Nr 111

Augustus 2012

Indeks:

Andries Pretorius Monument, Graaff-Reinet

Andries Pretorius monument naby Graaff-Reinet wat verskuif moet word, omdat dit nou gereeld gevandaliseer word deur plakkers in die omgewing

As mens die geskiedenis van die Henning familie bestudeer, kom mens gou agter dat Graaff-Reinet die bakermat van ons familie is. Pieter Hendrik Henning *1740 die Lippstadter wat in 1765 na die Kaap van Goeie Hoop emigreer het, het hom reeds in 1784 in hierdie distrik (wat eers die volgende jaar, 1785 geproklameer is) gevestig. Vanaf einde 1785/begin 1786 vestig hy en sy gesin hulle op 'n plaas in die "Achter Sneeuwberg" wyk van die nuutgeproklameerde distrik. Hy noem sy plaas Elandskloof. Die meeste van sy kinders het mettertyd as "trekboere" hulle reise na die binneland vanaf hierdie plaas onderneem. In teenstelling hiermee het Pieter Hendrik se jongste seun, Daniël Stephanus (en al sy nasate) op Elandskraal (en naburige plase) aangebly en vir meer as 200 jaar hier gewoon.

Stamvader Pieter Hendrik het ook deelgeneem aan die uitroep van die Republiek van Graaff-Reinet in 1795, toe die burgers van Landdros Maynier ontslae geraak het.

Ten spyte van die baie lang verbintenis wat die Henning familie met Graaff-Reinet het, is daar vandag niks daarvan te sien nie - tragies!

Graaff-Reinet en verskeie van sy inwoners het egter 'n baie belangrike rol in die geskiedenis van Suid-Afrika en veral die Afrikanervolk gespeel. Hier dink ons veral aan Voortekkerleiers soos Andries Hendrik Potgieter, Louis Trighardt, Gerrit Maritz en Andries Pretorius, wat almal in dieselfde tyd as Pieter Hendrik Henning en sy kinders hier gewoon en sekerlik aan ons ou stamvader en sy familie bekend moes gewees het.

Weens die rol wat Andries Pretorius in die geskiedenis van die Afrikanervolk gespeel het, is daar in 1943 'n standbeeld van hom langs die N9 Nasionale pad na Middelburg, naby Graaff-Reinet opgerig. Coert Steynberg was die beeldhouer. Die monument is op Pretorius se verjaardag, 27 November, onthul. Die indrukwekkende figuur van Andries Pretorius wat Noordwaarts tuur met sy linkerhand wat rus op 'n wawiel, domineer die monument. Die beeldhouer het Afrikanerosse in die ontwerp ingesluit om erkenning te gee aan hierdie edel diere wat die Voortrekkers vergesel het. Die inskripsie "Eenmaal sal daar wel 'n wiel oor ons wêreld rol wat vir u en vir my onkeerbaar is" is die woorde wat Andries Pretorius gebruik het tydens sy samesprekings met Sir Harry Smith in 1848.

Ongelukkig het daar oor die laaste klompie jare 'n plakkerkamp naby die standbeeld onstaan en word dit nou gereeld gevandaliseer. Die Rapportryers van Graaff-Reinet, met die samewerking van die plaaslike tak van die Afrikanerbond het gevolglik besluit om fondse in te samel om hierdie standbeeld na die plaaslike Natuurpark te verskuif. Hulle het reeds die nodige goedkeuring van Sanparke gekry. Die verskuiwing van die standbeeld gaan ongeveer R70 000.00 kos. Die plan is om op 'n gedenkplaat erkenning te gee aan almal wat bydra tot hierdie projek.

Die bestuur van die Familiebond het reeds 'n paar jaar gelede besluit om, waar moontlik, betrokke te raak by projekte wat die geskiedenis, erfenis en kultuur van die Henning familie ook gedenk. So het ons, as familiebond, lid geword van die Erfenisstigting en het ons in 2010 'n ruim bydrae gelewer tot die oprigting van die Konsentrasiekamp gedenkteken by die Vrouemonument in Bloemfontein.

Na deeglike oorweging, is daar nou besluit om ook by hierdie projek betrokke te raak en R1 000.00 by te dra tot die verskuiwing van die standbeeld. Ons sou graag 'n groter bydrae wou lewer, maar ons finansiële posisie laat dit tans nie toe nie.

