Nr 119

Augustus 2014

Indeks:

Andries Pretorius monument te Graaff-Reinet

Die Andries Pretorius monument by sy nuwe standplaas. Regs van Bondsekretaris, Olivier Henning se voete is die gedenkplaat wat erkenning gee aan die instansies wat bygedra het tot die verskuiwing, o.a. die Henning Familiebond

Die Henning familie het ‘n baie lang verbintenis met Graaff-Reinet. Ons ou stamvader, Peter Henrich Henning *Des 1740 het reeds in 1779 sy intrek geneem in die gebied onder Bruintjieshoogte. In 1786 het hy permanent gaan woon op Elandskraal in die wyk wat as “Achter de Sneeuwberg” bekend geword het.

Die laaste nasaat van Peter Henrich, Johannes Jacobus Coetzee (S/v b10.c6.d3.e1. Lucya Aletta Henning) het die laaste gedeelte van hierdie plaas eers die afgelope tien jaar verkoop.

Ons lede sal onthou dat die Familiebond ‘n jaar of twee gelede ‘n bydrae gestuur het aan die Rapportryers en AB-tak van Graaff-Reinet wat geld ingesamel het vir die verskuiwing van die Andries Pretorius monument net buite die dorp. ‘n Plakkerskamp het in die omgewing ontstaan en vandale het begin om die monument te vandaliseer en te bevuil. Dit was te gevaarlik vir toeriste om daar besoek af te lê.

Reeds in 2003 is verskeie versoeke ontvang om die monument te skuif Baie voorstelle oor waar die monument geplaas kan word, het na vore gekom. Een van diél; voorstelle was om die monument op die perseel van die Graaff-Reinet-museum te plaas.

Anziske Kayster, die hoof van die Graaff-Reinet-museums, sê dat die trusteeraad het voorgestel dat die monument agter op die perseel van die Urquarthuis geplaas word, maar op die ou einde is daar besluit om dit in die nasionale park te vestig.

Peter Burdett, bestuurder van die Camdeboo Nasionale Park sê die spasie of onmiddellike omgewing van ’n monument moet in ag geneem word wanneer daardie monument hervestig word.

“Op die monument is Andries Pretorius se gesig gedraai in die rigting wat die Voortrekkers getrek het. Dit moes op ’n plek kom waar dit ook uitgebeeld word. Ek twyfel of dit dieselfde effek sou hê as dit by die museum gevestig was. Die Rapportryers, wat in beheer was van die verskuiwing, het toe gekies om dit in die park te sit.” Die Erfenisstigting het hierna betrokke geraak en het in 2012 met hul eie konstruksiespanne die verskuiwing van die monument behartig. Vir ‘n bietjie meer as ’n jaar lank kyk die Andries Pretorius-monument Noord vanuit sy nuwe tuiste in die Camdeboo Nasionale Park.

Die Gedenkplaat wat onthul is op 16 Desember 2012 by die nuwe standplaas van die Andries Pretorius monument
Die granietplaat met die name van die donateurs vir die verskuiwing van die monument. Die Henning Familiebond word duidelik vermeld

Sedert die monument op 16 Desember 2012 onthul is, besoek meer mense dit nou. In die maande sedert dit in die park opgerig is, het meer mense dit besoek in die enkele jaar as in 10 jaar by die ou perseel. Die monument is tans op die staproete deur die park, so baie toeriste stop daar.

Bondsekretaris, Olivier Henning en sy vrou Charlotte het op 23 Mei 2014 besoek afgelê by die monument. Hy glo ook dat dit die regte plek is. Daar sal net aandag gegee moet word aan die verfraaiing van die terrein om die monument. Tans is dit slordig en onnet. Hy het reeds ‘n vriendelike skrywe gerig aan die Rapportryers van Graaff-Reinet om druk op die munisipaliteit en Nasionale Park uit te oefen, wie se verantwoordelikheid dit behoort te wees.

Daar word op ‘n gepasde wyse erkenning gegee aan die bydrae wat die Henning Familiebond gelewer het.

