Nr 52

Desember 1997

Indeks:

OUDSTE HENNING OORLEDE
Tant Kleintjie Henning is onlangs in die ouderdom van 101 jaar oorlede

Tant Kleintjie Henning van Brakpan op 101 jaar oorlede

Die Henning wat die oudste nog geword het, is in die laaste week van November 1997 in die ouderdom van 101 jaar oorlede. Sy was "tant Kleintjie" Henning wat vir sewe jaar lank 'n inwoner van die Frank Mynhardt Tehuis vir Bejaardes te Brakpan was.

Sy is op 25 Julie 1896 as Helene Maria Terblanche gebore. Sy was een van die min mense van ons tyd wat in twee eeue geleef het. As kind en slagoffer van die tweede Vryheidsoorlog het sy die aanslae van haar tyd deurleef en oorwin.

Sy het in 1915 gematrikuleer en was een van die min vroue van haar tyd wat destyds universiteitsopleiding gehad het. Dit was aan die destydse Gray University College, wat later die Universiteit van die Oranje Vrystaat geword het.

Tant Kleintjie was een van die eerste vroue in die twintiger jare wat haar eie motor besit het. Sy het selfs in 1935 'n swaar voertuig lisensie (kode 11) gekry.

As gekwalifiseerde onderwyseres het sy haar merk gemaak op letterlik duisende leerlinge, en het ook Afrikaanse klasse aan immigrante gegee.

In haar veertiger jare is sy getroud met die wewenaar Klasie Henning (b1.c3.d7.e9. NICOLAAS JOHANNES HENNING * 7-8-1880) van Zastron. Hy was 'n vooraanstaande sakeman, boer en Burgemeester van Zastron.

Later het sy as enkellopende haar merk gemaak as leerkrag in verskeie bekende hoërskole. Sy het tot op 75-jarige ouderdom skoolgehou en daarna nog steeds deeltydse klasse aangebied en as eksterne matriek-eksaminator opgetree.

Haar belangstelling in sport en politiek het nooit vervaag nie, selfs in die afgelope paar jare van blindheid.

Op haar honderdste verjaarsdag op 25 Julie 1996 het sy gesê: "'n Mens kan maklik die geskiedenis van die wêreld se nasies in die konteks van 100 jaar volg, maar om daardie honderd jaar self te beleef is 'n besondere voorreg."


KEN ONS LEDE
Frans Henning van Fochville

In hierdie nuusbrief wil ons graag vir b1.c6.d3.e11.f3.g2. Francois De la Rey Henning (Frans) en sy vrou Maria Christina (Pieta) bekendstel. Frans het hierdie stukkie reeds gedurende 1994 vir ons geskryf en 'n rekenaar slapskyf waarop 'n foto van homself inskandeer is vir ons gestuur. Aanvanklik kon ons nie die foto van die slapskyf onttrek nie. Onlangs het Frans egter vir ons weer 'n fototjie van homself gestuur. Ons publiseer dus nou Frans en Pieta se verhaal. Sedert hy dit vir ons geskryf het, het hulle na Fochville verhuis.

Ek is in Volksrust gebore, maar het my verstand gekry toe ons aan die Rand gewoon het. Nadat ek st 5 aan die Krugersdorp-Wes Afrikaans Medium Laerskool geslaag het, het ons na Zastron verhuis. Daar het ons gewoon totdat ek matriek geslaag het. Na matriek het ek by die Departement van Justisie gaan werk. Twee maande nadat ek begin werk het, is ek na Saldanhabaai om my militêre diensplig in die Vlootgimnasium te verrig.

Na 'n paar verplasings deur die Departement van Justisie het ek in Nylstroom beland. Na ongeveer ses minder gelukkige maande in die diens het ek bedank en vir Anglo American Corp. as veldassistent gaan werk. Dit was tydens my omswerwinge in die Bosveld wat ek 'n plaasnooi met die naam Pieta Knoesen ontmoet het.

