Die Henning Familiekroniek val in sewe gedeeltes (afdelings) uiteen, soos aangedui op die linkerkant van die skerm, naamlik
Die geslagsregisters is saamgestel volgens die metode waarvolgens die letter a. plus 'n numeriese getal (in die volgorde waarin hulle in Suid-Afrika aangekom het) toegeken word aan die Hennings wat na Suid-Afrika emigreer het en dus die stamvaders genoem word. Aan hierdie stamvaders se kinders, dit wil sê die tweede geslag, word die letter b. toegeken sowel as ’n numeriese getal wat by 1 vir die oudste kind begin, 2 vir die tweede kind, 3 vir die derde kind, ensovoorts. Aan die derde geslag word die letter c. toegeken plus ’n numeriese getal wat die posisie van die spesifieke kind aandui. So sal die derde kind van b1. (dit wil sê die eerste kind van die eerste stamvader) se posisie as a1.b1.c3. aangedui word. Die derde kind van b5. (dit wil sê die vyfde kind van hierdie stamvader) se posisie sal weer as a1.b5.c3. aangedui word. Dieselfde proses word met die vierde, vyfde en daaropvolgende geslagte herhaal. Slegs die nasate van die mans, dit wil sê diegene wat die van “Henning” dra, word aangedui. Waar ’n nooi Henning met ’n jonkman Henning in die huwelik getree het, word hulle nasate slegs by die man se rekord aangedui. Volgens hierdie stelsel word elke manlike persoon se nasate eers volledig aangedui, voordat daar met sy volgende broer of suster se rekord voortgegaan word.
Indien u dus u voorsate wil opspoor gaan u as volg te werk:
Om 'n geheelbeeld te kry van die hele familie, is dit nodig om die onderskeie geslagsregister hoofstukke — 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11 en 12 deur te werk. U bepaal as volg in watter hoofstuk u familie se besonderhede verskyn:
Hoofstuk 5 behandel die nasate van Johannes Gerhardus Henning — a1.b1. Indien u genealogiese nommer met b1 begin, sal u gegewens in hierdie hoofstuk verskyn;
Hoofstuk 6 behandel die nasate van Jacobus Cornelis Henning — a1.b5. Indien u genealogiese nommer met b5 begin, sal u gegewens in hierdie hoofstuk verskyn;
Hoofstuk 7 behandel die nasate van Willem Frederik Henning — a1.b6. Indien u genealogiese nommer met b6 begin, sal u gegewens in hierdie hoofstuk verskyn;
Hoofstuk 8 behandel die nasate van Gert Frans Henning — a1.b7. Indien u genealogiese nommer met b7. begin, sal u gegewens in hierdie hoofstuk verskyn;
Hoofstuk 9 behandel die nasate van Jan Hendrik Henning — a1.b9. Indien u genealogiese nommer met b9. begin, sal u gegewens in hierdie hoofstuk verskyn;
Hoofstuk 10 behandel die nasate van Daniël Stephanus Henning — a1.b10. Indien u genealogiese nommer met b10 begin, sal u gegewens in hierdie hoofstuk verskyn;
Hoofstuk 11 behandel die nasate van die stamvader Georg Friedrich Henning — a2. Indien u genealogiese nommer met a2 begin, sal u gegewens in hierdie hoofstuk verskyn;
Hoofstuk 12 behandel die nasate van die stamvader Johan Wilhelm Henning — a3. Indien u genealogiese nommer met a3 begin, sal u gegewens in hierdie hoofstuk verskyn.
In hierdie hoofstukke kan u van een van twee metodes gebruik maak om by u eie rekord uit te kom:
Volgens die eerste metode begin u by die stamvader en soek van hom af verder tot by uself:
1.1 Verkry u genealogiese nommer in die databasis — mans kan hulle name in die alfabetiese register by Hoofstuk 14 naslaan. Vrouens kan hulle eggenotes se van en voorletters in Hoofstuk 15 naslaan. As u eie naam nie in die databasis opgeneem is nie of mans se eie name nie in Hoofstuk 14 of vrouens se eggenotes se besonderhede nie in Hoofstuk 15 voorkom nie, soek u vader of grootvader se naam in die databasis of Hoofstuk 14.
1.2 Teken u (of u vader/grootvader) se genealogiese nommer aan. Byvoorbeeld: u nommer word as a1.b1.c3.d8.e3.f1.g5. aangedui.
1.3 Aan die hand van bogemelde voorbeeld, gaan u na die rekord van a1.b1. in hoofstuk 5, dit wil sê die oudste seun van die eerste stamvader.
1.4 Die volgende stap is om na a1.b1.c3. se rekord te gaan (dit wil sê b1. se derde kind), daarna na a1.b1.c3.d8. (dit wil sê c3. se 8ste kind).
1.5 Hierdie proses word vir a1.b1.c3.d8.e3. en a1.b1.c3.d8.e3.f1. herhaal.
1.6 As u a1.b1.c3.d8.e3.f1.g5. naslaan sal u merk dat dit u self (of u vader/grootvader) se rekord is.
2. Volgens die tweede metode soek u van uself af terug na die stamvader. U gebruik dieselfde tegniek as by die eerste metode. U laat egter net elke keer die laaste geslag se kode weg.
In die geslagsregister word die volgende genealogiese tekens en afkortings gebruik:
* dui aan gebore
» gedoop (Waar 'n doopteken aangedui word, dien dit ook as verwysing na die betrokke doopregister, wat as verwysingsbron gebruik kan word)
† oorlede
c getroud
cc tweede keer getroud, drie of meer kruisies dui verdere huwelike aan
¸ geskei
N.N. nomen nescio (naam onbekend)
D/v dogter van
S/v seun van
C Circa (ongeveer)
’n Kruisie(s) in hakies agter ’n persoon se naam, dui aan uit watter huwelik van sy vader hy of sy gebore is.