Nr 56

November 1998

Indeks:

'N HENNING VERMOOR!

b7c8.d5.e2.f1. Stella Henning

Stella Henning (65) (gebore Herselman) die eggenote van wyle b7.c8.d5.e2.f1. Gert Frans Henning is gedurende die nag van 1/2 Oktober 1998 in haar huis te Barkley-Oos deur swart booswigte vermoor. Die motief vir die moord was vermoedelik roof. Die verdagtes het toegang tot die huis verkry deur een van die vensters aan die agterkant van die huis te breek. Dit blyk dat 'n worsteling plaasgevind het, waarna sy verwurg is. Slegs 'n hoëtroustel is uit die huis vermis. 'n Verdagte, Aron Mohali (30) is in hegtenis geneem en die hoëtroustel is teruggevind.

Stella het vir 'n paar jaar alleen op die dorp gebly. Sy het voorheen saam met haar eggenote, Gert, op hul plaas Mertoun, in die Rhodes distrik geboer. Hulle seun, Gerrit het mettertyd die boerdery oorgeneem.

Stella was een van die mense met die meeste Henning bloed in haar are. Sy was nie net met 'n Henning getroud nie, haar ma, Florence (gebore Henning), sowel as haar oupa (b7.c5.d7.) en ouma (b7.c8.d10.) was ook Hennings. Sy kon dus op drie plekke in die Henning geslagsregister opgespoor word. Sy laat drie seuns, Hendrik, Johan en Gerrit asook ses kleinkinders agter.

Hendrik boer op sy Henning oupagrootjie aan sy ma se kant, se plaas, Sunnydale in die Rouxville distrik. Johan woon te Welkom, waar hy twee meubelwinkels het en Gerrit boer op sy Henning oupagrootjie, aan pa se kant, se plaas, Mertoun, in die Rhodes distrik.

Sy is op 6 Oktober 1998 te Rhodes begrawe. Ons innige simpatie gaan uit na al haar nasate en ander familie. Ongelukkig kon ons nie 'n onlangse foto van Stella in die hande kry nie. Die foto hier naas is egter van haar as 'n jong vrou.


'N NUWE ERELID

b7.c8.d8.e8 Daphne Harker (gebore Henning) *7-4-1918

Die grondwet van die familiebond maak voorsiening dat erelidmaatskap toegeken word aan alle Hennings wat ouer as tagtig jaar oud is, wat onder ons aandag kom. Ons het onlangs erelidmaatskap toegeken aan tannie Daphne Harker van Durban wat op 7 April 1998 tagtig jaar oud geword het. Sy is op 7 April 1918 as b7.c8.d8.e8. Daphne Henning gebore.

Tannie Daphne se verhaal lees as volg: Ek is op die plaas Damfontein in die distrik Aliwal-Noord gebore en het my laerskool opleiding by 'n plaaslike plaasskooltjie ontvang. Toe ek hoërskool toe moes gaan het ek vanaf 1931 tot 1934 in die Burgersdorp Meisieskoshuis tuisgegaan. Aan die einde van 1934 het ek matriek geslaag en aansoek gedoen om verpleegopleiding te ondergaan. Op daardie stadium was daar egter 'n ouderdomsbeperking van agtien jaar vir 'n meisie om gekeur te word. Aangesien ek nog nie agtien was nie, kon ek nie keuring kry nie. Ek het dus gedurende 1935 vir my oudste suster, Enid, se seun onderwys gegee.

Nadat ek agtien jaar oud geword het, het ek op 1 Mei 1936 met my verpleegopleiding begin. So terloops, kort hierna is die ouderdom na sewentien verlaag. Aan die einde van 1937 ontmoet ek my toekomstige man, Raymond Ivan Harker, en dit was liefde met die eerste oogopslag. Op 6 Augustus 1938 is ons getroud. Net voor ons troue is hy egter na Durban verplaas, waar hy as handelsreisiger vir stofsuiers gewerk het. Ons het dus direk na ons troue Durban toe getrek. Ek het op daardie stadium ongelukkig slegs twee jaar van my opleiding voltooi.

