Nr 112

November 2012

Indeks:

Britse Hennings

Mens kan aanvaar dat sedert die naam Henning in 1290 by Demmin, naby die stad Stralsund aan die Baltiese see ontstaan het, mense met hierdie naam oor bykans die hele beskaafde wêreld versprei het. Ons kan maar net kyk na al die lande waar daar groot getalle Hennings woon: Duitsland, Nederland, Denemarke, Swede, Suid-Afrika, VSA, Australië. Dan het Henning's van verskeie ander lande ons ook reeds gekontak.

Tim Vale, 'n Britse burger wat in Budapest, Hongarye woon het onlangs vir ons 'n reeks baie interessante briewe geskryf oor sy voorsate. Sy geslagsregister begin by Edward die Derde Koning van Engeland, wat vanaf 1327 tot 1377 regeer het.

Die herehuis op die Poxwell landgoed waar 'n Henning familie vanaf 1575 vir ongeveer 350 jaar lank gewoon het. Die naam Poxwell word soms as Pokeswell geskryf en uitgespreek. Daar was vir honderde jare 'n klein kerkie langs die herehuis. Dit is egter in 1969 afgebreek omdat dit te vervalle geraak het

Daar kom ook vyf geslagte Hennings voor onder sy voorsate. Hierdie Hennings het vanaf 1575 vir ongeveer 350 jaar almal gewoon by Poxwell Manor, naby Weymouth in Engeland. Dit blyk of hierdie een van die eerste Henning families was wat weggetrek het van die streke om die Baltiese see.

Tim Vale se geslagsregister

1ste geslag: Edward, Derde Koning van Engeland en sy vrou, koningin Philipa van Hainault
2de geslag: Thomas Plantagenet, Hertog van Gloster, getroud met Eleanor Bohun, D/v die Graaf van Herefort
3de geslag: Lady Anne Plantagenet, getroud met William Bourchier, Lord Fitzwaryn
4de geslag: Fulke Bourchier, 4de lord Fitzwaryn, getroud met Elizabeth, d/v Lord Dinham
5de geslag: John Bourchier, eerste Graaf van Bath, getroud met Florence Daubeny
6de geslag: Lady Dorothy Bourchier, getroud met Sir John Fulford
7de geslag: Sir John Fulford, getroud Anne, d/v Sir Thomas Dennys Winterborne Whitchurch
8ste geslag: Sir Thomas Fulford, getroud Ursula, d/v Richard Bampfylde van Poltimore
9de geslag: Ursula, d/v Sir Thomas Fulford, getroud met Thomas Achyn van Pelynt
10de geslag: Ursula Achyn van Pelynt, Cornwall, getroud met John Henning van Notton Newton
11de geslag: Edmund Henning van Frome Whitfield, getroud met Anne, d/v William Masterman
12de geslag: Robert Henning van Alton Pancras, getroud met Jane, d/v Thos.Spratt van Woodsford Castle
13de geslag: Edmund Henning van Poxwell, getroud met Elizabeth, d/v Robert Wansborough
14de geslag: Martha Henning, d/v Edmund Henning, getroud met Charles Buxton

Hierna volg nog vyf geslagte om tot by Tim Vale (Timothy Francom Vale *1958) te kom.

Tim Vale het ook vir ons 'n webwerf verskaf waar informasie oor Poxwell, die tuiste van die Henning's hierbo verskaf word. Diegene wat belangstel kan gerus gaan lees by: http://www.weymouth-dorset.co.uk/poxwell.html

Poxwell

Poxwell, is 'n klein plekkie wat invurk op die A353 naby twee skerp draaie ongeveer 6 myl Oos van Weymouth. Dit bestaan uit 'n herehuis, asook 'n paar beton en steen huisies met gras dakke wat in 1843 gebou is

Die herehuis, 'n ent weg van die grootpad en agter 'n laning, was die woonplek van die Henning familie. Poxwell was aanvanklik in besit van die Cerne Klooster. Na die ontbinding van die klooster, het Koningin Elizabeth I dit aan Thomas Howard van Lulworth en Bindon oorgedra. In 1575 is dit verkoop aan John Henning, 'n handelaar van Poole. Die voorportaal dui 'n datum van 1613 aan en die herehuis word in 'n opgawe van Dorset van 1625 vermeld. 'n Datum van 1634 is gegrafeer oor die gewelfde gang by die ingang, wat moontlik daarop dui dat dit later bygevoeg is.

