Nr 115

Augustus 2013

Indeks:

Gradeplegtighede

Estie van Straaten wat haar BSc Honneursgraad met onderskeiding verwerf het.
Sonette Henning wat 'n B Com graad verwerf het

Oor die jare het die redaksie van die Nuusbrief gewoond geraak dat baie Henning's nie maklik uit hul eie vir ons laat weet as hulle kinders een of ander prestasie behaal het nie. Ons verneem gewoonlik tweedehands van hierdie gebeurtenisse.

Vir hierdie nuusbrief het twee van ons lede darem uit hul eie vir ons laat weet van hulle kinders (of familielede) se prestasies.

Estie van Straaten, dogter van Sauer van Straaten en sy vrou Runa (b7.c8.d8.e5.f5. Rubina Theunissa Henning) van Doringkloof, Centurion het op 14 Maart 2013 'n BSc (Honneurs) graad in Verbruikerswetenskappe met onderskeiding (Cum Laude) aan die Noord-Wes Universiteit (Potchefstoom kampus) verwerf. Sy het ook vroeër haar BSc graad met onderskeiding verwerf.

Sonette Henning (b6.c4.d1.e5.f9.g4.h3.i1), die dogter van Jaco en Ina Henning van Ninapark, Pretoria het gedurende April 2013 by TUKS se gradeplegtigheid haar BCom(Rekenkundige wetenskappe) graad ontvang. Sy is reeds besig met verdere studies.

Sterftes

b1.c6.d14.e2.f4.b6.c1.d3.e4.f2.g4.h3. Josef Jooste Henning *17-12-1947 wat op 8 Maart 2013 te Krugersdorp oorlede is

Ons het in die vorige Nuusbrief kortliks berig oor die afsterwe van b6.c1.d3.e4.f2.g4.h3. Josef Jooste Henning *17-12-1947. Hy is oorlede op 8 Maart 2013 te Krugersdorp. Sy seun - ook Josef Jooste Henning - maar met noemnaam, Joop, het vir ons 'n bietjie van sy pa vertel.

Josef het op 13 Maart 1967 as vakleerling begin werk by die Oos-Geduld Goudmyn by Springs. Gedurende 1968 word hy verplaas na die Leslie Goudmyn en nog 'n jaar later na die Hendrik Verwoerddam, waar hy aangestel is as Skofbaas. Hy ontmoet sy vrou, Susara Herbst hier. Hulle trou 'n jaar later op 3 Oktober 1970 te Venterstad. Hierna verhuis hulle na Welkom, waar hy by die St Helenamyn begin werk. Gedurende 1978 word hy oorgeplaas na die Unisel Goudmyn, as Mynkaptein.

In Oktober 1984 aanvaar hy 'n pos by 'n asbesmyn by 'n dorpie Diepgezet in Oos-Transvaal, naby die Swazigrens. Joop vertel dat hulle van die aangenaamste jare van hulle lewens hier deurgebring het. Daarna begin sy pa op 1 Julie 1993 werk by UASA (Underground Association of South Africa) in Krugersdorp as Streeksbestuurder. Hy tree af in 2010 en is te Krugersdorp oorlede op 8 Maart 2013, na 'n kort siekbed.

b1.c3.d7.e9.f6. Nicolaas Henning *10-4-1918 wat op 21 Mei 2013 in die ouderdom van 95 jaar in Pretoria oorlede is

b1.c3.d7.e9.f6. Nicolaas Henning *10-4-1918 of "oom Klasie" en sy vrou Idelette (gebore Pansegrouw) het die afgelope paar jaar by die Oostvallei Aftree-oord in Pretoria gewoon. Hy is op 21 Mei 2013 in die Winmed Kliniek oorlede nadat hy ongeveer 10 maande vroeër 'n ligte beroerte-aanval gekry het. Kort voor sy dood, het hy ook longontsteking gekry. Oom Klasie was 95 jaar, een maand en elf dae oud toe hy gesterf het. Hy was op daardie stadium een van die oudste Henning's in Suid-Afrika.

