Nr 54

Junie 1998

Indeks:

'N NAGMERRIE ONDERVINDING

b7.c8.d8.e5.f3. Pieter Henning en sy gesin van Tzaneen het teen die einde van Maart 1998 'n regte nagmerrie-ondervinding gehad. Pieter is 'n boer (houtkweker en saagmeulenaar) in die Georgesvalley gedeelte van die Tzaneendistrik. Sy huis is hoog bo in die berge, ver van die grootpad en tussen digte plantasies geleë.

Pieter, sy vrou Ingrid en hulle drie dogters, Ineke, Amrie en Elriké het na kerk vanaf die dorp teruggekeer plaas toe. Kort nadat hulle uit die hoofpad op hulle plaasgrondpad afgedraai het - die gebied is dig bebos - was daar skielik 'n motor op 'n draai voor hulle in die pad. Die motor het die hele pad versper. Dinge het so vinnig gebeur dat daar nie eens kans was om enige onraad te vermoed nie. 'n Hele paar swart mans het die volgende oomblik om hulle motor gestaan. Almal was met vuurwapens bewapen. Omdat die pad baie nou is en dit tot op die skouer dig bebos is, was daar nie kans vir omdraai of wegjaag nie.

Die klomp booswigte het vir Pieter en Ingrid baie hardhandig uit hulle motor geboender. Daar is voortdurend op hulle geskreeu dat hulle geskiet gaan word. Hulle hande is onmiddelik met draad styf agter hulle rug vasgemaak. Die booswigte was deurentyd baie senuweeagtig en het irrasioneel opgetree. Dit was duidelik dat die geringste misstappie hulle die daad by die woord sou laat voeg. Pieter is hierna verskeie kere met die kolf van 'n vuurwapen teen die slape geslaan.

Pieter en sy gesin is hierna in hulle motor teruggeboender, met een van die booswigte agter die wiel. Hulle het dieper die bos ingery, tot op 'n plek waar hulle nie maklik raakgesien sou word nie. Die booswigte se motor het hulle gevolg.

Die booswigte het beweer dat Pieter R300 000,00 in sy brandkas gehad het - dit was einde van die maand en Pieter het meer as 300 mense, wit en swart, in sy diens - en hulle soek die huis en die brandkassleutels. Ingrid moes saam met hulle gaan om te wys waar die brandkas is en is as gyselaar aangehou. Pieter het besef dat hulle in lewensgevaar verkeer, dog dat daar nie naastenby soveel geld in sy brandkas was nie en het dus die huis en brandkassleutels vir hulle gegee. Hy en die kinders is intussen aangehou.

Die spul het die brandkas gestroop, vir Ingrid in een van die badkamers toegesluit en daarna teruggekeer na waar Pieter en die kinders aangehou was. Hulle was skynbaar tevrede met hulle buit. Hulle het in Noord-Sotho onder mekaar begin redeneer wat om met Pieter en die kinders te maak. Pieter kon verstaan wat hulle sê, het hulle hierna oortuig om hom en die kinders - nog steeds vasgemaak - in sy motor toe te sluit en nie bloed te vergiet nie. Nadat die booswigte gevlug het, het een van die dogters haar losgewikkel en haar pa losgemaak. Ingrid het intussen die deur van die badkamer stukkend geskop en alarm gemaak.

Van familiebondkant wil ons simpatie met Pieter, Ingrid, Ineke, Amri en Elriké betuig met hierdie nagmerrie-ondervinding.


INTERNET BEGIN VRUGTE AFWERP

Besoek die Henning Familiebond se Tuisblad op die Internet by http://www.henning.org

Ons kry nie net komplimente vanaf Hennings met ons Tuisblad op die Internet nie, maar ook vanaf mense wat ander families navors en ons -bladsy besoek om inligting te kry. Uit dankbaarheid vir die hulp wat hulle by ons gekry het, stuur sommige van hierdie mense vir ons informasie waaroor hulle beskik, wat vir die Henning Familiekroniek van waarde is, dog wat ons nie gehad het nie. So help die een hand die ander. Die koste om 'n bladsy op die Internet te hê is dus geregverdig.