Teen 1699 is die herehuis oorgedra na Elizabeth Trenchard, 'n nooi Henning wat met Kolonel Thomas Trenchard van Wolfeton getroud is. Hulle het skynbaar 'n tydlank elders gewoon maar die huis weer in 1727 betrek.

'n Skets wat eeue gelede van die Poxwell herehuis gemaak is. 'n Henning familie het vir ongeveer 350 jaar lank hier gewoon
'n Banknoot wat deur die Weymouth and Dorsetshire Bank van Edmund Henning uitgegee is

Die eiendomsbelasting-aanslag van 1798 dui slegs drie persele vir Poxwell aan. John Trenchard is die eienaar van Poxwell plaas, gewaardeer vir £40, 18 sjielings en agt pennies, asook die plot, Water Combe Down teen £4, 16 sjielings. Beide word bewoon deur Edmund Henning, 'n Weymouth Bankier. Weymouth se groot beskermheer, Koning George III het gereeld by Edmund Henning by Poxwell gaan kuier. Die derde plot, Watercombe Farm se eienaar was (Honourable) Lionel Damer en is bewoon deur Thomas Billett.

Edmund Henning se "Henning bank" van Weymouth het tot niet gegaan en die herehuis en plaas by Poxwell het in besit van die Pickards van Bloxworth gekom.



Uitgebreide instandhoudingwerk aan die herehuis het in 1930 plaasgevind om dit te herstel na sy oorspronklike glorie.

Ons kon selfs foto's van banknote kry, wat deur die Henning Bank van Weymouth uitgereik is. Dit is interessant om daarop te let dat die bank net in staat was om helfte van die waarde van die een noot uit te betaal.

'n Banknoot van die Weymouth and Dorsetshire Bank van Edmund Henning wat uitgegee is toe die bank in die moeilikheid beland het. Slegs die helfte van die waarde van hierdie noot kon uitbetaal word

Ou goed in heerlike kuiertuin

'n Tyd gelede het daar 'n baie mooi berig in Volksblad (die Afrikaanse dagblad wat in die Vrystaat uitgegee word) verskyn oor 'n Gerhard Henning. Met 'n bietjie speurwerk kon ons bepaal dat dit b1.c6.d1.e1.f2.g1. Gerhardus Stefanis (korrekte spelling) Henning *24-6-1956 is. Ons het net Gerhard se persoonlike besonderhede op rekord gehad, maar na hierdie beriggie kon ons sy hele familie ook op rekord neem.

Ons herhaal graag die berig wat in Volksblad verskyn het:

Ou skoene, 'n wasbak en selfs braaiers kry ereplekke in Gerhard Henning van Kimberley se tuin. Lientjie Mentz het saam met hom deur die tuin geloop

b1.c6.d1.e1.f2.g1. Gerhardus Stefanis Henning van Royldene, Kimberley

Gerhard het twee stokperdjies waaroor hy baie erg is - tuinmaak en antieke motors. Hy vertel dat hy naweke meestal óf in die tuin deurbring óf aan een van sy pragtige ou motors werk. Hy en sy vrou, Deirdré, woon al tien jaar lank in die huis in Royldene, Kimberley. Voor dit het Gerhard ook flink tuin gemaak in talle plekke waar hy gewoon het - waaronder in Hartswater, waar hy 'n baie groot tuin gehad het.

Gerhard glo nie daarin om ou gebruikte goed weg te gooi nie. Sy ou skoene, grawe en kruiwaens en selfs braaiers kly ereplekke as ornamente in die tuin. Maar dit hou nie daar op nie. Hy het nou begin om 'n badkamer in die tuin in te rig. Gerhard vertel dat hy meer gesien het in die swart plastiektoilette wat hulle by GWK/Landmark, waar hy 'n bestuurder is, verkoop. Hy het een in die tuin staan gemaak met die boodskap, "Stop as die druk te erg word - vat 'n ruskans". Daarnaas het hy 'n ou wasbak staan gemaak en sê hy soek nog net 'n ou pootjiesbad om dié toneeltjie af te rond.

Hy het ook talle fonteintjies in die tuin - sommige wat heel kreatief is en besoekers soms verbaas. Daar is onder meer twee klein windpompe - volledig met watertenks en pypies waar die water in dammetjies neerplons. Om elke hoek en draai is daar allerlei interessanthede - oulike beeldjies, 'n blik hadida op 'n pakkamer se dak, 'n Gomma-Gomma stoel van buitebande en vele meer.