Gedurende 1939 is ons eerste kind, ons seun Neville, gebore. Gedurende dieselfde jaar skuif Ray se firma na Johannesburg en ons moes trek. Minder as 'n jaar later verhuis ons na Bloemfontein waar Ray vir Gestetner begin werk. Met die uitbreek van die Wêreldoorlog sluit Ray by die Weermag aan en ons kry 'n huis in Tempe militêre basis. Hy werk in die kwartiermeester afdeling. 'n Rukkie later word hy na die Britse Militêre Hospitaal te Howick gesekondeer as kwartiermeester. Ons kry 'n huis in Pinetown. Hierna word Ray vir ses maande lank na die eiland Madagaskar verplaas.

Vroeg in 1946, toe ek drie maande swanger was met ons tweede kind, verlaat my man my vir 'n ander vrou. Ons dogter Anthea is op 14 Augustus 1946 gebore. Na haar geboorte is ons egskeiding eers gefinaliseer. Terwyl ek swanger was en na Anthea se geboorte, woon ek en my kinders tydelik vir rukkies by 'n vriendin en by my broer Bill, in Maclear. As skooldogter het my ma my geleer om self my eie klere te maak. Ek begin dus naaldwerk doen, om aan die lewe te bly.

Weens my omstandighede was ek verplig om my kinders in 'n versorgingsoord te sit. Ek word hierna gevra om tydelik af te los by die versorgingsoord. Dit het later 'n permanente pos geword. Teen ongeveer 1953 gaan werk ek vir die Whittaker familie te Cowies Hill. Ek moes hulle dogter, wat epileptiese aanvalle gekry het, op pas.

Tannie Daphne Harker (80) en haar twee broers, Bill (87) en Len Henning (90)

Gedurende 1956 verhuis ek na Hollywood Court in die middestad van Durban. Hoewel dit slegs 'n jonkmanswoonstel was, kon my kinders nou by my begin woon. Ek het so lekker hier gewoon dat ek vandag nog, na 42 jaar, in dieselfde woonstel woon. Ek kry 'n permanente aanstelling by Hunt, Leuchars & Hepburn, in die verkope afdeling van Lion vuurhoutjies. Hier het ek vir twaalf jaar lank gewerk. Laastens kry ek 'n aanstelling by die Departement van Gemeenskapsontwikkeling in Durban, waar ek vir dertien en 'n half jaar lank, tot en met my aftrede in 1983, werk.

Ek is baie lief vir lees, klere maak en om konserte by te woon. Ek reis ook baie graag en was al verskeie kere oorsee. Na my aftrede het ek en my dogter al die hele land vol getoer. Ek stap ook graag om fiks te bly.

Slegs my dogter Anthea is getroud. Ek was die ouma van vier kleinkinders. Een is ongelukkig 'n paar jaar gelede oorlede, dus is ek tans net die ouma van drie kleinkinders en een pleegsorg kleinkind. Ek is egter die oumagrootjie van ses agterkleinkinders - my kleindogter Sharon het twee kinders, my kleinseun Shane het drie kinders en my kleinseun Mark het een dogtertjie.

Ons Telefoonno Verander op 21 November 1998 van (0225) 5 0113 na (028) 840-0113. Neem kennis asb.


INTERNET SUKSES

Besoek die Henning Familiebond se Tuisblad op die Internet by http://www.henning.org

Om 'n tuisblad op die Internet te hê blyk 'n reuse sukses te wees. Jannetta Lewis van Durham in Engeland, wat ons tuisblad beheer, het onlangs vir ons baie interessante statistiek oor ons tuisblad gestuur. Dit is duidelik dat baie meer mense wêreldwyd van die Henning Familiebond kennis neem, as wat ons ooit kon gedroom het en wat ons op konvensionele metodes sou kon bereik. Die volgende is slegs die heel belangrikste statistiek:

Oor die tydperk 2 Desember 1997 tot 28 Julie 1998 het 7 270 persone op ons tuisblad ingegaan. Dit is 'n gemiddeld van 37 persone per dag. Hierdie persone het 49 675 112 bytes informasie van ons tuisblad onttrek. Dit beteken 'n gemiddeld van 249 624 bytes is per dag onttrek.