Ons doen egter 'n beroep op lede wat die passie voel om hierdie poging te ondersteun om hul bydrae aan ons te stuur, om te voeg by die familiebond se donasie of dit direk te deponeer in die rekening wat die Rapportryers daarvoor geopen het: ABSA Bank spaarrekening 924 865 1321; naam van rekening: Andries Pretorius Monument. Gebruik jou naam as verwysing.

Diyatalawa Krygsgevangenekamp, Ceylon

b9.c3.d3.e2. Jacobus Abraham Adriaan Henning *11-2-1866 (links) en sy broer Hendrik Jacobus *1867 wat beide lede van die ZARP (Zuid-Afrikaansche Republiek Polisie) was. Jacobus is as krygsgevangene op Ceylon aangehou

Met meer en meer mense wat deesdae op die Internet inskakel, kry ons nou dat baie mense ons per E-Pos laat weet dat hulle graag aanvullende gegewens ten opsigte van hulle familie wil deurgee. 'n Tyd gelede het Koos Henning (b9.c3.d3.e2.f4.g3.h3. Jacobus Adrian Henning *23-5-1951) per E-Pos kontak gemaak. Sy voorsate tot en met sy oupa was volledig en korrek op rekord. Verder aan was daar egter baie gegewens wat bygevoeg kon word. Hyself en sy nasate was byvoorbeeld nog nie opgeneem nie. Koos het 'n groot klomp waardevolle toevoegings tot die familiekroniek gemaak.

Hy kon ook een van die raaisels in die krygsgeskiedenis van die Henning familie vir ons oplos. Tydens my navorsing na die krygsgeskiedenis van die Henning familie, kon ek al die Henning burgers wat in die Krygsgevangenekamp te Ceylon aangehou is, positief identifiseer, met uitsondering van drie persone - 'n Gert Frans Henning en dan twee persone wie se name as Jacobus Abraham Henning op die amptelike lyste verskyn het.

Koos kon sonder twyfel vir ons bevestig dat sy oupagrootjie - b9.c3.d3.e2. Jacobus Abraham Adriaan *11-2-1866 in die Diyatalawa krygsgevangenekamp, Ceylon aangehou is. Hy het gedurende die oorlog in die ZARP (Die polisiemag van die ZAR) gedien en is op 9-8-1900, kort nadat die Britte Pretoria ingeneem het krygsgevangene geneem.

Koos het ook aangedui dat hulle deur oorlewering onder die indruk gebring is dat hulle oupa, b9.c3.d3.e2.f4. Jacobus Abraham Adriaan Henning *5-6-1893 (wat na sy pa vernoem is) later in die oorlog by sy pa in die krygsgevangenekamp aangesluit het. Hulle het egter geen stawende bewys hiervan gehad nie.

Volgens die rekords in die Transvaalse Argiefbewaarplek wat ons geraadpleeg het, het die tweede Jacobus Abraham, wat ons nie positief kon identifiseer nie, op 3-7-1902 daar aangekom. As dit Jacobus Abraham Adriaan Henning *5-6-1893 was, was hy dan maar slegs nege jaar oud. Verskeie navorsingswerke oor die oorlog dui aan dat seuns van hierdie ouderdom ook in die krygsgevangenekampe aangehou is. Die tweede Jacobus Abraham op die lyste kan dus gemelde Jacobus Abraham Adriaan gewees het.

Sterftes

b9.c1.d2.e3.f3.g2. Izak Jacobus Henning *2-10-1932 wat op 3 Januarie 2012 oorlede is
b6.c1.d3.e5.f1.g1.h2. Prof Josef Jooste Henning van Hartenbos wat onlangs oorlede is en sy vrou Ina

Ons het met leedwese verneem van die afsterwe van die volgende Henning's:

b9.c1.d2.e3.f3.g2. Izak Jacobus Henning *2-10-1932 is op 3 Januarie 2012 oorlede. Izak en sy vrou, Emmerentia, het in Birchleigh-Noord, Kemptonpark gewoon. Voor sy aftrede het hy by die Poskantoor gewerk. Hy het sy loopbaan in Port Elizabeth begin, maar is mettertyd na Johannesburg verplaas waar hy tot assistent bestuurder gevorder het.

In sy jong dae het hy rugby gespeel. Hy het ook volkspele en toneelspel gedoen. Hy het in sy spaartyd, baie aande, bouplanne vir mense geteken.

