Nr 50

November 1998

Indeks:

ONS BONDSEKRETARIS IS AL WEER AAN DIE GANG!!

In die vorige nuusbrief het ons berig oor ons Bondsekretaris wat skielik aan die einde van Februarie 1997 vanaf Wierdapark, Verwoerdburg na Villiersdorp in die Overberg verhuis het. Hy huur aanvanklik 'n huis in die dorp, terwyl daar vir hom en vroutjie Charlotte 'n huis op die wal van die Theewaterskloofdam by die Buiteklub gebou word. Die Theewaterskloof Buiteklub is ongeveer 8 kilometers buite Villiersdorp in een van die mooiste dele van Suid-Afrika - dit lyk tot 'n groot mate soos 'n Switserse toneel met die kristal helder meer tussen die lowergroen berge. Die mense sê dit is die laaste stop net voor die Hemel.

Tans gaan dit heel goed met Olivier en Charlotte in hul huurhuisie in die dorp. Die enigste probleem wat hulle met die huis ervaar is die feit dat daar geen ingeboude kaste in die huis is nie en hulle dus maar uit die bokse wat met hulle trek gebruik is, moet lewe. Om egter iets in die 156 bokse te vind, wanneer dit benodig word, is amper 'n onbegonne taak - veral vir Olivier wanneer hy met familiebondsake aan die gang is. Hierdie bokse staan opgestapel tot teen die plafon in twee kamers. Hulle kom egter op 'n manier reg en sien uit na die dag wanneer hulle eie huis klaargebou en gerieflik ingerig is.

Die feit dat hierdie nuusbrief op tyd verskyn bevestig dat die familiebond al weer aan die gang is. Met hierdie nuusbrief word daar 'n besondere mylpaal behaal. Dit is die vyftigste nuusbrief sedert die stigting van die familiebond en al vyftig het op tyd verskyn. Ongelukkig het ons baie min nuus oor die Hennings ontvang. Ons wil maar weer 'n ernstige beroep op al ons lede doen om vir ons te laat weet as daar enigiets interessants met hulle gebeur het. Dit is veral vir ons 'n jammerte dat ons lede nie reageer op ons versoek om iets oor hulleself vir die rubriek Ken ons lede te skryf nie. Die waarde van hierdie rubriek kan nie oorbeklemtoon word nie. Ons hoor ook nie van babas wat gebore word, of van Henning huwelike of selfs sterftes nie. Asseblief, help vir ons.


GELUK MET JUL VERJAARSDAE!!

'n Onlangse foto van Oom Piet Henning en sy vrou Nan

Ons het al so baie oor oom Piet en Tannie Nan Henning (b1.c3.d7.e9.f2.) van Zastron berig. Dit is twee van die Hennings wat die meeste woel en nuus maak. Ons kan nie nalaat om nou reeds vir oom Piet met sy verjaarsdag op 27 Junie geluk te wens nie. Hierdie jaar is oom Piet 'n VOLLE NEGENTIG JAAR oud. Hy is nog sterk en gesond en lyk nie veel ouer as sestig nie. Hy woel en werskaf nog elke dag in sy groentetuin. Hy sien selfs nog kans vir 'n bietjie rolbal, as hy opponente kan kry. Dit lyk regtig of oom Piet sy pen op minstens 'n honderd ingeslaan het.

In dieselfde asem wil ons dan ook vir oom Johannes Alwyn Henning (b5.c1.d3.e1.f15.) van Odendaalsrus en oom Leonard (Len)Henning (b7.c8.d8.e3.) (my pa) van Brakpan met hul verjaarsdae op 22 Maart en 24 Julie onderskydelik gelukwens. Op hierdie dae is hul albei 89 jaar oud. Oom Len werk nog ses dae per week in sy werkswinkel, waar hy pragtige meubels maak. Hoewel hy nie meer groot take aanpak nie, maak hy nog pragtige skinkborde, koffietafels en ander kleiner items. Ongelukkig het sy gehoor die afgelope paar jaar ingegee en hoor hy nie meer baie goed nie. Andersins gaan dit redelik goed met sy gesondheid.

