Nr 55

Augustus 1998

Indeks:

NOG 'N NEGENTIGJARIGE HENNING

Oom Len Henning van Dalview, Brakpan het op 24 Julie 1998 negentig jaar oud geword. Al sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders, asook verskeie ander familielede en vriende het op Saterdag 25 Julie gesellig saam met hom en sy vrou Ellie verkeer.

Van oor die hele land het hulle gekom om 'n heuglike dag saam met oom Len, met sy goeie humorsin en spitsvondigheid deur te bring.

b7.c8.d8.e3. Leonard Henning * 24-7-1908

Vir 'n negentigjarige geniet oom Len nog baie goeie gesondheid, hoewel sy gehoor ongelukkig ingegee het. Hy werk nog ses dae per week en vervaardig pragtige meubels. Die afgelope jaar of twee pak hy egter nie meer groot take soos ingeboude kaste, ensovoorts aan nie, en hou hom besig met kleiner items soos skinkborde, koffietafels, ensovoorts. Hy werk ook nie meer agt ure per dag nie. Soos hy self sê: "Hy maak nou maar soos almal in die Nuwe Suid-Afrika maak. Hy verneuk die baas maar so 'n bietjie". Hy sê dat hy deesdae ook soos alle parlementslede is - hy vergeet ook alles.

Dit is egter nie heeltemal waar nie, want oom Len kan van sy skooldae af 'n volledige relaas van sy lewe gee. Hy onthou selfs nog die name van sy onderwysers en talle ander mense met wie hy in sy jong dae te doen gehad het.

Vanaf die stigting van die familiebond in 1984 het oom Len alle Henning byeenkomste - familiefeeste, jaarvergaderings, ensovoorts - bygewoon, ongeag waar dit gehou is - of dit in Pretoria, Bloemfontein, Aliwal-Noord, of waar ookal gehou is. Hy, met sy rooi Datsun bakkie (en later met sy Nissan Sentra) was altyd daar.

Hy is ook die persoon wat op 83-jarige leeftyd die fasade van die Henning uitstalling in die Aliwal-Noord dorpsmuseum gebou het. Die meerderheid van die items wat in die museum uitgestal word, kom ook van oom Len en sy broers af.

Sy lewensverhaal, soos hy dit self geskryf het, en die getikte teks daarna sonder 'n bril geproeflees het, verskyn hieronder.


KEN ONS LEDE

In hierdie Nuusbrief stel ons graag vir b7.c8.d8.e3. Leonard Henning (oom Len) van Gerrit Maritzlaan 12, Dalview, Brakpan bekend. Hier is sy verhaal:

Ek is gebore in 1908 op die plaas Damfontein in die distrik Aliwal-Noord. Damfontein was een van die mooiste plase in die hele Noord-Oos Kaap. Daar was die lekkerste vrugte, van alle soorte, wat mens kon kry.

My kinderjare op Damfontein was van die gelukkigste wat mens kon beleef. Ek onthou vandag nog baie dingetjies wat my ouers ons as kinders geleer het. Ek onthou dat my ma ons geleer het dat as ons eet, ons ons kos behoorlik moet kou, want dit is die eerste fase van vertering. Ek onthou ook baie goed dat my ma vir ons geleer het dat die heel eerste ding wat ons elke oggend moes doen, was om ons gesig, en veral om die oë, deeglik te was.

Iets anders wat albei my ouers my geleer het, wat my vandag nog van pas kom, is dat alles wat jy doen moet jy doen na die beste van jou vermoë, en dit wat jy doen moet 'n doel dien, anders mors jy tyd.

Nou kom ek by 'n tweede fase van my kinderjare. My pa is oorlede in die jaar 1918 - die 18 de Oktober, wat Swart Oktober genoem is weens die baie mense wat daardie maand weens griep oorlede is. Van toe af was daar 'n hele paar moeilike jare. Ons was sewe kinders in die huis. My oudste broer was maar tussen 15 en 16 jaar oud - te jonk om na die boerdery om te sien en nog op skool. My jongste suster was maar 'n paar maande oud. My ma moes dus maar self die boerdery waarneem, totdat ons seuns oud genoeg was om skool te verlaat. Toe ek 16 jaar oud word, moes ek ook skool verlaat om met die boerdery te help.

Gedurende hierdie jare het 'n hele paar dinge ook gebeur wat ons nadelig beinvloed het. 1919 was die groot droogte, toe baie vee gevrek het. 1921 was die groot depressie - dit het 'n hele paar jaar sonder enige inkomste beteken.