Oom Klasie het groot geword op die geskiedkundige plaas "Het Kamp" in die Zastron distrik. Die plaas lê aan die voet van die berg "Vegkop" waar die Boere die impi's van Mosjesh in 1868 finaal verslaan het. Die plaas waar die Boere Kommando bymekaargekom het, het die naam Het Kamp gekry. Na sy skoolopleiding begin oom Klasie werk by die SA Spoorweë. Weens sy pa se siekte, keer hy terug na die plaas om sy pa by te staan. Intussen is Klasie getroud met Idelette Pansegrouw, dogter van Eerwaarde J J Pansegrouw van Zastron. In 1955 verhuis hulle na Pretoria en in 1961 gaan boer hy op die plaas Bloempoort in die Groblersdal distrik. Hy en sy vrou tree terselfdertyd in diens van Philadelphia Sendinghospitaal. Nadat beide hulle dogters, Hester en Helena hulle universiteitsopleiding voltooi het, aanvaar Klasie en Idelette 'n oorplasing na die Departement van Gesondheid se kantore in Pretoria, waar hy twee keer afgetree het.

Oom Klasie was 'n trotse lid van die familiebond vanaf die stigting daarvan in 1984.

Johan - en Deanne Henning en hulle drie kinders, Rohan(13), Suzaan(20) en Johan(17)

Ons het ook verneem van die afsterwe van Deanne Henning (gebore Karg) *30-8-1967 op 7 Julie 2012 te Nelspruit. Sy was die eggenote van b5.c1.d3.e1.f2.g2.h1. Johannes Lodewikus Henning *30-7-1964. Sy laat haar man, Johan en drie kinders, Suzaan (20), Johan (17) en Rohan (13) agter.

Deanne is op 30 Augustus 1967 in Paarl gebore. Haar ouers verhuis in 1978 na Witrivier waar sy in Laerskool Witrivier was en daarna in Hoërskool Rob Ferreira. Sy het in 1987 saam met haar ouers Kaap toe verhuis en by Sanlam Hoofkantoor in Bellville gaan werk.

Deanne het 'n groot liefde vir kinders gehad en het na haar troue met Johan Henning - eintlik na die kinders se geboorte - 'n skooltjie vir kleuters in Wellington begin. Met hul verhuising na Nelspruit het sy die skooltjie verkoop. Nadat sy haar voete in Nelspruit gevind het, het sy by 'n skooltjie aangesluit en daar vir 2 jaar gewerk. Sy het haar eie skooltjie, Sonstraaltjies, toe in Nelspruit begin. Dit was haar lewe om met die kleingoed te werk en hulle te sien ontwikkel en groei onder haar hand. In die 2e bestaansjaar van die skooltjie het sy egter siek geword en was van Januarie 2012 af permanent in die hospitaal en moes die skooltjie sluit.

Deanne het gelewe vir haar man en kinders. Sy het berge versit om te sorg dat die kinders op elke wedstryd en toer kan gaan. Veral die twee seuns het uitgeblink in rugby, krieket en skaak. Elke jaar was dit 'n groot uitdaging om genoeg geld bymekaar te maak vir hul Mpumalanga deelname of SA Skaakkampioenskappe. Sy en Rohan moes 'n toer Turkey toe meemaak vir die wêreldbeker skaakkampioenskappe en wat na 'n saak van onmoontlikheid (finansieel) gelyk het, het sy dit moontlik gemaak!

Deanne se stryd teen kanker het sy baie moedig geveg. Nooit het sy moed verloor nie en die dag van haar afsterwe het sy steeds enduit geveg. Sy was vir haar familie 'n pragtige voorbeeld van Christelikheid en om nooit te twyfel aan die Krag van die Here nie!

