![]()
Johan Henning van die Summerwind-percheronstoet in Klipkop, naby Tygerpoort in Pretoria en sy ingevoerde kampioen perd, Sympa die Bellevue
![]()
Johan Henning van Klipkop, Tygerpoort, Pretoria se Percheronhings, Sympa de Bellevue, by die roos wat na hom vernoem is
Vir die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis spog 'n perd nou ook met sy eie roos. Dit is ook g'n gewone perd nie, maar 'n percheron-kampioenhings al die pad van Frankryk. Sympa de Bellevue, of kortweg sommer Sympa, is in 2009 deur b9.c1.d2.e4.f6.g1.h1. Johannes Jacobus (Johan) Henning *2-1-1966, eienaar van die Summerwind-percheronstoet in Klipkop, naby Tygerpoort in Pretoria ingevoer. Die rooskweker Ludwig Taschner van Ludwig's Roses noord van Pretoria, het onlangs besluit om 'n groot, helderrooi roos na Sympa te noem. Taschner is die enigste rooskweker in Suid-Afrika wat nuwe rose name kan gee. Volgens Taschner is dit die eerste keer in Suid-Afrika dat 'n roos na 'n perd genoem word en maar die tweede keer ter wêreld. Johan Henning, ook 'n blomkweker, het self die roos gekies wat sy perd se naam gestand sal doen. Volgens Johan was Sympa die eerste percheronhings wat in 41 jaar van Frankryk na Suid-Afrika ingevoer is. Sympa (6) staan 17,2 hande hoog en weeg meer as 'n ton. Hy is in 2011 as Suid-Afrika se perd van die jaar aangewys. Hy het teen 17 raskampioenperde deelgeneem en was die eerste percheron wat die titel verwerf het. Die Summerwind-stoet spog nou met 25 percherons, waaronder vier ingevoerde hingste. Dié tamaai perderas, wat kenmerkend wit, skimmel-agtig of grys is, is vroeër gebruik om landerye te ploeg. Hulle is ook in die Eerste Wêreldoorlog ingespan om kanonne te trek. Op eie bodem is die percherons tot sowat 'n half eeu gelede in groot getalle voor ploeë in die Bolandse wingerde gesien. Deesdae word hulle in perdekar-kompetisies, eko-toerisme en as plesierperde gebruik. Die Sympa de Bellevue-roos is reeds te koop. Sterftes![]()
b1.c3.d10.e10.f1.g2. Christiaan Rudolf Henning *31-12-1931 wat sterf na 'n plaasaanval
Ons het met leedwese van die volgende sterftes verneem: b1.c3.d10.e10.f1.g2. Christiaan Rudolf Henning *31-12-1931 is op 21 Augustus 2012 oorlede. Chris en sy vrou, Martha is op 28 April 2012 op hulle plaas naby Tsumeb in Namibia deur vier of vyf rowers aangeval. Tydens hierdie brutale aanval het hy bloeding op die brein en 'n beroerte opgedoen. Hy was vir ongeveer vier maande in 'n koma of semi-koma en is in die hospitale te Tsumeb en Windhoek verpleeg, maar is uiteindelik op 21 Augustus 2012 oorlede. Moord op 'n Henning egpaarIn die Haantjie no 95 van Augustus 2008 het ons berig oor die moord op b7.c8.d5.e10.f2. Olivier Johannes Henning *8-3-1940 en sy vrou Anna Susanna Magdalena (Suzette) (gebore Prinsloo) van Kempton Park. Hulle is, saam met een van hulle werkers, by die dagsorgsentrum, waarvan hulle die eienaars was, met 'n piksteel doodgeslaan. 'n Verdagte is wel in hegtenis geneem en aangehou. Gedurende November 2012 - dus meer as vier jaar later - het regter Nathan Jacobs, 'n regter van die Hooggeregshof hierdie beskuldigde vrygespreek van die moord, omdat die polisie die saak so swak ondersoek het. GeldsakeOp finansiële gebied gaan 2013 sekerlik ook sy tol van die familiebond eis. Afgesien van die normale bedryfsuitgawes, soos papier, koeverte, drukkersink, posseëls, internettoegang, rekenaaruitgawes, ensovoorts, moet ons ook probeer om fondse opsy te sit vir die groot familiefees wat ons vir 2014 beplan. Ons doen dus maar weer 'n beroep op al ons lede om so gou as moontlik u finansiële bydraes vir 2013 vir ons aan te stuur. U besluit self hoeveel u kan en wil bydra. U kan u bydrae direk in die familiebond se bankrekening deponeer (ABSA Bank Villiersdorp, tak no 334-612; rekeningnaam - Henning Familiebond; rekeningnommer 2890 610 423). Verstrek asseblief u naam en lidnommer (soos verstrek op die koevert) as verwysing. Andersins kan u u bydrae stuur aan Posbus 121, Villiersdorp, 6848. Soos gewoonlik meld ons graag die name van diegene wat oor die voorafgaande drie maande bydraes van R300.00 en meer aangestuur het: * Lizelle Henning van Pretoria, 'n lewenslange lid - R700.00 Militêre