Gerhard is baie lief daarvoor om plante in potte te plant, maar hy sê sy vrou raak nou bekommerd dat die potte te veel raak. Dit het hom aan die dink gesit en nou beplan hy om 'n dakrak te bou waar sy geharde plante op die huis se dak kan groei. Hy vertel dat hy al baie jare met avokadobome eksperimenteer. In sy motorhuis wys hy graag vir jou sy pragtige motors. Daar is onder meer 'n indrukwekkende 1968 model Jaguar, 'n Hillman Minx en sy gunsteling - 'n 1974 model Datsun 620-bakkie wat steeds soos 'n nuwe voertuig lyk. Hy het T-hemde wat by al die motors pas en wat hy aantrek op skou-dae.

Wat 'n inspirerende kuiertjie so tussen die blink ou motors en al die interessante goed in 'n pragtige tuin.

Tap, Tappies, Tappe

Baie van ons lede het seker op 29 September 2012 na die program "Toks en Tjops" op die TV kanaal, Kyknet gekyk. Ons was nie min trots op die gas wat vir die program genooi is nie - die bekende oud rugbyskeidsregter, Tappe Henning. In die Familiekroniek sal mens hom vind by b9.c1.d2.e7.f1.g3.h3. en sy volle name is: Willem Taljaard Stopforth Henning. Tappe werk natuurlik deesdae voltyds vir die Internasionale Rugbyraad waar hy Suid-Afrika se verteenwoordiger is. Hulle beoordeel en bepaal die reëls vir Rugby en beoordeel en gradeer alle skeidsregters wat op Internasionale vlak die fluitjie blaas.

Dit is interessant om daarop te let dat drie geslagte van hierdie familie opeenvolgend lekker byname gekry het. Tappe se oupa was genoem, Tap Henning, sy pa Tappies, dan word sy broer, Pieter Hendrik ook Tappies genoem en hyself natuurlik Tappe.

b9.c1.d2.e7.f1. Pieter Hendrik Henning *11-11-1903 was bekend as Tap Henning (links). Sy seun, Gerhardus Petrus *29-11-1931 (g3) het die bynaam, Tappies gehad (tweede) en sy seuns, Pieter Hendrik *6-5-1960 (h2)(derde) en Willem Taljaard Stopforth *6-6-1961 (h3)(links) is bekend as Tappies en Tappe onderskeidelik.

Oom Apie groet Pietersburg na 30 Jaar

In die 5 September 2012 uitgawe van die "Observer", 'n koerant wat in die ou Noord-Transvaal verskyn, lees ons die volgende beriggie oor b5.c5.d8.e2.f6. Abraham Johannes Henning *13-1-1921:

Na dertig jaar as Polokwane inwoner verlaat mnr Apie Henning (91), beter bekend as oom Apie, Saterdag die stad met nostalgie.

Oom Apie wat vir sowat dertig jaar op die NG Kerk Moedergemeente se kerkraad gedien het, sê na die afsterwe van sy geliefdes is hy baie alleen en beplan 'n nuwe lewe in Pretoria waar hy saam met familie gaan woon.

Oom Apie is ook een van die oudste lede van die Gideons, 'n interdenominale assosiasie van Christenbesigheids - en professionele mans wat die Bybel in meer as 190 lande versprei. Hy sê hy is trots op die baie jare diens wat hy tot eer van die Here kon lewer. Hy was die laaste paar jaar dié beweging se tesourier.

Hy en sy eerste vrou het na hulle aftrede besluit om Polokwane (Pietersburg) hul tuiste te maak. Dié groot gees, wat sy jare besonder goed dra, het nie net maanskyn en rose in Polokwane beleef nie. Hy vertel dat hy sy eerste vrou in 1992 aan die dood moes afstaan nadat hulle deur 'n swerm bye aangeval is. "Ek het dit oorleef nadat die dokters sowat 1000 angels uit my liggaam moes verwyder. My vrou het dit egter nie oorleef nie", vertel hy.

Hy is later weer getroud en sê na 18 gelukkige jare saam het sy vrou aan 'n beroerte gesterf. Hy het ook sy enigste seun aan die dood afgestaan. Dié ongelukkige gebeure laat hom steeds hartseer en hy sê 'n beter lewe wag vir hom.

Hy sal sy kerk, vriende en kennisse mis. "Dit is dié mense wat jou deur swaar tye dra", sê hy, maar voeg vinnig by dat hy nie vir ewig vir Polokwane verlore is nie, aangesien hy en sy nuwe huismense 'n paar rondritssessies beplan.