Ons haal aan uit 'n brief van mnr. Neville Tack van Helikonpark, Randfontein wat ons onlangs ontvang het:

Dit was vir my soos 'n wonderwerk toe ek u familieblad op die Internet kry en daarop ingaan en my oumagrootjie daar vind (b7.c15. Cornelia Hendrina Lavina Henning, D/v Gert Frans Henning en Gerbreg Leviena Olivier). 'n Hele nuwe wêreld oor ons verlede het vir my oopgegaan.

Ek het die volgende inligting vir u aandag ingesluit:...

Uit die gegewens wat mnr Tack vir ons verskaf het, kon ons 'n hele paar toevoegings tot die Henning geslagsregister maak


'N NUWE ERELID: TANNIE JOHANNA POTGIETER

b1.c6.d11.e6.f2. Johanna Susanna Petronella Potgieter (gebore Henning) soos sy vandag lyk

Mens kan maar deur enige geslagsregister blaai en in almal sal mens vind dat daar persentasiegewys meer rekords van vrouens swak gedokumenteer is as van mans. Vir die genealoog is dit altyd moeiliker om vrouens op te spoor, wat na hulle huwelik 'n ander van het. Soms spoor mens van hierdie vrouens op en dan is hulle 'n goudmyn van informasie.

Onlangs het ons van 'n tannie Potgieter van Germiston verneem, wat skynbaar 'n nooi Henning was. Nadat een van ons lede, mev Leonie Steyn van Brakpan, haar gaan besoek het, kon ons bepaal waar sy in die Henning geslagsregister inpas. Afgesien van die feit dat sy heelwat nuwe gegewens en foto`s vir die geslagsregister kon verskaf, het dit duidelik geword dat sy vir erelidmaatskap van die familiebond kwalifiseer omdat sy ouer as 80 jaar is. Ons het reeds haar erelidmaatskap sertifikaat aan haar gestuur.

b1.c6.d11.e6. Lourens Jacobus Henning *23-8-1887 Anna Margaretha Henning (gebore De Jager) eggenote van b1.c6.d11.e6. Lourens Jacobus Henning

Sy is b1.c6.d11.e6.f2. Johanna Susanna Petronella Henning wat op 26-4-1914 op die plaas Erfeniskraal, Rouxville gebore is. Sy is gedurende 1932 te Villiers met A J Theron getroud. Hulle is egter geskei, waarna sy op 6 April 1947 te Benoni getroud is met Johannes Andries Potgieter. Hy is op 19 Maart 1992 oorlede. Tannie Johanna het vier kinders - 'n dogter en seun by AJ Theron en ook 'n dogter en seun by haar tweede eggenote.

Na skool het sy vir 'n rukkie by Ross Algemene Handelaar te Vrede gewerk. Hierna kry sy werk in die sentrale by die Villiers poskantoor. Sy is op die plaas Eensgesind, in die Villiersdistrik getroud met A J Theron. Beide hulle kinders, Anna Margaretha Theron en Lourens Jacobus Theron is op Villiers gebore. Na hulle egskeiding ontmoet sy vir Johannes Potgieter en hulle trek na Germiston waar hy in die Modderfontein plofstoffabriek werk kry. Haar twee kinders by Johannes Potgieter word albei te Germiston gebore. Hulle name is: Anna Helena (Lenie) Potgieter en Johannes Jurgens Potgieter.

Tannie Johanna was altyd baie lief om koek, brood en beskuit te bak. Sy was inderdaad 'n baasbakster. Sy was ook baie lief vir handwerk en het graag vir haarself, haar familie en vir kerkbazaars gebrei. Sy doen nog steeds die mooiste naaldwerk.

Van haar pa (b1.c6.d11.e6. Lourens Jacobus Henning) vertel tannie Johanna dat hy 'n baie hardwerkende boer was. Hy het saam met sy pa (b1.c6.d11. Lourens Jacobus Henning) op die plaas Erfeniskraal, in die Rouxville distrik (naby Goedemoed) met skape en beeste geboer. Hy het elke oggend van sy lewe om 04:00 opgestaan om die beeste te gaan melk. Haar pa is op 23-8-1887 gebore en hy is gedurende 1912 met Anna Margaretha De Jager getroud. (Ons het in die verlede net haar pa en ma se name gehad).

