AFDELING 5

DIE STAMVADER CHRISTOFFEL HENNING (a1)

CHRISTOFFEL HENNING het reeds voor 1683 by die Kaap van Goeie Hoop aangekom. As die eerste Henning stamvader wat by die Kaap van Goeie Hoop aangekom het1 kry hy die genealogiese nommer a1. Hy het vanaf Fehrbellin (naby Berlyn), Duitsland gekom. Gedurende 1683 vergesel hy vir Olof Bergh op sy ekspedisie na Namakwaland, en later op ekspedisies na die gestrande Engelse skip Joanna en die wrak van die Portugese skip Nossa Senhora de los Milagros (Mei 1686). Siam (vandag Thailand) se nuwe ambassadeurs aan Portugal, Frankryk en Engeland was aan boord van die Nossa Senhora de los Milagros. ’n Groot deel van die skeepsvrag was juwele en ander geskenke vir die koningshuise van die gasheerlande. Verskeie lede van Olof Bergh se reddingsgeselskap, onder andere Christoffel Henning, het geld en juwele by die wrak gesteel2. Vir sy aandeel is Christoffel vir vyf jaar lank na Robbeneiland verban. Gedurende 1692 is hy in ’n ondergeskikte hoedanigheid terug in diens van die Kompanjie en word vanaf 1693 in die Monsterrolle as ’n sersant vermeld. Op 15 September 1686 trou hy met Antonetta Visser van Lekkerkerk, Nederland. Hulle het die volgende kinders gehad3:

• a1.b1. ANNA ELIZABETH »Kaapstad 27-8-1688, cKaapstad 2-10-1704 ABRAHAM HARTOGH

• a1.b2. ADRIAAN »16-10-1689

• a1.b3. CORNELIA »9-9-1691

• a1.b4. MAGDALENA »25-1-1694

• a1.b5. JOHANNES »23-1-1695, cPaarl 10-11-1719 ANNA CATHARINA LORENTZ (Lourens)

Geen verdere rekord van die seun Adriaan (a1.b2) kon opgespoor word nie en daar word vermoed dat hy vroeg — moontlik as baba of as kind — oorlede is. Dit blyk of hulle seun Johannes (a4.b5) slegs een kind gehad het, naamlik ’n seun met die naam JOHANNES CHRISTOFFEL wat op 1 April 1721 te Paarl gedoop is. Geen rekord van enige ander kinders of verdere vermelding van Johannes Christoffel self kon opgespoor word nie. Dit blyk dus of hierdie HENNING stam uitgesterf het. Dit is wel bekend dat Christoffel Henning se dogter Anna Elizabeth (a1.b1), wat met Abraham Hartogh getroud was nasate gehad het. Hy het dus nasate in Suid-Afrika — hulle het net ander vanne.

VOETNOTE

  1. De Villiers C.C.: Geslagtregister der oude Kaapsche familiën. Kaapstad, 1893
    Hoge, J.: Personalia of the Germans at the Cape, 1652 — 1806 (Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, Negende Jaargang)
    Hoge, J.: Bydraes tot die genealogie van ou Afrikaanse families (Verbeterings en aanvullings op die Geslachtregister der oude Kaapsche familiën van C.C. de Villiers). Amsterdam, 1958
    De Villiers, C.C. en C. Pama: Geslagsregister van die ou Kaapse families. Kaapstad, 1981
    Malherbe, D.F. du T.: Stamregister van die Afrikaanse volk. Stellenbosch, 1966.
    Redelinghuys, J.H.: Die Afrikaner-familienaamboek. Kaapstad, 1954
    Heese, J.A. en R.T.J. Lombard: Suid-Afrikaanse Geslagsregisters, Vol 3. Pretoria, 1992

  2. Sleigh, D.: Die Buiteposte, VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652 — 1795, Pretoria, 1994, pp. 66, 161, 179 en 255

  3. Hoge, J.: Personalia of the Germans at the Cape, 1652 — 1806 (Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, negende jaargang), p.149