Veelsydige Sportman deur-en-deur

Rohan Henning tydens die Wêreldbeker skaak-kampioenskappe in Turkye 2010

Rohan Henning *15-2-2000 is die jongste seun van b5.c1.d3.e1.f2.g2.h1. Johannes Lodewikus Henning en sy vrou, wyle Deanne, oor wie se sterfte ons hierbo berig het.

Dit is duidelik dat Rohan besig is om te ontluik as 'n kranige veelsydige sportman. In Augustus 2010 het hy Suid-Afrika verteenwoordig op die wêreldbeker skaakkampioenskappe in die onder-11 ouderdomsgroep in Turkye. Sy ma het hom vergesel, want hy was darem nog net 10 jaar oud. Rohan het nege wedstryde gespeel, waarvan hy twee gewen, twee gelykop gespeel het en vyf verloor het. Die ondervinding wat hy opgedoen het was egter van onskatbare waarde. Om jou land te kon verteenwoordig was natuurlik ook 'n baie groot eer!

In 2012 het hy vir die Pumas (Mpumalanga) se onder-12 rugbyspan slot gespeel. Hy is hierdie jaar vir die Pumas se onder-13 Cravenweek span as flank en kaptein vir die eerste wedstryd aangewys. Ongelukkig doen hy harsingskudding in hierdie eerste wedstryd op en sal vir die res van die seisoen nie weer kan speel nie. Ruhan het Mpumalanga ook die afgelope twee jaar in hokkie verteenwoordig.

Ons sien duidelik 'n toekomstige Springbok op die horison!

Comrades Ultra Marathon 2013

As mens nog so goed lyk nadat jy amper 100 kilometers gehardloop het, dan is jy seker fiks! Mary-Ann Henning nadat sy die 2013 Comrades Marathon voltooi het

Mary-Ann Henning (gebore Nel), vrou van b7.c8.d8.e1.f2.g2 Stanley Henning van Wierdapark, Centurion neem al baie jare deel aan padwedlope. Sy het ook al verskeie kere aan ultra-marathons, soos die Comrades - en Twee-Oseane Marathons deelgeneem. Hierdie jaar het Mary-Ann weer aan die Comrades deelgeneem. Hier is enkele statistieke van hoe sy gevaar het:

Sy het in die ouderdomsgroep 50 - 59 deelgeneem;

14 300 atlete - mans en vrouens - van alle ouderdomme het begin, maar net 10 188 het die wedloop voltooi Mary-Ann het die wedloop voltooi in 11 ure, 20 minute en 50 sekondes Algeheel het sy in die 6 770 ste posisie klaargemaak In haar ouderdomsgroep was sy 97 ste uit 624 atlete Van die 1 953 vrouens van alle ouderdomme het sy 1 072 ste geeindig Mary-Ann leef vir haar wedlope en geniet elke oomblik. Sy dui aan dat sy sal voortgaan om aan moordende Comrades wedlope deel te neem, solank as wat sy dit geniet en daarmee vol kan hou.

'n Henning meisie Trou!

Saterdag 27 April 2013 is Letitia Henning *30-11-1988, dogter van b7.c8.d8.e1.f2.g3. Alexander Henning en sy eerste vrou, Salome Rheeder in Bloemfontein getroud met Willem Hendrik Jacobus Griesel *6-10-1984. Die hele trouseremonie en onthaal het plaasgevind so 26 km buite Bloemfontein, by die pragtige Sandstone Sleeper Estate, wat geleë is langs die Glen Landbou Kollege.

Die vorige aand het al die familie en vriende gesellig saam gekuier by Sandstone Sleeper Estate, om 'n groot potjiekos en potbrood, wat deur die bruidegom se ouers voorberei is. Die meeste van die 124 gaste het dan ook tuisgegaan by landgoed.