Oom Johannes darenteen het op sy verjaarsdag sy eggenote, met wie hy 60 jaar lank getroud was, verloor. Verderaan in die nuusbrief stel ons vir oom Johannes en sy gesin bekend.

Vroeg in Maart 1997 is 'n Oom Piet Henning skynbaar oor Radio Sonder Grense gelukgewens met sy negentigste verjaarsdag. Weet enige van ons lede miskien wie hierdie oom Piet Henning is. As dit nie Oom Piet Henning van Zastron is nie, dan is hierdie Oom Piet Henning skynbaar die oudste Henning man tans in Suid-Afrika.

Oom Len Henning van Brakpan in sy werkswinkel besig om meubels te maak

Vroeg in Maart 1997 is 'n Oom Piet Henning skynbaar oor Radio Sonder Grense gelukgewens met sy negentigste verjaarsdag. Weet enige van ons lede miskien wie hierdie oom Piet Henning is. As dit nie Oom Piet Henning van Zastron is nie, dan is hierdie Oom Piet Henning skynbaar die oudste Henning man tans in Suid-Afrika.


DIE DORP TULBACH EN DIE HENNINGS

Die kerkgebou in Tulbach waar Pieter en Elizabeth Henning teen die einde van die Agtiende eeu hulle babas gedoop het. Dit huisves vandag die dorpsmuseum
Die preekstoel in die kerk (museum) te Tulbach wat in die dae van Pieter Henning gebruik is. Voor is die grafsteen van 'n 18de eeuse predikant

As mens aan die beginjare van die Henning familie in Suid-Afrika dink, dan kom die name Graaff-Reinet, Sneeuberge, Visrivier en die Oosgrens van die Kaapkolonie onwillekeurig by mens op. Hier aan die verste punt van die beskawing af, het die ou stamvader, Pieter en sy vrou Elizabeth 'n bestaan probeer maak. Hulle plaas, Elandskraal, was 20 uur se ry per perd van die naaste dorp, Graaff-Reinet, af. In vandag se omstandighede is dit omtrent so ver as wat Moskou of New York van Kaapstad af is. Vandag kan mens 'n reis van 20 ure in die gerief van 'n makro-straler, met 'n drankie in die hand, geniet. Twee honderd jaar terug was die vinnigste vervoermiddel 'n goeie ryperd.

Die dorp Graaff-Reinet het egter eers in die jaar 1786 totstand gekom. Die vraag kom dus dadelik by mens op: Wat het die Henning gesin voor die ontstaan van Graaff-Reinet gedoen. Waar het hulle hul inkopies gaan doen. Hoewel plaasboere tot 'n groot mate selfversorgend was, was daar tog sekere dinge wat hulle moes gaan koop; waar het hulle hul produkte gaan verkoop; waar het hulle kerk toe gegaan. Die dorp Graaff-Reinet het ook nie sommer net eensklaps ontstaan nie.

Pieter Henning en Elizabeth Engelbrecht is gedurende 1768 in die Drakenstein gemeente van die Kaapse Kerk getroud. Dit is vandag die dorp Paarl. Wat egter interessant is, is dat hulle eerste sewe kinders, wat almal voor 1786 gebore is, in die LAND VAN WAVEREN gemeente gedoop is. Die Land van Waveren is vandag die dorp Tulbach. Waar die Sneeuberge reeds meer as tien dae se ry per ossewa vanaf Drakenstein (Paarl) gele&euml is, hoekom het hulle hier verby gery tot by die Land van Waveren en dit met 'n pap babatjie. Al verklaring wat ons hiervoor kan gee, is dat die Land van Waveren gemeente toe die jongste gemeente was en dat alle verspreidwonende gemeentelede hulle babas hier moes gaan doop het.

Die kerkgebou in Tulbach wat gedurende die agtiende eeu gebruik is en waar die eerste sewe Henning kinders gedoop is, bestaan vandag nog en dien tans as die dorpsmuseum. Die preekstoel wat destyds gebruik is, is een van die belangrikste uitstalitems in die museum.