Onttrekkings is deur persone in die volgende lande gedoen:

Oostenryk (at) - 41
Australië (au) - 137
België (be) - 14
Brasilië (br) - 27
Kanada (ca) - 10
Switzerland (ch) - 1
Duitsland (de) - 86
Denemarke (dk) - 6
Spanje (es) - 1
Finland (fi) - 12
Faroe eiland (fo) - 7
Frankryk (fr) - 7
Griekeland (gr) - 3
Kroasië (Hrvatska) (hr) - 20
Ierland (ie) - 2
Israel (il) - 8
Lithuanië (lt) - 17
Namibië (na) - 2
Nederland (nl) - 254
Noorweë (no) - 2
Poland (pl) - 2
Russiese Federasie (ru) - 6
Swede (se) - 12
Slovenië (si) - 10
Turkeie (tr) - 2
Taiwan (tw) - 2
Brittanje (uk) - 48
VSA (us) - 9
Jugoslavië (yu) - 6
Suid-Afrika (za) - 4272
Handel (com) - 1218
Opvoedkundig (edu) - 8
VSA Militêr (mil) - 3
Netwerke (net) - 555
Nie-winsgewende organisasies (org) - 15
Onbekend - 445

Die statistiek dui ook vir ons aan presies waarna elke persoon gekyk het en wat elke persoon onttrek het. Dit blyk dat veral die geslagsregister en die foto-album baie gewild is.

Die Henning tuisblad op die Internet kos vir Jannetta en haar man Roger een duisend Britse Pond per jaar om in stand te hou - dit is ongeveer R10 000.00. Die familiebond is dus baie dank aan Jannetta en Roger verskuldig.

Piet Henning van Gaborone, Botswana het intussen met 'n blink gedagte vorendag gekom om die koste van ons tuisblad 'n bietjie minder te maak. Ander Hennings wat 'n tuisblad op die Internet wil bekom, kan dit deur ons Henning Tuisblad adres doen. Meer inligting hier omtrent sal in die volgende Nuusbrief verstrek word.


GELUK JANNETTA EN ROGER!

Jannetta Lewis en haar man Roger woon in Durham, Engeland. Jannetta is die dogter van b7.c8.d8.e3.f1. mev Leonie Steyn (gebore Henning) van Brakpan. Jannetta het ongeveer twee jaar gelede 'n betrekking in London aanvaar, vir Roger daar ontmoet en 'n paar maande later is hulle getroud.

Jannetta is ook die persoon wat die Henning Familiebond se tuisblad op die Internet geplaas en finansier het, en dit vandag nog bestuur. Die Bondsekretaris verskaf net die gegewens vir haar. Almal wat al na ons tuisblad gekyk het sal saamstem dat sy 'n reuse sukses daarvan gemaak het.

Dit is duidelik dat Jannetta van alles wat sy aanpak 'n sukses maak. Roger kan selfs al na ongeveer 'n jaar se getroude lewe al so 'n bietjie Afrikaans praat. Jannetta het oor die afgelope nege maande hulle eersteling verwag. Roger het 'n tyd gelede laat weet dat as dit 'n seuntjie is, hulle hom Bond gaan noem ... Henning Bond ... Die kleinding is op 27 September 1998 gebore. Dit was egter 'n dogtertjie, wat nou haar ouma, Leonie se doopnaam gaan kry - Leonetta.


