Geskiedenis |
Voor die Tweede Vryheidsoorlog 1899 - 1902 boer die egpaar op die plaas Heuningkrans in die distrik Albert. As burger van die Kaap van Goeie Hoop, word hy op 26-8-1901 deur ’n spesiale kommissie wat deur die Kaapse regering aangestel is, aan Hoogverraad skuldig bevind. Sy skuldigbevinding spruit voort uit sy simpatie en hulpverlening aan die Boeremagte van die Vrystaatse Republiek tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Sy vonnis was dat hy vir ’n tydperk van vyf jaar nie vir enige openbare amp verkies mag word of in enige sodanige verkiesing mag stem nie. Sy broer Douw Gerbrand (e7.) is aan dieselfde oortreding skuldig bevind. Met die val van die twee Boererepublieke is daar talle Boere gesinne in en om Burgersdorp, wat nie langer kans sien om onder Britse bewind te staan nie. Joseph Jooste, sy vrou en al sy kinders uitgesonderd die oudste twee seuns, Joseph Jooste en Barend Jacobus vertrek op 21-10-1905, saam met twee van sy broers en verskeie ander Boere gesinne na Argentinië. Hy bekom ’n plaas in die provinsie Chubut, wat hy Morgenzon noem. Hy sterf in Argentinië en is daar begrawe. Sy eggenote keer gedurende 1939, saam met ’n groot groep mede Afrikaners na Suid-Afrika terug. Sy vestig haar te Bethulie, waar sy oorlede is. Joseph Jooste se plaas Morgenzon is dikwels gebruik as vergaderplek vir kerkbyeenkomste. Nadat dié plaas verkoop is, is ryk olievelde daarop ontdek.
|
|