Oorlewende Stigterslede van die Familiebond

Ons Familiebond het ‘n paar dae gelede – op 21 Julie 2014 – dertig jaar oud geword! DERTIG JAAR VAN GENADE! Want ek dink nie daar is iemand wat gedink het dat dit so lank sou hou nie. Daar is verskeie ander families wat ook familiebonde probeer stig het, maar slegs ‘n paar het meer as ‘n jaar of twee gehou. Nou, na dertig jaar, gaan die Henning Familiebond egter nog van krag tot krag. Ons het geleer dat met ‘n paar gewillige hande, wat nie na die eerste teleurstelling tou opgooi nie, mens ver kan kom. In hierdie beriggie kyk ons ‘n bietjie wat het van die stigterlede van die familiebond geword.

Gedurende Januarie 1980 het Olivier Henning begin met navorsing oor die geslagsregister en familiegeskiedenis van die Henning families van Suid-Afrika. Hy het ook ondersoek ingestel of die Hennings van Suid-Afrika op enige familiewapen aanspraak kon maak. Met verloop van tyd het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die nasate van Peter Henrich Henning nie op enige familiewapen aanspraak kon maak nie. Die enigste wyse waarop hierdie familie ‘n familiewapen kon bekom, was die stigting van ‘n familiebond. So ‘n familiebond kon dan ‘n wapen in sy naam laat ontwerp en deur die Staatsheraldikus laat goedkeur.

Olivier het toe die bul by die horings gepak en ‘n paar honderd Hennings van wie hy die adresse kon bekom uitgenooi na ‘n vergadering op 21 Julie 1984 by sy huis in Wierdapark, Verwoerdburg, met die oogmerk om ‘n familiebond vir Henning families te stig.

Ten spyte van deeglike beplanning kon hy glad nie voorsien wat op daardie dag sou gebeur nie. Hy het ‘n deeglik uitgewerkte agenda en ‘n konsep familiebond grondwet gereed gehad, maar wat gebeur as daar niemand opdaag nie?

Verskeie Hennings aan wie uitnodigings gestuur is, het voor die tyd verskoning gemaak. Die meerderheid het egter niks van hulle laat hoor nie. Maar toe die tyd vir die vergadering aanbreek, sit daar 26 mense in sy huis — genoeg om so ‘n stigtingsvergadering te hou!

Die volgende Henning’s het hierdie geskiedkundige vergadering bygewoon:

Van die Johannes Gerhardus Tak
b1.c3.d2.e2.f2.g1. Jan Hendrik Henning *3-2-1922 en sy vrou Sarie Johanna (gebore Marél;)*8-7-1926
b1.c3.d7.e9.f1.g2. Nicolaas Johannes Henning *1-10-1942 en sy vrou Marita (gebore Van Aarde)*6-6-1943
b1.c3.d10.e8.f3. Johannes Gerhardus Henning *25-4-1913 en sy vrou Magteld Magdalena Cathartina (gebore Steyn)*13-8-1913

Van die Jacobus Cornelis Tak
b5.c1.d3.e1.f7.g1. Jan Andries Henning *1-4-1929 en sy vrou Elsie Maria (gebore Roux)*4-1-1933

Van die Gert Frans Tak
b7.c2.d3.e5.f2.g3. Pieter Emile Henning *18-6-1943 en sy vrou Patricia (gebore Byrne-Davison) *5-1-1946
b7.c8.d5.e10.f2. Olivier Johannes Henning *8-3-1940 en sy vrou Anna Susanna Magdalena (gebore Prinsloo)*13-2-1941
b7.c8.d5.e10.f6. Elizabeth Brümmer (gebore Henning) *6-7-1948 en haar man Phillipus Le Roux Brümmer *19-11-1943
b7.c8.d8.e1. Stanley Henning *26-1-1904
b7.c8.d8.e1.f2.g2. Stanley Henning *20-10-1961
b7.c8.d8.e3. Leonard Henning *24-7-1908 en sy vrou Elsie Johanna (gebore Evert)*11-9-1922
b7.c8.d8.e3.f1. Leonetta Steyn (gebore Henning) *10-12-1936 en haar dogter Jannetta Sophia Steyn
b7.c8.d8.e3.f4. Olivier Johannes Henning *14-12-1943 en sy vrou Charlotte Francina (gebore Kleynhans) *25-6-1948
b7.c8.d8.e3.f5. Stephanus Rudolf Kruger Henning *1-5-1946 en sy vrou Hester Cornelia (gebore Kleynhans) *17-12-1950

