Gedurende die middeleeue het familiewapens onder die adelstand en ridders in gebruik gekom. 'n Wapen is geskilder op die skild waarmee die persoon homself verdedig het of aan militêre toernooie deelgeneem het. Hierdie wapen was dus die persoon se persoonlike identifikasie en is ook as seël gebruik — bykans soos die rol wat 'n persoon se handtekening vandag speel. Dit is die betrokke individu se handtekening en niemand anders s'n nie.
Met verloop van tyd het die oudste seun egter sy pa se skild (en die wapen op die skild) oorgeneem.
Familiewapens het in die tweede helfte van die twaalfde eeu in Europa ontstaan. Die behoefte by die mens om sy persoonlikheid deur middel van 'n simbool te identifiseer, is egter so oud soos die mensdom self.
Ons is tans bewus van slegs drie Henning families — een in Suid-Afrika en twee in Duitsland wat spesifieke familiewapens gebruik. Verskeie Henning/ Hennings/ Hennig wapens het egter deur die eeue ontstaan. In die gesaghebbende publikasie “Armorial Général” deur J B Rietstap, wat deur Rolland geïllustreer is, verskyn daar nie minder as 112 000 familiewapens, waarvan elf (11) as Henning/ Hennings/ Hennig wapens geidentifiseer is[1]. Hierdie wapens word hier onder vertoon.
Kort na die Tweede Wêreldoorlog het ’n sekere N H Theunissen ’n reeks artikels in die destydse tydskrif Brandwag gepubliseer waarin hy ’n verskeidenheid familiewapens voorgehou het[2]. Dit het ook nie lank geduur voordat hierdie wapens — ook die Henning wapen wat voorgehou is — deur die niksvermoedende Suid-Afrikaanse bevolking opgeraap en as outentiek aanvaar is. Aandenkings soos asbakkies, muurborde, plakette, ensovoorts met hierdie wapens op is vervaardig en ons mense het dit opgeraap.
As deel van sy navorsing wou die skrywer homself vergewis of enige van die Henning stamme in Suid-Afrika werklik op enige familiewapen aanspraak kon maak. Hy het ’n verskeidenheid gesaghebbende publikasies oor heraldiek bestudeer en samesprekings met gesaghebbendes op hierdie gebied gevoer, onder andere met die Staatsheraldikus (mnr F Braunell) en Dr C Pama, ’n wêreldbekende genealoog en heraldikus.
Dit het baie gou duidelik geword dat slegs die klein groepie Henning en Hennig nasate van Georg Friedrich Henning wat gedurende 1765 vanaf Silesië (vandag deel van Pole) by die Kaap aangekom het, moontlik aanspraak kan maak op die Henning wapen wat in die handel beskikbaar is. Georg Friedrich Henning en sy nasate word in Afdeling 7 van die Familiekroniek behandel.
Hierdie wapen het aan ’n Henning familie wat gedurende die middeleeue in die destydse Silesië gewoon het, behoort. Georg Friedrich Henning het vanaf Silesië gekom. Hoewel daar nie bewys kan word dat hy wel ’n lid van die betrokke familie was nie, bestaan daar tog ’n sterk moontlikheid en op grond hiervan kan daar nie beswaar wees indien hierdie familie die wapen gebruik nie.
Dit wil blyk of Theunissen eenvoudig Rietstap se boek geneem, die Silesiese Henning wapen gekies het (op grond van die feit dat Georg Friedrich Henning vanaf Silesië gekom het) en dit voorgehou as die wapen vir al die Hennings in Suid-Afrika. Hy het nie besef dat Georg Friedrich Henning die stamvader van ’n klein groepie Hennings en Hennigs (minder as 200 uit ’n groottotaal van 4 000 Hennings) is nie.