Hy word deur sy kinders onthou as 'n persoon wat baie hardwerkend was en alles vir sy kinders sou opoffer. As familie het hulle dikwels met 'n karavaan gaan kamp. Hy sterf na 'n beroerte-aanval.

b6.c1.d1.e9.f13.g1. Willie (WNF) Henning van Karenpark het laat weet dat sy ma, Helena Martha Henning (gebore Roos) *13-10-1917 op 7 Januarie 2012 in die ouderdom van 94 jaar oorlede is. Sy het die laaste 10 jaar by haar dogter, Nella op Potgietersrus gewoon. Sy was die weduwee van Francois Ulman Henning *24-8-1913 wat reeds in 1978 oorlede is. Ongelukkig kon ons nie betyds 'n foto van haar in die hande kry nie.

Ons het ook verneem van die afsterwe van b6.c1.d3.e5.f1.g1.h2. Josef Jooste Henning *23-8-1931 van Hartenbos op 16 Junie 2012.

Josef studeer aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Gedurende 1963 besoek hy die Universiteit van Edenburgh in Skotland, waar hy 'n stigterslid van die Centre of African Studies geword het.

Hy word gedurende 1970 bevorder tot professor in Politieke Wetenskappe aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, met Afrika Politiek as spesialis terrein. Na sy aftrede verhuis hy en sy vrou, Ina na Hartenbos, waar hulle tot en met sy dood gewoon het.

Wierdapark Henning's

b7.c8.d8.e1.f2.g2. Stanley Henning *20-10-1961, sy vrou Mary-Ann (gebore Nel) en hulle kinders, van Wierdapark, Centurion hou aan om uitsonderlik te presteer. Hul dogter, Anél, het op 17 April 2012 die graad, BA Visuele Kuns aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Sy beskryf die graad as 'n leer sonder sporte - jy dink jy klim twee trappies op, dan gly jy drie terug - dus om bo uit te kom moet jy liewer 'n nuut uitgedinkte roete volg en nie die gewone trappies probeer klim nie. Nogal goeie beskrywing vir 'n graad waar die beoordeelaars van die kuns subjektief is. Dit kan nie anders nie - hulle is ook almal kunstenaars.

Sy werk nou van Januarie af by 5DT, waar sy die driedimensionele ontwerpe van myn masjiene moet doen vir die simuleerders waarop die operateurs moet leer om die masjiene te kan gebruik - soos 'n vliegtuig simuleerder. Haar posbenaming is: grafiese ontwerper/modeleerder in myn bedryf.

Sy het in haar finale jaar ekstra sertifikaat kursusse gedoen by Open Window, deur aandklasse by te woon, sodat sy 'n grafiese kuns kwalifikasie ook kon wys op haar CV. Sy het Adobe Photoshop, 3 Studio Max Autodesk en Adobe Illustrator gedoen.

Ma Mary-Ann het hierdie jaar weer die Comrades marathon gaan hardloop en die wedloop vir die tweede keer voltooi - en sy is met haar volgende verjaardag 50! Wedlope soos die Comrades Marathon is 'n passie en 'n besondere emosionele ervaring vir Mary-Ann. Sy raak liries oor die wilskrag en opoffering wat dit verg om suksesvol te wees. Baie geluk Mary-Ann. Daar is baie van ons wat jou bewonder.

Anél Henning *22-8-1989, dogter van Stanley - en Mary-Ann Henning van Wierdapark, Centurion wat onlangs die graad BA Visuel Kuns aan die Universiteit van Pretoria verwerf het
Mary-Ann Henning *28-5-1963 wat hierdie jaar weereens die Comrades marathon voltooi het. Dit wil gedoen wees om so goed te lyk nadat jy meer as 90 kilometers gehardloop her

Snotkop

Snotkop, of soos hy gedoop is, Francois Henning

Oor die afgelope klompie jare het 'n nuwe Afrikaanse sanger baie sterk op die voorgrond begin tree. Hy gebruik die verhoognaam "Snotkop". Dit is duidelik dat hy een van die heel gewildste sangers in Suid-Afrika is, want daar is omtrent nie 'n fees of konsert reg oor die land waar hy nie genooi word om op te tree nie. Hy het al twee keer op die voorblad van die gesinstydskrif, Huisgenoot gepryk en is daar vlyend oor hom gerapporteer. Al die Afrikaanse koerante skryf gereeld oor hom. Snotkop straal die beeld uit van 'n mooi, sterk, lewenslustige en prettige jong Boerseun, wat tog ernstig en verantwoordelik kan wees.