Van die Jan Hendrik Tak
b9.c3.d3.e3.f4.g1. Hendrik Jacobus Henning *14-8-1920
b9.c3.d2.e3.f4.g2.h2. Nicolaas Gideon Christiaan Henning *11-2-1949

Van hierdie 26 stigterslede lewe nog net twaalf, en hulle is almal vandag nog lede van die Familiebond. Hulle is:
Nicolaas Johannes Henning *1-10-1942
Elsie Maria Henning (gebore Roux) *4-1-1933
Pieter Emile Henning *18-6-1943
Stanley Henning *20-10-1961
Elsie Johanna Henning (gebore Evert) *11-9-1922
Leonetta Steyn (gebore Henning)*10-12-1936 en haar dogter Jannetta Sophia Steyn
Olivier Johannes Henning *14-12-1943 en sy vrou Charlotte Francina (gebore Kleynhans)
Stephanus Rudolf Kruger Henning *1-5-1946 en sy vrou Hester Cornelia (gebore Kleynhans)
Nicolaas Gideon Christiaan Henning *11-2-1949

Van hierdie twaalf is drie nog steeds direk betrokke by die bestuur van die familiebond, nl Olivier Henning wat die Bondsekretaris is; Jannetta Steyn wat die Webmeester van ons Internet Webwerf is en Fanie (Stephanus Rudolf Kruger) Henning wat die afgelope 16 jaar op die bestuurskomitee dien. Dan is Stanley Henning *20-10-1961 ook nog aktief betrokke by aksies van die familiebond, bv die reëlings vir die 11 Oktober familiefees by Fort Schanskop, by die Voortrekkermonument.

Elsie Johanna Henning (gebore Evert) *11-9-1922 eggenote van wyle b7.c8.d8.e3 Leonard Henning *24-7-1908 is tans die oudste stigterslid wat nog leef. Sy woon in ‘n ouetehuis in Welkom.

Lita Henning van Argentinië

Lita Henning van Cordoba, Argentinië met weerskante van haar, haar suster, Gesina Spangenberg en swaer Thys Spangenberg toe hulle in Maart 2012 in Argentinië gaan toer het

b6.c1.d3.e5.f3.g4.h1. Angela Elena (Lita) Henning (72) is die enigste lid van die Familiebond wat in Argentinië woon. Sy is die derde geslag van haar familie wat daar gebore is en woon. Na ons beriggie in die vorige Haantjie (nr 117 van Feb 2014) oor die film wat moontlik gemaak gaan word oor die Boere wat aan die begin van die 20ste eeu na Argentinië emigreer het, het Lita vir ons geskryf. Ons plaas haar briefie ongeredigeer, omdat ons glo dat ons lede ook met verwondering sal lees hoe goed sy nog Afrikaans hanteer. Sy het nooit enige skoolopvoeding in Afrikaans gehad nie. Dit is hartseer as sy meld dat daar niemand meer is met wie sy in haar moedertaal kan gesels nie.

"Liewe Olivier baie baie dankie vir die nuusblad van ons familie ek wardeer dit baie en dit laat my voel asof ek daar is! Dit is ontroerig wat jy skryf, alles.

En wat my opval is die geskiedenis van ons familie hier in Arg. wat oupa vertel in sy boek, Ek hoop dat daar 'n film gemaak word, en ek offer my nou al om dit te vertaal na spaans met die beste wil.

Van taal gepraat die geslag soos ek volgens ek weet (ek is al buite die gemeente van Comodoro Rivadavia baie jare), praat min nageslag afrikaans , laas jaar het van Betty Kriger (familie van ons)(Red. Kruger?) se dogters met my oor die foon gepraat en sy sê net n bikie. Sy het soo te se en soos veel ander amper niks afrikans gepraat nie. Laat die mensdom my noem soos hulle wil, maar ek HOU VAS aan my moeder taal! al is ek alleen en het niemand om dit te praat nie, maar net te skreif met die mail, en alleen soos iemand wat hardop dink!

Jammer die ongelukke wat in die blad is - dit is ontroerind.

Nogmals baie dankie vir die nuus blad. Baie groete aan al die familie en vir joun soen ek, hoop ons sien mekaar eendag,kom kuier Arg. toe! Liefde van Lita."

Henning’s met geen vrees!

