Nr 80

November 2004

Indeks:

Henning Familiefees 'n Sukses!

Kliek op die prentjie vir 'n spotprent deur Lou Henning






Feesgangers staan tou voor die registrasietafels.  Hier het die groot kennismaking en gesels reeds begin. Op Saterdag 2 Oktober 2004 is die derde nasionale Henning Familiefees by die Zwartkop Lapa in Centurion gehou. Die manne en vroue verantwoordelik vir die reëlings het reeds die vorige dag op die terrein byeengekom om alles haarfyn te beplan.

Op die feesdag het hulle vanaf 07:00 uur geswoeg en gesweet om alles gereed te kry, want daar is verwag dat die eerste feesgangers reeds teen 09:00 uur sou opdaag. Tafels en stoele moes reggeskuif word; baniere, vlae en wimpels moes oral opgehang word; die registrasietafel moes in gereedheid gebring word; items wat te koop aangebied is, moes uitgestal word; braaiplekke moes gereed gemaak word; ablusie-geriewe moes skoongemaak en gereed gekry word; padaanwysers moes op strategiese plekke aangebring word. Almal was opgewonde en in afwagting vir 'n heugelike gebeurtenis. By Bondsekretaris, Olivier Henning en Mauritz Henning, voorsitter van die reëlingskomitee was daar tog 'n klein bietjie twyfel — daar was geen aanduiding hoeveel feesgangers sou opdaag nie.

Toe die eerste fees-gangers opdaag, was alles gereed en kon ons begin feesvier. Om 10:00 uur het Erich Endrejat, eggenote van b1.c3.d7.e9.f1.g1 Levien Endrejat (gebore Henning) afgeskop met 'n fanfare op sy trompet, waarna Gideon Henning, voorsitter van die Henning Familie-bond die fees-gangers verwelkom het. Olivier Henning, Bondsekretaris van die Familiebond het hierna 'n skyfievertoning gelewer oor die lewe van ons Suid-Afrikaanse Henning stamvader, Peter Henrich Henning, asook 'n vertoning oor die werking van die Henning Familiekroniek op laserskyf (CD).

Gideon Henning, Voorsitter van die Familiebond besig om die feesgangers te verwelkomDie manne het vleis gebraai. Die vroue het die bykossies versorg. Almal het gekuier en staaltjies uitgeruil. Onbekende familielede is ontmoet. Nuwe vriendskappe is gesmee. Ons glo dat almal wat daar was, dit geniet het en dat die fees 'n sukses was. Die enigste moontlike klein wanklankie is die feit dat slegs 220 persone vir die fees opgedaag het. Ongeveer 80% van die 4 000 Hennings in Suid-Afrika woon in die PWV gebied en die Vrystaat. As ons aangetroude families byreken, verdubbel die potensiële getal wat kon bywoon. Ons het darem gehoop dat tussen 300 en 500 mense sou bywoon, maar is tevrede met die getal wat wel bygewoon het.









Feesgangers kuier lekker in die skadu van groot bome Die Willem Frederik Tak (b6), ook genoem die Burgersdorp Hennings was die beste verteenwoordig met 90 lede. 55 lede van die Johannes Gerhardus Tak (b1) (die Rouxville/Zastron Hennings) het bygewoon; 32 lede van die Gert Frans Tak (b7) (die Aliwal-Noord Hennings) het bygewoon; 28 lede van die Jan Hendrik Tak (b9) (die Transvaal Hennings) het opgedaag; 11 lede van die Jacobus Cornelis Tak (b5) (Sentraal Vrystaat Hennings) was teenwoordig, terwyl slegs een gesin (twee persone) van die Daniël Stephanus Tak (b10) (die Cradock Hennings) opgedaag het.

Die fees het die familiebond ongeveer R1000.00 uit die sak gejaag. Nog foto’s verskyn onderaan.

b7.c8.d8.e1.f5. Gideon Stephanus Henning (Voorsitter van die Familiebond) en sy vrou, Wena, met 'n groep nasate van die Bulkop, De Wetsdorp Henning in die agtergrond

Nasate van Gert Johan Daniël Henning kom byeen!

Op 5 Februarie 2004 sou b5.c4.d3.e2.f1. Gert Johan Daniël Henning honderd jaar oud gewees het. Hy is egter reeds op 5 Julie 1970 oorlede.