Henri en Letitia het mekaar in 2004 ontmoet. Hy het na skool 'n vier jaar kursus in landbou chemikalië gedoen en daarna begin werk vir Bayagro op Christiana, waar sy ouers nog woon. Vanaf 2008 het hy en Letitia egter verhuis na Vanderkloof, waar hy sy eie depot/tak op Petrusville (naby Orania) as 'n franchise oopgemaak het. Letitia het die administrasie en finasies van die besigheid hanteer. In 2012 het hulle hul eie besigheid, Bo-Karoo Landboudienste geregistreer, maar verkoop steeds alle chemikalië onder die naam Bayagro.

Tant Driekie sterf 12 dae na haar 100ste Verjaardag!

Tant Driekie Alberts (gebore Henning)(regs) op haar 100 ste verjaardag, 30 Junie 2013 saam met haar suster, Maria Helena Pieterse en drie van haar dogters (agter), Amanda (wie se eie agterkleindogter by haar staan), Fransie en Driekie. Sy is 12 dae na haar verjaardag op 12 Julie 2013 oorlede

Ons het al verskeie kere berig oor tant Driekie Alberts wat tans die oudste Henning in Suid-Afrika is. Haar genealogiese nommer in die Henning geslagsregister is b9.c1.d4.e6.f1. en haar volle name Frederika Wilhelmina Alberts (gebore Henning) gebore op 30 Junie 1913. Sy het dus hierdie jaar 'n volle honderd jaar oud geword. Sy is egter 12 dae na haar verjaardag op 12 Julie oorlede. Tant Driekie het gewoon in Huis Agape in Pretoria waar sy baie goed versorg is.

Op haar verjaardag, 30 Junie 2013 het al haar kinders, kleinkinders, agter kleinkinders, suster en ander naby familielede gesellig saam met haar verkeer. Van haar jarelange vriende het ook ingeloer met geluk - en goeie wense. Dit was 'n heerlike warm dag in Pretoria. Dit is baie hartseer om so 'n mooi beriggie met 'n traan in die oog af te sluit.

Geldsake

Soos gewoonlik meld ons graag, met groot dank, die name van diegene wat donasies van R300.00 of meer oor die afgelope drie maande aangestuur het:

• Stanley en Mary-Ann Henning van Wierdapark, Centurion - R300.00
• Heinrich Henning (S/v Stanley en Mary-Ann) van Zwartkops, Centurion - R300.00
• Anél Henning (D/v Stanley en Mary-Ann) van Rooihuiskraal, Centurion - R300.00
• Gerhard en Deirdré Henning van Kimberley - R400.00
• Johannes Henning van Monumentpark, Pretoria - R300.00
• Japie (JJ) Henning en sy vrou Mabel van Roodepoort - R300.00

Baie dankie ook aan ons drie lede (Jan Andries Henning van Leraatsfontein, Jan Hendrik Henning van Glenstantia,

Pretoria en Past Antonie Henning van Rietfontein, Pretoria) wat voortgaan om maandeliks per debietorder 'n bydrae te lewer. Dit is van onskatbare waarde.

Daar is ongelukkig nog 32 lede wat geen bydrae vir 2013 gelewer het nie.

Familiefees 2014

2014 sal beslis 'n goeie jaar vir feesvieringe vir die Henning Familiebond wees. Dit is presies 10 jaar na die vorige landwye familiefees; dit is 30 jaar sedert die stigting van die Familiebond en sekerlik die belangrikste - dit is amper 250 jaar sedert die aankoms van die stamvader, Peter Henrich (Pieter Hendrik) Henning in 1765.

Aanvanklik het die Vrystaattak van die Familiebond ingewillig om so 'n fees aan te bied. Na deeglike oorweging het die bestuur van die Familiebond egter besluit dat dit meer wys sal wees om so 'n belangrike fees by die Voortrekkermonument in Pretoria aan te bied. Die oorgrootte meerderheid Hennings woon binne maklike bereik van die monument in Pretoria, Johannesburg en die Oos- en Wes-Rand. Die fasiliteite by die monument is baie goed en daar vind sommer baie ander aktiwiteite plaas op die terrein van die Monument, waarby ons Hennings aanklank sal vind.