ToekenningsAlle lande reg deur die wêreld het stelsels in plek om hulle onderdane te beloon vir buitengewone dade. Dit word gewoonlik gedoen deur bepaalde Ordes, Dekorasies of Medaljes aan begunstigdes toe te ken. Meeste lande verdeel dan ook hulle eretoekennings in 'n militêre- en 'n burgerlike afdeling. In die militêre afdeling word eretoekenning gewoonlik in vier kategorië ingedeel, nl 1. Ordes, dekorasies en medaljes vir buitengewone voortreflike diens; Suid-Afrika het vir baie jare die Britse stelsel nagevolg en is eretoekennings vir buitengewone voortreflike diens slegs aan offisiere toegeken. Waar onder-offisiere en manskappe ook voortreflike diens gelewer het, is hulle name slegs eervol vermeld in verslae aan die hoofkwartier ("mentioned in despatches"). Dit het so 'n persoon geregtig gemaak om 'n klein brons eikeblaar embleem as deel van sy medaljelinte op sy linkerbors te dra. Nuwe navorsing wat ons onlangs gedoen het, het na vore gebring die name van twee Henning onder-offisiere wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog 1939 - 1945 in die Unie Verdedigingsmag gedien het en wie se name eervol vermeld in verslae aan die Hoofkwartier, nl. b1.c6.d6.e4.f1. Sersant Jan Hendrik Rudolph Henning *14-5-1903 en a3.b10.c2.d1.e3. Korporaal Johannes Jacobus Henning *13-12-1918. Ons was nie bewus van hierdie toekennings aan hierdie twee manne nie. Jan Hendrik Rudolph Henning dien in die Provooskompanie (militêre polisie) en later in die Betaalkorps. Afgesien van hierdie voortreflike diens toekenning, is die volgende medaljes ook aan hom toegeken: 1939 - 45 Ster, Afrika Ster, Oorlogsmedalje (1939/45), Afrika Diensmedalje. Johannes Jacobus Henning, wat 'n lid van die derde Henning stam in Suid-Afrika was ('n nasaat van Johan Wilhelm Henning, Hoofstuk 12 van die Henning Familiekroniek), dien in die Seinkorps van die Unie Verdedigingsmag. Afgesien van die voortreflike diens toekenning, is die volgende medaljes ook aan hom toegeken: 1939/45 Ster, Afrika Ster met 8ste gespe, Italië Ster, Oorlogsmedalje (1939/45), Afrika Diensmedalje. Ongelukkig het ons geen foto's van hierdie twee manne nie. Na Republiekwording in 1961 het die Suid-Afrikaanse Weermag die eervolle vermelding toekenning (eiekeblaar) aan Onder-offisiere vervang met 'n medalje genaamd die "Hoof van die SA Weermag Aanprysingsmedalje. Dit kon aan offisiere en onder-offisiere toegeken word. Hierdie medalje se naam is nog later, gedurende die vroeë 1990's verander na die "Militêre Meriete Medalje". Ontvangers van hierdie medalje sou voortaan geregtig wees om die na-naamse letters MMM agter hulle naam te skryf. Verskeie Hennings wat sedert 1961 in die SA Weermag gedien het, het hierdie medalje verwerf, maar Jan Hendrik Rudolf Henning en Johannes Jacobus Henning sal altyd onthou word as die enigste twee Hennings wat die eikeblaar embleem op hulle linkerbors gedra het. Andries Pretorius Monument, Graaff-Reinet![]() In die Haantjie no 111 van Augustus 2012 het ons berig oor die fondsinsamelings-veldtog wat die Rapportryers en Afrikanerbondtak van Graaff-Reinet mee besig is, om die Andries Pretorius monument te verskuif. Die monument word by die huidige standplaas gevandaliseer, weens 'n plakkerkamp wat daar naby ontstaan het. Die bestuur van ons Familiebond het R1000.00 bygedra tot hierdie fondsinsamelingsveldtog omdat die Henning familie se wortels so diep in Graaff-Reinet grond lê. Die Rapportryers het ongeveer R14 000.00 van die benodigde R75 000.00 ingesamel. Gelukkig het die Erfenisstigting (waarvan ons familiebond ook lid is) betrokke geraak en hulle sal die uitstaande fondse insamel en met eie arbeid die verskuiwing behartig. Soos op die foto's hieronder gesien kan word, is die verskuiwing van die Andries Pretorius monument vanaf die huidige, hoogs bedreigde standplaas net noord van Graaff-Reinet na 'n nuwe, beveiligde posisie in die Camdeboo Nasionale Park, ongeveer 1 km verder noord en steeds sigbaar vanaf die Graaff-Reinet-Middelburg hoofpad, gedurende Oktober/ November 2012 uitgevoer. Die monument is by die nuwe standplaas onthul op 16 Desember 2012. Daar word op gepaste wyse erkenning gegee aan almal wat bygedra het tot hierdie projek.
|