Sy vier kinders — Aletta[g1], Gertruida[g2], Fanie[g4] en Willie[g5] — met sommige van hul kinders en kleinkinders het 'n klein seremonie by die graf gehou om hul pa en oupa in herrinnering te roep. Op die tweede foto staan die jongste agterkleinkind, Peter Heinrich by die grafsteen.

Indeks van Nuusbriefartikels

Sedert die eerste Nuusbrief gedurende 1984 verskyn het, word 'n Indeks bygehou van alle persone wat in die Nuusbrief vermeld is, asook van alle algemene artikels.

Na tien jaar is 'n Indeks gepubliseer wat die eerste 40 Nuusbriewe gedek het. Nou na twintig jaar en met die publisering van Nuusbrief no 80 gee ons weer 'n Indeks uit.

Die Indeks is in A5 formaat, sodat dit maklik saam met die stel Nuusbriewe geliasseer kan word. Die Indeks kan bestel word by die Bondseketaris teen R6.00 per eksemplaar.

Afsterwe van Hennings

Dit is met leedwese dat ons verneem het van die afsterwe van drie Henning vrouens oor die afgelope drie maande. Ons het verneem dat Alma Mathildé Henning (gebore van Wyk) *2-7-1919 oorlede is op 21 September 2004 in Altena Huis, Strand. Sy was die eggenote van b7.c7.d10.e4. Christiaan Beyers Henning. Haar eggenote was in lewe Assistant Hoofbestuurder van die KWV.

Anna Elizabeth Henning (gebore van Deventer) *2-4-1935 is op 20 September 2004 te Pretoria oorlede. Sy was die eggenote van b1.c8.d6.e5.f5. Jacobus Sarel Henning. Annetjie is gebore op die plaas Geelhoutbos, in die Transvaalse Bosveld, as die oudste kind van Gerhardus en Bettie van Deventer.

Anna Elizabeth Henning

Kobus en Annetjie is getroud in Pretoria op 4 Junie 1956 en hul huwelik was geseën met twee seuns en 'n dogter. In Januarie 1999 is Annetjie met kanker gediagnoseer en na 'n baie moedige stryd, met Kobus deurentyd aan haar sy, is sy op 20 September 2004 oorlede.

Grethe Henning, die vrou van die tweede Voorsitter van die Familiebond, b7.c1.d10.e3.f5.g1. Leonard Henry Henning is na 'n kort siekbed oorlede op 12 September 2004.

Grethe (gebore Sejr Petersen) is gebore op 5 Augustus 1938 in Copenhagen, Denemarke. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is haar vader, Christiaan, deur die Gestapo gearresteer en na Duitsland gestuur omdat hy betrokke was by die Deense Versetbeweging. Grethe se moeder is mettertyd in kennis gestel dat Christiaan terreggestel is.

Sy het twee jaar later weer in die huwelik getree met 'n Deense ingenieur en het met 'n tweede familie begin. 'n Paar maande na die einde van die oorlog het 'n "geraamte" by hul voordeur verskyn — dit was Christiaan!

Hiermee het die familie se probleme begin. Grethe is in 'n koshuis geplaas, totdat die familie alles kon uitrafel. Dit het egter 'n paar jaar geduur. Uiteindelik is sy weer met haar moeder verenig.

b7.c1.d10.e3.f5.g1 Leonard Henry Henning en sy Deense vrou, Gretha

Grethe se stiefvader het as ingenieur gewerk in die pontboot-diens, maar was op die uitkyk vir ander werk. Gedurende 1953 word hy werk aangebied in Oos-Londen, Suid-Afrika, maar hulle moes hul eie pad vind na Oos-Londen. 'n Bootvervaardiger in Noorweë het hom die geleentheid gebied om as ingenieur van 'n nuwe vissersboot te dien en na Walvisbaai te reis. Grethe is as 'n veertienjarige dogter as die kok op die boot aangestel.

Die reis het amper vier maande geduur, want die boot, "Sandness" was met 'n enkelsilinder enjin toegerus en hulle moes maar versigtig vaar. Grethe het dit as 'n groot avontuur ervaar. Hierdie reis het 'n liefde vir die natuur en swerflus by haar gekweek.

