Geskiedenis |
Douw Gerbrandt word minder as ’n jaar nadat sy ouers na Argentinië emigreer het, te Chubut, Argentinië gebore. Die huistaal waarin hy groot geword het, was Afrikaans, hoewel hy ook Spaans leer praat het. As kind het hy by ’n Rooms Katolieke skool onderrig ontvang. Nadat hy St 2 voltooi het, is daarop aangedring dat hy eers die Roomse geloof moes aanneem as hy langer in die skool wou aanbly. Sy vader het geweier en Douw Gerbrand uit die skool gehaal. Hy begin werk as petroljoggie by Shell. Later het hy gaan boer by ’n Skot wat ook in Argentinië gewoon het. Hy trou op 23 jarige ouderdom met ’n Boeredogter wie se ouers net soos syne gedurende 1905 na Argentinië geëmigreer het. Hulle het drie kinders. Sy eggenote, Petronella, sterf tydens ’n blindedermoperasie en word in Argentinië begrawe. Met die terugkeer van 234 Afrikanergesinne na Suid-Afrika gedurende 1938, emigreer Douw Gerbrandt en sy drie kinders ook. Daar moet onthou word dat hy, deur geboorte ’n Argentynse burger was. Hy aanvaar ’n betrekking as arbeider op die SA Spoorweë eers op Westministerstasie (OVS), toe Edenburgstasie en later Bloemfonteinstasie. Hy word later oorgeplaas na die Spoorwegwerkswinkels in Bloemfontein, as masjienonderdeelpoleerder en later hyskraanoperateur - ’n beroep wat hy beoefen het tot met sy aftrede met pensioen in 1966. Terwyl hy te Westministerstasie werksaam was, het hy vir Johanna Coetzer, wat by haar ouers op die plaas Prairie, naby Marseillesstasie, distrik Ladybrand, gewoon het, ontmoet. Na hulle troue vestig hulle hul op Edenburg. Vier kinders word uit hierdie huwelik gebore. Gedurende 1971 verhuis hy en sy eggenote na Rouxville, waar hy oorlede en begrawe is.
|
|