SKADE AAN ONS MUSEUM

Gedurende Februarie 1997 het ons verneem dat ons Henning museum te Aliwal-Noord skade opgedoen het, nadat 'n venster bokant ons uitstalling gebreek en dit daar ingere&eumln het. Ons Bondsekretaris was redelik bekommerd, want geld vir grootskaalse herstelwerk het ons nie. Met sy verhuising na die Kaap het hy Aliwal-Noord aangedoen om die skade te gaan beoordeel.

Ons is dankbaar om te kan berig dat die skade minimaal is. Dit is so dat 'n ruit bokant ons uitstalling gebreek het en dat dit daar ingere&eumln het. Slegs twee onbelangrike afdrukke van dokumente is egter effens beskadig. Die ruit is intussen alreeds deur die munisipaliteit herstel.

U kan gerus tydens u volgende vakansie probeer om ons museum te besoek. Aliwal-Noord het tans twee museums, dog het nie personeel vir albei nie. Die gebou waarin ons uitstalling is, word tans nie voltyds beman nie. Besoekers moet dus eers by die hoofmuseum te Smithstraat aanmeld en vra om die kerkplein museum te besoek.


SKOLETRADISIE

Monique Henning, haar ma mev Susanna Henning en haar ouma mev ME Rodgers wat al drie by dieselfde laerskool skoolgegaan het

By baie van die ou skole in ons land vind ons dat opeenvolgende geslagte van dieselfde familie na dieselfde skool gegaan het. Hierdie families is dan ook baie trots op hierdie prestasie.

By die Laerskool Kommando op Brakpan (waar ons Bondsekretaris ook skoolgegaan het) het 'n Henning familie so 'n paar jaar gelede ook hierdie prestasie behaal. b6.c4.d2.e5.f2.g5.h1.i2. Monique Henning, gebore 27-9-1980, haar ma mev Susanna Henning (gebore Rodgers) en haar ouma, mev M E Rodgers was almal leerlinge van die skool.

Is daar enige van ons lede wat weet van ander Hennings wat soortgelyke prestasies behaal het. Laat weet asseblief vir ons.


AFSTERWE VAN HENNINGS

Oom Joseph Henning van Pretoria wat onlangs oorlede is

Dit is met leedswese wat ons van die afsterwe van die volgende Hennings verneem het:

b7.c8.d5.e10. Oom Joseph Larmor Henning * 25-11-1912 is op 3 Maart 1997 in die ouderdom van 84 jaar en drie maande te Pretoria oorlede. Hy was 'n lid van die familiebond wat by 'n paar geleenthede ons jaarvergaderings of ander familiebyeenkomste bygewoon het. Verskeie van oom Joseph se kinders is lede van die familiebond. Op die volgende bladsy is 'n foto van hom.

Tannie Margaretha Maria Zacharia Henning, die eggenote van b5.c1.d3.e1.f15. Johannes Alwyn Henning van Kerkstr 148, Odendaalsrus is op 22 Maart 1997, op haar man se verjaarsdag in die ouderdom van 82 jaar en tien maande in die Hydromed hospitaal, Welkom as gevolg van hartversaking oorlede. Sy verskyn op 'n foto op die laaste bladsy van die nuusbrief.

Ons het ook verneem van die afsterwe van 'n Jan Hendrik Henning (77 jaar), in lewe van Uniondale, wat op 31 Maart 1997 oorlede is. Ons vermoed dat dit b1.c3.d4.e8.f3.g2. Jan Hendrik Henning * 14-12-1919 is. Is daar enige van ons lede wat dit vir ons kan bevestig.


1997 LEDEGELDE

Daar is nog verskeie van ons lede wat nog nie hulle ledegelde vir 1997 vir ons aangestuur het nie. Asseblief mense, ons het hierdie geldjies dringend nodig. Die verhoging in posgeld vanaf 70 sent na een Rand per standaard brief is 'n gevoelige slag vir ons finansies. Indien alle lede nie hulle ledegelde betaal nie, gaan die familiebond beslis in finansi&eumlle moeilikheid beland.


KEN ONS LEDE

b5.c1.d3.e1.f15. Johannes Alwyn Henning *22-3-1908, sy eggenote Margaretha en hul vier kinders v.l.n.r. Maryna, Annette, Diedrich en Elize

In hierdie nuusbrief stel ons graag vir b5.c1.d3.e1.f15. Johannes Alwyn Henning, gebore 22-3-1908 en sy gesin bekend.