Mary-Ann Henning (51) van Wierdapark Centurion besig om vry te val nadat sy uit die vliegtuig gespring het. Die afrigter is darem byderhand om seker te maak alles loop reg

Mary-Ann Henning (gebore Nel) *28-5-1963, vrou van b7.c8.d8.e1.f2.g2. Stanley Henning is sekerlik een van die fikste en sportiefste Henning’s in Suid-Afrika. Sy het nou al by herhaling deelgeneem aan die Comrades Ultra Marathon, die Twee Oseane Ultra Marathon, die 100 myl Washi Ultra Marathon en honderde ander padwedlope. Sy bedryf ook ‘n swemskool by haar huis. Sy het nou laat weet van haar en haar dogter, Anél;l se jongste ervarings.

“Ek en Anél was Mosselbaai toe vir so 6 dae - hierdie was een van die beste ervarings ooit. Mense doen dit so gou julle kan - 35 sekondes vryval uit 'n Cessna 182, daarna so 4 na 5 minute rustige sweef met die valskerm terug na moederaarde! Wat 'n uitsig, wat 'n lekkerte, wat 'n voorreg!! WOW!!!”

Henning Babas

Heleen Henning, vrou van b5.c1.d5.e6.f1.g3.h4.i2. Janus Henning en haar pasgebore seuntjie, Johan Mary

b5.c1.d5.e6.f3.g1.h4.i2. Johannes Jacobus (Janus) Henning *18-6-1982 en sy vrou, Heleen (gebore Naude) *6-3-1982 se eersteling, ook Johannes Jacobus Henning, met noemnaam, Johan is op 22 April 2014 te Mosselbaai gebore.

Sterftes

Rudolph Cornelis Henning wat op 26 Maart 2014 oorlede is

b9.c1.d2.e1.f5.g4. Rudolph Cornelis Henning is op 26 Maart 2014 oorlede. Hy is op 21-7-1935 in Alberton gebore en het daar grootgeword. Na skool het hy by `n firma, National Mineral Products (NMP), in Germiston begin werk. Hy het instandhouding van ketels (Boilers) vir hulle gedoen. Hy werk by die firma tot sy aftrede waarna hy en sy broer Ockert `n algemene handelaarsbesigheid in Blythedale beach in Natal begin. Daarna het hy `n winkel in Tzaneen gehad maar het later weer na Alberton teruggekeer. Hier het hy by die mark gewerk totdat hy finaal afgetree het. Hy en sy eggenote, Naomi Immelman, was vir 57jaar getroud. Voor haar dood in Julie 2008 het hulle terug na Tzaneen verhuis. Hy het daar bly woon tot sy afsterwe op 26 Maart 2014. Rudolph se begrafnisdiens is op 1 April 2014 uit die AGS kerk in Alberton gehou waarna hy in die Alberton begraafplaas begrawe is.

b10.c6.d3.e2.f1. Miriam Henning *30-3- 1924 wat op 3-9-2013 oorlede is. Haar tweede huwelik was ook met ‘n Henning, nl b7.c5.d1.e4.f5. Willem Lodewicus Jansen Henning *23-8- 1921. Hulle het te Graaff-Reinet gewoon

Ons het ongelukkig eers onlangs verneem van die afsterwe van ‘n dubbele Henning, nl b10.c6.d3.e2.f1. Miriam Henning *Cradock 30-3-1924. Miriam was die dogter van b10.c6.d3.e2. Daniël Stephanus Henning *1898 en sy vrou Hester Maria van Heerden. Sy was vir baie jare getroud met Willem Nicolaas Petrus Snyman, maar na sy dood in 1965 is sy in 1975 getroud met b7.c5.d1.e4.f5. Willem Lodewicus Jansen Henning *23-8-1921. So het sy haar tweede genealogiese nommer in die Henning geslagsregister gekry.

Miriam is op 3 September 2013 te Graaff-Reinet oorlede. Haar familie was die laaste Henning’s wat op Elandskraal, die plaas van die stamvader, Pieter Hendrik Henning gewoon het.

Finansies

Baie dankie aan ons drie lede wat voortgaan om maandeliks per debietorder bydraes te lewer – Jan Andries Henning van Leraatsfontein, Witbank; Jan Hendrik Henning van Glenstantia, Pretoria en Past Antonie Henning van Rietfontein, Pretoria. Julle bydraes is van onskatbare waarde!

