Nr 108

November 2011

Indeks:

Pieter Henning en die “Nutsman”

Riaan Garforth-Venter van die SABC2 program “DIY met Riaan” saam met Pieter Henning by die houtdek wat hulle met Pieter se Cashumi produkte gebou het

In die Tzaneen omgewing is Cashumi houtprodukte baie bekend, maar eersdaag sal dit reg oor die land bekend word. Die eienaar van Cashumi is natuurlik b7.c8.d8.e5.f3. Pieter Naude Henning *4-11-1957. Pieter is ‘n houtkwekerboer en saagmeulenaar in die distrik en produseer onder andere Saligna – ‘n pragtige en duursame houtsoort.

Riaan Garforth-Venter van die SABC2 program “DIY met Riaan” (voorheen bekend as “Die Nutsman”) het Pieter verlede jaar by ‘n Boubenodigdhede skou in Hoedspruit ontmoet en was so beindruk met Cashumi se produkte dat hy besluit het om ‘n episode van sy program aan Cashumi produkte te wei. Hy het Tzaneen gedurende September besoek vir die verfilming van so ‘n program, waar daar gefokus is op die bou van ‘n houtdek met Cashumi produkte, op die plaas Fonteinplaats, net buite Tzaneen.

Die program sal op 3 Desember 2011 op SABC2 uitgesaai word. Kyk gerus wanneer die program uitgesaai word!

Die “DIY met Riaan” span het nou ook besluit om ‘n ander projek saam met Pieter Henning en Cashumi te pak — hierdie een oor lae koste behuising wat maklik opgerig kan word. Hierdie projek sal in November verfilm word.

Die “DIY met Riaan” span het besluit om ook ‘n program te maak van ‘n maklik opgerigde  laekoste huis, wat deur Cashumi verskaf word. Pieter Henning staan hier by so ‘n huis wat in aanbou is

Wie ken hierdie skets?

‘n Tyd gelede het een van b7.c1.d10.e3.f5.g1.Leonard Henning van Wildernis se dogters hierdie skets by ‘n vendusie gekoop. Die skets is geteken deur ‘n L Henning. Is daar iemand wat hierdie L Henning ken of dalk weet wie se gesig op die skets is?

Die skets wat deur ‘n L Henning gemaak is. Is daar dalk enigiemand wat weet wie hierdie L Henning is, of wie die persoon op die skets is

Erfenisstigting en ander Kultuurgoedere

Bondsekretaris, Brig Olivier Henning saam met sy oud kollega en vriend, Genl-maj Gert Opperman, nou Hoof Uitvoerende Beampte van die Erfenisstigting by die AJV van die Erfenisstigting

Op 30 Julie 2011 het die Erfenisstigting sy Algemene Jaarvergadering by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou. Ons lede sal onthou dat die Familiebond ‘n tyd gelede lid van die Erfenisstigting geword het, omdat die kultuurgoedere waarna die Erfenisstigting omsien, ook die geskiedenis van die Henning families in Suid-Afrika eer.

Bondsekretaris, Olivier Henning en sy vrou Charlotte het die Familiebond by die vergadering verteenwoordig, omdat Olivier self ook lid van die Stigting is.

Daar is verslag gedoen oor die aksies van die Stigting en ‘n nuwe bestuur is aangewys. So moes mens onder andere hoor dat die Staat slegs ‘n nominale bydrae lewer tot die instandhouding van die Voortrekkermonument, terwyl volle verantwoordelikheid vir die instandhouding van Freedom Park (net langs die Voortrekkermonument) aanvaar word — en dan moet die Erfenisstigting soebat of druk uitoefen om hul subsidie te kry.

Ten spyte van die feit dat dit duidelik is dat die Staat nie bereid is om sy verpligting teenoor die Afrikanervolk se kultuurgoedere na te kom nie, was dit ‘n verrykkende ervaring om te hoor hoe hard die Erfenisstigting se mense werk om ons kultuurgoedere te bewaar. Ons dink hier aan al die Konsentrasiekamp-kerkhowe en Gedenktekens, Burgergrafte, Krygs-gevangenekampe, die Winburg Museum, NALN, die Bloedrivier terrein en talle ander.