Vir diegene wat nie weet nie, hy is 'n Henning jong man! Sy genealogiese gegewens is as volg: b5.c4.d4.e1.f7.g1.h2. Francois Henning, gebore 22-12-1972.

Baba's

b1.c6.d3.e11.f3.g1.h2. Jolette van Vuuren(gebore Henning) van Tampa in die VSA mat haar eersteling. Klein Hugh is op 6 Junie 2012 gebore

b1.c6.d3.e11.f3.g1. Cornelius Belthaser (Neels) Henning van Tampa in die VSA het vir ons laat weet dat sy dogter, Jolette en haar man, Ettiene van Vuuren hul eerste kleinding ryker geword het - 'n seuntjie wat 'n stewige 8 pond 14 onse geweeg het. Die geboorte het sonder komplikasies afgeloop en moeder en baba doen albei baie goed. Hy is gebore 5:30n.m. op 6 Junie in Tampa. Sy volle naam is Hugh Van Vuuren. Hy is dus 'n Amerikaanse burger van geboorte.

Neels en Bernice het nou reeds drie kleinkinders - almal gebore Amerikanertjies!

Nuusbrief per E-Pos

Met posgeld wat jaarliks styg, die koste van papier, koeverte en drukker inkkasette het verskeie lede al aangedui dat hulle eerder die Nuusbrief per E-Pos wil ontvang. Tot nou toe het ons die standpunt gehuldig dat baie mense die nuusbriewe wil hou en dit net met 'n papiereksemplaar kan doen. Ons was ook huiwerig om die Nuusbrief per E-Pos te stuur omdat die gerekenariseerde lêer baie groot is. Deesdae kan ons dit egter in 'n pdf lêer omskep, wat baie kleiner is.

Ons wil dus 'n opname maak van lede wat eerder hulle nuusbriewe per E-Pos wil ontvang. Sal u asseblief vir ons per E-Pos laat weet of u alle nuusbriewe so wil ontvang.

Geldsake

Baie dankie aan almal wat oor die afgelope drie maande vir ons bydraes aangestuur het. So help u die familiebond om lewenskragtig en aktief te bly. Soos gewoonlik meld ons graag die name van diegene wat vir ons bydraes van R300.00 en meer aangestuur het:

GS (Gideon) Henning, Voorsitter van die Familiebond en 'n lewenslange lid, van Strand - R300.00
PH (Piet) Henning van Strand - R300.00
WNF (Willie) Henning van Karenpark, 'n Lewenslange lid - R500.00

Baie dankie ook aan daardie lede wat pligsgetrou elke maand per debietorder vir ons 'n bydrae lewer. Hierdie bydraes is van onskatbare waarde en ons wil graag 'n beroep op ons ander lede doen om te oorweeg om maandeliks per debietorder 'n klein bedraggie van so min as R30.00 tot R40.00 by te dra. Dit vat nie werklik aan u sak nie, dog dit is baie werd vir die familiebond. U kan dit self met u bank reël. Die bankbesonderhede van die Familiebond is as volg:

ABSA Bank Villiersdorp (takno 334-612); Rekeningnaam - Henning Familiebond; Rekening no 2890 610 423. Dit is 'n tjekrekening. Gebruik asseblief u lidnommer en naam as verwysing van wie se debietorder dit is.

Iemand het op 22 Mei 2012 by die Jacaranda tak van ABSA bank 'n bedrag van R100.00 in die rekening van die familiebond gedeponeer, sonder om sy/ haar naam of lidnommer te verstrek. Laat weet asseblief vir ons as dit u is.

Ongelukkig het amper die helfte van ons lede nog nie 'n bydrae vir 2012 gelewer nie.

Suid-Afrikaanse Henning's in die Karibiese Eilande

b1.c8.d6.e8.f1.g3 Jozef Hendrick Henning *11-3-1956 het vir 'n klompie jare met ywer op die bestuur van die Henning Familiebond gedien. So 'n paar jaar terug begin pos wat ons vir hom en sy vrou Lyndi gestuur het, terugkom met die nota "adres onbekend". Ons was teleurgesteld dat Jozef sommer net "verdwyn" het.