Ons moedig graag ons ander lede ook aan om dit te oorweeg om ‘n klein bedraggie van so min as R20.00 tot R30.00 maandeliks per debietorder by te dra. U bepaal self hoeveel u kan bekostig en tref self die reëlings met u bank. U het dus volle beheer oor die transaksie.

Die Familiebond se bankbesonderhede is as volg: ABSA Bank Villiersdorp (tak 334-612), Rekening naam: Henning Familiebond, Rekening nommer 2890 610 423

Baie dankie ook aan almal wat oor die afgelope drie maande eenmalige bydraes gelewer het. Ons meld graag die name van diegene wat ruim bydraes gelewer het:
Johannes Jacobus Henning van Monumentpark, Pretoria – R500.00
Wiena Wilkinson (gebore Henning) en haar man Aubrey – R350.00
Stanley – en Mary-Ann Henning van Wierdapark, Centurion – R300.00 en hul twee kinders:
Heinrich George Henning van Zwartkops, Centurion – R300.00 en
Anél;l Henning van Eldoraigne, Centurion – R300.00

Len Henning word 80!

b7.c1.d10.e3.f5.g1. Leonard Henry (Len) Henning *26-3-1934 wat hierdie jaar 80 jaar oud geword het. Lees ook die volgende artikel oor hom, sy pa en sy dogter

b7.c1.d10.e3.f5.g1. Leonard Henry (Len) Henning *26-3-1934 het vir baie jare in die bestuurskomitee van die Familiebond gedien. Hy was ook vanaf 1995 tot 1997 Voorsitter van die Familiebond. Len was altyd ‘n baie aktiewe lid en steunpilaar. Hy is sekerlik een van die trotste Hennings in Suid-Afrika.

Op 26 Maart 2014 het hy tagtig jaar oud geword. ‘n Klein, intieme groepie familie en vriende het dit saam met hom by sy huis in Wildernis gevier. Len was omring deur sy vier dogters, vyf van sy nege kleinkinders en vier van sy agt agterkleinkinders. Die feestelikheid was nog meer spesiaal omdat sy dogter, Sonja van Engeland af gekom het om by te woon en Ingeborg en Erika het al die pad van Gauteng af gekom. “Ons is bevoorreg dat hy nog by ons is en dat hy nog so bekwaam en onafhanklik is. Hy is ‘n wonderlike voorbeeld en inspirasie vir sy dogters, en ons is baie trots op ons afkoms en erfenis. Ons is trots om die Henning bloedlyn te dra” het sy oudste dogter, Ingrid gesê.

Ongelukkig het Len ‘n week of twee later ‘n baie ligte beroerte aanval gehad, wat die linkerkant van sy lyf aangetas het. Ons kan egter rapporteer dat dit nou met hom goed gaan en dat hy vinnig besig is om te herstel. Hy het nog steeds die vonkel in sy oog en gereed met ‘n grappie of twee.

Drie geslagte Skerpskutters

b7.c1.d10.e3.f5. Leon Ziegtfried Henning *5- 12-1907 wat in 1947 Springbokkleure in Skyfskiet verower het en ‘n Silwermedalje by die Statebondspele verwerf het

Bondsekretaris Olivier Henning is maar altyd op die uitkyk vir nuusbrokkies oor Hennings. Die laaste naweek in Mei kuier hy en sy vrou, Charlotte op ‘n dag by sy ou vriend, b7.c1.d10.e3.f5.g1. Leonard Henry (Len) Henning *26-3-1934 wat in Wildernis woon – om hom darem geluk te wens met sy 80 ste verjaardag ‘n maand vroeër.

Len was vir baie jare ‘n lid van die bestuurskomitee van die Familiebond en vanaf 1995 tot 1997 die voorsitter. Hy het (miskien) gedurende daardie tyd so in die verbygaan laat val dat hy en sy familie goeie geweerskuts was, maar ons het nooit werklik daarvan kennis geneem nie.