Hoegenaamd geen verbintenis tussen enige van die ander wapens en enige van die ander Henning stamme kon opgespoor word nie. Die nasate van Peter Henrich Henning (meer as 90% van die Hennings in Suid-Afrika) het ontwikkel in 'n nuwe stam, met eie tradisies en gebruike, in 'n nuwe land, waar hulle vir meer as 250 jaar lank meegehelp het om die land en volk wat hier ontwikkel het — die Afrikaners — en die nuwe taal, Afrikaans te ontwikkel. Die enigste wyse waarop hierdie mense ’n familiewapen kon bekom, was om ’n familiebond te stig en ’n wapen in die naam van die familiebond te laat registreer.
STIGTING VAN 'N FAMILIEBOND EN REGISTRASIE VAN BONDSWAPEN
Op 21 Julie 1984 het ’n groep van ongeveer 30 Hennings aan huis van Brig Olivier Henning te Wierdapark, Verwoerdburg vergader en ’n familiebond vir die nasate van PETER HENRICH HENNING gestig.
Die bestuur van die familiebond het dadelik aan die werk gespring en ’n Bondswapen waarop elke nasaat van PETER HENRICH HENNING trots kan wees, ontwerp en by die Staatsheraldikus laat registreer. Goewermentskennisgewing no 575 in Staatskoerant 9620 van 15 Maart 1985 kondig die registrasie van die wapen aan en beskryf dit as volg: Wapen: Gedeel rooi en blou, by die middelpunt ’n ossewawiel, daaroorheen ’n swaardlemkruis, alles silwer, vergesel in die skildhoofregs van ’n Afrikanerbul en in die skildvoet regs van ’n kasteel, en links, oor die arm van die kruis heen, van ’n klimmende leeu, alles goud; ’n silwer skildhoof. Slegs lede van die PETER HENRICH HENNING Familiebond mag egter hierdie wapen gebruik. Die simboliek van die wapen word as volg beskryf:
1. Die kasteelpoort, wat oorgeneem is uit die stadswapen van die stad Lippstadt in Duitsland, simboliseer die herkoms van PETER HENRICH HENNING.
2. Die voorwiel van ’n ossewa simboliseer die feit dat die eerste drie geslagte Hennings in Suid-Afrika gedurende die laaste paar jare van die agtiende eeu en die eerste helfte van die negentiende eeu almal trekboere was, wat die ongerepte, onbekende binneland ingetrek het om hulle daar te vestig.
3. Die Afrikanerbees simboliseer die feit dat al die Hennings, tot aan die begin van die twintigste eeu veeboere was en dat daar vandag nog ’n groot persentasie boere onder ons gevind word. Ons liefde vir die natuur, ons bodem en ons land word hierdeur weerspieel.
4. Die klimmende leeu simboliseer dapperheid en waagmoed. Die Hennings was pioniers, mense wat die vryheid duur gekoop het met offers van sweet en bloed, wat hierdie mooi land — wat ons die nageslag so lief het en trots op is — bewoonbaar gemaak het. Dit simboliseer ook dat ons die toekoms met vertroue ingaan.
5. Die vier swaardlemme simboliseer die feit dat die Hennings tydens al die oorloë waar daar om die vryheid van ons land geveg is, hul offers vir hul land gebring het. Die swaardlemme in die vorm van ’n kruis simboliseer die Christenskap van die Hennings.
Die horisontale wit baan aan die bokant van die wapen dui aan dat dit ’n familiebond se wapen is.
Enige lid van die Familiebond mag nou voortgaan om vir homself ’n wapen, waarvan die bondswapen die basis is, te ontwerp. Dit wat die persoon ten opsigte van homself wil simboliseer word in hierdie wit baan aangebring.