Gelukkig kry ons onlangs 'n E-Pos van hom af - vanuit die Karibiese Eilande! Jozef skryf: "Ons het sowat twee jaar gelede besluit om 'n lang vakansie te vat en die Wes Indiese eiland van Antigua te beleef, waar een van Lyndi se kinders hulself (kinders, hond en al...) sowat 5 jaar gelede gevestig het... en ons is steeds hier.....! My reëlings met iemand in Alberton rakende pos wat ontvang word, was tot nou toe 'n probleem en die nuusbrief het nooit hier aangekom nie. Ek het egter wel jou e-posse ontvang en bedoel om daarop te antwoord, maar van uitstel het afstel gekom, iets waarvoor my Pa my 'n drag slae sou gegee het!

Jy wonder dalk wat doen ek hier... wel, ek doen heelwat internet bemarking en het 'n paar webblaaie waarop ek verskeie onderwerpe aanvat. My nuutste breinkind is een wat my 89% (of dalk meer) van my wakker-wees tyd (17 - 18 ure per dag) in die laaste 34 dae opgeneem het en was oorspronklik sowat twee jaar gelede al gebore met die idee om 'n skakel met my moeder en familie te wees. Na haar afsterwe het ek belangstelling verloor, tot sowat 34 dae gelede... toe ek met 'n inspirasie gebore van 'n droom nuwe lewe daarin begin blaas het. Dis reeds heelwat groter en meer as wat ek aanvanklik gedink het dit sal wees, met meer elke dag ...!

Jozef Henning *11-3-1956 en sy vrou, Lyndi, wat deesdae op die Wes-Indiese eiland Antigua woon

Ons het vir Jozef gevra om vir ons meer te vertel van hulle nuwe blyplek en hier is sy verhaal:

'n Tydjie gelede het ek Olivier beloof om hierdie relaas saam te stel en hier sit ek, finale knip en plak voor ek dit aanstuur en dis kort na middernag; swelterend warm, met 'n waaier wat werklik sy bes probeer om my af te koel. Dis amper vol somer en alreeds baie, baie warm, tensy daai waaier, so uit 'n rigting van twaalf oor twee en so twee meter ver, nie sy werk doen nie! Ek kla egter nie, want ons is reeds in ons tweede somer en heel toevallig, soos ek hier sit en afrond wat ek wou sê, is dit presies die tweede herdenking van ons aankoms hier, die sestiende Junie 2010. Ek kla nie, want meeste Suid Afrikaners bevind hulle self in die teenoorgestelde posisie en al wat ek kan sê is, styf lê, Jannie!!!!

Waar is ons? Ek gesels met julle vanuit die droomblaaie van een van die Karibbiese eilande, met die naam van Antigua. Die plek is bekend vir 'n paar onvergeetbare name - het jy al gehoor van Sir Vivian Richards en Bob Marley? Die eerste een kon 'n barshou krieket speel en die ander ou is die Steve Hofmeyer van Reggae musiek. Die see hier is 'n baie pragtige blou kleur, iets wat jy nêrens anders sien nie; die seewater is soms te warm om jou af te koel en 'n branderplank beteken niks nie, want die branders is niks meer skrikwekkend as die rimpels in jou badwater ...

Ek en die Engelsman, ja, ek het die vyand 'n hele klomp jare gelede getrou, het die eiland die eerste keer in 2008 besoek, besluit ons sal hier wil bly en onsself die doelwit gestel om dit te doen indien ons suksevol kan wees met die verkoop van 'n sekere eiendom...... teen 'n belaglike hoë prys! Dit toe op die mark gesit en besluit indien dit loop, dan kom bly ons op die klip.... En toe gebeur dit! Binne drie weke het drie ouens elkeen 'n gekke aanbod gemaak en die eerste een met die geld in sy bewerige hand is nou die trotse eienaar en ons is hier.

Die eiland is 'n klein plekkie met ongeveer 80,000 inwoners (en sowat 20,000 besoekers, afhangend van of ons 'n dreigende orkaan het of nie) wat woon op ongeveer 108 vierkante myle - dink daaraan op die manier... Dis minder mense as wat die eerste of laaste Wêreldbeker wedstryde in Soweto bygewoon het en dis nie veel groter as 'n redelik ordentlike Karoo plasie nie, inteendeel, heelwat kleiner!