Vroeg in 1970 het ek by die Pretoriase Stadsraad diens aanvaar. Later dieselfde jaar is ek en Pieta getroud. Nadat ek die graad BA deur middel van buitemuurse studies behaal het, en ons 'n draai in Israel gemaak het, is ons eersteling, Francois, in 1976 gebore. Margery het in 1980 gevolg.

Die Stadsraad het my na die Pretoria Technicon gestuur waar ek in 1984 die sertifikaat in Organisasie-en-Werkstudie verwerf het.

Augustus 1985 pak ons op en verhuis toe terug na die beskawing en vestig ons in Bloemfontein, waar ek 'n betrekking by die Bloemfonteinse Stadsraad aanvaar het. Gedurende 1988, net na die vloede, stuur die stadsraad my weer na die Pretoria Technicon waar ek toe die Sertifikaat in Bestuurstelsels verwerf het.

September 1992 word ons derde kind (en laatlam), Delarey gebore.

Tydens 'n uitstappie van die plaaslike tak van die Geologiese vereniging, waarvan ek 'n lid is, is die behoefte uitgespreek na 'n plaaslike tak van die SA Argeologiese Vereniging. Ek en 'n argeoloog van die Nasionale Museum het die wiele aan die rol gesit en 'n plaaslike tak gestig. Ons as gesin geniet die uitstappies van hierdie vereniging altyd terdeë.

So 'n jaar of wat terug het ons in die nuusbrief berig oor 'n baie belangrike argeologiese fonds wat Frans se seun in Bloemfontein opgespoor het.


INTERNET EN DIE HENNING FAMILIEBOND

Besoek http://www.henning.org op die Internet

Baie dankie aan al die lede wat al die Henning Familiebond se Webbladsy op die Internet besoek en daarna vir ons 'n boodskap van gelukwense gestuur het. Ons waardeer julle bydraes en voorstelle geweldig. Vir my as Bondsekretaris is dit ook 'n nuwe veld waarvan ek niks weet nie en wat ek onder die knie moet kry. Waar ek by my nuwe woning hier in die Overberg nog nie 'n Telkom telefoon het nie, beteken dit dat ek vir hierdie diens op ander mense moet staatmaak. Gelukkig is daar verskeie familielede wat hiermee behulpsaam is, waarvan my suster Leonie Steyn van Brakpan, haar dogter Jannetta Lewis van London, Engeland en my broer se seun, Rudolf Henning van Bellville die grootste bydraes lewer.

Rudolf is tans besig om al die hoofstukke en foto-album van die Henning Familie-kroniek voor te berei om op ons webbladsy in te voer. Rudolf se kennis van rekenaars en belangstelling in die genealogie maak hom die ideale kandidaat om mettertyd as Bondsekretaris by my oor te neem.

Die Afrikaanse weergawe van ons webbladsy is reeds byna voltooi. Daar is wel heelwat foute wat mettertyd reggestel sal moet word, dog ons glo dat die informasie wat reeds daar is, van onskatbare waarde is. Binnekort sal ons met die vertaling van ons bladsy in Engels moet begin, wat 'n baie groot taak sal wees.

Ons sou ook graag gedeeltes van ons webbladsy in Duits wou vertaal, om dit vir die Europeërs (veral Duitsers) verstaanbaar te maak. Ongelukkig het ons tans nie iemand wie se kennis van Duits goed genoeg is om die vertaalwerk vir ons te doen nie. Is daar miskien enige van ons lede wat kans sien om hiermee te help?

Vir diegene wat nie weet wat die Internet is nie - dit is 'n wêreldwye netwerk van rekenaars wat deur mense regoor die wêreld gebruik word om inligting beskikbaar te stel en met mekaar te kommunikeer. Dit is tegnologie wat van die vinnigste in die wêreld ontwikkel. DIT IS WERKLIK 'n PRESTASIE VIR DIE HENNING FAMILIEBOND OM SO 'N OMVATTENDE WEBBLADSY OP DIE INTERNET TE Hê


HENNING HUWELIKE

b1.c3.d7.e9.f1.g2.h1. Wilma Henning van Die Wilgers, Pretoria is op 15 November 1997 te Pretoria in die huwelik bevestig met Pieter van der Merwe. Ons het reeds verskeie kere oor die afgelope paar jaar in die nuusbrief berig oor Wilma en haar susters se akademiese prestasies in matriek en op universiteit. Wilma is die dogter van Nico en Marita Henning van Die Wilgers, Pretoria. BAIE GELUK EN VOORSPOED WILMA EN PIETER!