Tydens hierdie besoek het dit onder my aandag gekom dat Len, sy pa, Leon Ziegtfried *5-12-1907 en sy oudste dogter, Ingrid *2-2-1958 (getroud Cronje) as skerpskutters presteer het. Len se pa, Leon en sy dogter, Ingrid het selfs Sprinbokkleure verwerf en hyself het senior provinsiale kleure verwerf en het as skoolseun die Suid-Afrikanse skole skietspan gehaal.

b7.c1.d10.e3.f5. Leon Ziegtfried Henning *5-12-1907 is in 1947 as lid van die Springbok skietspan verkies, wat aan die Statebondspele van daardie jaar gaan deelneem het, waar al die lande om die Smythe Trofee meegeding het. Hy het die Silwermedalje verower. Leon het dieselfde jaar ook die eersteplek losgeskiet in ‘n kompetisie teen Indië om die Cawnpore Cup.

b7.c1.d10.e3.f5.g1. Leonard Henry Henning *26-3-1934 is in 1948 as lid van die Grens skole skietspan verkies. Dieselfde jaar word hy ook ‘n lid van die Suid-Afrikaanse skole skietspan . Daarna verteenwoordig hy Noord-Rhodesië (Zambia) as ‘n senior op die skietbaan en het vanaf 1975 tot 1980 Transvaal in die Groot- en Kleingeweer afdelings verteenwoordig. Die feit dat hy Noord-Rhodesië verteenwoordig het, beteken dat hy ook internasionaal kon meegeding het.

b7.c1.d10.e3.f5.g1.h1. Ingrid Rose Henning *2-2-1958 volg in haar pa en haar oupa se voetspore en verwerf in 1975 as ‘n sewentienjarige meisie haar Springbokkleure in Skyfskiet in ‘n kompetisie waarin Suid-Afrika, Switserland, VSA en Rhodesië deelneem. Sy het ‘n tweede plek verower.

Dit is voorwaar prestasies om op trots te wees dat drie geslagte van dieselfde familie so goed in een sportsoort presteer en so lank daaroor stilgebly het!

Ingrid Rose Henning *2-2-1958 wat as ‘n sewentienjarige meisie gedurende 1975 haar Springbokkleure in Skyfskiet verower het. Sy en haar man, Thomas Cronje en hulle ongetroude kinders woon op dieselfde landbouhoewe in Wildernis as haar pa
Die twee pryse wat b7.c1.d10.e3.f5. Leon Ziegtfried Henning *5-12-1907 tydens die 1947 Statebondspele verower het. Die silwerbeker aan die linkerkant was vir die tweede plek wat hy in die Smythe Cup verower het. Regs is die prys vir die Eerste plek tydens die Cawnpore Cup teen Indië. Ongelukkig is die inskripsie en sy naam en ander besonderhede nie duidelik op die foto nie

Nederlandse Henning Familie hou Re-unie

Peter Henning van Eindhoven in Nederland het ‘n tyd terug op die Henning webwerf op Internet afgekom. Hy was besonder beindruk om te sien dat hy en sy familie se gegewens ook daar verskyn en hy het met ons begin korrespondeer. Hy het selfs so ver gegaan om die openingsbladsye van die webwerf in Nederlands te vertaal. Ons beplan om mettertyd hierdie vertaling ook op die webwerf te laai. Dit sal beteken dat die basiese gegewens op ons webwerf viertalig sal wees – Afrikaans, Engels, Duits en Nederlands.

Onlangs het Peter vir ons laat weet dat hy en al sy broers en susters elke jaar by een van hulle se huis bymekaar kom en lekker kuier. Hy vra toestemming om die feeslogo vir ons Oktober fees by hulle re-unie te gebruik. Hy sal dit net ‘n bietjie aanpas.

Hierdie familie re-unie het op 1 Junie 2014 te Appelscha plaasgevind. Peter skryf: “Onze broer Piet woont in Appelscha, Friesland en houdt hiermee voor ons de Henning Friesland stam in eer. De rest van de familie woont verspreid over heel Nederland. Na het overlijden van mijn moeder in 2008, houden wij jaarlijks een reünie bij él;él;n van mijn broers en zussen thuis. Het is elk jaar weer een verrassing hoe deze dag ingevuld wordt, maar voorop staat dat het iedere keer erg gezellig is en bijzonder zo de familieband in stand te houden”.