1998 ALGEMENE JAARVERGADERING

Die nuwe bestuur van die Henning Familiebond:  Voor v.l.nr.: Wiena Wilkinson, Giep Henning, Olivier Henning, Marita Theophanous, Agter v.l.n.r.: Bernard Henning, Jan Henning, Rudolf Henning en Fanie Henning

Die Algemene Jaarvergadering van die Familiebond is op 24 September 1998 in die Strand gehou. Ongelukkig het daar in hierdie tyd 'n diep koue front deur die Kaap getrek. Die oggend van 24 September het die wind nog gewaai of hy betaal word, 'n fyn misreëntjie het uitgesak en dit was koud en onplesierig. Beslis nie die weer wat mens tydens so 'n gesellige geleentheid wil hê nie.

Dit het dan ook 'n groot invloed op ons bywoningsyfers gehad, want daar het slegs 26 Hennings vir die jaarvergadering opgedaag. Dié wat daar was, het dit egter terdeë geniet.

Die nuwe bestuur wat verkies is, is die volgende:

Voorsitter - b7.c8.d8.e1.f5. Gideon Stephanus (Giep) Henning van Kaldenstr 12, Strand. Sy telefoonnommer is (021) 853-3378.

Ondervoorsitter - b6.c1.d3.e5.f3.g4.h7. Jan Hendrik (Jan) Henning van Plakkatenstr 10, Bothasig. Sy telefoonnommer is (021) 58-6414.

Bondsekretaris - b7.c8.d8.e3.f4. Olivier Johannes (Olivier) Henning van Theewaterskloof Buiteklub, Villiersdorp. Sy telefoonnommer tans is (0225) 50113 en vanaf 21 November 1998 sal die nommer verander na (028) 840-0113

Bestuursekretaris - b7.c8.d8.e3.f3. Wilhelmina (Wiena) Wilkinson van Thomstr 4, Paarl. Haar telefoonnommer is (021) 872-4509

Addisionele lede:

b7.c8.d8.e3.f5. Stephanus Rudolf Kruger (Fanie) Henning van Amandelrylaan 40, Kuilsrivier. Sy telefoonnommer is (021) 906-2298

b6.c1.d3.e5.f3.g5.h4. Maria Cornelia Elizabeth (Marita) Theophanous van Diaz Village 35, Somerset-Wes. Haar telefoonnommer is (021) 851-6335. Marita se man Cristou is van Griekse afkoms, maar hy praat Afrikaans soos een van ons en is al klaar 'n vurige Henning Familiebond ondersteuner.

b7.c8.d8.e1.f5.g2. Bernardus (Bernard) Henning van Jurgensstr 28, Strand. Sy telefoonnommer is (021) 854-7857

b7.c8.d8.e3.f5.g1. Stephanus Rudolf (Rudolf) Henning van Loumarhof 11, Bellville. Sy telefoonnommer is (021) 949-0467

Die belangrikste sake wat uit die jaarverslag

geblyk het, was die feit dat ons rekenaar en fotostaatmasjien nou die einde van hul lewens bereik het en dringend vervang moet word. Minolta het goedgunstiglik ingewillig om 'n ander tweedehandse fotostaatmasjien vir 'n tydlank aan ons te leen, totdat ons in staat is om die masjien te vervang.

'n Ernstige beroep word op al ons lede gedoen om 'n addisionele bydrae te maak, om ons in staat te stel om 'n geskikte rekenaar werkstasie en digitale drukker/kopieërder aan te skaf. Dit sal ons in staat stel om die 21ste eeu in te gaan met toerusting wat met die tyd tred hou. Indien ons al ons spaargeld opgebruik sal dit die familiebond ongelukkig in 'n baie kwesbare posisie plaas. Ons word egter verplig om hierdie risiko te loop.

Merk u bydrae duidelik dat dit vir die rekenaarwerkstasie is.


'N PRAGTIGE BRIEF

Kort na die jaarvergadering het ons die volgende brief van Marita Theophanous ontvang. Baie dankie Marita! Jou siening word sommer baie waardeer. Ons hoop alle Hennings sal krag en besieling daaruit put.

Dit is 1:30vm ... ek kon nie slaap nie. Die 24ste September het die Peter Henrich Henning Familiebond byeengekom, en ek wonder of dit belangrik is om te weet waar jy vandaan kom?