Ek wil melding maak van 1927/28, toe ons met ons vee moes trek vanaf Damfontein na die Ugie distrik. Dit was 'n wonderlike ervaring vir 'n jong man. Toe kom 1933 met die ontsettende groot droogte. Ek moes 'n ander plan maak vir 'n inkomste. Ek het vir 'n tydlank, tot 1935, vir my neef in Oos-Londen in sy melkery gewerk. Gedurende April 1935 is ek met Nettie Kruger van Burgersdorp getroud. Ek het haar vyf jaar vroeër, gedurende 1930, op ons plaas ontmoet. Ons en die bure het 'n piekniek gehou. Haar oom was een van ons buurmanne en toe het Frances Du Plessis, wat op die buurplaas skoolgehou het, haar saamgebring. Vir vyf jaar lank kon ons nie aan trou dink nie omdat ons gedurende die depressie geen inkomste gehad het nie.

Ons is op Burgersdorp getroud. Ek het egter dadelik 'n werk in die spoorweg werkswinkels op Uitenhage gekry. Hier het ek wonderlike ondervinding opgedoen, wat ek in my latere loopbaan nodig gekry het. Daar het ek drie jaar lank gewerk. Ons eerste kind is in hierdie tyd te Uitenhage gebore.

Hierna is ek terug Damfontein toe. Daar kom toe 'n buurplaas - Caledonia - in die mark en ek koop die plaas met 'n Landbanklening. Vir vier jaar lank het ek op Caledonia geboer. Gedurende hierdie tyd het ons nog drie kinders gehad. Caledonia was 'n mooi plaas, maar vir daardie deel van die land was die plaas te klein om ekonomies op te boer.

'n Niggie van my, Alice Cookson, wat op die Witwatersrand gewoon het, het aan my voorgestel dat ek die plaas verkoop en na die Rand verhuis, omdat daar baie werk beskikbaar was. Gedurende daardie tyd moes ons kinders begin skoolgaan en daar was nie skole in die omgewing nie.

In 1947 het ek toe 'n huis in Brakpan gekoop en ek het feitlik dadelik 'n goeie werk gekry by 'n boukontrakteur. Ongelukkig het ek uitgevind dat bouwerkers nie 'n konstante en standvastige werk gehad het nie - daar was tye wat hulle nie werk gehad het nie. Toe kry ek 'n goeie werk by Hunt, Leuchars & Hepburn, wat 'n baie goeie firma was in die maak van boumateriale, kerkbanke, ensovoorts. Na die dood van een van die vennote het hulle egter hulle fabriek te Brakpan gesluit en moes ek weer ander werk soek.

Ek kry toe werk by Stuart Construction. Hierdie firma was betrokke by die vestiging van goudmyne te Welkom, in die Vrystaat. Ek moes dus vir 'n tydlank daar gaan werk. Gedurende hierdie tyd is ons vyfde kind gebore.

In 1949 kry ek toe werk by die Oos-Geduld goudmyn te Springs. Daar het ek 31 jaar lank gewerk - die gelukkigste jare van my latere lewe. Die ondervinding wat ek by my vorige werkplekke opgedoen het, het hier goed te pas gekom.

Ek het algemene herstelwerk op die myn gedoen. Na ek so 'n paar jaar daar gewerk het, sê die voorman hy wil vir my 'n groot werk gaan wys wat ek moes doen - 'n werk van meer as 'n miljoen Rand. Hy sê toe vir my "You know Henning, if all my men were like you, I`ll be able to do with half the staff and do double the work". Ek het dit te danke aan dit wat my leuse was: "Dit wat jy doen, doen jy tot die beste van jou vermoë en dit wat jy doen moet 'n doel dien". As gevolg van die goeie werk wat ek gelewer het, is alle ingewikkelde werk aan my opgedra. My bynaam by die Swartes op die myn was "Basie Kom-Kom". Later is ek ook genoem "Basie-Gatroer".

Toe ek die normale aftree-ouderdom van 65-jaar bereik, het die Hoofingenieur vir my gesê dat hulle nie kan bekostig om my te verloor nie. Ek het toe ingestem om nog vyf jaar lank vir hulle te werk. Ek het dus eers gedurende 1978 afgetree op sewentigjarige ouderdom. Dit was beslis die gelukkigste jare van my latere lewe. As ek gaan slaap het, het ek geen bekommernisse gehad nie.

