Al die genealogiese werke waarin die stamvaders van die Westerse bevolking van Suid-Afrika uiteengesit is1 dui verskeie persone met die van HENNING aan wat voor 1800 na die Kaap van Goeie Hoop emigreer het. Slegs vier van hierdie Hennings het egter nasate gehad. Hulle was CHRISTOFFEL HENNING wat hom reeds voor 1683 aan die Kaap gevestig het2; PETER HENRICH HENNING wat gedurende 1765 by die Kaap aangekom het; GEORG FRIEDRICH HENNING wat ook gedurende 1765 by die Kaap aangekom het en JOHAN WILHELM HENNING wie se aankomsdatum ongelukkig onbekend is. Dan het ons ook bewus geword van Carl Christian Hennings wie teen die einde van die negentiende eeu na die Kaap van Goeie Hoop geëmigreer het, hier getrou en kinders gehad het.
Soos genoem was Christoffel Henning die eerste Henning wat by die Kaap aangekom het. Hy kry dus die genealogiese nommer a1 en word in Afdeling 5 behandel.
Van die ongeveer 4 000 Hennings wat teen 2020 in Suid-Afrika gevind is, stam ongeveer 90% af van PETER HENRICH (ons gee hom die nommer a2.), terwyl ’n klein groepie van minder as 100 van GEORG FRIEDRICH (a3.) afstam. Meeste van die persone met die van HENNIG stam egter ook van GEORG FRIEDRICH HENNING af en hulle word ook in die geslagsregister aangedui. ’n Ander groepie van ongeveer 100 persone stam van JOHAN WILHELM HENNING (a4.) af. Die res, minder as 200, is nasate van verskillende persone wat eers in die tweede helfte van die negentiende eeu of vroeg in die twintigste eeu na Suid-Afrika geëmigreer het.
PETER HENRICH HENNING (a2.) het elf kinders gehad — agt seuns en drie dogters — waarvan twee seuns skynbaar jonk oorlede is. Sy nasate kan dus in ses seuns-takke verdeel word.Hy en sy nasate word dus in Afdeling 6 behandel. Afdeling 6.1, 6.2 en 6.3 behandel die stamvader en sy kinders, terwyl Afdelings 6.4 tot 6.9 die wel en weë van die onderskeie takke skets. Elkeen van hierdie afdelings is in twee gedeeltes verdeel, naamlik die algemene geskiedenis van die tak en die geslagsregister. Lede van hierdie stam word dus aangeraai om eers hul eie rekord in die databasis op te soek en al hul voorsate se rekords te bestudeer. Daarna is dit wenslik om na die subafdelings van Afdeling 6 te gaan kyk. Hier kan mens nou maklik die geskiedenis van baie mense wat nie naby aan jou verwant is nie, sien, asook die algemene geskiedenis van die tak.
In Afdeling 7 word ’n geslagsregister van GEORG FRIEDRICH HENNING (a3.) en sy HENNING en HENNIG nasate uiteengesit, terwyl die geslagsregister van JOHAN WILHELM HENNING (a4.) en sy nasate in Afdeling 8 en CARL CHRISTIAN HENNINGS en sy nasate in Afdeling 9 uiteengesit word.
Interessantheidshalwe word die besonderhede van die Hennings wat nie nasate in Suid-Afrika nagelaat het nie, ook kortliks verstrek3:
a6. CLAUS HENNING. Hy is gedurende 1720 te Herborn (Duitsland) gebore en het op 11-1-1771 as soldaat in diens van die VOC getree. Hy reis met die skip “Huis te Bijweg” vanaf Amsterdam en arriveer op 8-7-1771 aan die Kaap4. Hy tree op 12-1-1780 uit diens van die VOC om as Vryburger aan te bly. Sy vrou en vier kinders het egter in Duitsland agtergebly. In 1780 is hy as ’n plaaswerker uitgehuur. Geen spoor van hom kon verder gekry word nie en daar word vermoed dat hy teruggekeer het na sy vrou en kinders in Duitsland of dat hy aan die Kaap dood is, sonder dat hy weer getrou het.