Aan ons tafel sit daar, tannie Truida Olivier, Elmar Henning, Martie Henning (my moeder), Jan Henning en sy vrou Theresa, ek en Cristou. Waar is die res van ons? Uit 'n gesin van tien kinders met 25 kinders van hul eie, is dit net ons. Ses van hierdie kinders woon hier in die Kaap en van die ses is dit net ons twee daar.

Ek onthou hoe trots my pa, Paul Henning was oor wie en wat hy was - en ek wonder, geld dit dan nie meer nie? Is juis dit nie belangrik nie? My trots oor my familienaam is deur hom afgedruk - al kan ek nou nie juis die familienaam oordra nie! Maar ek is verseker, een van die Hennings, in murg en been! Wat het verander?

Dink net aan die vele kinders uit weeshuise, aangenome en volwasse mense wat naarstigtelik soek na hul eie ouers en/of familie. Soveel traumas, hartseer en verlorenheid word deur hierdie mense ervaar. Hoekom hierdie "instink" om te soek?

Ons is so bevoorreg om dit op 'n skinkbord in Kroniek opgestel, vasgestel en verseker te kry en ons plaas dit so maklik eenkant, asof dit van geen belang is nie.

Maak dit ons nie ook geestelik arm nie? Hoeveel van ons voorouers het getrou op hulle knieë hul kinders opgedra aan die Here? En hoeveel van hulle kinders, het ook weer, op hul knieë, vir ons opgedra nie? Maak dit nie juis die belangrikste deel uit van 'n gesin of familie nie?

Hoe belangrik is stamme vir God? Kyk maar as voorbeeld na Genesis 22:20 tot 24. Dit word selfs in die Bybel aangeteken! Dit was op Moses se staf uitgekerf! Ons eien so maklik die verbond met Abraham toe, omdat ons die ewige lewe hierdeur kan beêrwe. Ons het dit lewens noodsaaklik nodig, dan is ons nie skaam om te sê, ek het deel aan die verbond nie! Liewe familie, so sou jy ook nie deel gehad het aan Gods plan, as dit nie vir die bloedlyn waaruit jy kom, was nie! Jy is haarfyn beplan met gene uit 'n spesifieke groep mense, kosbaar opgestel, saamgevoeg deur die Hoëhand. Dit maak dit belangrik, nie noodwendig die mense nie, maar die plan van God daaragter, maak ook juis, dit belangrik. Die mense wat God gebruik het om jou as eindproduk daar te stel.

Het jou kinders deel hieraan? Weet hulle dat na Abraham, Isak en Jacob daar nog ander nasate is? Het hulle hierdie mense ontmoet? Weet hulle dat hulle nie hoef te soek nie? Ken hulle die raamwerk waaruit jy gevorm is?

Wat 'n voorreg! Jy is deel van plus minus 4000 Hennings (waarvan ons weet). Ek glo dat hierdie mense nog steeds hul families aan God opdra en wil jy nie ook deelhê aan hierdie voorreg nie? Juis vandag het ons dit so nodig, het ons familie ondersteuning so nodig. Soveel te meer gesamentlike gebed, nie net in die kerk, as Bybelstudiegroep of as gesin nie, maar ook as familie. Hier is jou kans!

Sien jou by die volgende Henning byeenkoms!

Liefde groete, Marita Theophanous (néé Henning)


LEDEGELDE

Kan mens glo dat dit al weer die einde van 1998 is. Ons moet in hierdie Nuusbrief al weer begin om lede te herrinner dat hul bydraes vir 1999 aangestuur moet word. Maar voor ons dit doen moet ons ongelukkig meld dat 21 gesinne tot op hede nog nie hulle bydraes vir 1998 aangestuur het nie. Ons wil weereens 'n beroep op hierdie lede doen om hulle bydraes aan te stuur, of vir ons te laat weet dat dit nie vir hulle moontlik is om 'n bydrae te maak nie.