Die somermaande bring sterk winde wat soms ontaard in tropiese storms en selfs orkane al die pad van die Weskus van Afrika en wanneer die goed een van die eilande tref, dan hoor almal daarvan, maar gelukkig gebeur dit nie elke jaar nie. Dis egter die algemene ding hier dat meeste mense na die weerberigte luister op 'n ander manier as die res van die wêreld, veral in die tydperk Junie tot November, die sogenaamde orkaan-seisoen. 'n Ander interessante ding is die hoeveelheid woestyn-stof wat al die pad van die Sahara woestyn oor die see waai en die bote, huise en karre bedek... Nou nie so dat jy dit regtig agterkom nie, maar 'n paar druppels reën en jy besef die Sahara blaas en soms kan mens jou verstand uit nies! 'n Prentjie wat dit illustreer kom uit een van die weer webblaaie, en as jy kan, blaai gerus na www.crownweather.com . Vandag se prentjie laat dit lyk asof die sand wat in hierdie rigting op pad is omtrent die hele Sahara woestyn hier gaan agterlaat... Dis hoe dit lyk uit die oog van 'n weer-sateliet en ek het duidelik aangedui waar ons klip in die see sit, net ingeval jy sover soos hier gelees het en steeds nie eintlik weet waar ons is nie. Kyk na die kaart op die laaste bladsy).

Dan is daar die eiland waarvan baie van julle al gehoor het, bekend as Montserrat, wat so klompie jare gelede oorval was deur 'n vuurspuwende berg uitbarsting... Een helfte van die eiland is bedek in (nou verharde) modder en as, wat die resultaat van 'n manjifieke uitbarsting was. Daai eiland is so 30km van ons agterstoep af in die verte sigbaar en die ding blaas en steun maar al die tyd en daar's 'n permanente rookdamp wat uit die lewendige vulkaan blaas. Gelukkig waai die wind die rook en as weg van ons af, maar soms wonder ek wat in die donker gebeur, want mens kry soms die gevoel die stof is nie sand nie, maar iets anders...

Die hele Karibbiese see is 'n baie interessante omgewing en vir baie redes. Op sommige van die ongeveer 20 eilande rondom ons is die strande byna pikswart; dis nou nie soos Durban op 25 Desember nie, die sand self is pikswart, iets wat te doene het met die vulkaniese aard van die seebed in hierdie omgewing. Hierdie is bv 'n strand op een van die eilande hier naby en waarvan jy nog nooit gehoor het nie, bekend as Dominica:

'n Hele paar van julle wonder teen die tyd wat op aarde ons in so 'n gevaarlike deel van die wêreld soek, maar weet jy wat, ek sluit nie my kar nie, ons kan op enige tyd van die dag met die brakkie gaan stap, almal groet mekaar, al ken ons mekaar nie en as jy iewers sou stop en die kar se enjinkap oopmaak sal daar iemand stop en hoor of hulle kan help.... Dis dinge wat ons regtig, regtig nie in Suid Afrika ondervind het nie!!

Lewenskoste is bietjie hoog, bv 'n 'goedkoop' brood kos $2.65 en volgraan tipe brood omtrent dubbel soveel, teenoor omtrent $1 tot $2 in Suid Afrika. Karre is goedkoop en jy sien goed hier rondry waarvan ons in Suid Afrika net prentjies sien! Petrol kos omtrent dieselfde as in Suid Afrika en sekere mediese prosedures word eerder in Amerika gedoen... Dis so omtrent 3 en 'n half uur per vliegtuig wes van hier.

Die regering kon uit Suid Afrika gekom het, maar mens kry die idee hulle is effens beter, want hier is nie stakings nie, die slaggate word wel reggemaak, maar soos ons soms sê "Trust me" jy kan wel sien wie is in beheer...

Ek kan seker tien keer meer oor die eiland sê en ons het fantastiese mense hier leer ken, soms 'n teleurstelling gehad, maar in die algemeen gestel... Ek dink nie ek en die Engelsman wil regtig weer in die besige samelewing van Johannesburg inpas na die laaste twee jaar nie...

Laat weet as julle meer wil hoor en lees gerus meer op my webblad... Ek het hom myself gebou en elke foto wat jy daar sal vind het ons self geneem... Gaan kyk op die internet na www.hotcaribbeanholidays.com

Kaart wat die ligging van Antigua, tussen die ander Karribiese eilande aandui, met Afrika aan die regterkant en die Amerikas links




Op hierdie foto kan 'n mens duidelik die pikswart sand op die strand van die eiland, Dominika, sien