In die Familiekroniek word tans aangedui dat b1.c6.d11. Lourens Jacobus Henning op die plaas Erfdeel geboer het. Na ons gesprek met tannie Johanna het dit duidelik geword dat die korrekte naam van die plaas ERFENISKRAAL was. Ons het hierdie gegewens op die topografiese kaarte van die gebied gekontroleer en gevind dat Erfeniskraal inderdaad die korrekte naam is. Afgesien van haar eie kinders het tannie Johanna ook al haar kleinkinders grootgemaak. Sy woon tans by haar dogter Lenie in Germiston en geniet haar oudag.

'n Paar foto's van ander lede van hierdie tak van die Henning familie verskyn op die volgende bladsy.

b1.c6.d11.e2. Maria Catharina Fredrika Johanna Wilken (gebore Henning) *21-2-1880, haar man Jan Willem Wilken en hul dogter b1.c6.d11.e9. Pieter Cornelius Erns Henning *31-10-1894 b1.c6.d11.e6.f2. Johanna Susanna Petronella Potgieter (gebore Henning) *26-4-1914 en haar man, wyle Johannes Andries Potgieter

AFSTERWE VAN HENNINGS

Dit is met leedwese dat ons van die afsterwe van die volgende Hennings verneem het:

b7.c8.d8.e1.f3. Daisy Naude, gebore Henning * 23-4-1932 van Elliott is op 7 April 1998 aan kanker oorlede.


FAMILIEBOND JAARVERGADERING

Sedert Bondsekretaris Olivier Henning gedurende 1997 na die Overberg verhuis het, het ons nog nie jaarvergadering gehou nie. Tot nou toe het ons slegs te Pretoria, Verwoerdburg (Centurion), Aliwal-Noord en Bloemfontein jaarvergadering gehou. Daar word nou beplan om die eerste jaarvergadering van die Familiebond in die Suide van Suid-Afrika te hou.

Die jaarvergadering sal op 24 September 1998, op Erfenisdag, by die kerksaal van die NG Kerk Lourensrivier in die Strand gehou word. Die kerk is op die hoek van Broadway- (R44) en Da Gamastr - die eerste verkeerslig op die R44, oorkant Gerrit Maass Motors, die BP Garage.

Hoewel groot getalle blankes maar redelik koud teenoor meeste van die sogenaamde "Nuwe Suid-Afrika" se vakansiedae staan, is Erfenisdag een van daardie vakansiedae wat ons werklik tot uitbouing van ons kultuurerfenis kan benut.

Ons wil 'n beroep op al ons lede in die Wes-Kaap doen om hierdie datum in hul dagboeke aan te teken, ten einde die vergadering by te woon. Ons wil die versekering gee dat die vergadering gewoonlik van korte duur is, waarna daar gesellig saam verkeer word. Ons besef dat die weer gedurende September moontlik 'n invloed op ons verrigtinge kan hê. Ons gaan ons egter nie daardeur laat afsit nie.

Meer volledige besonderhede sal mettertyd na almal deurgegee word.


1998 LEDEGELDE

Dankie aan almal wat reeds hul ledegelde vir 1998 aangestuur het. Ons waardeer u ondersteuning. Dit hou die familiebond aan die gang. Met die styging in posgeld na R1,10 per brief is dit absoluut noodsaaklik dat ons elke lid se bydrae moet ontvang, anders gaan ons beslis in die moeilikheid beland.

Ons wil dus maar weereens 'n beroep op alle lede doen, wat nog nie hul bydrae aangestuur het nie, om so gou as moontlik te reageer. Ons het u bydrae dringend nodig.

DIE DRUKKERSDUIWEL!!

In die vorige nuusbrief het ons berig oor die nuwe telefoonnommer van Bondsekretaris Olivier Henning. Nadat die nuusbrief gedruk is, word daar toe eers agtergekom dat die nommer verkeerd aangegee word. Ons het elke eksemplaar met pen reggemaak - 'n enorme taak! Ons kan net eenvoudig nie verstaan hoe dit gebeur het nie - dit moet dus die Drukkersduiwel wees.

Teken dus asseblief aan dat sy telefoonnommer (0225) 50113 is - skakelkode nul, twee, twee, vyf en nommer vyf, nul, een, een, drie!



KYK HOE LYK HY NOU!!

Bondsekretaris Olivier Henning het oor die afgelope tyd op rekenaar so 'n klein gedaanteverwisselinkie ondergaan. Kyk hoe het hy verander!