AFSTERWE VAN HENNINGS

Dit is met leedwese dat ons verneem het van die afsterwe van b7.c8.d5.e10.f5.g1. Amori Henning van Bloemfontein op 29 September 1997 in die ouderdom van 25 jaar. Sy het die afgelope twee jaar aan leukomie gely en is in die Johannesburg Algemene Hospitaal oorlede. Sy was die dogter van Japie en Mabel Henning van Roodepoort.

Dan het ons ook verneem dat Amori se oupa se broer, b7.c8.d5.e11. Cecil Andrew Henning op 2 November 1997 in die ouderdom van 81 jaar en 11 maande oorlede is. Oom Cecil was die jongste van elf kinders en is die laaste van sy broers en susters wat oorlede is. Hy was vir baie jare 'n boer op die plaas Golden Valley in die Tarkastad distrik.


GRADUANDI

Vir baie jare lank was die universiteite in die Noorde van Suid-Afrika (Universiteit Pretoria, Randse Afrikaanse Universiteit, Universiteit van Oranje-Vrystaat en veral die Potchefstroomse Universiteit vir CHO) die enigste universiteite waar Hennings gestudeer en gegradueer het. Dit was 'n uitsondering as 'n Henning aan enige ander universiteit studeer het.

Dit kan sekerlik toegeskryf word aan die feit dat die Henning familie nog nooit Wes-Kapenaars (of sogenaamde Kolonialers) was nie. Selfs die Henning stamvader was nooit 'n "Kolonialer" nie. Hy het reg van die begin af op die Oos-grens van die Kolonie gewoon en was as 'n Trekboer meer buite die kolonie as daar binne. Sy nasate was almal Trekboere of Voortrekkers, wat mettertyd burgers van die Boererepublieke geword het. Diegene wat in die Noord-oos Kaap agtergebly het, het baie meer aanklank gevind by hul volksgenote in die Boererepublieke as by die Britsgesinde kolonialers. Die oorgrootte meerderheid Hennings woon vandag nog in die Transvaal en Vrystaat.

Dit blyk duidelik dat die Hennings oor die afgelope paar jaar ook aan die sogenaamde "Groot Trek" na die Suide begin deelneem het. Aan die einde van 1997 het daar nie minder as vyf Henning jongmense grade aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. 'n Spesiale woord van gelukwense word gerig tot b5.c1.d3.e1.f2.g2.h3. Ockert Johannes Henning van Belville wat sy M Com graad in Ondernemingsbestuur verwerf het. Ockie is die seun van Hannes - en wyle Ann Henning van Brackenfell.

Ongelukkig beskik ons oor te min besonderhede om die ander vier Henning graduandi te identifiseer. Hulle is:

Esme Marelien Henning, B Sc

Johan Henning, Hons B Rek

Heste Henning, MB, Ch B

Liezle Cetilde Henning, B Cur


ERFENISDAG

Op Erfenisdag, 24 September 1996 was die Henning familiebond die eerste en enigste familiebond in Suid-Afrika wat aan 'n Erfenisdag kermis (of uitstalling) van die Noord Transvaal tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, saam met 'n verskeidenheid ander instellings by die Voortrekkermonument museum in Pretoria deelgeneem het. Ons uitstalling was beslis een van die bestes (indien nie die heel beste nie) en het slegs positiewe kommentaar uitgelok. Ons stalletjie is deur meer as 400 persone, waaronder talle buitelandse toeriste, besoek. Ons het breedvoerig hieroor in Nuusbrief no 48 van November 1996 berig.