a7. DAVID WILHELM HENNING. Hy het vanaf Königsbergen, Duitsland gekom. Hy het op 15-9-1785 as 'n matroos in diens van die VOC getree en met die skip Schoonderloo vanaf Delft na die Kaap van Goeie Hoop gevaar. Die skip het op 7-2-1786 by die Kaap aangekom. Hy dien as matroos by die Kaap tot 27-9-1792 toe hy ontslag gekry het om as 'n Vryburger aan die Kaap te woon4. Twee weke later is hy op 14-10-1792 met Johanna Berendina Geertruida Maritz getroud. Sy is op 4-7-1760 te Tulbach gedoop Geen nasate kon opgespoor word nie.
a8. JOHANN FRIEDRICH LEBRECHT HENNING. Hy is gedurende 1737 te Lauchstedt, Duitsland gebore en het gedurende 1779 as ’n geneesheer by die Kaap aangekom. Hy dien as geneesheer van die Burgerkavalerie en sterf ongetroud op 19 April 1803. Hy het ’n groot boedel nagelaat.
a9. JOHANN NIKOLAUS HENNING. (Sy van was moontlik Haennig). Hy kom vanaf Frankfurt, Duitsland en dien as ’n soldaat. Tussen die jare 1761 en 1774 is hy as ’n plaaswerker uitgehuur en daarna woon hy by Heemraad Andries Brink te Stellenbosch. Hy is skynbaar nooit getroud nie.
a10. WILHELM HENNING. Hy is die neef van Claus Henning (a5) en kom gedurende 1778 ook vanaf Herborn in Duitsland. Hy werk as ’n wadrywer tot 1786 waarna hy as ’n plaaswerker aan Marthinus Melck uitgehuur word.
Daar kan met reg gesê word dat die ou VOC instrumenteel was tot die totstandkoming van die land Suid-Afrika. Al die VOC rekords uit die tyd toe hierdie maatskappy in beheer van die Kaap van Goeie Hoop was (1652 tot 1795) word in die argiewe in Nederland bewaar. Die Nederlandse regering het hierdie argiewe in die eerste dekade van die 21ste eeu gerekenariseer, sodat die inhoud ten opsigte van alle Hennings wat gedurende die agtiende eeu by die Kaap van Goeie Hoop aangekom het nou baie makliker ontsluit kan word. Ons het met verbasing agtergekom dat dit nie net die paar Henning’s is wat ons in die eerste deel van hierdie hoofstuk vermeld, wat in diens van die VOC was nie. Gedurende die 100 jaar, vanaf 1700 tot 1795 was daar nie minder as 90 Henning wat vir 'n tydlank in diens van die VOC was — meeste van hulle van Duitse afkoms, maar daar is ook verskeie wat vermoedelik reeds as Nederlanders geklassifiseer kan word. Die oorgrootte meerderheid van hierdie 90 het diens in Batavia, Java en Ceylon gedoen, maar almal het verby die Kaap gevaar en daar aan wal gegaan. Dit het ook aan die lig gekom dat elf van hierdie Hennings, afgesien van die vier wat as Vryburgers by die Kaap agtergebly het en die vyf wat nie nasate gehad het nie, ook 'n tydlank — selfs langer as 'n jaar — by die Kaap vertoef het.4
1. Christoffel Henning van Saxen, 'n soldaat vertoef enkele maande gedurende 1719 aan die Kaap
2. Johan George Hendrik Henning van Lunenburg het vanaf 1745 tot 1746 as soldaat aan die Kaap vertoef
3. Christiaan Henning van Rodenburg, 'n matroos, vertoef vanaf 1754 tot 1759 aan die Kaap
4. Gorg Henning van Metz, Frankryk, 'n soldaat vertoef gedurende 1768/69 verskeie maande aan die Kaap
5. Christiaan Henning van Antwel in Westfallen, 'n soldaat vertoef verskeie maande gedurende 1769/70 aan die Kaap
6. Johan Jurge Henning van Metz (Frankryk), 'n soldaat, vertoef enkele maande gedurende 1770 aan die Kaap
7. Willem Henning van Amsterdam, 'n hooploper (ongeoefende matroos), vertoef enkele maande gedurende 1772 aan die Kaap
8. Hendrik Henning van Haarburg, 'n jong matroos, vertoef enkele maande gedurende 1773 aan die Kaap
9. Johannes Henning van Kermerhousen, 'n soldaat vertoef enkele maande gedurende 1773 aan die Kaap
10. Johan Hendrik Henning van Wesel, 'n soldaat vertoef gedurende 1786/87 enkele maande aan die Kaap
11. Christiaan Bernhard Henning van Zuiderhousen het vanaf 1786 tot 1788 as kanonnier aan die Kaap vertoef