Net voor my aftrede is my vrou oorlede. Gedurende 1981 is ek egter weer met die weduwee Ellie Evert getroud. Ons is nou al 17 jaar lank getroud.

Na my aftrede het ek mooi meubels begin maak. Dit was vir my baie lekker om vriendelike gesigte te sien, wanneer mense die goed in ontvangs geneem het. Ek maak nou op negentig-jarige leeftyd nog steeds meubels en dit is nog steeds vir my baie lekker om meubels te maak, wat sterk genoeg is om vir 'n hele paar geslagte te hou.

Talle mense het al vir my gevra waaraan ek my goeie gesondheid toeskryf en dan was my antwoord altyd: "Goeie kos, d.w.s. drie goedgebalanseerde maaltye sonder fieterjasies, geen rook, slegs een glasie sterk drank as iets gevier moet word. Twee goeie vrouens, wat goed vir my gesorg het, het ook 'n rol gespeel".


NOG INTERNET NUUS

Besoek die Henning Familiebond se Tuisblad op die Internet by http://www.henning.org

Die volgende e-pos is onlangs vanuit Australië ontvang: "Ek wil julle graag gelukwens met een van die beste genealogiese en familiegeskiedenis web-pages wat ek nog besoek het. Mag ander van julle leer. Sterkte en hou aan met julle navorsing.

Groete van Australië, André van Rensburg (Email: andre@clover.com.au)

ICQ - UIN: 1200333


'N 1997 AKADEMIESE PRESTEERDER

In Nuusbrief no 53 van April 1998 het ons die name verstrek van verskeie Henning jongmense wat op akademiese gebied presteer het. Ons het onder andere melding gemaak van b1.c3.d10.e10.f2.g2.h2. Andries Jacobus Henning wat vyf onderskeidings in die matriek eindeksamen behaal het.

Dries Henning van Vuurleliestr 103, Roodekrans het daarna vir ons laat weet dat gemelde Andries Jacobus Henning sy seun is. Dries skryf onder andere as volg oor sy seun (wat hulle Jaco noem):

Die toppresteerder, Andries Jacobus Henning, b1.c3.d10.e10.f2.g2.h2., wie vyf onderskeidings behaal het, is my seun. Ons het intussen van sy vraestelle laat hernasien en was hy suksesvol om in 'n sesde vak ook 'n onderskeiding te behaal.

Jaco het sy hele hoërskoolloopbaan by Hoërskool Roodepoort afgelê en was die afgelope drie jaar, vanaf St 8 tot 10 die Dux-student.

Jaco het sewe vakke in matriek gehad en sy slaagpunte met die matriekeksamen was as volg:

Rekenaarstudies - 99%

Ekonomie - 98%

Wiskunde - 97%

Bedryfsekonomie - 96%

Rekeningkunde - 90%

Afrikaans - 80%

Engels - 78%

Gemiddeld - 91%

b1.c3.d10.e10.f2.g2.h2. Andries Jacobus (Jaco) Henning van Roodekrans

Jaco is nou ingeskryf as eerstejaar-student by RAU vir die B Com Rekeningkunde graad. Hy wil hom graag bekwaam as 'n geoktrooieerde rekenmeester.

Alhoewel Jaco heelwat tyd agter die boeke deurbring, is hy beslis nie 'n boekwurm nie en neem hy deel aan verskeie sportsoorte soos atletiek, landloop, tennis, gholf en krieket. Hy hou ook daarvan om hom met sy rekenaar tuis besig te hou.

Ons dank die Here vir 'n wonderlike seun met pragtige talente en bid dat hy ook deur hierdie talente ons Hemelse Vader sal verheerlik.

Van Familiebond kant wil ons weereens vir Jaco van harte gelukwens met sy pragtige prestasies. Al die Hennings in Suid-Afrika is trots op hom. 'n Foto van Jaco verskyn op die volgende bladsy.


WAT VAN CORNÉ?
Corné Grobler van Randburg

Ons het ook in Nuusbrief no 53 van April 1998 melding gemaak van die twee niggies Nerina Wilkinson (b7.c8.d8.e3.f2.g2.) en Cornelia Henning (b7.c8.d8.e3.f4.g2.) se prestasies. Dokter Nerina is aangewys as die kliniese assistent in plastiese snykunde wat die beste navorsing gedurende 1997 in Suid-Afrika gedoen het, terwyl Cornelia haar studies in Verpleegkunde voltooi het.