WAPENS WAT TANS DEUR SPESIFIEKE HENNING FAMILIES GEBRUIK WORD
|
Peter Henrich Henning Familiebond. Die wapen van die Peter Henrich Henning Familiebond van Suid-Afrika. Hierdie wapen is amptelik by die Staatsheraldikus van Suid-Afrika geregistreer (Goewermentskennisgewing no 575 in Staatskoerant 9620 van 15 Maart 1985). Die simboliek van die wapen word hierbo en in Hoofstuk 1 van die Geslagsregister verstrek
|
|
Die Henning familie wat te Demmin en Karnin, Duitsland gewoon het Die Henning familie wat hierdie wapen vanaf die Middeleeue, tot vandag toe gebruik, het oorspronklik gewoon te Demmin in die omgewing van Stralsund en Greiffswalt, Mecklenburg-Vorpommern,Duitsland, en later te Karnin (naby Stralsund). Tot en met die 30-jarige Oorlog (1618 – 1648) het hierdie gebiede in die grondgebied van Denemarke geval. Dit is die gebied waar die naam Henning teen ongeveer 1290 ontstaan het. Vergelyk hierdie wapen met die wapen hier onder met naam, Henning, Allem (agne)
|
|
Die HENNING en VON HENNING nasate van Laurentius Henning van Rudolstadt. Laurentius Henning (* Rudolstadt 28-3-1602) was die oudste seun van Caspar Henning (*1575) wat teen die einde van die sestiende eeu van Frankenhausen gekom en hom te Rudolstadt (Duitsland) gevestig het. Laurentius is gedurende 1660 tot die adelstand in Wenen toegelaat en het dus die reg gekry om die naam "VON HENNING AUF SCHÖNHOFF" en die familiewapen hiernaas te gebruik. Hy en sy nasate het tot die Pruisiese militêre adelstand behoort. Die geslagsregister van hierdie familie word onder die hofie "Genealogie", "Duitsland (2) op die Henning webwerf op Internet gevind. Vergelyk hierdie wapen met die wapen hieronder met naam, "Henning de Schönhoff, Prusse"
|
ANDER HENNING/ HENNINGS/ HENNIG WAPENS WAT OPGESPOOR IS
Henning / Hennings/ Hennig wapens wat in Rietstap se naslaanwerke opgeneem is
|
Henning. Silesie. Riga. Nórdlin Die Henning familie wat hierdie wapen gebruik het, het gewoon in die gebiede wat vandag in die grondgebied van Pole en Latvia val. Dit is die wapen wat vir baie jare aan die Suid-Afrikaanse bevolking aangebied is as dié Henning wapen
|
|
Henning. Courlande Die Henning familie wat hierdie wapen gebruik het, het gewoon in die gebied wat vandag in die grondgebied van Latvia val.
|
|
Henning de Schönhoff. Prusse Die Pruisiese familie wat hierbo vermeld word
|
|
Henning de Wassem. P. de Cologne Die familie wat hierdie wapen gebruik het, het in die omgewing van Keulen, Duitsland gewoon
|
|
Henning. Allem (agne)[Duitsland] Hierdie wapen stem ooreen met die wapen wat deur die Henning familie van Demmin/ Karnin (hier bo) gebruik word.
|
|
Hennings. Pom Let op dat hierdie familie hulle van as Hennings aandui. Pom is in alle waarskynlikheid die afkorting vir Pommern
|
|
Hennings. Brunswick (Orig. de Dan) Nog 'n Hennings familie. Oorspronklik van Denemarke
|
|
Hennig de Hennisky. Allem Hierdie familie het in Duitsland gewoon. In alle waarskynlikheid 'n variasie van die Henning wapen van die Demmin/ Karnin Henning familie.
|
Twee variasies van die wapen wat 'n Hennig familie van Bavaria, Duitsland gebruik het
|
|
|
Hennig. Prusse Die wapen van 'n Hennig familie van Pruise (vandag deel van Duitsland)
|
[1] V. & H.V. Rolland’s Illustrations to the Armorial Général by J.B. Rietstap. London, S.W.3, 1967
[2] Die Brandwag, Vrydag 15 Februarie 1946. Die Families Van der Heyden, Bekker en Henning deur N.H. Theunissen