Ons het die kultuursaal op die terrein vir 11 Oktober 2014 gehuur en ons hoop dat die klomp Hennings ons nou nie sal teleurstel, deur nie op te daag nie. Ons beoog slegs 'n amptelike verwelkoming plus een of twee ander items. Die res van die tyd wil ons hê dat almal saam kuier, vleisbraai, potjiekos maak, ens. Dan is daar ook genoeg tyd vir die jong klomp om te gaan perdry, wild te besigtig, deur die museum, monument en die ander besienswaardighede te loop.

Ons sal in al die Nuusbriewe tot Augustus 2014 meer oor hierdie fees vertel. Maak asseblief nou reeds 'n nota in u dagboek, sodat u nie hierdie belangrike gebeurtenis gaan mis nie.

Geskiedkundige Henning meubels

Geskiedkundige meubels in die Henning familie is beslis so skaars soos hoendertande. Dit het ons jare gelede reeds agtergekom toe ons items begin versamel het om in die Henning uitstalling in die Kerkplein museum, Aliwal-Noord uit te stal. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die feit dat meeste Henning's teen die einde van die 19de eeu in die Oranje-Vrystaat en ZAR (Transvaal) gewoon het. Gedurende die Anglo Boere-oorlog het die Britse magte met hulle "Verskroeide Aarde" strategie alle plaashuise in die Vrystaat en Transvaal afgebrand en alles in die huise vernietig.

Dit het gemaak dat slegs Hennings wat gedurende daardie tyd in die Kaapkolonie gewoon het, meubels en ander huishoudelike items nagelaat het wat van geskiedkundige waarde is. Verskeie van ons "Kolonie" Hennings besit meubels uit die 19de eeu en vroeër, wat aan hulle voorsate behoort het, maar almal - die skrywer inkluis - is traag om daarvan afstand te doen, omdat dit so skaars is en natuurlik ook vir sentimentele redes.

Ons vertoon graag in hierdie Nuusbrief foto's van twee items wat aan Hennings uit die negentiende eeu behoort het en wat vandag aan b7.c8.d8.e3.f6 Sylvia Grobler (gebore Henning) van Randparkrif, Randburg behoort.

Hierdie egte Geelhout bank dateer uit die 1850's en het behoort aan b7.c8 Olivier Johannes Gerhardus Cornelis Henning *1-12-1834 van die plaas Damfontein, distrik Aliwal-Noord
Dié egte geelhout wa-kis het aan b7.c8.d1. Martha Henning *26-8-1857 behoort. Die wa-kis het vir baie jare in Sylvia se pa se garage, vol boute en moere gestaan. Dit was vaal, vuil en verwaarloos, weens baie jare se stof. Sylvia het die kis afgeskuur en vernis, sodat dit vandag 'n pragtige ornament in haar huis is. Martha Henning se naam is uitgekrap aan die binnekant van die deksel. Soos die bank, hierbo, kom die wa-kis van die plaas Damfontein in die Aliwal-Noord distrik. 'n Nasaat van Martha Henning - Ds Bjarne Fowels van Hjelmeland, Noorweë is 'n lid van die Familiebond. Op die foto verskyn Sylvia saam met twee van haar kleinseuns, Hanno en Gustaf de Lange

Henning Baba

Klein Willem Pieter Henning is op 21 Desember 2011 in die Moot Algemene Hospitaal, Pretoria gebore. Sy pa en ma is b6.c4.d3.e7.f11.g1.h3. Johannes Christiaan (Christo) Henning *21-8-1979 en Riatha (gebore Diedericks). Die foto is geneem op 24 Desember 2011, die dag toe hy en ma Riatha uit die hospitaal ontslaan is. Dit was ook oupa Johannes Christiaan Henning *24-12-1944 se verjaardag.

Ons hou volgende jaar weer fees! Almal moet onthou en daar wees!