Hulle nefie, b7.c8.d8.e3.f6.g1. Corné Grobler het die Bondsekretaris spesiaal geskakel om beswaar te maak omdat hy nie ook genoem is nie. Corné het aan die einde van 1997 die Nasionale Hoër Diploma in Tandheelkundige Tegnologie behaal. Hy studeer tans verder vir 'n diploma in Rekenaarprogrammering.

Corné sê dat hy nog nie getroud is nie. Hy het 'n meisie en hy werk hard aan die verhouding.

Jammer ons het van jou vergeet Corné!

Dankie dat jy laat weet het.


DIE HENNING/TACK-FAMILIE VERBINTENIS
b7.c15. Cornelia Hendrina Lavina Henning * 24-6-1855, haar eggenote Adolf Andreas Emil Jean Tack en hul kinders, agter v.l.n.r. Andreas A.E.J. Tack * 18-7-1876, Elizabeth M. Tack * 8-9-1872, voor v.l.n.r. Adolf A.E.J. Tack * 25-5-1889, Gerbreg L. Tack * 5-10-1884, Cornelia H.L. Tack * 6-3-1892, Gert Frans Tack * 23-5-1882

In die vorige nuusbrief het ons melding gemaak van 'n mnr Neville Tack wat die Henning Familiebond se tuisblad op die Internet besoek en die hele geskiedenis van 'n groot deel van sy voorsate ontdek het. Sy ontdekking het ook groot voordele vir ons Henning genealogiese- en geskiedskrywing ingehou, omdat ons ook heelwat gegewens tot ons geskiedenis kon byvoeg.

b7.c15. Cornelia Hendrina Lavina Henning gebore 24-6-1855, die dogter van Gert Frans Henning en sy vrou Gerbreg Leviena Olivier van die plaas Damfontein, in die Aliwal-Noord distrik is met Adolf Andreas Emil Jean Tack getroud. Hulle het ses kinders gehad. Die name word by die foto hier onder verstrek. Adolf Tack is in 'n skietongeluk by sy winkel dood. Volgens oorlewering is sy weduwee 'n jaar na haar man se dood van verdriet oorlede. Die twee jongste kinders is hierna in 'n weeshuis te Graaff-Reinet opgeneem.


NOG 'N 90-JARIGE

Dit het onlangs onder ons aandag gekom dat b1.c3.d2.e2.f1.g1. Jan Victor Henning, gebore 25-6-1908 onlangs sy negentigste verjaarsdag gevier het. Oom Jan was vir baie jare 'n erelid van die familiebond. Op 'n stadium het sy pos adres onbekend begin terugkom en het ons alle kontak met hom verloor.

Ons is tans weer besig om sy spoor te vat en hoop om in die volgende nuusbrief meer volledig oor hom te berig.


KEN ONS LEDE

Ons is jammer om te rapporteer dat nie een van die lede van die familiebond tot wie ons 'n versoek gerig het om vir ons 'n artikel oor hulself te skryf, op ons versoek gereageer het nie. Dit is dus nie vir ons moontlik om enige Henning gesin in hierdie nuusbrief bekend te stel nie.


1998 ALGEMENE JAARVERGADERING

Ons herrinner graag al ons lede dat die familiebond se Algemene Jaarvergadering op 24 September 1998, op Erfenisdag, by die Kerksaal van die NG Kerk Lourensrivier in die Strand gehou sal word. Die kerk is op die hoek van Broadway-(R44) en Da Gamastr - die eerste verkeerslig op die R44, oorkant Gerrit Maass Motors, die BP Garage.

Die verrigtinge sal reeds om ongeveer 11:00 uur begin wanneer die braaivleisvure aangesteek word. Die vergadering sal tussen 14:00 uur en 14:30 uur begin, dog sal nie langer as 'n uur duur nie.

Selfs al sou die weer nie saamspeel nie, gaan ons 'n groot feestelikheid van die verrigtinge maak. Ons wil 'n ernstige beroep op al ons lede in die Wes-Kaap doen om hierdie datum in hul dagboeke aan te teken.


1998 LEDEGELD

Daar is nog steeds 'n hele aantal lede wat nie hul ledegelde vir 1998 aangestuur het nie. Ons wil 'n beroep op al hierdie lede doen om dit maar so gou as moontlik te doen, want ons het die geldjies nodig om die familiebond aan die gang te hou.