Oom Johannes is op 22 Maart 1908 in die distrik van Dewetsdorp gebore. Na sy skoolopleiding was hy tydlank by die boerdery betrokke, maar sluit op 10 Desember 1929 by die Suid-Afrikaanse Polisie aan, waar hy tot 31 Maart 1977 dien - slegs 'n paar maande kort van 48 jaar. Hy was vir 13 en 'n half jaar lank te Kroonstad gestasioneer, vir drie jaar op Brandfort, vir drie jaar op Bethlehem en die laaste 25 jaar op Odendaalsrus. Sy rang met sy aftrede was Adjudant-Offisier (inspekteur soos dit nou genoem word.

Oom Johannes het so 'n bietjie tennis gespeel en was maar gedurig in en om die huis besig met die herstel van apparaat wat uit orde raak.

Die nooientjie Margaretha Maria Zacharia van den Berg word op 21 Mei 1914 in die distrik van Theunissen gebore as die kind van 'n polisiebeampte. Gevolglik is hulle heelwat rond verplaas. Van Pretoria na Kroonstad, na Hoopstad en daarna na Koppies waar haar vader afgetree het. Terwyl op Koppies sluit sy aan by die verpleegpersoneel van die hospitaal op Harrismith. Hier ontmoet die jongman Johannes Henning haar tydens 'n besoek wat sy aan 'n vriendin bring. Op 2 Maart 1937 trou hulle in die NG Moederkerk op Kroonstad. Uit hierdie huwelik is daar vier kinders gebore, naamlik Annette, Elize, Diedrich en Maryna. Margaretha werk op Odendaalsrus in 'n winkel en later as ontvangsdame by 'n geneesheer. Sy is ook baie vaardig met 'n naald en gare en maak feitlik al die klere van hulle dogters. Tussendeur speel sy ook 'n bietjie tennis.

Die oudste dogter, Annette, is op 8 Desember 1938 te Kroonstad gebore. Sy kwalifiseer as laerskool onderwyseres en trou met 'n saaiboer te Reitz. Hulle bedryf 'n baie groot rooskwekery. Die tweede dogter, Elize is ook te Kroonstad gebore en wel op 1 Maart 1942. Sy word ook 'n laerskool onderwyseres en werk haar hele loopbaan op Parys. Diedrich is op 27 Desember 1944 te Brandfort gebore. Hy studeer ook as onderwyser en wel te UOVS. Maryna, die jongste, wat op 23 Februarie 1949 te Bethlehem gebore is, is die enigste wat nog ongetroud is. Sy is 'n kleuterskool onderwyseres te Amanzimtoti. Sy is 'n atleet van formaat, wat al verskeie pryse verower het.

Op 2 Maart hierdie jaar verkeer die gesin gesellig saam om hul 60 ste huweliksherdenking te vier. Oom Johannes se eggenote het toe al jare lank gely aan kwale wat geen dokter kon raakvat nie. 'n Dag daarna verwys die dokter haar na die Hydromed hospitaal in Welkom. Daar is talle toetse uitgevoer maar sy het net elke dag swakker geword. Vroeg die oggend van 22 Maart 1997 - op oom Johannes se 89 ste verjaarsdag - is sy oorlede. Oorsaak van dood - hartversaking. Hulle het 'n lang en goeie lewe saam gehad.

Oom Johannes se drie getroude kinders (wat almal self reeds oupas en oumas is) het tot dusver gesorg vir ses agter-kleinkinders.


BONDSEKRETARIS WORD OUPA

'n Uur of twee voor hierdie nuusbrief op Sondag 4 Mei 1997 voltooi is, het die uwe en vroutjie Charlotte vir die eerste keer oupa en ouma geword. Ons dogter Hannelie, wat met Esra Swanepoel getroud is en te Worcester woon, het 'n babaseuntjie ryker geword. Met vreugde in ons hart dank ons ons Hemelse Vader dat alles goed afgeloop het en dat dit goed met ma en klein Esra gaan.


HENNING NUUS! HENNING NUUS!! STUUR ASSEBLIEF