Ongelukkig het ons Bondsekretaris sedertdien na die Suid-Kaap verhuis en is ons nie genooi om aan die 1997 kermis deel te neem nie. Dit is vanjaar by die nuwe Kultuurhistoriese Museum in Visagiestraat, Pretoria gehou. Daar was vanjaar agt familie uitstallings saam met die ander instellings wat uitstallings voorberei het. Weens die feit dat hierdie museum nog relatief onbekend en oor die algemeen deur baie min mense besoek word, was die kermis vanjaar nie so 'n groot sukses gewees nie. In die toekoms sal daar beslis na die plek van aanbieding gekyk moet word.

Waar dit gedurende 1996 meer as drie maande geneem het om die Henning uitstalling voor te berei en twee dae geneem het om dit alles na die Voortrekkermonument te vervoer, sal dit ongelukkig moeilik wees om alles te dupliseer, ten einde 'n stel in die Noordelike Provinsies beskikbaar te hê vir toekomstige kermisse.


LEDEGELDE

Dit is al weer tyd dat ons ons lede daaraan moet herrinner dat ledegelde vir 1998 betaalbaar is. Dit is weereens, soos die afgelope sewe jaar op R25,00 vasgestel. 'n Beroep word egter op lede wat dit kan bekostig gedoen om vir ons 'n groter bydrae te maak, want teen R25,00 per gesin per jaar kan ons beslis nie kop bo water hou nie - veral nie as daar gesinne is wat geen bydrae maak nie. Gedurende 1997 het daar byvoorbeeld meer as twintig gesinne nie hulle ledegelde betaal nie. Dit verteenwoordig R500,00, wat nie na baie geld klink nie, maar vir die familiebond die verskil tussen staande bly en tot niet gaan beteken. Die groot styging in posgeld gedurende April 1997 het veral 'n negatiewe uitwerking gehad. Ons hou asem op vir wat gedurende 1998 met posgeld gaan gebeur.

Ons wil 'n beroep op lede doen om die voorbeeld van Hannes Henning van Brackenfell in die Kaap te volg. Hy het so ver gegaan om 'n maandelikse debietorder van R50,00 ten gunste van die familiebond teen ons bankrekening in te stel. Hannes se bydrae hou die familiebond tans staande.

Diegene wat dit werklik nie kan bekostig om 'n R25,00 bydrae te maak nie, word versoek om vir ons te laat weet, sodat ons spesiale reëlings kan tref.


JAGTOG IN DIE WILDE WESTE

Bondsekretaris Olivier Henning het onlangs 'n jagtog in die Wilde Weste meegemaak. Kyk net wat het hy geskiet. Dit is nie net in Texas, Amerika waar alles groter en beter as elders is nie! (Wonderlik wat mens deesdae alles met die rekenaar kan doen)

Dit is vir baie mense maar moeilik om aan al die nuwe name in ons land gewoond te raak. Ons hoor dat die ou Oos-Transvaal nou Ma poep al lankal genoem word.

Ons wil maar weer ons ou klagte onder al ons lede se aandag bring, naamlik dat lede nalaat om ons van enige gebeurtenisse in hulle familiekring te verwittig. Sonder u bydraes is dit nie moontlik om die geskiedenis van die Henning familie op datum te hou of die nuusbrief gereeld uit te gee nie.

Ons vra maar weer dat diegene wat nog nie in die nuusbrief bekend gestel is nie, vir ons 'n artikeltjie oor u en u familie, asook 'n foto stuur.

Weens die feit dat my rekenaar 'n maand of twee terug die gees gegee het, is hierdie die eerste nuusbrief in 14 jaar wat nie op tyd - die eerste week van Februarie, Mei, Augustus of November - na lede versend word nie. Dit het ook saamgeval met my verhuising na 'n nuwe woning. Ek wil graag verskoning hiervoor aanbied.

Alle Hennings word 'n baie geseënde Kersfees en voorspoedige 1998 toegewens. Mag 1998 'n mooi en goeie jaar vir alle Hennings in Suid-Afrika wees.