Die Stigting moet self die fondse vir hierdie instandhoudingswerk vind, bv. lidmaatskap van die Erfenisstigting en donasies deur welmenende lede van die publiek. Ons doen gevolglik ‘n beroep op Henning gesinne, wat dit kan bekostig en ‘n bydrae wil maak tot die bewaring van ons volk se kultuurgoedere om as gesin lede te word van die Erfenisstigting. Kategorie C lidmaatskap behels slegs ‘n aanvanklike donasie van R1000.00 opgevolg met ‘n donasie van R200.00 per jaar daarna. Belangstellendes kan die Erfenisstigting by 012 326 6770 bel of ‘n E-Pos stuur aan hub@voortrekkemon.org.za. Internetadres is www.voortrekkermon.org.za

Nadat Olivier en Charlotte die vergadering in Pretoria bygewoon het, het hulle die Oorlogsmuseum van die Boere Republieke en die Vroue-monument in Bloemfontein besoek. Ons lede sal onthou dat die Familiebond bygedra het tot die oprigting van ‘n Gedenkteken vir die Bethulie Konsentrasiekampkerkhof wat by die Vrouemonument opgerig is. Die Familiebond se bydrae is spesifiek gebruik om ‘n replika te maak van die engelbeeldjie wat in 2003 uit die Bethulie Konsentrasiekamp begraaf-plaas gesteel is. Dit het deel gevorm van die moeder en kind monument wat in 1924 deur die Helpmekaarbeweging opgerig is. Die engel was simbolies van die 1 311 kindertjies jonger as 15 jaar wat in die kamp gesterf het. 13 Henning kinders en twee Henning vroue het in hierdie kamp gesterf. Die gesteelde beeldjie is later teruggevind en word nou in die museum bewaar, terwyl die replika by die gedenkteken geplaas is.

Olivier Henning saam met Dr Pieter Mulder, Adjunk-minister van Landbou en leier van die VF-Plus en mnr Johan Willemse, bekende Afrikaner kultuurleier van Pietersburg by die AJV van die Erfenisstigting. Dr Mulder is die enigste politieke leier wat by erfenisbewaring betrokke is

Vanaf Bloemfontein het Olivier en Charlotte Aliwal-Noord toe gery vir samesprekings met mnr Hannes van der Berg en mev Madelein Joubert van die Museum komitee van die Aliwal-Noord museum, waar die Henning uitstalling in die Kerkplein museum te siene is. Dit blyk of die Oos-Kaap Provinsie besluit het om vanaf 2014 self alle museums in die provinsie – ingesluit dorpsmuseums – te bestuur. Alle aanduidings bestaan dat die Kerkplein Museum, waar ons uitstalling te siene is, gesluit en die gebou as ‘n stoor gebruik gaan word. Die munisipaliteit weier intussen om enige instandhoudingwerk aan die gebou te doen — wat in ‘n erge staat van verval is.

Die gebou van die Kerkplein Museum was die eerste NG Kerkgebou wat in 1857 opgerig is en waar Hennings sedert die oprigting ‘n baie groot rol gespeel het. b1.c3. Jan Hendrik Henning *17-5-1805 was ‘n lid van die boukommissie. b7.c8. Olivier Johannes GC Henning *1-12-1834 het die hout vir die kerk met sy ossewa vanaf Knysna en van die boumateriaal vanaf Wepener se wêreld aangery. Hy was ook gedurende die 1860’s die voorsanger in die kerk.

Mev Madelein Joubert het gelukkig ‘n inventaris opgestel van alle artefakte wat deur Hennings aan die Aliwal-Noord museum geleen/geskenk is. Afgesien van die artefakte in die Henning uitstalling het wyle Olivier Henning *2-12-1930 (b7.c8.d8.e1.f2.) en wyle Stella Henning (b7.c8.d5.e2.f1.) verskeie items wat elders in die museum uitgestal word, ook geskenk.

Van Familiebond kant het ons ons kommer in briewe aan die Burgemeester en Munisipale Bestuurder uitgespreek en ‘n beroep op hulle gedoen om op verantwoordelike wyse op te tree. As hulle nie tot hulle sinne kom nie, beplan die Familiebond om op ander wyses druk op die munisipaliteit uit te oefen. Ons wag nog in spanning vir die munisipaliteit se reaksie op ons briewe.