Peter Henning en sy vrou, saam met sy broers en susters, met hul gewysigde feeslogo vir hulle re-unie op 1 Junie 2014. Ons Haantjie kraai nou net Appelscha 1 Jun 2014. V.l.n.r. staande Marinus Henning, Dick Slaats + Lida Henning, Dina van de Molen + Piet Henning, Peter Henning + Inez de Gier. Zittend Rinie Henning, Theo Ogink + Mannie Henning

Johan Henning van Tygerpoort se Percheron Perde

Voorblad van die 25 April 2014 uitgawe van Landbou Weekblad met die kampioen hings, Sympa. Daar is selfs ‘n roos na hierdie prag dier vernoem

Ons het nou al verskeie kere berig oor b9.c1.d2.e4.f6.g1.h1. Johannes Jacobus (Johan) Henning *2-1-1966 van Klipkop, Tygerpoort, Pretoria se Percheron perde. Een van Johan se perde, die kampioen hings, Sympa de Belleview het selfs op die voorblad van die 25 April 2014 uitgawe van die baie gewilde landbou tydskrif, Landbou Weekblad verskyn. Daar is ook ‘n hele artikel in hierdie Landbou Weekblad gewy aan Percheron perde en Johan se Summerwind stoet.

Ons Nuusbrief

Ons ontvang dikwels komplimente met ons Nuusbrief, “Ons Haantjie”. Baie mense vra vir ons, hoe hou ons vol daarmee? Veral aangesien daar oor die afgelope dertig jaar elke drie maande ‘n Haantjie uitgegaan het en nog nie een laat uitgegaan het nie. Waar kry ons al die nuus?

Daar word ook dikwels gevra hoekom doen ons dit. Hierop antwoord ons onmiddelik: Ons is trots op ons familienaam! Dit is die enigste manier om altyd in kontak te bly met die Henning families van Suid-Afrika, om hulle op hoogte te hou van ons bedrywighede en dit is die enigste manier waarop ons kan volhou met die geskiedskrywing van hierdie familie.

Die belangrikste boodskap bly egter dat ons afhanklik van ons lede is om vir ons nuus oor u familie te stuur. Laat weet vir ons as iemand trou of sterf, of as ‘n baba gebore word. Laat weet vir ons as u of u kinders of kleinkinders presteer of as daar iets nuuswaardigs gebeur het.

Kaart om by Fort Schanskop, by die Voortrekkermonument uit te kom. Ingang slegs in Eeufeesweg

b6.c4.d1.e5.f4.g6.2.  Jan Sarel Marthinus Henning, Adjunk-hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag

Familiefees 11 Oktober 2014

Hierdie is die laaste Nuusbrief wat voor die groot Henning Familiefees op 11 Oktober 2014 sal verskyn. Alle Hennings word vriendelik uitgenooi om hierdie heuglike gebeurtenis by die Voortrekkermonument in Pretoria by te woon. Ons het voorheen aangedui dat dit by die Kultuursaal sal plaasvind, maar dit is nou geskuif na die Fort Schanskop terrein. U gebruik die gewone ingang na die Voortekkermonument en hou net die rigtingwysers na Fort Schanskop dop.

Die verrigtinge sal om 10:00 uur begin met die verwelkoming, deur Gideon Henning, Voorsitter van die Familiebond. Daarna sal die Hoof Uitvoerende Beampte van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting, Me Sonja Lombard die Henning familie namens die Erfenisstigting op die terrein verwelkom. Bondsekretaris, Olivier Henning sal ‘n skyfievertoning oor die stamvader, Pieter Hendrik Henning aanbied. Dit sal die enigste georganiseerde items op die program wees. Alle feesgangers kan hierna ‘n hond uit ‘n bos kuier, ander Hennings ontmoet, die monument en ander besienswaardighede op die terrein besoek, daar kan ook perd gery word, u kan ‘n vleisie op die kole gooi en lekker piekniek hou.

Daar sal genoeg braaiplekke beskikbaar wees. Feesgangers wat wil braai word versoek om hul eie houtskool of hout saam te bring. Omdat ons glad nie weet hoeveel Hennings gaan bywoon nie, sal dit raadsaam wees om ‘n opvou stoel of twee vir die wis en onwis ook saam te bring.

Ons sal verskeie Henning aandenkings, soos teelepels, suikerlepels, lapelwapens, mansjetknope, skryfblokke, Familiekroniek CD’s te koop aanbied. Bring dus ‘n geldjie saam om te spandeer.

Vroeg opstaan!!! Ons moet betyds vir die Henning fees wees!