By die Algemene Jaarvergadering wat op 24 September 1998 gehou is, is daar besluit om die minimum jaarlikse bydrae te verhoog na R35.00. 'n Beroep word egter steeds gedoen dat lede vir ons 'n groter bydrae moet maak. Hierdie minimum perk is so laag om dit vir Hennings wat dit werklik nie kan bekostig nie, moontlik te maak om steeds lid te bly. Ons uitgawes per huisgesin per jaar is baie meer as R35.00. As riglyn kan ons meld dat verskeie lede oor die afgelope paar jaar begin het om vir ons bydraes van tussen R50.00 en R100.00 te stuur.

Ons doen ook 'n beroep op diegene wat lewenslank aangesluit het om tog te oorweeg om van tyd tot tyd verdere bydraes te maak. Ons uitgawes styg elke jaar, terwyl daar elke jaar 'n groter getal lede is wat geen bydra maak nie.


NUWE HENNING BABAS

Baie geluk aan b7.c8.d8.e1.f5.g2. Bernard en Alet Henning van Jurgensstr, Strand wie se derde kleinding op 20 Augustus 1998 sy opwagting gemaak het. Hy het die name Lennert Altus Henning gekry.

Ons het ook verneem dat b9.c3.d3.e8.f2.g1.h5. Jan Albert Henning en sy vrou Maureen van Northmead, Benoni op 9 Januarie 1998 hulle vierde kleinding ryker geword het. Op hierdie dag is die kleine Stephanie gebore.

Dan het b6.c1.d3.e5.f3.g4.h8. Gerard Jozef Henning en sy vrou Yvette (gebore Nieuwenhuys) van Shillingstr 14, Vierlanden, Durbanville op 26-4-1998 vir die eerste keer ouers geword. Op hierdie dag is die kleine Christiaan Johannes gebore. Met die druk van die Henning Familiekroniek gedurende 1996 het ons nie van Gerard en Yvette se huwelik geweet nie. Hulle is op 25-2-1995 te Bothasig, Kaapstad getroud.

Baie geluk aan al hierdie ouerpare.


NOG 'N HENNING BESOEK AAN LIPPSTADT

b7.c1.d10.e3.f5.g1. Leonard Henry Henning en sy vrou Grethe het gedurende September 1998 Duitsland en Denemarke besoek. Hulle was in die baie gelukkige posisie om vir 'n paar dae te Erwitte, 'n buurdorp van Lippstadt oor te bly. Lippstadt is natuurlik die geboorteplek van Peter Henrich Henning, ons Henning stamvader. Hulle kon dus Lippstadt van hoek tot kant verken. Met al die gegewens wat in die Henning Familiekroniek gegee word, was dit baie maklik om die spoor van Peter Henrich te vat. Len en Grethe het hulle besoek terdeë geniet en baie leersaam gevind. Ons plaas op die volgende bladsy 'n paar foto’s wat hulle daar geneem het.

Len- en Grethe Henning se besoek aan Lippstadt, Duitsland

Len Henning by 'n drinkwater punt in Woldemeistr, Lippstadt Stadsaal van Lippstadt Grethe Henning voor die Lippstadt stasie 'n Huis van ouer as 400 jaar


NOG 'N ROOFTOG!

Jan Henning van Bloemfontein

'n Niksvermoedende Jan Henning (56) van Besselsenstr, Universitas, Bloemfontein en 'n paar ander motoriste het op Woensdag 27 Mei 1998 naby Reddersburg in 'n klein oorlog ingery waar 'n bende van tussen 12 en 15 rowers gewapen met AK47 en R4 gewere besig was om 'n veiligheidsvoertuig na 'n perfek beplande hinderlaag van meer as R4 miljoen te beroof.

Jan en die ander motoriste is hardhandig behandel en beveel om plat te lê. Dit is net 'n bestiering dat niemand in die hinderlaag gesterf het nie. Die rowers het met al die geld, wat vir banke in die Suid-Vrystaat bedoel was, weggekom.

Die betrokke Jan Henning is b5.c1.d5.e6.f1.g1.h1. Jan Andries Henning, wat die sekretaris van die Vrystaattak van die Familiebond is.