Sy raad aan die stad se jonges is: "Kyk vorentoe. Neem dit uit die verlede wat goed was, en pas dit toe op die toekoms". Ek sal die stad en sy mense diep in my hart bêre en julle nooit vergeet nie", beloof hy.

Ons het in Nuusbrief no 30 van Mei 1992 'n beriggie gehad oor die by-aanval op oom Apie en sy vrou en dat sy in die aanval gesterf het.

Geldsake

Soos gewoonlik meld ons graag die name van diegene wat ruimskoots tot die instandhouding van die Familiebond bydra. Oor die afgelope drie maande het ons die volgende ruim donasies ontvang * PH (Tappies) Henning van Farramere, Benoni wat 'n Lewenslange Lid is, het 'n pragtige donasie van R5 000.00 vir ons aangestuur
* TJ (Tjaart) Henning van Sinoville, Pretoria wat 'n Lewenslange lid is het net so 'n mooi donasie van R1 000.00 aangestuur Dan gaan Jan Andries Henning van Leraatsfontein en Jan Hendrik Henning van Glenstantia, Pretoria voort om gereeld maandelik per debietorder ruim bydraes te stuur.

Ons wil graag vir al vier hierdie manne, asook al ons ander lede wat reeds hul bydraes vir 2012 aangestuur het, baie dankie sê. So verseker ons dat die Henning Familiebond van krag tot krag gaan.

Ongelukkig is daar steeds 24 families wat nog nie 'n bydrae vir 2012 gelewer het nie.

Sterftes

Mauritz Henning van Theresapark, Pretoria-Noord het laat weet dat sy oudste suster, Elsie Maria Jordaan [b6.c4.d1.e5.f9.g1] op 23 Julie 2012 oorlede is.

Sy was getroud met Esaias Engelbertus Jordaan *13-4-1918.

Sy was die laaste 10 maande van haar lewe in `n ouetehuis in Parys woonagtig. Sy het op 22 Mei `n terugslag ondervind en is in die Medikliniek in Potchefstroom opgeneem waar sy vir 8 weke lank behandeling ontvang het. In hierdie tyd het sy die rype ouderdom van 90 jaar bereik wat in die hospitaal saam met haar kinders en kleinkinders en oorlewende broer en twee susters op luisterryke gevier is. Sy laat 5 kinders, 17 kleinkinders en 11 agterkleinkinders agter. Hulle sal haar baie mis.

Sy is middel Julie uit die hospitaal ontslaan en in die ouetehuis verder behandel. Sy het die laaste paar dae geweldige pyn verduur en is genadiglik daaruit verlos.

Elsie Jordaan (gebore Henning) *29-5-1922 met haar negentig-ste verjaardag in die hospitaal te Potchefstroom
Links is haar suster, Esmé (g7) en regs Rienie (g5).

Elektroniese Nuusbrief

Baie van ons lede het van tyd tot tyd navraag gedoen of hulle nie eerder die Nuusbrief per E-Pos kon ontvang nie. Dit sou koste bespaar, omdat dit deesdae nogal duur is om briewe met gewone landpos te stuur. Ons was aanvanklik huiwerig om dit te doen, omdat die gerekenariseerde lêer redelik groot is. Deesdae kan mens dit natuurlik na 'n pdf-lêer oorskakel, wat dit baie kleiner en meer hanteerbaar maak.

Ons het dus in die vorige Nuusbrief gevra wie moontlik eerder 'n elektroniese eksemplaar van die Nuusbrief sou wou ontvang as die papier weergawe. Slegs vier lede het gereageer op ons versoek en aangedui dat hulle eerder so 'n nuusbrief sou wou ontvang.

Ons gee nog 'n kans aan lede wat hulle name op hierdie lys sou wou sit. Onthou dat u ook kan aandui dat u 'n elektroniese weergawe, asook 'n papier eksemplaar wil ontvang.

Mooi Kersgeskenke

Ons het nog 'n aantal mooi en bekostigbare Henning aandenkings oor wat as kersgeskenke gegee kan word:
* Mansjetknope - R70.00 per stel
* Lapelwapens - R25.00 elk
* Teelepels - R30.00 elk
* Skryfblokke - R25.00 (vyftig bladsye)

U kan dit per E-Pos bestel en die geld elektronies oorbetaal of u kan 'n landpos bestelling plaas