As 'n jong meisie, wat nie een van die plaaslike tale kon praat of verstaan nie, het sy in Oos-Londen werk gekry as plekaanwyser in 'n bioskoop. Bedags het sy as lekkergoed-verpakker gewerk in 'n fabriek. Mettertyd is sy as apteek-assistant opgelei.

In 1957 tree sy in die huwelik met Len Henning. Hulle het vier dogters en nege kleinkinders. Gedurende hulle huwelik het die Henning gesin vir 'n tydperk van nege jaar in Noord-Rhodesië (Zambië) gewoon. Haar liefde vir die natuur het hier gegroei. Sy was altyd gereed om op een van die riviere of die Karibadam te vaar en met haar familie die buitelug en wilde diere te geniet.

Grethe is op 12 September 2004 na 'n kort siekbed te George oorlede in die ouderdom van 66 jaar. Sy is veras en haar as is in die see versprei naby Robbe-eiland, by Mosselbaai.

'n Henning Skoonheid ontmoet Jenson Button

Die wëreldbekende Formule 1 renjaer van Brittanje, Jenson Button (24) het gedurende Julie 2004 Suid-Afrika besoek om 'n foto-tentoonstelling van sy loopbaan bekend te stel. Button het 'n Afrikaanssprekende ouma, wie hy graag wou kom besoek. Daar is talle mense wat van mening is dat hy 'n toekomstige wêreldkampioen is, wat die Formule 1 Grand Prix reeks net so sal oorheers as wat Michael Schumacher dit tans doen.

Die Formule Een-renjaer, Jenson Button (regs) gesels met 'n groep jongmense.  Heel links is Aimee Henning

Tydens die foto-tentoonstelling in Kaapstad het verskeie jong mense die kans gekry om hom persoonlik te ontmoet. Een van die gelukkiges was b1.c6.d6.e4.f2.g1.h1. Aimee Sasha Henning.

Kosbare ou Familiefoto’s

Bondsekretaris, Olivier Henning is maar altyd op die uitkyk vir ou Henning familie-foto’s. Tydens die 2 Oktober familiefees het hy die volgende interessante foto ontvang.

Die twee broers, b6.c1.d3.e5.f1. Joseph Jooste Henning *15-5-1882 (heel links) en Barend Jacobus Henning *30-4-1884, saam met hul eggenotes, Johanna Marthina Coetzee *27-4-1888, vrou van Barend (middel) en Andrisina Getruida (Sienie) Coetzee *Junie 1886

Geldsake

Hierdie is al weer die laaste Nuusbrief van 2004. Ongelukkig moet ons weereens rapporteer dat daar nog steeds 'n paar lede is wat nog nie hul ledegeld vir 2004 aangestuur het nie. Weens die feit dat die Familiebond oor die afgelope jaar 'n hele paar groot uitgawes gehad het (soos die nuwe fotostaatmasjien — R12 500.00, Familiefees — ± R1 000.00, opgradering van ons rekenaar — R5 000.00) is ons bankbalans tans die laagste wat dit in baie jare was. Ons is dus baie afhanklik van die bydraes van ons lede.

Daar is nie 'n vaste bedrag neergelê wat lede moet bydra nie. Ons laat dit oor aan elke lid om self te besluit wat se bydrae hy/sy kan en wil maak. As riglyn meld ons dat lede se bydraes tans wissel tussen R60.00 en R300.00 (met R100.00 as die mees gewilde bedrag). Daar is egter lede wat groter bydraes maak, maar daar is ook lede wat kleiner bydraes maak. ALLE BYDRAES IS EWE WELKOM.

Ons stuur alreeds saam met hierdie Nuusbrief die rekeninge vir 2005 uit, met die versoek dat, indien moontlik, lede voor einde Maart hul bydraes moet aanstuur.

Nog Familiefees Foto’s

Vrolik wapper die Henning wimpels oral op die feesterrein.  Feesgangers kuier lekker in die koelte van groot bome.  Kloksgewys:  Wena Henning, Sylvia Grobler (néé Henning) Sauer van Straaten.  Gert Grobler en Alet Grobler Bondsekretaris, Olivier Henning gee 'n oorsig van die Familiebond se prestasies oor die afgelope twintig jaar