because I had seen their faces."

Mrs Henning said her husband had gone shopping. The men ransacked the house taking appliances, clothing and food. They broke off a safe from a cupboard in her granddaughter's room.

"There was nothing in the safe except my granddaughter's necklace. We are not rich people. Fortunately my 16-year-old granddaughter who lives with us was not here."

The robbers hit Mrs Henning on her shoulders and in her stomach. She also fell and injured her knee.

"They grabbed a bedspread and placed the stolen goods in it and tied it up before jumping over the fence and fleeing. They told me they would come back for the old man because they wanted his car. I was so scared that my husband would return and they would shoot him."

Mr Henning returned home shortlyafter the robbers had fled. Police later found a hi-fi and video cassette recorder the robbers had dropped during their getaway.


1998 MATRIKULANTE

Aan die einde van 1998 het slegs 38 Henning kinders die matriek eksamen suksesvol afgelê - 18 seuns en 20 dogters. Slegs 14 het universiteitsvrystelling behaal. Dit blyk dat die getal Henning matrikulante jaarliks afneem - veral in die Gauteng provinsie, waar daar aan die einde van 1998 slegs 18 was.

Die drie beste presteerders was 'n Glenn Henning wat in Natal die eksamen afgelê het, maar aan ons onbekend is. Hy het ses onderskeidings (almal op hoër graad) behaal. Dan het b1.c1.d6.e2.f3.g4.h1. Christina Helena Henning van Dundee in Natal en b1.c3.d10.e8.f1.g1.h1.i1. Johannes Gerhardus Henning, wat die eksamen in die Vrystaat afgelê het elkeen vier onderskeidings (op hoër graad) behaal.


GELDSAKE

Ons wil baie dankie sê vir al ons lede wat gereageer het op ons oproep vir addisionele skenkings aan die Familiebond - veral Mnr Jood Henning van Melkbosstrand, wat 'n pragtige donasie van R1 000.00 gemaak het. Al hierdie bydraes dra by om die Familiebond kop bo water te laat hou. Ongelukkig moet ons egter rapporteer dat die skenkings wat ons ontvang het, nog nie naastenby genoeg is om ons heeltemal uit die moeilikheid te hou nie. Ons wil dus maar weer 'n beroep op al ons lede doen om asseblief so spoedig moontlik hul bydraes vir 1999 aan te stuur — indien moontlik 'n bydrae groter as die neergelegde minimum van R35.00.

Daar is werklik ook nog nege lede wat geen bydrae gedurende 1998 gemaak het nie.