Olivier en Charlotte Henning by die Engelbeeld gedeelte van die Konsen-trasiekamp Gedenkteken. Die oorspronklike beeldjie is in 2003 in Bethulie gesteel, maar teruggevind. Die Henning Familiebond se skenking is gebruik om die replika te vervaardig. Die oorspronklike word nou in die Oorlogsmuseum bewaar, terwyl die replika by die nuwe gedenkteken gebruik word Olivier Henning by die oorspronklike engelbeeldjie van die Bethulie Konsentrasiekamp Gedenkteken wat gesteel, maar teruggevind is. Hier onder is ‘n naby foto van die inskripsie by die beeldjie

Interessante Stapstok terug by eienaar

Leonard Henry (Len) Henning (regs) saam met Maj Colin Innes van Perth, Skotland, wat die stapstok vashou wat aan sy oupa gedurende die Anglo-Boere-oorlog behoort het. Die stapstok sal nou in die museum van die Black Watch regiment bewaar word

b7.c1.d10.e3.f5.g1. Leonard Henry (Len) Henning *26-3-1934 van Wildernis in die Suid-Kaap (en ‘n vorige Voorsitter van die Familiebond) het vir ons laat weet dat hy jare gelede ‘n stapstok van sy pa ge-erf het. Daar word vermoed dat Len se pa dit van sy pa, b7.c1.d10.e3. Pieter Hendrik Henning *28-1-1877 ge-erf het. Op die stapstok was die naam, “Col Innes” en “Perth” gegraffeer. Len het aan die Australiese Weermag geskryf en navraag gedoen of hulle enige rekord van so ‘n persoon het. Hulle het geen sodanige rekord gehad nie en het hom aangeraai om Perth in Skotland te probeer.

Na ‘n maand of twee kry Len toe ‘n brief van ‘n Majoor Colin Innes. Hy was die kleinseun van die oorspronklike Kolonel Innes. “Col Innes” was ‘n offisier in die Skotse “Black Watch” Regiment wat aan Britse kant gedurende die Anglo-Boere-oorlog geveg het. Majoor Innes en sy pa was beide ook verbonde aan dieselfde Regiment. Len het die stapstok hierna aan Maj Innes gestuur, wat dit met dank ontvang het. Hy het ook ‘n uitnodiging ontvang om die Innes familie in Skotland te besoek, wanneer hy weer in Brittanje sou kom.

Gedurende Junie, hierdie jaar, het Len Brittanje besoek en ‘n afspraak met die Innes familie gemaak. Hy is onder andere deur die Bevelvoerder van die Black Watch onthaal by die Regiment se hoofkwartier en museum in Perth, Skotland, wat in ‘n ou kasteel geleë is, waar die stapstok nou in die Regiment se museum bewaar sal word.

Nuus van Oom Nicolaas Henning

Oom Nicolaas Henning (93), sy vrou tannie Idelette en hul twee dogters, Hester en Helena Muller

b1.c3.d7.e9.f6. Nicolaas Henning, gebore 10-4-1918 is sedert die stigting van die Familiebond in 1984 ‘n lid en later erelid. Hy is tans 93 jaar oud en dit gaan onder omstandighede goed met hom en tannie Idelette. Oom Nicolaas kan nie meer goed sien en hoor nie en hy begin al hoe meer in sy afwesige wêreldjie leef en weet nie aldag waar hy is en wat hy moet doen nie. Tannie Idelette (83) sukkel al meer om te loop, nadat sy verlede jaar geval het. Hulle kinders het van die begin van 2011 af vir hulle ‘n helper gekry om met die alledaagse takies te help. Hulle dogter, Hester bring deesdae omtrent elke naweek in Pretoria deur om die twee ou mense by te staan.

Duitse Sekswerkers

Nadat u hierdie beriggie gelees het, sal u verstaan waarom ons dit so humoristies gevind het. Nuus24 het op 31 Augustus 2011 soos volg berig.

Nou word daar nie meer baklei oor ‘n straathoek nie, maar oor ‘n “parking meter”.

Sekswerkers moet hand diep in die sak steek

Berlyn - Bonn, die voormalige hoofstad van Wes-Duitsland, het 'n spesiale parkeermeter vir sekswerkers opgerig sodat dié wat op straat werk meer doeltreffend belas kan word, het 'n woordvoerder van die stad Woensdag gesê. Dit is die eerste meter van sy soort in Duitsland.

"Ons verwag om sowat 200 000 euro's per jaar uit die meter te maak," het Isabelle Klotz gesê. Die meter, wat soos 'n parkeermeter vir motoriste lyk, is die naweek in die stad se nywerheidsgebied opgerig, naby die sakekern waar baie sekswerkers hul geld verdien.

Die sekswerkers moet 6 euro's betaal vir elke aand wat hulle op straat werk, ongeag hoeveel sake hulle gedoen het. Toe die meter Maandag die eerste keer leeggemaak is, was daar 264 euro's in.

'n Sekswerker wat probeer om belasting te ontduik deur nie te betaal nie, sal eers gewaarsku en daarna beboet word. Pamflette in Duits en ander tale is aan die vroue uitgedeel om die nuwe stelsel aan hulle te verduidelik.

Juanita Rosina Henning, woordvoerder van die sekswerkersgroep Dona Carmen, het egter gesê sy is ongelukkig met die nuwe stelsel.

"Dit het niks met fiskale gelykheid uit te make nie," het sy gesê. "Ons eis dat die meter verwyder word."

Geldsake

Ons doen elke jaar ‘n beroep op al die lede van die Familiebond om enige finansiële bydraes voor einde Maart vir ons aan te stuur. Dit stel ons in staat om ons aktiwiteite vir die jaar deeglik te beplan. Ons is baie dankbaar dat die meerderheid van ons lede gereeld aan hierdie versoek voldoen.

Ongelukkig is daar elke jaar ‘n paar lede wat nie aan hierdie versoek voldoen nie. Sommige lede kan glad nie meer bydraes bekostig nie, terwyl ander wel later in die jaar vir ons ‘n paar Rand kan aanstuur. Dan is daar natuurlik ook daardie lede wat so besig is dat hulle eenvoudig net vergeet om hul bydrae aan te stuur.

Ons sal dit waardeer as lede wat geen bydrae meer kan bekostig nie, ons dienooreenkomstig verwittig. Ons hou sulke lede op rekord, want ons wil niemand uitsluit ten opsigte van lidmaatskap nie. As ons egter vir twee jaar nie enigiets van ‘n lid verneem nie, moet ons ongelukkig so ‘n lid van ons ledelyste skrap.

Hier aan die einde van die jaar merk ons dat daar nog 19 gesinne is wat geen bydrae vir die jaar 2011 gemaak het nie. Die Familiebond het elke sent nodig wat ons kan kry. Waar ons nou reeds, saam met hierdie Nuusbrief, die ledegeld kennisgewings vir 2012 uitstuur, doen ons ‘n beroep op lede wat net vergeet het om hul bydraes vir 2011 aan te stuur, om te dit in berekening te bring wanneer hulle hul 2012 bydrae aanstuur.

Diegene wat dit werklik nie kan bekostig om verdere bydraes te maak nie, moet ons asseblief dienooreenkomstig verwittig.

Babas

a1.b1.c1.d10.e2.f1.g1.h1. Vicky-Lodene Henning *21-6-1978 is op 17 Maart 2007 getroud met Riaan Stefan Du Toit, gebore 24-02-1973. ‘n Babadogterjie met naam, Karli, is vir hulle gebore op 3 Januarie 2011 in Pretoria.

Vicky-Lodine se broer, Johannes Carel (Jaques) Henning (b1.c1.d10.e2.f1.g1.h2.) is op 12 Junie 2010 getroud met Natasha Chantal van der Merwe, gebore 10 Maart 1986. Hulle het op 22 Junie 2011 die ouers geword van ‘n babaseuntjie, wat ook die name Johannes Carel kry — die sesde agtereenvolgende geslag wat hierdie name gekry het.

b6.c1.d3.e5.f2.g4.h1.i2. Petrus Francois Joubert (Pieter) Henning en sy vrou, Chrisna van Heidelberg het op 3 Julie 2011 hul tweede kleinding ryker geword toe Retha Jacobi gebore is. Pieter is ‘n dosent by die Departement van Meganiese Ingenieurswese in die Fakulteit van Ingenieurswese en die Bou-Omgewing by die Universiteit van Johannesburg

Riaan en Vicky Du Toit (gebore Henning) en hul eersteling, Karli, wat op 3-1-2011 gebore is Drie geslagte Johannes Carel Henning. Oupa Callie, pa Jacques en klein JC wat op 22-6-2011 gebore is

n Baie trotse Christa Janine Henning *20-9-2008 hou haar pasgebore sussie, Retha Jacobi *3-7-2011 vas. Hulle is die kinders van b6.c1.d3.e5.f2.g4.h1.i2. Petrus Francois Joubert (Pieter) Henning en sy vrou Chrisna

‘n Geseënde Kersfees en Voorspoedige Nuwe jaar word u almal toegewens